• No results found

Skrifkritiese Christologiese standpunte en die bepaalde konsekwensies daarvan vir die leer van die eskatologie

4.4 Christologie en Eskatologie

4.4.2 Skrifkritiese Christologiese standpunte en die bepaalde konsekwensies daarvan vir die leer van die eskatologie

Uit bogenoemde studie is dit duidelik dat ons dit met sekerheid kan stel dat Christus wel die Eschatos is, en ook verder dat al Christus se heilswerk op aarde deel vorm van die groter eskatologiese plan om

      

134 Dit is belangrik om in gedagte te hou dat daar nie ʼn hellevaart as aparte heilsgebeurtenis soos die

hemelvaart was nie. Wanneer ons bely dat Christus neergedaal het na die hel, verwys dit na wat in sy dieptepunt aan die kruis gebeur het. Jesus se neerdaling na die hel het hiervolgens tussen die kruisiging en die opstanding plaasgevind (Van der Walt, 2006:291).

166 

die wêreld tot voleinding te bring. Indien die eskatologiese Christus of die heilswerk van Christus (soos byvoorbeeld die inkarnasie, die kruisdood en die opstanding) ontken of weggeredeneer word, het dit ook bepaalde konsekwensies vir die leer van die eskatologie. Ons kyk kortliks na enkele lyne van Skrifkritiese Christologiese standpunte wat deurgetrek kan word na die leer van die eskatologie. Ons gaan hier slegs kyk na teoloë wat reeds in die studie behandel is. Om hierdie rede word die Skrifkritiese opstandingsperspektiewe met die noodwendige konsekwensies vir die leer van die eskatologie net kortliks belig. ʼn Meer volledige evaluering en bespreking van hierdie leerstukke se konsekwensies word in hoofstuk vyf hanteer.

4.4.2.1 Bultmann (1969:10) is van mening dat Jesus nooit liggaamlik uit die dood opgestaan het nie,

maar eerder voortgeleef het in die gedagtes van die dissipels. Die opstanding moet mitologies verstaan word – volgens Van Wyngaard (1991:4) het Bultmann ʼn eksistensiële eskatologie verkondig. Alhoewel Bultmann (volgens Van Wyngaard, 1991:10) gepraat het van die eskatologie in die hede en die toekoms, het hy dit nooit letterlik so opgeneem nie. Die term “die einde is naby” was vir Bultmann bloot mitologies van aard. Dit is duidelik dat Bultmann (1969:10) se ontmitologisering van Christus se opstanding daartoe gelei het dat hy die eskatologie ook in blote mitologiese terme verstaan het.

4.4.2.2 Schleiermacher (1999:355-475) se liberalistiese hantering van God se Woord het daartoe gelei

dat hy meeste van Christus se heilswerk soos die opstanding en die kruis as oorbodig beskou het – dit beïnvloed ook Schleiermacher se eskatologiese uitkyk in dié opsig dat hy nooit werklik die betekenis van Christus as die Eschatos verstaan het nie (König, 1980:100).

4.4.2.3 Crossan (in Craig, 1998:39) glo nie dat Jesus letterlik uit die dood opgestaan het nie. Hy is

van mening dat Jesus se liggaam waarskynlik nooit eers begrawe was nie, maar in ʼn vlak graf gegooi was waar dit deur wildehonde opgeëet was. Crossan (1998:177) se eskatologiese perspektief hang ten nouste saam met sy verstaan van die “Koninkryk van God”. Crossan (2001:110) sien die Koninkryk van God as ʼn saak wat nie soseer na die hemel verwys nie, maar die lewe op aarde. Die Koninkryk handel dus nie oor die lewe hierna nie, maar oor die teenswoordige werklikheid (Nel & Van Aarde, 2002:1122). Crossan (1991:287) stel ook die moontlikheid dat die “Koninkryk van God” wysheidsgerig verstaan kon gewees het. Hiervolgens kan die “Koninkryk van God” geïnterpreteer word nie as ʼn plek nie, maar as ʼn toestand van regering (Nel, 2001:157). Die aard van hierdie koninkryk word deur Crossan (1991:247- 278) beskryf as ʼn koninkryk van “ongerekendes” en “ongewenstes”. Hy meen verder dat die lede van die “Koninkryk van God” vry is van sosiale bande en dikwels gebuk gaan onder vervolging en moeilike lewensomstandighede.

167 

Nel en Van Aarde (2002:1122) meld instemmend (met Crossan) dat Jesus as lid van die Galilese kleinboerderygemeenskap Hom midde-in ʼn gestruktureerde sisteem van sosiale en politieke ongeregtigheid bevind het, en dat die Koninkryk van God as kritiek op ʼn bose sisteem vertolk moet word.  Die idee wat Crossan (1991; 1998) hier tuisbring is dat die Koninkryk van God die plek is waar almal tuis is ongeag van hulle sosiale of politieke status, met ander woorde presies ʼn omgekeerde van die politieke en sosiale regering van daardie tyd.

Crossan (1998:260-265) skryf dat apokaliptiese eskatologie daarna verwys dat dié wat onregverdig ly, daarop aanspraak kan maak dat hulle bewus is van een of ander spesiale openbaring oor hoe en wanneer God hulle gaan verlos. Asketisisme is nog ʼn vorm van Crossan se eskatologiese verstaan. Hiervolgens verleen Crossan (1998:284-285) erkenning aan die Apokaliptiese perspektief waarvolgens die aarde tot ʼn einde gaan kom deur aardbewings, gevalle sterre, heilige oorloë ens... Asketisisme, aan die ander kant bring ook die wêreld tot ʼn einde byvoorbeeld deur selibaatskap (sien ook Van Aarde, 2008:538). Dit bring ons by nog ʼn vorm van eskatologie, naamlik etiese eskatologie (Crossan, 1998:273). Crossan (1998:317-344) verwys na drie belangrike aspekte van etiese eskatologie soos volg: (1) Etiese eskatologie is nie ʼn lewenstyl wat net vir ʼn eksklusiewe groepie mense beskikbaar is nie; dit is inklusief en sluit ook die gemarginaliseerdes in. (2) Etiese eskatologie behels om deel te wees van ʼn familie, en verwys spesifiek ook na die inklusiewe aard van die “Koninkryk van God” (Crossan, 1998:337). (3) ʼn Laaste karaktertrek van etiese eskatologie is volgens Crossan (1998:337) sigbaar in die opdrag van sending. Om ʼn “gestuurde” te wees behels ook die realiteit om verwerp te word. ʼn Leefstyl wat deur etiese eskatologie gekenmerk word, behels dus om nooit volledig tuis in hierdie wêreld te wees nie.

Opsommenderwys spreek Crossan (2001:110) se eskatologiese verwagting van transformasie eerder as verwoesting, van die sosiale eerder as die materiële, van die sekondêre eerder as die primêre, van die positiewe eerder as die negatiewe, en bo alles van die nie-gewelddadige eerder as die gewelddadige.

4.4.2.4 Funk (2002:3) erken wel dat ʼn kruisiging plaasgevind het en dat Jesus daartydens gesterf het.

Hy ontken die liggaamlike opstanding van Christus ten sterkste – Funk (2002:3) se Skrifkritiese Christologie het tot gevolg dat hy alle aansprake van versoening en verlossing in Christus se heilswerk van die hand wys. Jesus as die Eschatos (in besonder sy inkarnasie , kruisdood, en opstanding) hou vir Funk geen betekenis in nie.

Funk (1996:197) sien die “Koninkryk van God” as deel van die eskatologiese uitsprake. Hy (Funk, 1996:197) is van mening dat Jesus se verstaan van die “Koninkryk van God” die Israelitiese familieverwantskap kritiseer. Ter illustrasie hiervan verwys Funk (1996:197) daarna dat Jesus bloedverwantskap devalueer en vervang met die begrip van “familie van God”. Hierdie familie of

168 

“Koninkryk van God” bestaan uit gemarginaliseerdes in die samelewing soos byvoorbeeld: die melaatses, tollenaars, vrouens, kinders en Samaritane (Funk, 1996:197). Dit is verder duidelik dat Funk die “Koninkryk van God” sien as ʼn teenswoordige en nie as ʼn toekomende realiteit nie (Nel & Van Aarde, 2002:1124).

Funk (1996:197) meen verder dat die apokaliptiese aard van die eskatologie protesteer teen enige vorm van onregverdigheid in hierdie wêreld. Funk (1996:314) neem die volgende stelling in: “But it is also crippling because the apocalyptic mind looks for rectification in another world, rather than seeking justice in this one”. Opmerklik van Funk (1996:314) se eskatologiese perspektief is die feit dat hy op grond van etiese redes protesteer teen die gedagte dat iemand in die hiernamaals gestraf gaan word vir iets wat hy op aarde gedoen het. Funk (1996:314) sien dit ook as onregverdig dat iemand wat nou sukkel eers in die hiernamaals verligting of uitkoms gaan kry. In konteks van Funk se standpunt oor die eskatologie (wat reeds behoort te geld vir die hier en nou) is sy verwagting dat uitkoms of verligting alreeds hier op aarde moet wees en nie eendag in die hiernamaals op die mens moet wag nie.

Funk (1996:314) plaas soos Crossan (2001:110) ook ʼn vraagteken agter ʼn verwoestende en gewelddadige eskatologiese verwagting. Funk (1996:314) se eskatologiese standpunt word saamgevat deur die volgende: “The desire to reward and punish in the next world is self-serving in its most crass, pathetic form. It is unworthy of the Galilean who asked nothing for himself, beyond his simplest needs”.

4.4.2.5 Lüdemann (1995b:93) is van mening dat Jesus nooit liggaamlik aan Paulus en Petrus verskyn

het nie. Hy sien hierdie verskyning van Christus as blote hallusinasies – in eskatologiese konteks ontken Lüdemann (1995b:93) Jesus se opstanding as ʼn aankondiging van die eindopstanding.

In 1999 roep Lüdemann in ʼn sogenaamde Letter to Jesus sy tradisionele geloof vaarwel. Lüdemann (1995b:93) ontken die duidelike eskatologiese betekenis dat Christus se opstanding die begin van die algemene eindopstanding (aan die einde van die tye) was.

4.4.2.6 Müller (2006:37) glo dat ons Jesus nie kan inperk tot ʼn liggaamlike opstanding nie135. Jesus

is aldus Müller (2006:37) veel ryker en kan nie beperk word tot ʼn enkele formulering nie –

      

135 Müller (2006:37) is reg in dié sin dat Jesus se opstanding baie meer is as net ʼn liggaamlike opstanding.

Die probleem met Müller se standpunt is dat hy nie onomwonde wil verklaar dat hy die liggaamlike opstanding van Jesus aanvaar nie.

169 

Müller (2011:7) verklaar dat hy homself distansieer van die term “geloofsekerheid”. Volgens hom is geloof kwesbaar en breekbaar sonder enige inherente krag.

Müller se Skrifkritiese opstandingsperspektief het op ʼn baie subtiele wyse ʼn twyfeling in die vaste waarhede by Müller (2011) gekweek. Müller (2011) se eskatologiese uitkyk is een van onsekerheid en twyfeling van geloof.

4.4.2.7 Die Nuwe Hervorming glo nie dat Jesus fisiek uit die dood opgestaan het nie (Viljoen,

2005:1). Die betekenis van die opstanding is daarin geleë dat Christus in elkeen van ons se harte moet opstaan en voortleef (Van Wyk, 2007a:2) – Die Nuwe Hervorming heg geen eskatologiese waarde aan Christus se opstanding nie (Muller, 2002). Vir hulle is dit duidelik dat lyke nie in vandag se tyd weer lewendig kan word nie. Die dood is vir die Nuwe Hervorming deel van die sikliese gang van die kosmos (Spangenberg, 2004a:3).

4.4.2.8 Spangenberg (2009:366) verwys nie na “opstandingsverhale” nie, maar eerder na

“herverskyningsverhale”. Wanneer Spangenberg bely dat Jesus opgestaan het, meen hy dat Jesus deel van sy lewensverhaal moet word. Die dissipels het Jesus na sy dood so reëel ervaar dat hulle gedink het dat hy werklik uit die dood opgestaan het (Spangenberg, 2004a:6) – Spangenberg glo nie in die hiernamaals nie. Hy (Spangenberg, 2011:2) meld dat die mens nêrens in sy proses van evolusie ʼn siel bygekry het wat sal voortleef na sy dood nie. Spangenberg se Skrifkritiese Christologie het dan ook bepaalde negatiewe konsekwensies vir sy eskatologiese perspektief. Spangenberg (2011:2) glo dat niks buiten die materie waaruit die mens bestaan sal, voortleef na sy dood nie.

Bogenoemde en nog ander voorbeelde (soos vroeër in die studie bespreek) illustreer die besondere samehang tussen die leer van die Christologie en die leer van eskatologie. Dit is duidelik dat ʼn Skrifkritiese Christologie nie daar eindig nie, maar uiteindelik oorspoel na die leer van die eskatologie. Opmerklik is ook die feit dat diegene wat Christus se liggaamlike opstanding as ʼn historiese feit bevraagteken, ook in alle gevalle die eindopstanding van die mens en die ewige lewe saam met Christus bevraagteken.