• No results found

Hoofstuk 3: Stedelike tuistes en bewegende stedelinge in Room 207 (2006) deur Kgebetl

3.3 Die individu in die stad

3.3.4 Huishoudelikheid

Uit bogenoemde behoort dit duidelik te wees dat die uitbeelding van die huishoudelike in Room 207 en Werfsonde grootliks beskou kan word as tradisioneel. Die huis word naamlik gesien as privaat, vroulik en staties. Dit skep dus die versoeking om die tekste te sien as illustrasies van die poststrukturalistiese diskoers waarin beweging, die nomadiese en die vreemdeling gesien word as onomwonde betekenisvol en positief (soos beskryf deur Ahmed, 2000:4). In die Suid-Afrikaanse akademie is só ’n perspektief veral populêr gemaak deur Nuttall en Mbembe (sien bladsy 17). Sara Ahmed kritiseer hierdie tipe diskoers in Strange Encounters (2000). Sy beweer dat konsepte soos “die Ander”, die vreemdeling, hibriditeit en wording wat soms binne poststrukturalistiese teorie verheerlik word, gebaseer is op die voortdurende (en versteekte) belang van grense en

strukture wat sosiale hiërargieë in plek hou (Ahmed, 2000:4 en 13). Die Ander of vreemdeling kan immers net geïdentifiseer word vanuit die huis, as dié wat nie daar tuishoort nie (Ahmed, 2000:21- 22): “Such a recognition of those who are out of place allows both the demarcation and enforcement of the boundaries of ‘this place’, as where we dwell.” In die tradisionele diskoers word die ander gesien as ’n gevaarlike bedreiging en die huis dus as per definisie veilig en waardevol (Ahmed, 2000:32). Verder is die liggame wat in ’n spesifieke sisteem bevoorreg word (in Westerse kultuur is dit die wit manlike liggaam) tuis in die mees bevoorregte ruimtes. In Suid-Afrika se geskiedenis het dit ’n baie duidelike en offisiële vorm aangeneem, met wit mense wat tydens apartheid die mees gunstige areas toegeken is, terwyl swart mense geplaas is in onvrugbare “tuislande” en townships geleë langs byvoorbeeld rioolwerke (sien Hart, 1984:52 en Alta Steenkamp, 2012:191).

Die hedendaagse herwaardering van die vreemdeling (veral in die geestes- en sosiale wetenskappe) probeer om hierdie tipe denke en sosiale verskynsels uit te daag. Ahmed (2000:53) voer egter aan dat hierdie herwaardering gedoen word deur subjekte wat altyd alreeds tuis is. Só lyk Werfsonde soos ’n afwys van tradisionele Afrikaner-waardes en ’n omarming van alles wat die “ander” is, maar berus dit op die vermoë van die wit Afrikaner-man om enige plek sy tuiste te maak. Soos Ahmed (2000:53) beweer: “In some sense, the domain of the white masculine subject is established by the equation of his body with home as such: his body transcends itself to become simply where he lives”. Dit kan gekontrasteer word met die volgende uitspraak van Molamo in Room 207:

“We have been, as black people, suffering for as long as there has been history. Everything bad happens to black people and even if I was a billionaire, living the life of a king, with slaves and servants, there would always be something which would remind me that I’m black and I don’t belong.” (144)

Die verteller van Werfsonde se bewerings dat hy “’n verworde Europeër of ’n baster-Afrikaan” (69) is, moet ook gelees word as ’n fantasie wat verband hou met die volgende stelling van Ahmed (2000:124-125):

Such a narrative of becoming the stranger or ‘going native’ offers itself as a rewriting of a history: it deals with the shame of the colonial past by the very fantasy that getting closer to strangers can allow the ‘white man’ to live for and as the native. […] Not only do such multicultural fantasies of becoming involve releasing the Western subject from responsibility for the past, but they also confirm his agency, his ability to be transformed by the proximity of strangers[.]

Die vermoë van Werfsonde se verteller om homself te omring met die Ander berus op kulturele kapitaal en klasvoorregte (vergelyk Ahmed, 2000:133). Dit kan gekontrasteer word met Noko in

Room 207 se onvermoë om homself te vestig in die tradisioneel wit wêreld (145-149). Soos wat ek

in die volgende afdeling gaan betoog, hou hierdie (on)vermoë om tussen die verskillende wêrelde te beweeg ook verband met klas.

Soos Ahmed (2000:80) beweer, is dit maklik om alle vorme van migrasie, insluitend intellektuele migrasie, as soortgelyk te sien en te verheerlik wanneer jy self orals tuis is. Dit is wat volgens haar gebeur in Iain Chambers se Migrancy, culture and identity (1994). Hierdie tipe denke berus ook op die liberale narratief van ’n subjek wat outonoom is en vry is om te kies, al is die tipe subjektiwiteit wat hy of sy kies in kontras met klassieke liberale ideale (Ahmed, 2000:83). Die subjek wat kies om ’n hawelose te wees, is ’n bevoorregte subjek. Ahmed (2000:83) beweer dat dit selfs waar is van die subjek wat nomadiese denke verheerlik (sy verwys hier na Rosi Braidotti): dat hulle tuisloosheid kan kies omdat hulle alreeds bevoorreg genoeg is om orals tuis te wees (sien ook Glissant, 1997:19).

Hierdie tipe denke veroorsaak ook dat die huis noodwendig geassosieer word met die statiese, grense, identiteit en vastigheid, waar die subjek so gemaklik is dat hy of sy nie dink of enigiets begeer nie (Ahmed, 2000:87 en Amin en Thrift, 2002:78). In die werklikheid is huise egter uiteenlopend en kompleks, en is geen subjek sonder begeerte nie. Die Ander, die vreemdeling en die begeerte vir die vreemde Ander is reeds in die huis teenwoordig (Ahmed, 2000:88). Die meerderheid mense in die stad het ook tuistes en dit is ’n minderheid wat werklik haweloos en dus nomadies is. Dit is dus vreemd dat die tradisionele diskoers die stedelike as die teenoorgestelde van die huishoudelike konseptualiseer (Amin en Thrift, 2002:18). Ahmed (2000:138) verwys na die denke van Levinas om aan te voer dat dit net vanuit die huis is wat ons die Ander as waarlik anders kan erken.106 Sy kontrasteer sy ontologie met dié van Heidegger, wat volgens haar net waarde

toeken aan die tuiste en tuisteskepping in soverre dit gaan oor die individu wat besitneem.

Peter Sloterdijk (2012:41) voer op ’n soortgelyke manier aan dat die hedendaagse fokus op beweging gebalanseer moet word met aandag aan “autochtony”, dit wil sê die tuiste of gemeenskap wat as beginpunt dien waaruit die beweging plaasvind. Hy voer aan dat ons dit wel kan doen deur middel van verwysing na die (afgeskeepte) ruimtelike aspek van Heidegger se denke. Tradisioneel

106 Sien my magisterverhandeling vir ’n meer uitgebreide bespreking van Levinas se denke en die rol van die huis daarin: Burger (2013:55-56).

het Heidegger se teoretisering oor tyd meer aandag geniet, maar ruimte speel ’n sentrale rol in sy werk. “Dasein”, sy woord vir bestaan, kan immers vertaal word as “daar wees” en is dus in essensie ruimtelik. Menslike bestaan word ook, volgens hom, gekarakteriseer deur bewoning en bou (Heidegger, 1993:347). Ons bou nie net sodat ons kan bewoon nie: om te bou is alreeds ’n vorm van bewoning (Heidegger, 1993:348). Daar is twee redes waarom die mens se basiese projek die oprig van letterlike en figuurlike strukture is: om hom- of haarself teen die buitewêreld te beveilig en om hom- of haarself in die wêreld te anker deur daarvan sin te maak (Marais 2008:37).

Hierdie klem op die maniere waarop mense ruimte gebruik, laat dit voorkom asof Ahmed se kritiek geldig is. Heidegger (1993:358) sê egter dat ons die mens en ruimte nie moet sien as onafhanklike entiteite nie: ruimte en mens skep en vervorm mekaar; ’n mens kan nie apart van ruimte en sy bou- en bewoonaksies beskou word nie. Hy beskou ook nie die mens as ’n outonome individu wat enige doelwit kan nastreef nie. Die mens se projekte word beperk deur die faktisiteit van die reeds- bestaande wêreld (Marais, 2008:28).

Alhoewel Heidegger se teorie dus moontlik te antroposentries is om werklik versoenbaar te wees met netwerkteorie, kan sy fokus op die ruimtelike en veral die huishoudelike handig wees vir ’n meer genuanseerde verstaan van hoe die individu in die stad nie heeltemal vry is om rond te beweeg en betekenis te skep nie. Hy of sy is eerder gewerp in ’n beperkte, reeds-bestaande wêreld waarin daar nie vaste, deterministiese of essensialistiese betekenis is nie. Sy of haar projek is om, gegewe die faktisiteit van hierdie wêreld, betekenis te skep deur middel van bou en bewoning. Heidegger verwys nie hier net na die individu se letterlike huis nie, maar na al die maniere waarop die mens in die wêreld is (Marais, 2008:29). Ek wil egter aanvoer dat die letterlike tuistes wat in Room 207 en

Werfsonde uitgebeeld word, gelees kan word as manifestasies van die karakters in die romans se

eksistensiële projekte en vir die leser inligting verskaf oor die karakters se gesitueerdheid.

Die narratief van Room 207 neem die vorm aan van ’n gesprek tussen Noko en die leser, waar Noko as gids dien wat die leser in Hillbrow verwelkom en hom of haar rondwys. Die roman begin met ’n hoofstuk waarin die leser in kamer 207 verwelkom word (“Come in, come in” [15]) en op ’n toer deur die eenkamerwoonstel geneem word. Bystrom (2013:343) verwys na Derrida se Of hospitality (2000) om aan te voer dat gasvryheid nie altyd gemaklik is nie: “that even as hosts offer themselves and their spaces to guests they also gain some kind of power or claim over them.” Sy voer aan dat dit waar is van Noko se gasvryheid in Room 207; dat hy die leser nooi om die “vulnerabilities and

desires” van kamer 207 se inwoners te deel, maar dat hy hom of haar ook dwing om as getuie107 te

dien van die “injustices that reside there on their own ground” (sien ook Human, 2006:4). Sy sien dit dus as ’n “hard-edged” intertekstuele antwoord op die meer humanistiese gasvryheid in Phaswane Mpe se Welcome to our Hillbrow.108 Noko impliseer aanvanklik dat Hillbrow almal

verwelkom:

I like to call Hillbrow our little mother earth in Africa because here you’ll find all races and tribes of the world. Here you’ll find Europeans and Asians that by fate have become proud South Africans, taking a long shot or maybe even a short shot at a dream or dreams of their own. (19)

Hierdie uitspraak word egter dadelik geproblematiseer deur Noko se volgende sin: “It’s dream city and here dreams die each and every second, as each and every second dreams are born.” Sodoende raak die kamer en Hillbrow volgens Milazzo (2013:42) ’n simbool vir “a larger condition of poverty and decay, metaphors for the unfulfilled hopes and the shattered dreams of millions of South Africans who continue to live in abject conditions”.

In Werfsonde spreek die verteller nie die leser direk aan nie en gee hy nie ’n soortgelyke toer van sy huis nie. Deur egter, soos reeds bespreek, die private besonderhede van sy alledaagse bestaan (selfs sy debietkaart se pin [43]) te deel, word die leser ook uitgenooi om sy lewe waar te neem. Soos reeds genoem (in afdeling 3.3.2 Werfsonde as flaneurteks) laat hy sodoende die teenstrydighede van sy samelewing toe om hom te merk, en dieselfde is waar van sy huis. Dit is veral wanneer sy huis vergelyk word met die kamer in Room 207 wat waarnemings gemaak kan word oor die sosiale strukture in die dele van Johannesburg waarin die twee boeke afspeel.

Oppervlakkig beskou, is dit byvoorbeeld reeds betekenisvol dat die karakters van Room 207 hulle kamer huur, terwyl die verteller van Werfsonde sy huis besit (97). Ook op ander maniere getuig kamer 207 van tydelikheid (O’Shaughnessy, 2012:108), al woon die karakters reeds vir elf jaar daar (13): “We stay there, although we don’t really say we stay there: it’s been a temporary setting, since and until ... I can’t tell. What I do know is that we have spent eleven years not really staying there.” Wanneer hulle nie hulle huur kan betaal nie, word hulle selfs uitgesluit uit die woonstel (76). Soos Noko sê: “It’s a sad feeling to have people locking you out of your haven. What does it really say

107 Op bladsy 169 vra Noko dan ook aan die leser wat hy of sy gesien het tot dusver, en die antwoord is klaarblyklik: “People living in rotting streets and buildings.”

108 Sien ook die titel van die hoofstuk “Welcome to our Hillbrow”, wat verwys na Matome se uitspraak nadat Noko beroof is (70).

about you?” (76-77). Myns insiens dui dit op die karakters se magteloosheid en die beperktheid van hulle agentskap, veral, in hierdie geval, as gevolg van hulle armoede.

Wanneer hulle uitgesluit is, gaan slaap Noko in Motome se vriend Wada se kantoor in Parkstasie (79). Wada is ook ’n “hustler”; “the singer cum businessman cum producer cum manager cum something-and-everything cum DJ Baby Wada Da.” Ook hier verwelkom Noko die leser en nooi hy dus vir hom of haar uit om as getuie te dien van hoe die “hustler” dit tog regkry om vir homself ’n tuiste en sentraliteit in Johannesburg uit te kerf (79). Soos met kamer 207 dui hierdie tuiste egter op beperkte agentskap en ’n ongerieflike alledaagse lewe:

The blankets on the floor? That is where he sleeps. [...] Don’t mind the clothes on the chair, they were washing them yesterday. Find a chair and sit. If you are lucky enough you’ll get to see Wada ironing his clothes on Wada’s ironing board, which is the floor. The dirty water in the bath? They were washing; these boys share a bath here, Matome and Wada. [...] There’s nothing that has to do with hygiene here, everything is for survival. (80)

In kontras hiermee het die verteller van Werfsonde wortel geskiet op sy werf, ook letterlik wat sy tuinmakery betref (51, 52, 90, 174, 177, 186, 210 en 212). Verder raak hy nie werklik by tuisteskepping betrokke nie; hy laat dit aan sy vrou oor (23). Ek het reeds verwys na die geslagtelike aard van huishoudelikheid in Room 207, maar daar is ook gedeeltes waarin die manlike karakters tuisteskeppend optree. Op bladsy 150 word daar byvoorbeeld beskryf hoe Modishi fluit terwyl hy skottelgoed was en skoonmaak. Matome word ook beskryf as die “wife of 207”, die een wat al die tradisioneel vroulike huishoudelike take verrig: “paying the rent, buying the bags of rice and porridge and all the things that we needed. If one of us was cooking and something wasn’t there, he would always know where it was or tell us if it was finished” (192-193).

O’Shaughnessy (2008c:86 en 2012:108) sien die karakters se intieme verhoudings binne die kamer as in kontras met hulle “harde” publieke personae en voer aan dat dit daarop dui dat hulle nie net op hulle individualistiese “hustler”-rolle aangewese kan wees nie, maar ’n begeerte het om aan ’n sosiale eenheid te behoort. Hierdie argument word ondersteun deur die titel van die eerste afdeling van die roman, “Refuge” (12), sowel as verwysings na die kamer as die karakters se “safe haven109

109 Teen die einde van die roman sê Noko egter “the place, sorry, the haven” (225), ’n moontlike aanduiding dat die benaming “haven” sarkasties is.

during the lighted dark night of dream city.” (13). Dit kom dus voor asof die kamer dien as ’n heenkome waar hulle tydelik kan ontspan.

Die karakters se “haven” is egter nie gerieflik nie en die gebou waarin dit is, word beskryf as “crumbling” (149). Daar is ’n gebrek aan instandhouding, wat myns insiens aansluit by die karakters se reeds bespreekte gesprek oor Hillbrow in “Weekending” (sien bladsy 77). Die gebou se eienaars is klaarblyklik wit en Noko dink dat hulle nie dit onderhou nie, want “A former master

can’t serve a former slave.” (149). Soos wat swart mense (volgens Matome) nie ’n belang het in die

skoonhou van Hillbrow omdat hulle nie voel dit behoort aan hulle nie (90), is die hoofkarakters ook nie gemotiveer om kamer 207 te onderhou nie. Hulle bly immers net tydelik daar. Oor die kamer se houtvloer word daar gesê: “It needs help” (13). Veral die badkamer is vervalle, “rotting” (13). O’Shaughnessy (2012:109) sien dit as “a reminder of the difficulty of transforming or eradicating the tarnish of the city’s socio-spatial and political history from lived space”, met ander woorde as ’n simbool van die beperkings waarteen die karakters te staan kom. Een van hierdie beperkings is misdaad: hulle kan nie die badkamervenster oopmaak nie, omdat hulle badkamerprodukte gesteel sal word (14).

Die toestand van die badkamer kan toegeskryf word aan die gebou se afwesige opsigter (14) en die karakters se gebrek aan geld. Hulle doen egter ook nie moeite om die woonstel te onderhou in die mate wat hulle wel kan nie: “That, the sink, is always like that. The dishes are washed only when we are about to have our last meal of the day, which, sometime, is our first meal of the day but the last anyway.” (15). Hulle het ook eers ’n televisiestel gehad, maar Modishi het dit by die balkon afgegooi.

In kontras hiermee beskryf Brink (2004:76) die verteller van Kontrei as volg:

Want diep in sy binneste is onse verteller ’n baie behoudende man, gedrewe deur ’n drang om die wêreld skoon te hou deur onkruid en vullis uit te roei, taalfoute in graffiti te korrigeer (in dié opsig herinner hy soms aan Ivan Vladislavić se meesterlike The

Restless Supermarket).

Hierdie neigings is ook teenwoordig by die verteller in Werfsonde (29, 36, 46, 63, 73, 74, 83, 97, 124, 141, 178, 202, 222 en 234). Soos reeds genoem (op bladsy 20), hou die drang na orde (in taalgebruik maar ook in die algemeen) in The restless supermarket verband met die (verouderende, wit) hoofkarakter se vrees vir verandering. Kombuis (2012:13) sê dat dit ook die geval is wat betref hierdie eienskappe van Werfsonde se verteller. As die karakters van Room 207 se gesprek in

“Weekending” in ag geneem word, kan daar moontlik ook beweer word dat sy houding te make het met die feit dat hy permanent in Yeoville gevestig is (“I’m going nowhere. I bought this house.” [97]). Dit is in kontras met die meerderheid van Johannesburg se middestad se inwoners, wat net tydelik daar vertoef (Everatt, 2014:70-71; Dinath, 2014:232 en Winkler, 2014:487).

Al bied kamer 207 vir die karakters veiligheid (168) en ’n plek waar hulle kan probeer om sin te maak van die wêreld, is dit “cold and inhuman” (197) en bied dit vir hulle geen privaatheid of persoonlike ruimte nie (108). In Werfsonde idealiseer die verteller die “minder liggaamsruimte” en “[m]eer spontane liggaamskontak” (37) tussen swart mense, maar hy neem nie in ag dat dit moontlik is as gevolg van die kleiner ruimtes waarin hulle merendeels woon nie. As die grootte van die tuistes in Room 207 en Werfsonde vergelyk word, is dit byvoorbeeld opmerklik dat ses karakters een kamer deel in eersgenoemde, terwyl drie mense in Werfsonde ’n hele huis deel. Jomo het sy eie kamer (125) en die verteller sy eie “skryfkamer” (11 en 23).

Kamer 207 kan dus nie op ’n onproblematiese manier gesien word as ’n heenkome nie. Dit is ook ’n benoude en onderdrukkende ruimte en ’n simbool van die karakters se onbeweeglikheid en hulle gebrek aan keuses:

this is where I stay, my block, notice and observe it. Someday I’m not going to miss this place, period. I’ll be happy to move far away from it and, when I have moved far away I will never visit, even to pay homage, because there’ll be no reason to do that. Why am I staying in it then? I don’t have a choice, I don’t have a choice and if I had ... Well we’ll never know, will we? (167)

Soos reeds genoem, woon Kleinboer en so ook die outobiografiese vertellers van Kontrei en

Werfsonde, in kontras hiermee, uit eie keuse in Johannesburg se middestad. In onderhoude

beklemtoon hy dat hy kies om in Yeoville te woon, eerder as in ’n “tronkhuisie[...]”, “in die grys skemerlig van wit voorstede, waar alle mans by dieselfde kroeë drink, naweekgholf speel, spog oor hoe hulle saam met hulle twintigjarige kleingatsekretaresses slaap en dan Sondagmôres kerk toe gaan om hulleself te prys” (Kleinboer, in gesprek met Malan en Taylor, 2005:50).