• No results found

Hoofstuk 3: Stedelike tuistes en bewegende stedelinge in Room 207 (2006) deur Kgebetl

3.3 Die individu in die stad

3.3.1 Performatiewe “hustling” in Room 207

Uit die bespreking in hoofstuk 1 is dit duidelik dat daar in die Engelstalige akademiese diskoers oor die literêre uitbeelding van die stad ’n sterk fokus is op individuele agentskap in die stad en op hoe die individu hierdie agentskap beoefen deur deur die stad te beweeg en sodoende saam daaraan te “skryf”. Hierdie neiging is ook grootliks te vinde in die resepsie van Room 207. Mbao (2009:120) fokus op die maniere waarop die hoofkarakters van die roman beheer neem oor hulle eie lewens. Hy beskryf die stad as ’n blanko dokument waarop die karakters “something of themselves” skryf (Mbao, 2009:120) en impliseer dat hulle dit doen deur deur die stad te beweeg (Mbao, 2009:121- 122). Hierdie analise sluit aan by internasionale (akademiese en nie-akademiese) opvattings oor die stad as ’n plek van “self-making” (sien Franklin, 2010:2).

Soos bespreek in hoofstuk 1, verwys verskeie literatore ook na die beperkings op stedelike agentskap, soos uitgebeeld in Room 207: Murray (2011:87) verwys na die karakters se beperkte beweeglikheid omdat hulle nie motors besit nie, Putter (2012b:111-114) analiseer die rol van geslag in die roman en Jansen (2012:129-130) verwys na die uitbeelding van VIGS. Milazzo (2013:50) erken dat die uitbeelding van agentskap en van die beperkings daarop in Room 207 kompleks is,

maar voer uiteindelik aan dat die roman nie genoeg klem plaas op die maniere waarop die swart individu onderdruk word nie. Hy sien dit as ’n mislukking van die roman dat daar nie genoeg aandag gegee word aan voortgesette rassisme in die hedendaagse Suid-Afrika nie (Milazzo, 2013:39). Volgens hom word die armes in die roman geblameer vir hulle eie armoede (Milazzo, 2013:48). Ek sien hierdie interpretasie as ooreenvoudig.

Onderliggend aan Milazzo se kritiek is die veronderstelling dat die individu onderhewig is aan die strukture waarin hy of sy hom- of haarself bevind. Dit sluit dus aan by klassieke Marxistiese opvattings. Dit impliseer verder dat strukture buite die individu staan en op hom of haar inwerk, soos in die teorieë van, onder andere, Jürgen Habermas (1989), waarin daar onderskei word tussen die instrumentele rasionaliteit van die struktuur en die kommunikatiewe rasionaliteit van die individu se leefwêreld. Nuttall en Mbembe (2005:200) problematiseer, soos reeds genoem, hierdie tipe denke deur eerder te fokus op die agentskap van die individu as die beperkings van die struktuur. Soos Harrison et al. (2014:19) aanvoer, gee hulle egter weer te min aandag aan die materiële aspekte van stede en die maniere waarop individue daaraan uitgelewer is. Harrison et al. (2014:20) argumenteer dat daar nie streng onderskeid getref kan word tussen individu en struktuur nie, dat die twee mekaar voortdurend konstitueer – sien ook Amin en Thrift (2002:92 en 128). Myns insiens is hierdie proses sigbaar in die komplekse uitbeelding van agentskap in Room 207.

Die mees genuanseerde analise van laasgenoemde kan gevind word in O’Shaughnessy se magisterverhandeling (2008c), doktorale proefskrif (2012) en artikel, “‘Splinters in the eyes’ – Reading the metropoetics of crisis in post-apartheid Johannesburg fictions” (2010). O’Shaughnessy (2008c:2-3) voer aan dat, alhoewel die fokus op swart agentskap in die hedendaagse stedelike diskoers in Afrika verstaanbaar is (veral soverre dit gaan oor ’n groter vryheid van beweging in die postkoloniale en postapartheid tydperk), dit ook problematies is omdat dit die beperkings waarteen die individu te staan kom, ignoreer. Soos alle ander ruimtes, is die stad volgens haar:

an intricate interplay between the human agents that do the enacting and living, the social structures that give this enactment a context of meaning and the institutions that provide the arena in which these things can happen. The human agent cannot simply be unaffected by aspects of the city that are shaped by systems and patterns out of his or her control, despite the idea that the city by nature can be read as a dynamic or enabling space, or that space can be perceived as performative or subjective. (O’Shaughnessy, 2008c:16)

Dit is hierdie fokus op die performatiewe wat myns insiens O’Shaughnessy se grootste bydrae is tot die akademiese diskoers oor Room 207. Soos sy noem, is van die belangrikste temas in die roman begeerte, drome en aspirasies (O’Shaughnessy, 2008c:79). In Room 207 gaan dit dikwels oor die strewe na en opvoer van agentskap, eerder as ’n werklike transendering van beperkende omstandighede. Die belang van drome word reeds beklemtoon in die T.E. Lawrence-aanhaling waarmee die teks begin:

All men dream: but not equally. Those who dream by night in the dusty recesses of their minds wake in the day to find that it was vanity: but the dreamers of the day are dangerous men, for they may act their dream with open eyes, to make it possible. This I did.

Ek beskou die aanhaling as ’n belangrike sleutel tot hoe die roman gelees kan word: Die ses hoofkarakters van Room 207 is almal besig met ’n “act”, maar hulle vermoëns om hierdie drome te bewaarheid is uiteindelik beperk. Die woord “droom”, wat op bykans elke bladsy van die roman voorkom, kan in verband gebring word met Iris Marion Young (1995:252) se kritiek op die viering van die stad as die arena waarin drome nagestreef kan word. Sy sê dat só ’n siening veronderstel dat individue isoleerbaar is en net deur hulle eie begeertes voortgedryf word. Dit is ’n verbruikersentriese siening van die mens, “in which social and political relations can be understood only as goods instrumental to the achievement of individual desires, and not as intrinsic goods” (Young, 1995:252). Dit veronderstel ook dat die individu self-onderhoudend is (1995:253) en ten volle sigself kan ken, verstaan en gebruik (1995:257). Só ’n siening van die mens neem dus nie in ag dat die individu in die strewe na sy of haar drome (en in die vorming van die drome self) nie in beheer is nie, maar beïnvloed word deur aspekte soos ander mense, sosiale strukture en sy of haar eie onbewuste en liggaam.

O’Shaughnessy (2008c:85) argumenteer dat die karakters van Room 207 die rol van mense wat wel hulself ken, sekerheid het en onafhanklik kan funksioneer aanneem; die rol van ’n “hustler” om spesifiek te wees. Venkatesh (2006:17-18) definieer “hustling” soos volg: “the indefatigable and creative attempts by the down-and-out to find work, make a buck, and make ends meet.” Die term het aanvanklik verwys na dobbelaars wat bereid is om te verneuk om geld te wen (Polsky, 1964- 1965:3). Prostitute, en veral manlike prostitute, word ook “hustlers” genoem (West, 2012:344). Wanneer daar na Jazz- en hip-hop-musikante verwys word as “hustlers” is die implikasie dat hulle enigiets sal doen om suksesvol te wees in die musiekindustrie (Doyle, 2011:167). In Lauren Beukes (2010:65) se Zoo city is die Johannesburgse Benoît betrokke by die volgende “hustling”-aktiwiteite:

“Odd jobs, man-on-the-side-of-the-road stuff, bouncer, labourer, fixer, entrepreneur”. In Room 207 verwys die word “hustlers” dan ook na mans wat bereid is om by enige wettige of onwettige aktiwiteite betrokke te raak ter wille van oorlewing en vooruitgang.

Soos O’Shaughnessy (2008c:85) uitwys is die rol van “hustler” uiters individualisties en behels dit dat die karakters van Room 207 hulle eie drome nastreef ten koste van ander: “each character answers to the lure of wealth, fame (or notoriety) and on developing self-serving tactics as well as transient, shifting modes of being that allow them to gain what they perceive to be autonomy and power in the urban space” (O’Shaughnessy, 2008c:86). O’Shaughnessy (2008c:88) argumenteer dat dit nie slegs die geval is dat die agentskap wat die “hustler”-persona die karakters bied beperk is nie, maar ook dat die keuse vir hierdie persona beïnvloed en gevorm word deur die stedelike ruimte, en dat hierdie rol weer ’n invloed uitoefen op die ruimte (2008c:81). In haar doktorale proefskrif voer O’Shaughnessy (2012:7) aan dat dit veral die geskiedenis is wat ’n beperkende invloed het op die karakters se agentskap en dat die “hustler”-persona ’n verdedigende reaksie is op die onvoorspelbaarheid van die stedelike ruimte (O’Shaughnessy, 2012:48).

Die “hustler”-persona kan dus beskou word as ’n hedendaagse aanwending van wat Simmel (1969:51) in “The metropolis and mental life” (oorspronklik gepubliseer in 1903 as “Die großstädte und das geistesleben”) ’n “blasé houding” noem. Die blasé of onverskillige houding is beide die oorsaak en die gevolg van die grootstadse omgewing (Simmel, 1969:50). Dit is ’n beskermingsmeganisme teen die oorvloed sensoriese prikkels en die onpersoonlike aard van die stad se kapitalistiese ekonomie (Simmel, 1969:51). Die individu kan nie op elke stimulus reageer sonder om uit te brand nie en vertoon dus pleks daarvan ’n tipe onverskilligheid. Hierdeur word die onpersoonlike omgewing van die stad egter geperpetueer en sodoende dra die houding van die individu dus by tot die algehele omgewing. Die blasé houding moenie net as ’n negatiewe “simptoom” van die stad gesien word nie; dit het ook positiewe eienskappe. Dit laat byvoorbeeld die individu ’n vryheid toe wat hulle in ’n klein dorp nie beskore sou wees nie (Simmel, 1969:53). Volgens Simmel (1969:56-57) is dit nie net die geval omdat stedelinge mekaar nie so intensief kan monitor wat sosiale normes betref nie, maar ook omdat kapitalistiese kompetisie elke individu forseer om hom- of haarself te differensieer (ook wat die sosiale ekonomie betref). Omdat stedelinge nie die geleentheid kry om mekaar stadig oor jare te leer ken nie, is dit ook belangrik dat hulle dadelik aan die Ander vertoon wat hulle spesiaal en waardevol maak (Simmel, 1969:58). Die moderne stedeling neem dus ’n hiper-individualistiese maar afstandelike rol aan.

Filip de Boeck (in gesprek met Rao, 2010:29) verwys nie eksplisiet na die werk van Simmel nie, maar noem wel ’n spesifieke manifestasie van die blasé houding in die hedendaagse Afrikastad, wanneer hy sê dat die inwoners van Afrikastede nie in die infrastruktuur van hulle omgewing belê nie omdat hulle nie in postkoloniale stede tuis voel nie. Omdat hierdie inwoners voel dat die stad steeds nie ten volle aan hulle behoort nie, voel hulle nie verantwoordelik daarvoor nie en sien hulle materiële infrastruktuur as iets wat hulle vir hulle eie doeleindes kan gebruik. Simone (2012:45) en Jones (2013:39) beweer dat ’n disrespek vir hulle armsalige omgewing ook deel vorm van die identiteit wat hulle vir hulself skep, ’n poging om agentskap te eis in ’n ruimte wat hulle nie veel toelaat nie. Hierdie neiging word deur die karakters van Room 207 bespreek in die hoofstuk “Weekending”. Malomo beweer dat Hillbrow agteruit gegaan het sedert dit ’n merendeels swart buurt geword het en dat dit ’n gevolg is van swart mense se selfhaat (89). Matome eggo egter De Boeck se bewering, wanneer hy sê: “That is a question of the economics of living – it doesn’t have anything to do with black pride and black love.” en “No black owns any buildi[ngs]” (90).

Die “hustler” vertoon in die openbaar ’n blasé houding wat getuig van “straatwysheid”. Die persoon met straatwysheid is, volgens Elijah Anderson (1995:348-349), een wat probeer om die stad te lees en die “signs, emblems, and symbols that others exhibit in everyday life” interpreteer. Soos wat die geval is by die onafhanklikheid van die blasé persoon, gaan dit nie soseer oor die akkuraatheid van die interpretasie nie, maar oor die sekerheid, selfvertroue en sekuriteit wat die straatwyse persoon uitstraal en opvoer (Anderson, 1995:337 en 349). Soos die blasé houding, is straatwysheid ’n beskermingsmeganisme, in dié geval nie net in reaksie op die onsekerheid wat die stad veroorsaak nie, maar ook op die middestad as “an environment of trickery and deceptions” (Simone, 2010:62). Straatwysheid mag van praktiese hulp wees, maar dit kan ook beskou word as ’n fantasie van beheer en agentskap in situasies waaroor die individu net beperkte beheer het. In Room 207 sê Noko dat die rede waarom hy beroof is, is dat: “I was presenting myself as a potential victim” (69). In hierdie situasie is Noko uitgelewer aan misdadigers, maar hy stel dit voor as ’n situasie waarin hy agentskap gehad het en vry was om ’n spesifieke rol te kies, al was dit die verkeerde een. Die onsekerheid wat Noko se houding onderlê, word wel erken wanneer hy kort hierna sê: “You never know in Johannesburg” (69).

Noko se rol van straatwys “hustler” word weer voorop geplaas in die hoofstuk “A sad tale”, waarvan die titel weereens die dubbelsinnigheid en onderliggende onsekerheid van sy astrante vertelstem ontbloot. In hierdie hoofstuk neem Noko vir die leser op ’n wandeling deur die middestad (157). Daar kan verwag word dat hierdie wandeling kan dien as ’n illustrasie van De

Certeau se “pedestrian uttering” (2004:107) en dit kan inderdaad só gelees word. Ek wil egter die klem plaas op die maniere waarop die karakter die houding aanneem van iemand wat keuses en straatkennis het (soos byvoorbeeld wanneer hy die leser aanraai om eerder die trappe as die “dooie” hysbakke te neem), maar dat ’n ironiese stelling soos “If there’s no soft drink there’s coffee and, if that’s not available, there’s always a glass of water. We think we are living a choice-less existence but actually it’s a very choice-full existence”98 (173) dui op die uitgelewerdheid van hierdie rol.

Dat dit ’n rol is, word aangedui deur Noko se instruksie: “Walk like a true Hillbrowean. Walk it like it belongs to you, because, me and you, we have inherited this. It’s ours now” (158). Hierdie optimistiese stelling word ondermyn deur sy beskrywing van hierdie geërfde ruimte as die hel (158) en deur sy volgende instruksie aan die leser: “At least we should enjoy this hell the best way we can”.

Tot die mate waarin die karakters se uitsprake en (veral die verteller se) geselserige toon hulle karakterisering beïnvloed, sluit dit aan by performatiwiteitsteorie se oorsprong in die taalfilosofie, naamlik Austin (1962) se taalhandelingteorie (“speech act theory”). Austin (1962:5-6) voer aan dat sommige uitsprake soos “Hiermee verklaar ek u man en vrou” of “Ek wed jou” nie waar of valse stellings is nie, maar handelinge. Handelinge word nie deur hierdie uitsprake beskryf of verteenwoordig nie, die stellings is in sigself handelinge. Austin (1962:6) noem sulke uitsprake “performatiewe uitinge”. In die konteks van spesifiek die stedelike skryf ook Amin en Thrift (2002:4) oor “performative improvisations” wanneer hulle sê dat die “constant cacophony of talk” (Amin en Thrift, 2002:86) in die stad gesien moet word as “a means of doing something, rather than as a means of representation”. Die styl van Room 207, wat Flockeman (2010:25) beskryf as tipies van die “bravado and uncompromising realism” van “kwaito-styled writing”, kan myns insiens insigself gesien word as ’n vertolking van die rol van straatwyse “hustler”.

Judith Butler (1988) kombineer Austin se insigte met fenomenologiese denke oor handelinge (“acts”) om aan te voer dat geslagtelikheid (gender) nie essensialisties verstaan moet word nie, maar eerder as ’n handeling wat die individu herhaaldelik moet opvoer. Sy beklemtoon dat daar nie veronderstel moet word dat daar ’n outonome agent is wat buite taal staan en vrylik rasionele keuses kan uitoefen nie (Butler, 1988:519): “gender is in no way a stable identity or locus of agency from which various acts proceed; rather, it is an identity tenuously constituted in time – an identity

98 Dit nadat hy vroeër gesê het dat hy net in Room 207 bly omdat hy nie ’n ander keuse het nie: “I don’t have a choice, I don’t have a choice and if I had … Well, we’ll never know, will we?” (167).

instituted through a stylized repetition of acts”. Dat geslag voorkom as stabiele identiteit kan volgens haar beskou word as ’n “performative accomplishment” (Butler, 1988:520).

Soos by die vertolking van (ander)99 genderrolle, behels die rol van “hustler” onder meer die

gebruik van klere en liggaamshoudings. In die nie-fiksie opstel “Blood money” beskryf Cascarino (2010:157) die jong mans wat rondstaan op strate wat ook in Room 207 genoem word, naamlik Louis Bothalaan (146), Twiststraat (157) en Van der Merwestraat (13, 39, 139, 165 en 188):

Adorned in sterling bling-bling that could bring eyesight to the blind, I can’t help noticing them. They’re mostly garbed in imported fancy blue jeans, tight-fitting silk shirts to display their muscles and scare off smash-and-grab thugs, and heavy Caterpillar boots or sparkling white Puma, Adidas or Nike takkies. To round it off, they’re usually leaning against something, feet and hands crossed, eyes scanning their environment as they speak in loud voices.

Zulu-boy is die inwoner van Room 207 wat die beste is met die vertoon van hierdie uiterlike “hustler”-eienskappe:

His voice was always strong, well projected and powerful [...] he would take his time looking in the mirror, making whatever it was sit on him like he had a PhD in fashion. You would have liked him and thought that he was very expensive, and that was what everybody thought about him until they were walking in the street and saw the exact same garment. (63)

Ook Noko en Molamo maak werk hiervan voor hulle in die aand na ’n nagklub gaan:

First, you have to look good, and by good I mean expensive. We have to put on labels, the latest things that are very expensive. Put on some expensive blue jeans, a black muscle top, a leather jacket and some top-of-the-range sports shoes – luxury that money can buy. Then some cologne, not too much, but a little, to draw the female species nearer [...] Then, when you are walking, you have to walk the part too. You have to walk, not like you own the world, but relax, walk like you don’t want to walk. Imagine that walking to you is a strain, not because you are in pain, but because you are used to driving yourself around. (175-176)

Tot dusver in hierdie afdeling het ek die “hustler”-rol bespreek asof dit ’n uitrusting is wat die karakters in Room 207 kies om aan te trek, op ’n soortgelyke manier as wat Goffman die opvoer van sosiale rolle beskryf in The presentation of self in everyday life (1956). As identiteit egter verstaan word in terme van Butler se herformulering van performatiwiteit, beteken dit dat die individu nie ’n essensie het wat buite die keuse van sosiale rol kan staan nie. Noko is nie ’n individu wat besluit om ’n “hustler” wees nie, sy opvoer van hierdie rol, onder andere, konstitueer hom as mens en beïnvloed die stedelike omgewing waarin hy homself bevind, soos wat hierdie omgewing (soos reeds genoem) ook vir hom beïnvloed.

In my analise van die uitbeelding van stedelike performatiewe handelinge in Room 207 wil ek veral aansluit by Gary Bridge se Reason in the city of difference (2005). Bridge (2005:28) kritiseer Butler se argument dat sosiale norme verander kan word deur performatiewe “excess”, dit wat nie ten volle omvat word deur die norme wat dit veronderstel is om te reproduseer nie. Volgens Bridge brei Butler nie genoeg uit oor wat hierdie “excess” behels nie en meen hy dat dit gevolglik transendentale kwaliteite aanneem.

Bridge (2005:29) se denke steun op netwerkteorie. Hy voer aan dat liggame, hulle impulse en dus hulle gedrag en die performatiewe identiteite wat sodoende gekonstitueer word, verrys uit oorvleuelende transaksionele netwerke. Waar Butler aanvoer dat liggame “excess” het omdat hulle liggame is, vind vernuwing volgens Bridge (2005:29) plaas in die konkrete wisselwerking van verskillende liggame. Die individu word dus in ’n mate deur sy of haar omgewing en situasie gedetermineer, maar het ook agentskap. Hierdie agentskap is volgens Bridge (2005:29) nie geleë binne die individu nie, maar in die transaksies tussen verskillende individue, voorwerpe en ruimtes. Myns insiens kan Bridge se werk dus gesien word as ’n brug tussen performatiwiteitsteorie en die nuwe materialisme.

Wanneer dit kom by stedelike rolle, sien Bridge (2005:44-45) ook identiteit as transaksioneel. Die self is “a composite of networks of association” en “[t]he range of social spheres can be seen as