• No results found

1.9 Skematiese voorstelling van korrelasie tussen probleemstelling, doelstellings, doelwitte en metodologie

2.2.1 Wat is Skrifkritiek?

Die term Skrifkritiek word volgens Moulaison (2012:14) nie in vandag se teologiese kringe so algemeen gebruik soos in die verlede nie. Dit is waarom dit nodig is om te verduidelik wat onder die term Skrifkritiek verstaan word. Jordaan (2003:1) waarsku teen die gevaar om nie ander mense as Skrifkrities te bestempel bloot omdat ons nie met hulle saamstem nie. Versigtigheid moet aan die dag gelê word om nie alle kritiese lees van ʼn Bybelteks as Skrifkrities af te maak nie.

Jordaan (2003:1) verwys na die 1935-bundel Koers in die Krisis (De Wet, 1935:92) as ʼn vertrekpunt vir die definiëring van die term, Skrifkritiek. Hiervolgens definieer De Wet (1935:92) Skrifkritiek soos volg:

Sedert die opkoms van Modernisme in die 18e eeu het die mens op allerhande maniere begin torring aan die Bybel. Hierdie torringwerk is die Bybelkritiek wat ten doel gehad het om die absolute gesag wat die Bybel oor die Christen se geloof en lewe gehad het, te ondermyn.

De Wet (1935:95) beskou Skrifkritiek as ʼn eensydige aanval teen die moraal van die Bybel. Hy is van mening dat hierdie aanval sy oorsprong gevind het in die heidense-wysgerige en nie in Christus teologiese denke nie. Skrifkritiek, ook bekend as Bybelkritiek, word hier gedefinieer uit die oogpunt van sy doel, naamlik om die gesag van die Bybel te ondermyn (De Wet, 1935:91-95). Berkouwer (1967:426-432) gee ʼn meer wetenskaplike definisie van die term Skrifkritiek. Hy (Berkouwer, 1967:426) is van mening dat Skrifkritiek ʼn denksisteem is wat gedefinieer moet word uit die oogpunt van sy uitgangspunte en voorveronderstellings. Berkouwer (1967:226) skryf:

      

23 

Men wees erop, dat allerlei resultaten van het Schriftkritisch denken niet rusten op onbevangen luisteren naar wat de teksten der Heilige Schrift ons zeggen, maar op apriorische kaders, van waar ze werden gelezen en verklaard.

Jordaan (2003:1) noem in aansluiting by Berkouwer (1967:226) se stelling dat die vooropgestelde raamwerk waaruit Skrifkritiek die Bybel lees en bestudeer nie een van wetenskaplike neutraliteit of onbevangenheid reflekteer nie.

Inteendeel, Berkouwer (1967:427) is van mening dat Skrifkritiek met ʼn baie besliste voorveronderstelling werk wat juis aansluiting vind by onwetenskaplike vooroordeel. Skrifkritiek hanteer die Bybel op so ʼn manier dat die mens hom as regter oor die Skrif aanstel. Jordaan (2003:1) skryf dat Skrifkritiek uitgaan van ʼn bepaalde waarde-oordeel oor die Skrif waar die Skrif basies as ondersgeskik aan die mens en sy oordele gestel word. Skrifkritiek ontken dus die uniekheid en die gesag van die Bybel as God se Woord. De Jonge (1982:82) gaan selfs verder deur te verklaar dat nie slegs die gesag van die Skrif in die gedrang kom nie, maar ook die gesag van God self.

Saaiman (2005:194) omskryf Skrifkritiek as die bedrywigheid wat die Skrifgesag vanuit ʼn rasionalistiese of ʼn ander vertrekpunt (as dié van die gereformeerde Skrifverklaring) aftakel. Hy skryf verder dat Skrifkritici glo dat die Skrif nie die onfeilbaar geïnspireerde Woord van God is nie. Saaiman (2005:195) is van mening dat die menslike karakter van die Skrif in Skrifkritiek oorbeklemtoon word.

Ander terme wat oor die algemeen as sinoniem met die term Skrifkritiek gebruik word, is relativisme of historiese kritiek. Krüger (2006:29) skryf dat Skrifkritiek van die veronderstelling uitgaan dat dit wat in die Bybel geskryf staan slegs maar die menings van die outeurs of samestellers van die onderskeie Bybelboeke weerspieël. Krüger (2006:29) meld dat ʼn Skrifbeskouing soos hierdie sou beteken dat dit wat Paulus in Romeine 1 oor homoseksualisme geskryf het nie meer noodwendig geldig is vir vandag nie22. ʼn Tipiese Skrifkritiese interpretasie sou tot die gevolgtrekking kom dat die omstandighede

intussen verander het, en dat ons as moderne mens nou tot beter insigte gekom het.

      

22 Botha (2011a:1) huldig ʼn Skrifbeskouing soortgelyk aan hierdie wanneer hy skryf: “Destydse mense het

oor dinge gepraat binne hulle ervaringswêreld met waardes en insigte wat anders is as ons s'n. Die woord ‘homoseksueel’ wat beteken iemand het 'n sekere seksuele oriëntasie, het nie voor die negentiende eeu bestaan nie”.

24 

ʼn Uitgangspunt soos hierdie maak die Bybel relatief en het tot gevolg dat daar geen objektiewe of vasstaande waarhede meer oor God of voorts ons Gereformeerde belydenisse oorbly nie. Dit blyk asof ʼn Skrifkritiese Skrifbeskouing die mens slegs prikkel dat daar wel ʼn God is, en dan aan die mens self die geleentheid bied om te besluit wie God is, en wat Sy wil vir die mensdom behels.

Krüger (2006:29) meld dat die hartseer hiervan is dat ʼn Skrifkritiese benadering God onkenbaar vir die interpreteerder maak.

Skrifkritici beskou die Bybel as tydgebonde wat behels dat dit slegs vir daardie tyd en vir daardie mense geskryf was; hiervolgens sê die Bybels niks of weinig meer vir die mens van vandag nie.

Op grond van bogenoemde kan Skrifkritiek gedefinieer word as enige Skrifbeskouing wat die volkomenheid, onfeilbaarheid, en betroubaarheid van die Skrif betwyfel, en enige van die Bybelse uitsprake betreffende die geloof, geskiedenis of wetenskap eers wil toets aan die mens se rede voordat dit as waar aanvaar kan word (Jordaan, 1991:8).

Die uiteinde hiervan is dat die mens die Skrif kritiseer. Dit beteken dat die Skrif by ons omstandighede aangepas word in plaas daarvan dat die mens volgens die Skrif reformeer en lewe (Jordaan, 1991:9).

Uit bogenoemde definisies is dit duidelik dat Skrifkritiek die menslike rede en nie die Godsopenbaring nie as toetssteen gebruik van wat geglo moet word en wat nie (Jordaan, 1991:9). Sodoende verskuif die norm van alle waarheid van God se Woord na die menslike rede of verstand. Die gevolg hiervan is dat die moderne mens nou self op al die antwoorde sal afkom, terwyl God se Woord by die dag meer onverstaanbaar, onduidelik en vreemd sal word.

Berkouwer (1938:5) som die spanning tussen Skrifkritiese denkers en tradisionele gereformeerde Skrifhantering op met die volgende stelling:

Maar wel is het noodig een inzicht te hebben in de onoplosbare spanningen en tegenstrijdigheden, waarin het Schriftkritisch denken zich tot nu toe verwart. Het is nl. vanuit de aanvaarding van het volstrekte Schriftgezag noodzakelijk deze verwarring te zien in het licht van de algemeene aanvaarding der Schriftkritiek.

Berkouwer (1938:6) verwys na Skrifkritiek as één groot onontwijkbare probleem. Dit hou verband met hierdie studie se navorsingsprobleem, naamlik: Die feit dat ʼn Skrifkritiese Teologie verreikende negatiewe konsekwensies vir die tradisionele leer van die Christologie en die eskatologie inhou.

25