• No results found

Hoofstuk 4: Liggaamlike uitgelewerdheid en die meer-as-menslike in die stad in Thirteen cents

4.2. Azure en Siegfried as hawelose weeskinders

4.2.4 Diere en plante

4.2.4.2 Abjeksie en dierlikheid

Die antropoloog Mary Douglas is bekend vir haar navorsing oor hoe verskillende gemeenskappe123

sommige mense en menslike eienskappe as “dierlik” sien (Douglas, 1975:3-4). Dit behels veral dat sekere liggaamlike prosesse, byvoorbeeld menstruasie, beskou word as onrein en taboe en dat rituele uitgevoer word om dit te besweer (1975:4). In moderne Westerse samelewings neem hierdie rituele veral die vorm aan van “maniere” en etiket wat byvoorbeeld voorskryf dat dit ongemanierd is om wind te breek, te spoeg of naak te wees in die openbaar (Hubbard, 2006:152). In Siegfried sê Siegfried se pa byvoorbeeld vir hom: “Mens eet nie van die donnerse vloer af nie [...] mens is nie ’n dier nie” (169-170).

Die mens is egter wel ’n liggaamlike wese en ons kan nooit ten volle van ons dierlike aspekte ontslae raak nie. Soos wat daar nog altyd steeds natuur in die stad teenwoordig is, só is daar steeds dierlike eienskappe in die mees “beskaafde” mens. Soos Azure sê: “Pigeons, people, they are all the same. At the end of the day they are just rats. They’ll take you out for a few crumbs of bread.” (28). Die implikasie is dus dat alhoewel owerhede straatkinders soos rotte of duiwe behandel, alle mense eintlik diere is – gefokus op hulle eie oorlewing. Wanneer Azure deur Gerald se onderdane op ’n gebou se dak toegesluit word, kyk hy vir mense en vir duiwe en vergelyk hy die twee implisiet:

I explore the roof and watch people below. I watch them getting into their cars and getting out of their flats. I watch children running down the street playing soccer. I watch pigeons, ugly fat pigeons, flying around me endlessly and settling on the roof. Some of them only have one leg. And the men pigeons are always trying to screw the women pigeons. They bully them and hop on their backs. (50)

Die duiwe is in hierdie gedeelte simbolies vir mense se onderliggende dierlikheid wat die meeste van die tyd onderdruk word. Soos wat Duiker (2005:29) beweer dat hy in The quiet violence of

dreams die donker kant agter Kaapstad se toeristiese skoonheid verken, só word Azure deur sy

uitgelewerde omstandighede forseer om die versteekte dierlike kant van mense te sien.

Soos wat Azure Kaapstad se inwoners se dierlike drange vergelyk met dié van duiwe, vergelyk Smit (in Siegfried) dit met dié van ruspes:

123 Dit sluit beide gemeenskappe wat beskou word as primitief en gemeenskappe wat beskou word as modern in (Douglas, 1975:5).

“Die stad is nie ’n goeie plek nie, Siegfried. Dit is vergelykbaar met die sosiale opset van ruspes wat saamkoek, omdat hulle nie individueel kan funksioneer nie. Dan vrek duisende as gevolg van die tekort aan hulpbronne in die beknopte, oorbewoonde ruimte.” (68)

Dit is dan hoe Siegfried die stad ervaar, byvoorbeeld wanneer hy die mense in ’n inkopiesentrum vergelyk met “miere in ’n opgedonnerde nes” (112).

Op sosiale vlak probeer mense die angs van hulle eie dierlikheid hanteer deur sommige mense te klassifiseer as meer natuurlik of dierlik as ander (Hubbard, 2006:154). Sodoende kan pogings om sommige groepe mense te onderdruk en ekonomies uit te buit geregverdig word. Hierdie “ander” mense word gesien as net nog ’n vorm van dierlike lewe wat soos ander diere gebruik kan word om menslike vooruitgang te bevorder (Mbembe, 2003:24).

In Pouvoirs de l’horreur (1980) bou Julia Kristeva voort op Douglas en Freud se teorieë (met verwysing na die outeur Céline se werk) om aan te voer dat dit dikwels vroulike liggaamlike prosesse is wat beskou word as vuil en taboe (Kristeva, 1982:158-170). Sy skep die term “abjek” om dít wat deur gemeenskappe en individuele verwerp word as vuil (maar wat tog ook ’n tipe fassinasie en aangetrokkenheid wek) te beskryf:

what is abject, […] the jettisoned object, is radically excluded and draws me toward the place where meaning collapses. A certain "ego" that merged with its master, a superego, has flatly driven it away. It lies outside, beyond the set, and does not seem to agree to the latter's rules of the game. […] The abject confronts us […] with those fragile states where man strays on the territories of animal. (Kristeva, 1982:2 en 12)

In Suid-Afrika het hierdie assosiasie van sekere mense met die abjekte nie net plaasgevind in terme van geslag nie, maar veral ook in terme van ras (Dickson, 2014:76 en Maniá, 2014:159-160). Wit mense is gesien as die enigste ten volle beskaafde en ontwikkelde mense en die uitbuiting en onderdrukking van mense van ander rasse is só geregverdig. Apartheid se nalatenskap veroorsaak dat Azure se abjekte status gedeeltelik aan sy ras toegeskryf kan word.

Azure is omtrent dertien jaar oud en soos wat Kim (2010:69) uitwys, is kinders ook abjekte buitestanders in die stad. Openbare stedelike ruimtes word in die algemeen beskou as die domein

van volwasse mans, terwyl kinders, soos vroue,124 gekonsepsualiseer word as behorende tot die

private huishoudelike sfeer. Behalwe dat Azure ’n jong swart seun is, is hy ook haweloos. Weens hulle gebrek aan private ruimtes word hawelose mense geforseer om hulle liggaamlike (“dierlike”) versorging in openbare areas te doen (Hubbard, 2006:112). Die hawelose karakters in die twee romans moet dan ook in die openbaar was (Duiker, 2000:2 en Anker, 2007a:182 en 248), urineer (Duiker, 2000:5) en slaap (Duiker, 2000:3 en Anker, 2007a:74 en 78). Hulle word dus gesien as vuil, afwykend en gevaarlik, en word nie soos mense behandel nie (Hubbard, 2006:112).

Soos reeds genoem, is daar verskeie voorbeelde in Thirteen cents van mense wat vir Azure as dierlik of minder-as-menslik sien. Daar is wit tieners wat Azure en Bafana se situasie romantiseer en hulle vergelyk met straatkatte (20) en daar is die dokter wat Azure behandel nadat Sealy hom geslaan het (43).125 Hy sê dat Azure “wild” is en alles verdien wat met hom gebeur. Een van Azure se kliënte gebruik weer sy goeie maniere om homself te onderskei van ander wat hy beskou as minder menslik. Azure beskryf hom soos volg: “His manners are sickening. They are perfect and make you feel a little strange, like you’re a dog with fleas.” (82).

In Siegfried word hawelose mense ook in dierlike terme beskryf. Onder die brug woon byvoorbeeld “Mildred”, ’n meisie met “’n bos wilde hare” en “’n eselse gebulk” (82) wat vir Smit voer soos ’n ma-voël haar baba (248) en “Philip die Kat” wat “Die Kat Gelyd” maak, “’n klank erger as ’n katwyfie in Augustus” (82). Ook mense met verstandelike en liggaamlike gebreke word dikwels behandel as minder menslik en meer dierlik as ander. In Siegfried se geval word hierdie situasie vererger deurdat sy gewebde hande en voete wat hom in die oë van ander ’n “visman” (15), “paddafiguur” (19), “eend-freak” (104) of “amfibiese monstertjie” (114) maak – “al half dier, of nog nie volkome mens nie” (202).

Siegfried word nie net met waterdiere vergelyk nie, maar ook met voëls. Maggie sê byvoorbeeld dat hy sy kos “fladder [...] soos ’n voëltjie” (114) en wanneer Siegfried oorweldig voel doen hy “die voëlding” (120). Dit help hom om te ontspan en behels dat hy “sy arms so uitsteek langs die kante en stadig soos ’n voël maak op en af met sy arms soos ’n reier wat stadig vlieg” (129). In Huis Sonneskyn (159) en later ook in Fafnir se fratssirkus (198) is daar ook ’n “voëlvrou” wat “Kwêê”- geluide maak.

124 Sien bladsy 26.

125 Meester, een van die hawelose mense saam met wie Smit onder die brug bly, sê ook vir hom dat hospitale nie plek het vir “ons types” (dit wil sê hawelose mense) nie (74) en wanneer Siegfried in die hospitaal is saam met Maggie jaag polisie hom weg en sê “Niemand hier van jou nie” (150).

Behalwe vir die brug waar die haweloses bly en Huis Sonneskyn, beland mense wat deur ander beskou word as dierlik of abjek in Siegfried se Kaapstad by Fafnir se fratssirkus (soos Meester ook vir Smit sê [249]). In die sirkus is daar nie net die reeds genoemde dwerg Buddy, reus Brutus en die voëlvrou nie, maar ook ’n “wurmman”, ’n vrou met ’n stert, ’n “perdgesigman”, “Draad Dreyer” wat sy liggaam kan knoop en ’n lelike meermin (206-207).

Denkers wat besorg is oor sosiale geregtigheid stel verskeie maniere voor waarop samelewings meer inklusief kan wees met betrekking tot mense wat gekarakteriseer word as minder menslik. Na aanleiding van die werk van Derrida, voer Reddick (2004:24) byvoorbeeld aan dat mense moet leer om “monsters” (en dit wat hulle as monsteragtig beskou) te omarm. Nog ’n benadering is Deleuze en Guattari se teorie oor “wordende-dier”. “Wordende-dier” impliseer nie net dat ’n mens in verhouding tot diere en dierlikheid staan en dat hierdie verhoudinge deel vorm van sy of haar subjektiwiteit nie. Dit hou ook verband met desubjektivering. Deleuze en Guattari bevraagteken naamlik of die mens enigsins apart kan staan van die res van die wêreld.