• No results found

3.4 Skrifkritiese opstandingsperspektiewe

3.4.2 Skrifkritiese opstandingsperspektiewe Suid-Afrikaanse konteks 1 Sakkie Spangenberg

3.4.2.4 Ben Du Toit

Ben du Toit (2000) se perspektief op die opstanding word beoordeel op grond van sy monografie getiteld, Geloof in ʼn postmoderne tyd. Met die eerste oogopslag lyk dit of Du Toit (2000) nogal ʼn sterk saak uitmaak vir die liggaamlike opstanding van Jesus uit die dood. Du Toit (2000:150) skryf: “Eerstens behoort die opstanding van Jesus tot die kern van die boodskap van die Christendom, waarin Hy as Verlosser van die wêreld voorgestel word”. König (2009:257) bevestig die feit dat dit wel voorkom asof Du Toit ʼn sterk gedagte vir die kruis en die opstanding ontwikkel. Ongelukkig, volgens König (2009:257), doen hy dit ten koste van ander belangrike fasette van die evangelieboodskap.

Du Toit (2000:56) skryf:

As dit waar is dat energie nie geskep of vernietig kan word nie, moet hierdie natuurwet ook iets sê vir die voortsetting van energie nadat die mens ‘dood’ is. Indien daar dan so ʼn energieveld is – wat uiteraard vir ons oë onsigbaar is, maar tog in verhouding tot ons êrens bly voortbestaan – het ons ongetwyfeld te doen met ʼn spirituele wêreld (energieveld) wat ook op sigself ʼn invloed sou kon hê op die bestaan van die mens voor sy / haar dood.

Du Toit (2000:56) meld dat energie nie vermeerder of verminder kan word nie. König (2009:257) wys daarop dat Du Toit (2000:150) dit later in sy boek in nouer verband met die opstanding bring. Du Toit (2000:150) skryf:

Buitendien sou iets soos die opstanding heeltemal in ooreenstemming wees met wat vroeër in hierdie boek geskryf is oor God as die bron van energie; oor energie wat nie geskep of vernietig kan word nie.

Dit sou heeltemal in ooreenstemming wees met die ‘karakter’ van God as Skepper, dat Hy weer iets nuuts kan maak, dat die energie van Jesus bly voortbestaan, weliswaar in ʼn ander gedaante… Juis die verstaan vandag dat die mens nie net liggaam is nie… maak van die opstanding van Jesus uit die dood ʼn versekering dat die spirituele in die mens ewigheidswaarde het.

101 

Du Toit (2000:151) haal vir Hennie de Villiers instemmend aan: “Jou siel is deel van ʼn kosmiese siel wat ons God kan noem”. König (2009:257) vra die vraag: “Wat beteken dit alles”?

König (2009:257) is van mening dat Du Toit (2000:150) die opstanding van Jesus aflei uit die natuurwet dat energie onvernietigbaar is.

Dit sou beteken dat Du Toit die opstanding van Jesus afmaak as die natuurlikste ding in die wêreld. König (2009:257) skryf die volgende: “Energie is onvernietigbaar. Jesus se energie leef voort na sy dood net in ʼn ander vorm. Niemand hoef ooit weer oor Jesus se opstanding te twyfel nie. En natuurlik ook nie ons s'n nie. Ook ons energie is onvernietigbaar”.

König (2009:258) verwys daarna dat die Nuwe Testament (Luk. 24:11 & Mat. 28:2) die opstanding heeltemal anders uitbeeld. Daar was ʼn aardbewing met Jesus se opstanding, die dissipels kon dit aanvanklik nie glo nie, en die Grieke in Athene het Paulus uitgelag toe hy daarvan vertel het. König (2009:258) merk dat dit nou andersom werk, normaalweg het die premoderne mense snaakse dinge geglo en as waarheid beskou, terwyl wetenskap bewys het dat dit nie moontlik is nie. In teenstelling hiermee gebruik Du Toit (2000:258) wetenskap om aan te toon dat dit die heel natuurlikste ding op aarde is.

Die Skrifkritiek in Du Toit (2000) se standpunt is daarin geleë dat hy Jesus se opstanding afmaak asof dit die normale verloop van omstandighede is. God bewys juis deur die opstanding van Jesus dat Hy by magte is om ons ook eendag deur ʼn wonderwerk soos Jesus uit die dode op te wek”.  Rom. 8:11 bevestig dit soos volg61: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon,

dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon”. König (2009:258) is van mening dat Du Toit se standpunt daarop neerkom dat die mens deel is van ʼn god, waarvan hy nog nooit gehoor het nie, naamlik die kosmiese siel.

      

61 Matthew Henry Commentary on the whole Bible verklaar Rom. 8:11 soos volg: “Two great assurances

of the resurrection of the body are mentioned: ( 1.) The resurrection of Christ: He that raised up Christ from the dead shall also quicken. Christ rose as the head, and first-fruits, and forerunner of all the saints, 1 Co. 15:20. The body of Christ lay in the grave, under the sin of all the elect imputed, and broke through it. O grave, then, where is thy victory? It is in the virtue of Christ’s resurrection that we shall rise. (2.) The indwelling of the Spirit. The same Spirit that raiseth the soul now will raise the body shortly: By his Spirit that dwelleth in you” (Henry, 1706).

102 

König (2009:258) merk tereg dat die siening van Du Toit een van die vreemdste sienings oor die opstanding van Jesus is wat hy al ooit gehoor het.

Dit is verder duidelik dat Du Toit (2000) die opstanding van Jesus degradeer en dit ontneem van die eintlike betekenisse wat die Skrif en die Reformatoriese kerke se belydenisse daaraan koppel.

Tereg skryf König (2009:259): “En intussen kry die opstanding van Jesus en ons opstanding by Du Toit nie een van die ryk betekenisse wat dit in die Bybel het nie. Waarom het ons die Bybel as ons nou maar ons eie stories uitdink”?

Soos die titel van Du Toit (2000:151) se monografie aandui, is dit duidelik dat hy deur sy standpunt juis wou bewys dat die opstanding van Jesus wel nog relevant is in ʼn postmoderne era.