• No results found

Hoofstuk 4: Liggaamlike uitgelewerdheid en die meer-as-menslike in die stad in Thirteen cents

4.2. Azure en Siegfried as hawelose weeskinders

4.2.3 Klere en gereedskap

In die vorige afdeling verwys ek na die wisselwerking tussen karakter en ruimte, maar die voorbeelde wat ek noem hou hoofsaaklik verband met die omgewing wat inwerk op liggame. In hierdie afdeling fokus ek veral op hoe die karakters in Siegfried en Thirteen cents ruimtes verander en hoe voorwerpe die karakters se ervaring van ruimte bemiddel. Daar moet egter gelet word daarop dat hier steeds nie sprake is van ’n outonome rasionele mens wat voorwerpe gebruik nie: mense approprieer of skep voorwerpe om hulle te help, maar die voorwerp moedig weer sekere potensiële aksies aan (Keane, 2005:194). Die voorwerpe het dus ook ’n tipe agentskap.

Latour (2007:39) argumenteer dat voorwerpe tussengangers of bemiddelaars kan wees. Tussengangers (“intermediaries”) dra energie in ’n netwerk oor sonder om die energie te verander. Bemiddelaars (“mediators”) verander (“transform, translate, distort, [or] modify” [Latour, 2007:39]) wel die energie. Dit gebeur deurdat hulle mense se gedrag verander en ook deurdat hulle deel raak van netwerke wat (onder andere) die menslike verander en selfs deel raak van subjekte (Amin en Thrift, 2002:35). Wat laasgenoemde betref, beweer Amin en Thrift (2002:78) dat gereedskap gesien kan word as organe, as dele van menslike subjekte. ’n Reeds genoemde voorbeeld (vgl. bladsy 113 hierbo) van die uitbeelding van só ’n subjektiwiteit is David se bewering dat sy tegnologiese besittings deel is van sy liggaam.

Nog sulke voorbeelde is die voorwerpe wat Siegfried se pa vir sy liggaam aangepas het, byvoorbeeld sy spesiale stewels (11), die handvatsel van sy bakkie (27) en sy klere sonder knope (96 en 129). Die verlies van hierdie voorwerpe bemoeilik Siegfried se omgang in die stad nog meer. Soms kry hy dit wel reg om deur middel van gereedskap sy lewe te vergemaklik in ’n omgewing wat ontwerp is vir ongewebde mense. Hy gebruik byvoorbeeld ’n mes om ’n Coke blikkie oop te maak (92).

Miller (2010:23) beweer dat klere van die mens se mees intieme besittings is omdat dit ’n belangrike rol speel in die verhouding tussen liggaam en wêreld. Miller verwys na klere om sy materialistiese benadering tot antropologie te onderskei van ander benaderings. Die meeste antropoloë bestudeer klere op ’n semiotiese manier, met ander woorde die simboliese en representasionele waarde wat klere vir mense het (Miller, 2010:13). Miller (2010:16) voer aan dat só ’n benadering onderlê word deur ’n diepte-ontologie omdat dit veronderstel dat oppervlak- of materiële fenomene universele essensies verteenwoordig. Kledingstukke word byvoorbeeld bestudeer vir die maniere waarop dit representatief of simbolies is van’n persoon of groep persone se essensiële identiteit. Daarteenoor voer Miller (2010:13) aan dat kledingstukke deel is van ’n

(voortdurend veranderende) identiteit of subjektiwiteit. Sy benadering sluit dus aan by Amin en Thrift se argument dat voorwerpe die organe van ’n agentskap is.

’n Antropoloog wat materiële voorwerpe bestudeer moet dus volgens Miller (2010:48) versigtig wees om nie die voorwerpe te reduseer tot wat hulle vir mense beteken nie. Hy of sy moet wel aandag gee aan hoe mense die voorwerpe gebruik en wat dit vir hulle beteken, maar moet veral fokus op hoe die voorwerpe die mense skep en deel word van menslike agentskap (Miller, 2010:42). Daar moet ook aandag gegee word aan die materialiteit van die voorwerpe en die produksie en verspreiding daarvan (Latour, 2007:200).

Miller se argument is gerig op die antropologie. Die vraag is dus wat die implikasies van sy teorie vir ’n materiële literatuurstudie is. Myns insiens kan die rol van die semiotiese en van representasie nie heeltemal geïgnoreer word binne die literatuurstudie nie (soos wat telkens ook geld vir Miller se benadering), maar moet literatore sterker fokus op die materiële aspekte van die voorwerpe wat uitgebeeld word en op die maniere waarop hierdie voorwerpe in literatuur teenwoordig gemaak word. Hierdie kwessie word verder beredeneer in afdeling 4.3.2.2 Simbole/Betekeniselemente. Omdat daar in beide Thirteen cents en Siegfried so baie aandag gegee word aan die liggaamlike en die materiële, speel die simboliese waarde van klere in ieder geval nie ’n groot rol in die romans nie. Daar is enkele uitsonderings. Vincent sê vir Azure dat die “veldskoene” (sic) wat hy by ’n tweedehandse winkel gekoop het dit laat lyk asof hy probeer om wit te wees en dat hy hulle dus nie moet dra nie (35). Hy raai hom aan om “swarter” aan te trek (35-36) en die implikasie is dat hy meer moet aantrek soos die bendelid Allen, met sy “Nike shoes and expensive jeans and tops” (16) en “RayBan, Gucci, Armani and Nike” (32), dit wil sê soos die “hustlers” van Room 207 (sien bladsy 79). Allen voorsien egter die haweloses van klere en Azure vermoed dat hy seker maak dat niemand so goed en magtig lyk soos hy nie:

When you’re dressed properly grown-ups give you a bit of respect. But as long as I’m me and have no home and wear tattered clothes Allen will never give me proper clothes because that would mean that I can look like him. And no one who knows Allen looks like him. He makes sure of that. Even if it means he strips you himself. He always has to outdress you, outsmart you. It’s his way. It’s the grown-up way. [...] He always gives me clothes that are just about to fall apart, so that I’m always dependent on him. (16)

Azure kan dus nie net kies om meer mag te bekom deur anders aan te trek nie – die twee gaan saam. Soos wat Sealy, Gerald se onderdaan, se mag vermeerder, begin hy anders aantrek: “I slowly watch

him change. First he gets a gold filling in his front teeth and then he starts buying flashy clothes. And the kind with expensive labels.” (152). Nadat hy gemartel is, stem Azure in om vir Gerald te werk en aan hom onderdanig te wees. As simboliese beloning (en teken van toenemende mag) gee hy vir Azure ’n blink blou sweetpak (68). Hy verduidelik dat oranje simbolies is vir sy eie mag en sê dat Azure nooit weer oranje klere mag dra nie. Wanneer Azure van die berg af kom, dra hy sy baadjie met die oranje binnekant na buite – ’n duidelike simbool dat hy nie meer vir Gerald vrees nie en bereid is om sy mag uit te daag (131).

In Siegfried is klere van minder simboliese belang. Die grys sweetpak wat Siegfried in Huis Sonneskyn moet dra (153) kan wel beskou word as simbolies van die hospitaal se poging om hom te dissiplineer en te de-individualiseer. Só ook kan Fafnir se handskoene (191) en swart leerklere (193) gesien word as simbolies van onderskeidelik sy pogings om homself van die abjekte te distansieer en sy sadisme.

Al gaan dit in hierdie voorbeelde oor die simboliese waarde van kledingstukke, is dit duidelik dat hierdie kledingstukke ook bydra tot die skep van die karakters se identiteit. Hulle identiteite is dus nie iets wat hulle klerekeuses voorafgaan nie, maar iets wat uitgevoer word – onder meer deur die dra van die klere.

In beide romans is die fokus veel meer op hoe sekere kledingstukke (of die afwesigheid daarvan) karakters se ervaring van die stad beïnvloed. Daar is reeds verwys na die pyn wat Siegfried ervaar nadat hy kaalvoet moet rondloop omdat sy skoene gesteel is op die trein. In Huis Sonneskyn gee hulle vir hom materiaalskoene, maar dit is gemaak vir iemand met ongewebde voete (153). Dit pas hom nie en hy bly dus kaalvoet. Azure het ’n soortgelyke ervaring. Hy vra Allen vir skoene, maar kry net goedkoop en oneffektiewe plakkies (15) en kies dus om eerder kaalvoet te loop sodat sy voete seer en stukkend raak (65 en 113). Die ervarings van hierdie hawelose karakters maak dit duidelik dat De Certeau se bewerings dat stap deur die stad bemagtigend is (sien bladsy 17) net waar is indien jy skoene kan bekostig om hierdie beweging te ondersteun. ’n Fokus op die materiële toon dus die beperkings van ’n benadering wat die stappende individu as outonoom en bemagtig sien.

Soos in Werfsonde en Room 207 maak vervoeropsies (en veral die besit, al dan nie, van motors) dus ook deel uit van karakters se agentskap in Thirteen cents en Siegfried. In Azure se wêreld is dit net invloedryke kriminele soos Gerald wat motors het (19). Gerald se mag word ondersteun en bevestig deur sy wit Granada (21). Hy beklemtoon die verhouding tussen sy mag en sy motor deur Azure te beveel om dit te was en te poets (39). Die verhouding tussen mag, klere en motors word ook

bevestig deur die beskrywing van bendelede met “shiny tracksuits” wat ry in ’n Ford Cortina (41). Ander voorwerpe wat deel vorm van dié karakters se mag is selfone (41), televisies (52) en gewere (145).

Motors speel nie ’n groot rol in Siegfried nie. Uit die beskrywings van Kaapstad se publieke vervoer is dit egter duidelik dat dit hoofsaaklik armer werkersklas mense is wat daarvan gebruik maak. Die trein tussen Stellenbosch en Kaapstad word byvoorbeeld soos volg beskryf: “Die trok is bedompig. Daar is messkeure in die plastiekbanke. Die enigste oop sitplek is oorkant ’n ou man met ’n spoorwegjas en kaal voete.” (67). Wanneer Siegfried ’n taxi Seepunt toe neem, is sy mede- passasiers verpleegsters en ’n prostituut (178). Dit is in kontras met Maggie, wat nie genoeg geld het om huur te betaal nie (90), maar tog ’n middelklasleefstyl het en ’n “groot kar” besit (115). Soos by die keuse van kledingstukke word karakters se vervoeropsies nie vooraf gegaan deur hulle outonome identiteite nie. Die maniere waarop hulle deur Kaapstad beweeg word beïnvloed deur verskeie faktore en hulle identiteite en agentskappe word deur hierdie bewegings geskep. Die geokritiese vergelyking van Thirteen cents en Siegfried maak, soos die vergelyking van Room 207 en Werfsonde in hoofstuk 3, dit duidelik dat die uitbeelding van karakters se bewegings nie op ’n eenvoudige manier gelees kan word as simbolies van hulle agentskap nie. Die uitgebeelde agentskappe verrys eerder uit komplekse interaksies tussen die menslike karkaters, nie-menslike voorwerpe en die meer-as-menslike omgewing. In die volgende afdeling word die verhouding tussen die menslike karakters en spesifiek nie-menslike lewende organismes verder bespreek. Die streng onderskeid tussen mense en ander organismes word ook geproblematiseer.