• No results found

Hoofstuk 1: Afrikaans en Engelstalige literêr-teoretiese benaderings tot die bestudering van

1.3 Die Engelstalige Suid-Afrikaanse akademiese diskoers oor die uitbeelding van die stad in die

1.3.3 Beweging in die stad

1.3.3.4 Nuwe grense in die postapartheid stad

Myambo (2010:102) kritiseer Nuttall se interpretasie van Ways of dying en sê dat sy onkrities omgaan met die idee van beweging as agentskap. Toloki, die hoofkarakter van die roman, het naamlik net vryheid van beweging wanneer die strate van die stad verlate is en al die winkels gesluit. Hy het dus net vryheid van beweging wanneer hy nie potensiële kliënte sal steur nie en daar dus nie finansieel ’n rede is om sy beweging te beperk nie. Die meeste kritiek wat gelewer word teen Nuttall en die ander denkers wat gebruik maak van die teorieë van Benjamin en De Certeau is dan ook dat hulle nie die invloed van ekonomiese faktore op karakters se bewegings in ag neem nie.

46 Graham (2008:341) en Jones (2011:380) noem dat dit belangrik is dat daar gelet moet word op die manier waarop “ouer paradigmas” en die geskiedenis die hede beïnvloed. In haar doktorale proefskrif ondersoek O’Shaughnessy (2012:19 en 124) die maniere waarop die voortbestaan van apartheidsgrense in Johannesburg uitgebeeld word in

Triomf, The exploded view en Room 207. In die derde afdeling van haar proefskrif voer O’Shaughnessy aan dat die

stedelike ruimtes in hierdie tekste uitgebeeld word as deterministies. Die hoofkarakters se identiteite as,

onderskeidelik, “hillbillies”, ““hustlers” en “colonial observers” word bepaal deur die ruimtes waarin hulle gesitueer is (O’Shaughnessy, 2012:193).

47 Sien ook Graham (2006:51), Hlongwane (2006:69), Manase (2007:188), Lenta (2009:130), Mukherjee (2012:475), Kruger (2013:151) en Bethlehem (2014:527).

Soos Shane Graham (2006:49) uitwys, kan Nuttall se verstaan van die flaneur beskou word as gedepolitiseerd. Met betrekking tot The exploded view bring Titlestad en Kissack (2006:23-25) De Certeau se teorieë in verband met die werk van Pierre Bourdieu om aan te voer dat die individu se vermoë om te improviseer en sy of haar agentskap altyd beperk word deur hulle habitus.48 Jamal

(2010:129) stem saam met De Certeau dat daar onderskei moet word tussen die panoptiese blik van bo af op die stad en die beweging van die individu in die stad, maar noem dat die mag en invloed van die panoptiese blik op die beweging van die individu nie onderskat moet word nie.

Watts (2005:182) impliseer ook dat Nuttall, Mbembe en die ander bydraers tot The elusive

metropolis die ekonomiese en politiese eienskappe van Benjamin se flaneur miskyk: onder andere is

die flaneur immers ook “the city dweller as customer”. Mbembe en Nuttall (2004:35) fokus doelbewus nie op die ekonomiese nie, omdat hulle, soos reeds genoem, sê dat vroeër studies (hoofsaaklik in die velde van antropologie en ontwikkelingstudies) net in terme van ekonomie na Johannesburg kyk en dat dit reduksionisties is.

Tóg noem hulle wel dat die trekarbeider, eerder as die flaneur, eintlik nog altyd die paradoksale kulturele figuur van Johannesburg was: “the one who is both beneath the city and outside of its borders of visibility” (Mbembe en Nuttall, 2004:364). Vandag speel die immigrant en die krimineel ook hierdie rol (Mbembe en Nuttall, 2004:365). Dit is egter steeds onduidelik hoe hierdie figure aansluit by Benjamin se verstaan van die flaneur. Die flaneur is immers ’n figuur wat waarnemings maak oor die stad en die versteekte ekonomiese struktuur daarvan ontbloot. James Graham (2008:342) wys byvoorbeeld op die verskil tussen die skrywer (van byvoorbeeld Portrait with keys) as flaneur wat verskillende dele van die stad gebruik in sy teks en die hawelose wat genoodsaak is om verskillende dele van die stad te gebruik om te oorleef.49 Op ’n soortgelyke manier beweer

Jones (2012:207) dat die hoofkarakter van Mine boy nie beskou kan word as ’n flaneur nie, omdat hy nie ’n bourgeois esteet is nie.

In die Johannesburg van vandag is die waarneembaarste grens dié tussen ryk en arm. Soos Calburn (in Calburn en Mbembe, 2010:66) dit stel: “Spatially, politically, culturally and economically it would appear that in the ‘new’ South Africa, apartheid has morphed seamlessly into a noxious private-public divide”. Armer mense het nie die opsie om hulle private en publieke wêrelde só te skei nie (Bremner, 2004b:108). Abramson (2009:16-17) ondersoek die uitbeelding van hierdie

48 Die konsep “habitus”, soos geteoretiseer deur Bourdieu, verwys na die individu se waardes, neigings en gewoontes wat bepaal word deur strukture soos familie, klas en kultuur (Barker, 2004).

verskynsel in Zakes Mda se Ways of dying, Snyman (2010:115-116) in Moxyland, Drawe (2013:191) in die romans van Deon Meyer,50 Jones (2011:384-387) in The exploded view en Shane

Graham (2007:86) in The restless supermarket. Hierdie verdeeldheid en grense tussen verskillende inwoners laat Kruger (2006:142) toe om Johannesburg te beskryf as ’n “edgy” stad. Met “edgy” verwys sy nie net na die grense tussen die verskillende dele van die stad nie maar ook na die emosionele toestand van Johannesburg se inwoners: “on the edge” (Kruger, 2006:144).51

James Graham (2007 en 2008:337) argumenteer dat dit toegang tot private vervoer is wat die reeds bevoorregtes en bemagtigdes volle vryheid van beweging in die stad gee en hulle toelaat om betekenisskeppend daarmee om te gaan.52 In “Exploding Johannesburg: driving in a worldly city” (2007) argumenteer Graham byvoorbeeld dat Kruger, Mbembe, Nuttall en ander die werklikheid van vervoer in Johannesburg ignoreer. Johannesburg is, volgens hom, ’n stad wat ontwerp is rondom die motor (James Graham, 2007:67).53 Beweeglikheid, en gevolglik ook subjektiwiteit en outonomie, word dus bepaal deur individue se toegang tot vervoer en die finansies om dit te kan bekostig. Jones (2011:389) gebruik die teorieë van Thrift, Sheller en Urry om te beskryf hoe die voertuig in die moderne samelewing amper deel raak van die individu se liggaamlikheid54 en dus sy of haar beweeglikheid en agentskap in ’n groot mate beïnvloed. Graham (2007:74 en 77) en Manià (2014:122-123) noem (albei met verwysing na die werk van Vladislavić) dat misdaad ook ’n rede is waarom die Johannesburgers wat dit kan bekostig orals heen ry eerder as om te stap of publieke vervoer te gebruik. Só sonder hulle hulself af van hulle mede-stedelinge (Jones, 2011:384 en O’Shaughnessy, 2012:170, 173 en 187). Die deurbreking van grense is naamlik nie noodwendig bevrydend nie, in Suid-Afrika gaan dit veral gepaard met die uitgelewerdheid aan misdaad en die dikwels traumatiese konfrontasies met die onbekende (Kruger, 2006:145).

50 Hierdie onderwerp word natuurlik ook verken in misdaadfiksie wat in stede afspeel. Sien byvoorbeeld Drawe (2013) se analise van romans deur Deon Meyer, Mike Nicol en Roger Smith wat in Kaapstad afspeel. Sy voer aan dat dié skrywers ongelyke sosiale strukture en die kompleksiteit van die hedendaagse polisiëring in die stad verken (Drawe, 2013:187). Parker (2014:134 en 170-189) ondersoek die uitbeelding van stedelike misdaad in Suid-Afrikaanse “gangster”-films.

51 Sien ook Byrne en Levey (2015:72).

52 Daarteenoor beweer O’Shaughnessy (2012:169) dat motorbestuurders in Johannesburg se beweging beperk word deur die padstelsel wat ontwerp is om apartheid te ondersteun en nie sedertdien getransformeer is nie. Sy analiseer die uitbeelding van hierdie beperking in The exploded view en hoe dit verband hou met die hoofkarakters se onvermoë om ideologies te verander (O’Shaughnessy, 2012:189).

53 Sien ook Jones (2011:379), Jansen (2012:114-115 en 128), O’Shaughnessy (2012:134), Putter (2012a:65-67 en 2012b:69-71) en Parker (2014:154 en 158-160). Jansen (2012:130) kritiseer ook vir Mbembe omdat hy nie aandag gee aan hierdie kwessie nie. Nuttall en Mbembe (2007:281) sê wel, in ’n later artikel: “Driving is ubiquitous in

Johannesburg. So much of what is seen appears through the enclosure of a car window”. 54 Sien ook Samuelson (2012:3).

Vroeër is die wit liggaam en wit eiendom beskerm deur apartheidwetgewing (Bremner, 1998:53) en is die swart liggaam in die stad amper per definisie gesien as krimineel (Bremner, 2004a:460). Ten spyte van die feit dat misdaad orals in die stad toegeneem het ná die einde van apartheid (Bremner, 1998:53) word postapartheid misdaad hoofsaaklik verstaan in terme van die wit liggaam en wit private ruimte wat gepenetreer word deur die swart misdadiger (Bremner, 2004a:463). Vandag word daar gepoog om hierdie bevoorregte wit liggame en ruimtes te beskerm deur hoë mure en ander skeidings wat hulle ook isoleer en afsny van die res van die stad. Robinson (1998:168), Hlongwane (2006:70), Manase (2007:15), Hodes (2008:4), Lenta (2009:118 en 126), Ngara (2011:335), O’Shaughnessy (2012:77 en 162-163), Penfold (2012:999), Dickson (2014:71 en 73), Manià (2014:54-60) en Shane Graham (2015:71-74) ondersoek die uitbeelding van hierdie verskynsel in Suid-Afrikaanse literatuur, en Parker (2014:176) in Suid-Afrikaanse films.

Behalwe vir die feit dat baie individue in die stad se beweging beperk is, is daar ook die feit dat sommige mense (insluitend Nuttall en Mbembe se trekarbeider) ter wille van oorlewing geforseer word om voortdurend te beweeg. Beweging getuig vir hulle dus eerder van ’n gebrek aan agentskap en outonomie. Mukherjee (2012:476) beweer byvoorbeeld:

it is precisely in the resistance to the enforced and involuntary conditions of migration, circumlocution and ‘flexible existence’ that the creativity and dynamism of contemporary modernity’s human subject becomes most obvious. That is, they often fully realize themselves in acts of rooting and habitation instead of acts of uprooting and travel.

Immigrante uit middel- en Noord-Afrika is voorbeelde van mense wat deur die stad beweeg, maar wat as gevolg van xenofobie uitgesluit word van volle deelname aan die hedendaagse stad (Bremner, 2010:171). Manase (2003:59), McNulty (2005:95-98), Hlongwane (2006:77), Kim (2010:8), Ngara (2011:20 en 221), Dannenberg (2012:46), O’Shaughnessy (2008c:44 en 2012:149- 150), Penfold (2012:1001), Putter (2012b:24) Davis (2013a:99), Frenkel (2013:33), Dickson (2014:76), Bethlehem (2015:12) en Shane Graham (2015:74) verken die uitbeelding van xenofobie in postapartheid letterkunde terwyl Kruger (2006, 2009 en 2013) en Parker (2014:94, 143 en 145- 146) die uitbeelding van xenofobie in televisieprogramme en films ondersoek.

Ander kritici kyk ook na die manier waarop geslag en seksuele oriëntasie individue se mag en beweging in die stad beperk. Dit is veelseggend dat die meeste karakters in Suid-Afrikaanse stadsromans manlik is. Soos die naam aandui, gaan die meeste “Jim comes to Joburg”-romans oor mans. ’n Uitsondering is The cactus land (1964) deur Rhona Stern (Medalie, 2003:40). Kannemeyer

(2005:436-437) impliseer dat ook die Afrikaanstalige Die swerfjare van Poppie Nongena (1979) deur Elsa Joubert beskou kan word as ’n vroulike “Jim comes to Joburg” roman, wanneer hy dit vergelyk met Swart pelgrim.

Samuelson (2008:67) ondersoek die maniere waarop die vrou uitgebeeld word in werk deur die Sophiatown-skrywers. Sy voer aan dat die vrou aan die een kant uitgebeeld word as stedelik (om die reeds genoemde apartheidsideaal van die landelike swart mens te ondermyn), maar aan die ander kant kan die meeste Sophiatownskrywers gesien word as patriargaal en poog hulle om die uitbeelding van stedelike vroue te beperk tot huishoudelike en romantiese rolle (Samuelson, 2008:67). Parker (2014:134) voer aan dat die meeste hoofkarakters in Suid-Afrikaanse films wat in die stad afspeel, ook manlik is. Belangrike uitsonderings is die hoofkarakters van uDeliwe (1975),

Debbie (1965) en Sarafina! (1992) (Parker, 2014:137). Yesterday (2004) het ’n vroulike

hoofkarakter, maar Johannesburg word daarin uitgebeeld as ’n ruimte waarin vroue nie agentskap het nie (Parker, 2014:147 en 157).

Manase (2003:73-74) maak die aanvegbare stelling dat die stad vandag steeds hoofsaaklik uitgebeeld word as ’n manlike ruimte waarin vroue slegs as prostitute figureer.55 Putter (2012b:111-

114) bespeur hoopvolle tendense in Welcome to our Hillbrow, The restless supermarket en Room

207: alhoewel die vroulike karakters in hierdie romans aanvanklik deur die hoofkarakters gesien

word as prostitute, leer hulle hulle uiteindelik as mense ken.56 Daar is egter nie enige vroulike hoofkarakters in die tekste nie. Sy merk op dat verdere studie gedoen kan word oor die vroulike hoofkarakters van Saracen at the gates (2010) deur Zinaid Meeran en Zoo city (Putter, 2012b:76).57

Byrne en Levey (2015:75) ondersoek die maniere waarop hoofkarakters se geslag, seksuele oriëntasie en verhoudings met tegnologie hulle identiteite en agentskap beïnvloed in ʼn ander roman deur Lauren Beukes, naamlik Moxyland.

Soos Jansen (2012:119) en Penfold (2012:1004) uitwys, het vroue volgens die grondwet vryheid van beweging, maar in realiteit is die reaksie op hulle pogings om vryelik te beweeg verkragting en geweld, soos uitgebeeld in Disgrace58 (nie dat Disgrace ’n stadsroman is nie, dit kan juis eerder beskou word as ’n postkoloniale, anti-pastorale plaasroman [Smit-Marais en Wenzel, 2006:23]). Lucy, die karakter wat verkrag word in Disgrace, is ook ’n lesbiër; die roman beeld dus ook die

55 Sien ook McNulty (2005:48) en Frenkel (2013:36).

56 Sien ook Hlongwane (2006:79) se bespreking van die vroulike karakters in Welcome to our Hillbrow. 57 Sien ook Kreuiter (2015) se bespreking van die karakter Justine in The Alexandria quartet (1938-1958) deur

Lawrence Durrell as ’n vroulike flaneur. 58 Sien ook Jamal (2010:126).

beperkte agentskap van gay mense in Suid-Afrika uit. Dieselfde is waar van die uitbeelding van Tshepo in The quiet violence of dreams. In die roman word gay nagklubs uitgebeeld as veilige ruimtes, maar sulke ruimtes is beperk (Penfold, 2012:1005).

Jansen (2012:129-130) verwys na “The suffering body of the city” deur Frédéric Le Marcis (’n artikel in Johannesburg. The elusive metropolis [2004]) om te redeneer dat ’n individu se beweeglikheid in die stad ook bepaal en beperk word deur sy of haar liggaamlikheid. Dit hou nie net verband met geslag nie – sy ondersteun haar argument deur te verwys na ’n karakter wat VIGS het in Room 207. Le Marcis (2004:453) sê dat dit ’n hartseer ironie is dat Suid-Afrikaners, net toe hulle nuwe beweeglikheid gekry het met die einde van apartheid, op ’n groot skaal begin siek raak het as gevolg van VIGS.59 Die meeste teorieë oor beweging in die stad, onder andere dié van De Certeau en Benjamin, is gebaseer op die aanname dat die rasionele individu ’n gesonde liggaam het (Le Marcis, 2004:454). Le Marcis (2004:455 en 471) karteer die beweging van VIGS-lyers in Johannesburg en voer aan dat ’n ander beeld van Johannesburg so gevorm word: dié van ’n wrede stad, maar ook ’n versorgende een wat soms mense toelaat om aktivisties saam te staan.

Le Marcis se argument illustreer die feit dat alhoewel teorieë wat beweging in die stad vier belowend is, daar altyd ook aandag geskenk moet word aan magte en elemente wat hierdie bewegings beïnvloed. Soos Jamal (2010:126) dit stel:

there is in South Africa the existence of newfound possibilities and re-routings of prior inequities; however, at the same time there is a growing and unnerving sense that these new possibilities and re-routings are simulacral: affects that stem from the idea of freedom rather than from freedom’s actuality.

1.3.4 Ander teoretiese konsepte: Die stad as heterotopie en palimpses