• No results found

Hoofstuk 5: Stedelike utopieë, heterotopieë en versteekte ruimtes in Nineveh (2011) deur

5.2 Utopieë en distopieë

5.2.2 Die verhouding tussen utopieë en grense

As ’n utopie één skrywer of beplanner se weergawe van ’n ideale samelewing verteenwoordig, impliseer dit ook watter aspekte hy of sy as ongewens beskou. Hierdie identifisering en verbanning van die ongewenste kan verstaan word in terme van Kristeva se teoretisering oor die “abjekte” (sien afdeling 4.2.4.2 Abjeksie en dierlikheid). Bingaman, Sanders en Zorach (2004:6-7) verwys na “the purging of ornament” in modernistiese twintigste-eeuse argitektuur as ’n voorbeeld van hoe die uitwerping van die abjekte ruimtelik kan manifesteer. Dit wat (eksplisiet of implisiet) deur utopiese denkers identifiseer word as abjek stem dikwels ooreen met Kristeva se voorbeelde van die abjekte. Hooper (2004:62) verwys byvoorbeeld na Le Corbusier se pogings om die natuurlike, liggaamlike en materiële in sy ontwerpe te beheer of te abjekteer omdat hy probeer om rasionele en ordelike ruimtes te skep. Die meeste beskrywings of ontwerpe van utopieë behels ook ’n nedersetting wat omring is deur grense wat dit skei van die omgewing waarin dit geleë is (en van die ongewenste abjekte) (Grosz, 2004:268).

Reeds in More se utopie speel grense ’n belangrike rol. Soos Elizabeth Grosz (2004:266) uitwys, is toegang tot die eiland Utopia beperk. Dit is omring deur ’n gevaarlike hawe gevul met rotse en inwoners van Utopia moet naderende skepe bystaan sodat hulle die gevaarlike waters kan navigeer. Ongewenste besoekers kan dus nie die eiland bereik nie. Net mense wat op ’n manier optree wat More as gepas beskou, word op die eiland toegelaat en inwoners moet bly by ’n streng stel reëls (Grosz, 2004:267 en Miles, 2008:16). Inwoners se vryheid is beperk deur hierdie reëls, maar ook deur die infrastruktuur wat sekere soorte gedrag aanmoedig en ander bemoeilik (Johns, 2010:172). Soos in die geval van More se Utopia is die meeste utopieë één persoon se visie en behels dit dus daardie persoon se idee van wat gewens en wat ongewens is. Die meeste bekende utopiese skrywers en beplanners stem klaarblyklik saam met die volgende stelling van Descartes (aangehaal in Miles, 2008:27):

[T]here is often less perfection in what has been put together bit by bit, and by different masters, than in the work of a single hand. Thus we see how a building, the construction of which has been undertaken and completed by a single architect, is usually superior in beauty and regularity to those that many have tried to restore by making use of old walls which had been built for other purposes. So, too, those old places which, beginning as villages, have developed [...] into great towns, are generally so ill-proportioned in comparison with those an engineer can design at will in an orderly fashion. [...] In the same way I fancied that half-savage nations, who had gradually become civilized, but who had made their laws by degrees [...] could never be as well regulated as those who, from the beginning of their associations, had observed the decrees of some prudent lawgiver.

Hierdie een persoon beskou homself as ʼn weergawe van Plato se “filosoofkoning” en dus as wyser of meer rasioneel as die inwoners van die utopie (Grosz, 2004:266). Die filosoofkoning weet wat goed is vir die inwoners en glo dat hy deur ruimtelike beplanning ’n beter lewe en samelewing kan ontwerp (Hooper, 2004:55). Sargent (2010:204-205) verwys na Freiland (1890) deur Theodor Hertzka, An account of the first settlement, laws, form of government, and police, of the Cesssares (1746) deur James Burgh en The happy colony (1854) deur Robert Pemberton as voorbeelde van koloniale literêre utopieë waarin die skrywers nie die wense van die vorige inwoners van gekoloniseerde gebiede in ag neem nie. Dit weerspieël die manier waarop werklike koloniale nedersettings gevestig is en dui op die sentraliteit van die utopiese impuls tot die koloniale projek. Denkers soos Miles (2008:18) en Claeyes (2010:110) bring hierdie impuls en die ontstaan en populariteit van literêre utopieë tydens die Verligting in verband met die geloof in menslike rasionaliteit. In die voorafgaande Middeleeue is geglo dat slegs God of adellikes die mens se lewe kan beheer of verander. Tydens die Verligting het die idee ontstaan dat samelewings op ’n rasionele manier georden en verbeter kan word.

Alhoewel hierdie siening lei tot humanisme en die uiteindelike formulering van menseregte, behels utopisme die meeste van die tyd dat een (wit, Europese en manlike) mens sy idee van ’n rasionele samelewing op ander afdwing (Miles, 2008:22). Die implikasie is dat die inwoners nie self hulle samelewing kan interpreteer of verander nie (Miles, 2008:227). Die rede waarom die utopiese beplanner of skrywer meestal wit en manlik is, is omdat die magtige mense in ’n samelewing se visies wyer gedeel word. Hulle het ook groter toegang tot hulpbronne soos grond, kapitaal, arbeid en militêre mag om hulle utopiese planne te realiseer (Markus, 2004:15). Alhoewel daar radikale potensiaal is in onderdruktes wat vir hulself ’n ander samelewing verbeel, is hulle projekte dus

minder bekend. Bingaman et al. (2004:5) noem ook dat die vermoë om alternatiewe te verbeel, beïnvloed word deur hegemoniese magstrukture. In die meeste utopieë word die perspektiewe van vroue en almal wat nie wit is nie, dus nie in ag geneem nie (Johns, 2010:172). Hulle word as minder menslik beskou, ’n natuurlike hulpbron wat die utopiese beplanner of skrywer kan beheer en gebruik (Miles, 2008:18).

Daar is reeds genoem dat utopiese beplanners gewoonlik ook nie die natuur of die omgewing waarin hulle utopieë geleë is in ag neem nie. Wanneer hulle dit wel in ag neem, is dit in terme van hoe hulle die natuur en omgewing kan tem en beheer (Bingaman et al., 2004:6). Zygmunt Bauman (2007:99) beskryf die utopieë wat tydens die Verligting ontstaan het as “tuiniersutopieë” (“gardener’s utopias”). Die doel van hierdie klassieke utopieë is om patrone, orde en reëlmaat na die samelewing te bring, soos wat die tuinier in sy of haar tuin die natuur orden en hanteerbaar maak. Die situasie is dieselfde wat betref die liggame van die utopieë se inwoners: dit word gewoonlik nie in ag geneem nie (Bingaman et al., 2004:6), maar wanneer dit wel genoem word, is dit in terme van hoe die liggame gedienstig (docile in Foucault [1991a:180] se terme) gemaak kan word. Liggaamlikheid, en veral die liggaamlikheid van almal behalwe wit mans, word soos die natuur beheerbaar en produktief gemaak.

Elizabeth Wilson (2004:258) verwys na twee aspekte van klassieke utopieë. Eerstens is hulle totalitaristies: elke aspek van inwoners se lewens word voorgeskryf. Tweedens is niks versteek nie en is alles sigbaar. Beide aspekte sluit aan by Foucault se bespreking van die dissiplinering (en die gevolglike gedienstig maak) van liggame. Hy beweer “[d]iscipline is a political anatomy of detail” (Foucault, 1991a:183) – elke klein aspek van die mens kan gedissiplineer word.

Dissiplinering vind ook plaas deur wat Foucault (1991a:189) “hiërargiese waarneming” noem: The exercise of discipline presupposes a mechanism that coerces by means of observation; an apparatus in which the techniques that make it possible to see induce effects of power and in which, conversely, the means of coercion make those on whom they are applied clearly visible. (Foucault, 1991a:189)

Alhoewel die meeste utopieë voorgehou word as die teenoorgestelde van tronke, kan Bentham se “panopticon”, soos beskryf deur Foucault (1991a:206), dus beskou word as ’n ekstreme verteenwoordiging van hoe klassieke tuiniersutopieë werk (Hetherington, 2003:11). Die “panopticon” is Bentham se plan vir die ideale tronk. Dit bestaan uit ’n ronde struktuur met ’n wagtoring in die middel. Die gevangenes kan nie in die wagtoring in sien nie. Hulle kan dus nooit

seker wees wanneer daar ’n wag in die wagtoring is nie en tree dus altyd op asof hulle waargeneem word (Hetherington, 2003:60). Volgens Wilson (2004:258) werk die meeste klassieke utopieë op dieselfde manier: mettertyd tree die inwoners deurentyd op asof hulle waargeneem word en is dit nie nodig dat verteenwoordigers van die dissiplinerende sisteme hulle die heeltyd dophou nie. Hierdie tendense kan ook waargeneem word in die geskiedenis van stadsbeplanning. Waar Middeleeuse stede omring is deur ’n muur om vyande en die “wilde” natuur uit te hou, verskuif die fokus, volgens Foucault (1991a:239), in die sewentiende en agtiende eeu na die suiwering van die stad self. Hierdie verskuiwing van fokus hou verband met die uitbreek van die plaag en ’n gevolglike klem op higiëne (Boyer, 1998:286-287). Rioolsisteme is ontwikkel om van abjekte stowwe ontslae te raak en toenemend is sisteme ontwikkel om ook van mense wat as abjek beskou word (veral hawelose mense wat geassosieer is met siektes en misdaad) ontslae te raak (Markus, 2004:27). Daar kan in hierdie opsig verwys word na Haussmann se herontwerp van Parys in die negentiende eeu (Hooper, 2004:66). Haussmann het gepoog om van die stad se “donker kolle” ontslae te raak deur middel van breë paaie wat die stad verdeel in gedifferensieerde en hiërargies georganiseerde selle. Sodoende is waarneming en die totale beheer van alle aspekte van inwoners se lewens vergemaklik.

Uit bogenoemde beskrywing behoort dit duidelik te wees dat een persoon se utopie ’n ander se distopie137 is (Bingaman et al., 2004:10, Claeys, 2010:108 en Rigby, 2012:142-143). Die beplanner of skrywer se pogings om ’n utopie te bewerkstellig kan vanuit die inwoners se perspektief gesien word as ’n distopiese beperking van vryheid (Markus, 2004:15). Hierdie kritiese siening van utopiese denke het in die twintigste eeu dominant geword omdat utopisme geassosieer is met Stalinisme, kolonialisme en Nazisme (Claeys, 2010:107 en Vieira, 2010:18). Net soos wat die konsep van die utopie ontwikkel het saam met ’n geloof in die (wit, manlike) mens se rasionaliteit, net so het die konsep van die distopie ontwikkel soos wat hierdie geloof getaan het (Pinder, 2002:233). Yevgeny Zamyatin se We (1921), Aldous Huxley se Brave new world (1932) en George Orwell se 1984 (1949) is die invloedrykste literêre uitbeeldings van totalitêre utopieë wat deur die inwoners daarvan ervaar word as distopieë.

137 Die woord “distopie” is die eerste keer in 1868 deur John Stuart Mill gebruik in ’n parlementêre toespraak (Vieira, 2010:16). Dit is afgelei van die Griekse woord “dys” wat sleg, sieklik of abnormaal beteken. Waar ’n utopie ’n ideale verbeelde samelewing is, is ’n distopie ’n nagmerrieagtige verbeelde samelewing. Soos wat utopieë dikwels dien as kritiek teen die skrywer of beplanner se samelewing omdat dit toon hoe die stand van sake beter kon wees, is literêre distopieë ook sosiaal-krities omdat dit toon hoe bestaande sake kan vererger (Vieira, 2010:17).

Hierdie literêre distopieë van die twintigste eeu is egter voorafgegaan deur die anti-utopieë van die agtiende eeu (byvoorbeeld Gulliver’s travels [1726] deur Jonathan Swift en Essay on population [1798] deur T.R. Malthus) (Claeys, 2010:110 en Pohl, 2010:67) en die kritiese utopieë van die negentiende eeu (byvoorbeeld The Blithedale romance [1852] deur Nathaniel Hawthorne en

Erewhon [1872] deur Samuel Butler) (Roemer, 2010:89). Wantroue jeens utopiese projekte is dus

nie beperk tot die twintigste en een-en-twintigste eeue nie.

Claeys (2010:108) sê dat die argument dat alle utopieë ontaard in distopieë ’n geval van reductio ad

absurdam is. Alhoewel dit waar is dat nie alle utopieë noodwendig totalitaristies is nie, stem ek

saam met Markus (2004:17) dat alle geboue en bloudrukke van geboue (utopies of nié) grense tussen ’n “binne” en ’n “buite” en dus ook die kategorieë van “inwoners” en “buitestaanders” skep. Hetherington (2003:64) beskryf dié funksie van grense as “relational ordering”. Hy verwys na Latour se argument dat vryheid nie die gebrek aan verbindings is nie, maar eerder meer bevrydende verbindings (Hetherington, 2003:34-35). Alle grense is dus nie ewe onderdrukkend nie, soos wat die deurbreking van grense nie noodwendig progressief is nie. Alle organisasies wat poog om grense uit te daag, maak ook gebruik van ordening en het ook hulle eie limiete (en hulle utopiese ideale word ook beperk deur grense). Grense kan nooit ontsnap word nie – buite die utopie of distopie is daar ook grense. Die kritikus wat (literêre of “werklike”) utopieë bestudeer moet dus nie grense sien as noodwendig onderdrukkend nie; grense kan wel bestudeer word om ’n indruk te kry van die spesifieke utopiese samelewing se ideologiese program (of dié van die wyer samelewing waarteen die beplanner/argitek van die utopie reageer) (Hetherington, 2003:64).

Nietemin het die assosiasie van utopieë met grense en met totalitêre en onderdrukkende regerings veroorsaak dat die konsep van “utopie” in die twintigste eeu met wantroue bejeën is. Die utopiese impuls het voortbestaan, maar op ’n kleiner skaal (Vieira, 2010:22). Vandag is daar veral twee vorme van mikro-utopieë wat algemeen is. Eerstens is daar die individualistiese en kapitalistiese idee dat ’n utopiese leefstyl te koop is (Jacobsen, 2012:70 en Thompson, 2012:44). Só word luukse behuisingskomplekse dikwels bemark as utopies. In die volgende afdeling word die behuisingskompleks Nineveh bespreek as die literêre uitbeelding van so ’n hedendaagse utopie. Hierdie soort utopie het nie die verbetering van die samelewing as doel nie– die utopie is net vir mense wat dit kan bekostig (Thompson, 2012:44). Tweedens is daar aktiviste wat steeds die ideaal van ’n utopie as alternatief tot die dominante samelewing nastreef. Na aanleiding van die assosiasie van utopieë met totalitêre distopieë probeer hulle om die eienskappe van utopieë te herdink en op ’n meer bevrydende manier om te gaan met kwessies soos grense en reëls (Sargisson, 2003:53). Hierdie soort utopie bestaan gewoonlik uit ’n groep mense wat vrywillig in ʼn kommune saam

woon, eerder as wat die utopiese ideale op ’n samelewing afgedwing word. In afdeling 5.2.3.3 word die plaas in Vlakwater bespreek as ’n uitbeelding van dié soort utopie. By beide behuisingskomplekse en kommunes speel ordening en grense, soos by groter utopieë, steeds ’n rol en in my bespreking gee ek aandag aan wat die grense van hierdie ruimtes impliseer oor die betrokke ideologiese projekte.