• No results found

Inleiding: verwysings na Suid-Afrikaanse en Europese mites

Hoofstuk 4: Liggaamlike uitgelewerdheid en die meer-as-menslike in die stad in Thirteen cents

4.3 Die soeke na ’n tuiste en betekenis in die stad

4.3.2 Mites

4.3.2.1 Inleiding: verwysings na Suid-Afrikaanse en Europese mites

Soos verduidelik in die vorige afdeling, is daar in beide Thirteen cents en Siegfried verwysings na rots- of muurskilderye en karakters wat om ʼn vuur dans. Dit is verwysings na Khoisan-kuns en - rituele. Die woord “Khoisan” verwys na twee verskillende groepe. Die San was jagterversamelaars wat vir omtrent ’n 100 000 jaar in Suider-Afrika gewoon het voordat Europese koloniseerders en swart groepe uit die res van Afrika die area begin bewoon het (Bousman, 1997:194). Die Khoikhoi (of “Khoekhoe”) het omtrent 2 000 jaar gelede in Suider-Afrika aangekom en anders as die San was hulle veeboere (Smith, 1997:210). Antropoloë gebruik die term “Khoisan” om daarop te dui dat die twee groepe saamgesmelt en vermeng het (Dowson, 1997:373).

Die Khoisan se rotskuns, soos dié wat Azure in die grot vind, is nie net versierings of uitbeeldings van dinge wat die kunstenaars in hulle alledaagse lewe gesien het nie. Die kuns het religieuse komponente (Dowson, 1997:373). Die beswymingdans was een van die belangrikste religieuse rituele van die Khoisan. Hierdie dans behels dat toordokters om ’n vuur dans totdat hulle in ’n beswyming ingaan. Hulle glo dat hulle sodoende die spirituele dimensie binnegaan en daar

belangrike take kan uitvoer, soos om siekes te genees of veraf plekke te besoek (Dowson, 1997:374-376).

Azure se uitvoer van die sjamanistiese dans op Tafelberg kan só verstaan word: as ’n manier om in die spirituele dimensie take te verrig wat hy nie in die “werklike” wêreld kan doen nie (Ezeiora, 2005:166) – soos om Gerald te vermoor (123). Ooreenstemmend met die Khoisan-opvatting is Gerald dan ook in die “werklike” wêreld dood (134). In Siegfried het die haweloses se dans om ’n vuur minder van ’n pragmatiese doel en is dit eerder ’n manier om op ’n euforiese wyse met die verlede (deur middel van historiese rituele), die liggaamlike en die dierlike in kontak te kom (77). Die uitbeelding van rituele en ritualistiese kuns in albei romans kan dus in verband gebring word met Abram (1996:7) se bewering (met betrekking tot die Indonesiese kulture wat hy bestudeer) dat die rol van die toordokter of sjaman is om as tussenganger op te tree tussen die menslike en die meer-as-menslike domeine. Hiermee bedoel hy dat die toordokter sorg vir ekologiese balans tussen die menslike samelewing en die meer-as-menslike omgewing (wat nie net die nie-menslike natuur nie, maar ook die voormalige en toekomstige bewoners van die gebied en ’n spirituele dimensie insluit).

In Thirteen cents is daar verwysings na verskeie aspekte van Khoisan-mites. Saartjie vertel byvoorbeeld vir Azure van ’n bidsprinkaan (“Mantis”) wat in die maan woon en soms na die aarde kom (126). Volgens Khoisan-mites is Ikaggen (dit word soms “/Kaggen” geskryf – sien Barnard, 1992:84), ’n bidsprinkaan, die eerste lewende wese op aarde en die skepper van alle ander lewe (Stookey, 2004:9). Ikaggen het ook die maan geskep deur sy galblaas in die lug te gooi nadat hy uitgevind het dat een van die diere wat hy geskep het gejag is (Stookey, 2004:9). Ikaggen het die vermoë om homself en ander diere in verskillende vorms te verander – ’n moontlike verklaring van Azure se geloof dat die duiwe in Kaapstad eintlik bose mense in ander vorms is (2, 18, 40 en 115) en sy eie inspanning van dierlike kragte om Gerald te verslaan (soos bespreek in afdeling 4.2.4.3 Wordende-dier).

Wanneer Ikaggen in die vorm van ’n ou man aan Azure en Saartjie verskyn, sê hy dat die sterre met hom praat:

“The stars have told me that you’re the nothing. You eat anything and everything. You’re always hungry and you’re always thirsty. But you won’t eat me. I am going to kill you.” “No! Go and leave Saartjie alone. The stars have told me. I can also hear them.” (128)

In sommige Khoisan-mites verteenwoordig sterre die geeste van menslike en nie-menslike voorgeslagte (Selin, 2000:461). Wanneer ’n toordokter die spirituele dimensie betree, is hy in die lug, tussen die sterre (Selin, 2000:461). In bogenoemde aanhaling sê Azure dus aan Ikaggen dat hy ’n magtige toordokter is en ook met die voorvaders se geeste kan kommunikeer. Die geesteswêreld van die voorgeslagte speel ’n belangrike rol in die meeste Afrika-kosmologieë (Dickson, 2014:76). Die meeste Suider-Afrikaanse godsdienste en legendes behels ’n geloof dat die geeste van die voorgeslagte hulle nageslagte seëninge en strawwe toedien (Chidester, 2014:3). Dit is in kontras met hegemoniese diskoerse wat landskappe konseptualiseer as onbewoon deur dooies, en volgens Nixon (2011:17) dus nie “spiritualized vernacular landscapes” in ag neem nie. Die verwysings na mites in Thirteen cents en Siegfried laat Azure en Siegfried toe om kontak te maak met die voorgeslagte en deel te wees van die geskiedenis, ten spyte van hulle letterlike ouerloosheid. In

Siegfried is daar, soos reeds genoem, verwysings na Khoisan-rituele wat hierdie funksie vervul. Die

meeste mites en legendes waarna daar in Siegfried verwys word, is egter van Europese oorsprong. Die belangrikste deurlopende verwysing is na Der ring des Nibelungen (1876), Wagner se operasiklus oor die Noorse mitologie. Die operasiklus bestaan uit vier dele: Das Rheingold, Die

Walküre, Siegfried en Götterdämmerung. Jan Landman lees vir sy seun die verhaal van Siegfried

(146), maar Anker se roman as geheel is ook gestruktureer soos Wagner se Siegfried. Sy Siegfried gaan, nes Anker se roman, oor die volwassewording van Siegfried, ’n jong man wat deur die loop van die verhaal liefde en vrees ontdek. Die held word bygestaan deur die dwerg Mime. Van Rensburg (2010:30) beweer dat Buddy (in die roman Siegfried) ’n verwysing is na Mime. Met die hulp van ’n wandelaar vind Siegfried dele van sy pa se swaard wat hy kan herstel om die draak Fafner daarmee te oorwin. Soos genoem op bladsy 107 kan Willem Anker se Siegfried gelees word as ’n ondermynende bildungsroman, waarin die bildung (opvoeding, opleiding) wat in Wagner se opera plaasvind nie voltrek word nie.130 Siegfried kry dit byvoorbeeld nie reg om vir Fafnir dood te

maak of te oorwin nie – hy word aan die einde van Fafnir se konsert agtergelaat met die veronderstelling dat hy dood is.

Die stryd tussen die bose en die goeie dien as basis vir heelwat mites (Campbell, 1991:66). Dit is hierdie stryd wat individue insig gee in hoe om hulle eie lewens te interpreteer in terme van wat goed en wat boos is. In Siegfried oorwin die bose Fafnir en dien die verwysing na sy sukses (in die laaste toneel van die roman is hy in New York besig om te dink oor die sukses van sy vertoning

[244-245]) as ’n aanklag teen ’n samelewing waarin sy vooruitgang en Siegfried se ondergang verseker is.

In Thirteen cents sterf die bose Gerald (dit word aan die leser oorgelaat om te besluit of dit as gevolg van Azure se rituele of blote toeval is), maar hy word eenvoudig vervang deur Sealy en die lewe onder die brug gaan voort soos altyd (134). Sealy dink dat hy teen die bose veg, maar hy gebruik self bose middele om dit te doen (138). Aan die einde van die roman sien Azure in ’n apokaliptiese visioen hoe die “bose” Kaapstad (138) vernietig word (161-163). Azure is nie verslaan soos Siegfried nie, maar sy ‘oorwinning’ word getemper deur die vernietigende aard daarvan en Azure se bevestiging van sy basiese ouerlose uitgelewerdheid in die laaste twee sinne van die roman: “My mother is dead. My father is dead.” (164).

Behalwe vir die Nibelungenlied, is daar in Siegfried ook verwysings na verskeie ander mites en legendes waarvan Siegfried se pa hom vertel het. Dit is veral dié wat met water verband hou, soos verhale oor Atlantis (24) en meerminne (238), wat vir Siegfried bybly. Die simboliese betekenis van water in mitologieë word vervolgens verder bespreek. Wat hier relevant is, is dat Siegfried dit verwar met die Disneyfilm The little mermaid (1989):

Hy droom van haar onderwaterkasteel daar’s seewier in die potte alles is stadig alles vloei alles is sonder geluide. Die kasteel is ’n huis onder die water dit het nie ’n dak nie daar’s net water. Die onderwaterhuis is sy pa se huis net sonder die dak. Daar’s nie meubels in die seehuis nie. Sy pa sê die mense daar onder eet net mossels en die kinders ry op seeperde. In sy droom sit sy ma met ’n visstert langs oom Bert sy speel op ’n kitaar. Hy droom oom Bert is koning onder die see. Oom Bert het ’n lang wit baard. Sy ma gee vir hom mossels in ’n bakkie sy vat aan sy arm sy sê Hierso Paddatjie. (39-40)

Nadat Vincent vir Azure vertel het van Jurassic park (1993) (59), word Azure se verstaan van die wêreld ook gevorm deur hierdie film, al het hy dit nog nooit gesien nie. Hierdie verwysings is ’n moontlike aanduiding dat films in die hedendaagse wêreld die rol vervul wat mites eens het. En wat is hierdie rol? Soos wat Chidester (2014:2) beweer oor Khoisan-mites, bied die mitologie vir die karakters in die twee romans ’n greep op ’n onseker wêreld en ’n manier om sin te maak van dit wat hulle nie verstaan nie.

Na sy pa se dood tel Siegfried hom byvoorbeeld op sy bed en sit sy hande oormekaar, “soos aan die einde van stories” (11). Siegfried se pa se stories bied hom dus hier, soos in die res van die roman, ’n manier om vreesaanjaende onbekende situasies te hanteer (Van Rensburg, 2010:62-63). Die

waarde van hierdie riglyne is egter beperk: wat is byvoorbeeld die pragmatiese nut daarvan dat Jan Landsman se hande oormekaar gevou is? Soos Willie Burger (2007:19) beweer, kan Siegfried dus gelees word as ’n treurlied vir “die era van singewende verhale”. Die roman eindig immers met Smit wat terugdink oor die dood van R.A. Visser (253). Die implikasie is dat Siegfried sy oom se naam verkeerd onthou het – dat dit Robert Visser was, nie “Fischer”131 nie. Met sy dood sterf Siegfried se laaste hoop op ’n tuiste saam met familie (soos verteenwoordig deur sy bogenoemde droom van ’n koninkryk onder die see).

Myns insiens word die transendentale betekenis wat in die algemeen aan mites toegeskryf word sodoende in Siegfried ondermyn, maar word verhale steeds in die roman uitgebeeld as iets wat troos bied in ’n verwarrende wêreld. Al kan Siegfried nooit die “onderwaterkasteel” (39) bereik nie, het sy soeke daarna vir hom hoop gegee wat hom gemotiveer het om aan te hou lewe. Ook in Thirteen

cents bied Azure se mitologiese verstaan van die wêreld vir hom die nodige krag om te oorleef, al is

dit onduidelik hoe lank hy nog sal kan oorleef en of hierdie krag omgesit kan word in werklike mag. In die volgende afdeling word bespreek hoe die karakters albei elemente van hulle vyandige Kaapstadse omgewing in hulle mites inkorporeer.