• No results found

3.2 Die konsekwensies wat ʼn Skrifkritiese teologie vir die tradisionele leer aangaande Christus inhou

3.2.3 Die kruisdood van Christus

König (2010:120) belig die belangrikheid van die kruisdood deur te verklaar dat dit behoort tot die hart van ons Christelike geloof. Volgens Artikel 21 van die NGB bely ons: “Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het”.

Die belydenis van die kruisdood behels dat Jesus wat sonder sonde was as offer vir die mens se sonde aan die kruis gesterf het, sodat ons regverdig voor God kan staan. Paulus skryf in 2 Kor. 5:21 die volgende49: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons,

deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees”. König (2010:122) wys daarop dat ʼn offer nodig was om die sonde van die mens te versoen en dat so ʼn offer volgens Ou-Testamentiese voorskrifte alleen deur bloed kon geskied. König (2010:122) skryf dat die kruisdood van Jesus nie ʼn nederlaag was nie; inteendeel, dit was eerder die voleindiging van Christus se oorwinning tydens Sy aardse bediening.

Enkele skrifkritiese standpunte rakende Christus se sondeoffer aan die kruis word kortliks uiteengesit:

Rob Bell (2011) verwys in sy boek getiteld, Love Wins herhaaldelik daarna dat God se liefde groter is

as die tradisionele siening dat enige persoon ʼn ewigheid in die hel moet deurbring. God se liefde behoort volgens Bell (2011) inteendeel eerder te verhoed dat enige mens verlore gaan (ongeag sy geloof), wat nog daarvan te sê om bestem te wees vir die helse straf. Bell (2011:2) skryf: “Has God created millions of people over ten thousands of years who are going to spend eternity in anguish? Can God do this, or even allow this, and still claim to be a loving God”? Van Rensburg (2011:65) is van mening dat hierdie en ander soortgelyke stellings die indruk skep dat Bell (2011) God uitdaag, amper asof Bell die idee skep dat God voor sy gevoel van geregtigheid gedaag word.

      

49 Matthew Henry Commentary on the whole Bible verklaar 2 Kor. 5:21 soos volg: “As Christ, who knew

no sin of his own, was made sin for us, so we, who have no righteousness of our own, are made the righteousness of God in him. Our reconciliation to God is only through Jesus Christ, and for the sake of his merit: on him therefore we must rely, and make mention of his righteousness and his only” (Henry, 1706).

69 

Van Rensburg (2011:65) verwys verder na Bell se optrede in ʼn Hollywood-teater getiteld The gods are

not angry anymore. Tydens hierdie optrede het Bell die gedagte dat alle mense gered word op grond

van God se liefde gepredik. Van Rensburg (2011:65) merk dat Bell nooit berou oor sonde, bekering, en aanvaarding van Jesus Christus se offer aan die kruis gepredik het nie. Die Skrifkritiek in Bell se siening is daarin geleë dat hy die geloof in Jesus Christus en die versoening wat Jesus aan die kruis bewerk het, misken deur dit te vervang met goeie werke. Wat vir Bell (2011) eerder van belang is, is nie of jy glo dat Jesus gesterf het nie, maar hoe jou lewe lyk? Bell (2011) ignoreer die duidelike Skrifgetuienis dat Jesus Christus die enigste weg na die Vader is. Hy definieer God se liefde binne sy eie verstaansraamwerk en ontwater sodoende Christus se verlossende werk aan die kruis.

In teenstelling met die standpunte van Bell (2011) verklaar Joh. 14:6 die volgende50: “Jesus antwoord

hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”.

Weber (1998:149) is van mening dat Christus se dood as offer vir die mens se sondes nooit deur Jesus

of God so bestem was nie, maar dat dit bloot ʼn poging was van die vroeë Christene om ʼn Godgegewe betekenis te heg aan ʼn wreedaardige kruisdood. Weber (1998:149) skryf: “Jesus is the lamb of God that takes away the sins of the world. These are time conditioned magical and mythical interpretations which were understood by the people of that period. They served faith by giving the death of Jesus a divinely-willed meaning”. Weber (1998:149) gaan verder deur te verklaar dat ʼn offer, soos dié van Jesus aan die kruis, in die sekulêre wêreld van vandag nie meer betekenis het nie. Jesus se kruisdood as soenoffer vir die mens se sondes is aldus Weber (1998:150) betekenisloos vir die moderne mens. Weber (1998:152) meen dat die gedagte dat God sy enigste seun aan die kruis laat sterf het, nie ʼn vorm van offer vir die mens se sondes was nie, maar eerder ʼn vorm van kinderoffer. Weber (1998:151) verwys terug na die verhaal van Abraham en Isak (Gen. 22:9) ter stawing van sy argument dat God gekant is teen kinderoffers. Hy skryf die volgende (Weber,1998:151):

      

50 Die ESV Study Bible verklaar Joh. 14:6 soos volg: “Jesus as the one way to the Father fulfils the OT

symbols and teachings that show the exclusiveness of God’s claim, such as the curtain (Ex. 26:33) barring access to God’s presence from all except the Levitical high priest (Lev.16), the rejection of human interventions as means to approach God (Lev. 10:2), and the choice of Aaron alone to represent Israel before God in his sanctuary (Num. 17:5). Jesus is the only ‘way’ to God (Acts 4:12), and he alone can provide access to God. Jesus as the truth fulfils the teachings of the OT (John 1:7) and reveals the true God” (Crossway, 2008:2052).

70 

“ Israel’s God does not want the sacrifice of a son, or any other human sacrifice. Instead He offers a ram”. Weber (1998:150) het die volgende kommentaar gelewer omtrent die tradisionele Christelike leer se geloofsoortuigings betreffende Jesus se offerdood aan die kruis: “My God, can’t these people see how monstrous this is? Are they so trapped in their system of thought that they’ve lost all sense of how remote their thinking has become from the message of Jesus”?

ʼn Skrifkritiese Christologie (spesifiek met betrekking ot Christus se kruisdood) word ook gereflekteer in baie van die laat 18de eeuse en vroeë 19de eeuse liberale teoloë. Schleiermacher, Bultmann en Hick dien as voorbeelde hiervan.

Volgens Schleiermacher (1999:459) het Jesus nie aarde toe gekom om as offer vir die mens se sonde aan die kruis te sterf nie, maar om vir die mens ʼn voorbeeld te stel in sondeloosheid en volmaaktheid. Schleiermacher (1999:459) beskou hiervolgens die leerstuk omtrent Jesus se kruisdood as nodeloos (Lane, 2006:240). Die bekende Duitse teoloog Bultmann (1969:239) heg geen waarde aan die historiese feit dat Jesus wel aan die kruis gesterf het nie. Inteendeel, volgens Bultmann (1969:239), is dit nie ʼn historiese feit nie, en kon die skrywers van daardie era dit waarskynlik as allegories bedoel het. Nieteenstaande die feit dat Bultmann (1984:38) geen historiese waarde aan Jesus se kruisdood heg nie, heg hy tog ʼn sekere mate van waarde aan die betekenis van die kruis. Hick het die unieke betekenis van die kruis misken deur sy oortuiging dat die Christelike geloof nie die enigste ware geloof is nie (Lane, 2006:51). As Christene bely ons dat Jesus se kruisdood die basis vorm van ons versoening met God. Deur te beweer dat ander gelowe sonder die kruis tot God kan nader en steeds die ewige lewe kan beërwe, is lynreg in stryd met die tradisionele belydenisse. Crossan (1994) se Christologie is kenbaar aan sy standpunte dat Jesus bloot ʼn rondreisende Griekse wysheidsleraar was. König (2009:113) wys daarop dat hierdie wysheidsleraars rondgereis het sonder ʼn vaste woning of ʼn werk. Hulle het hulle daarop toegespits om wysheid te leer veral deur kort treffende spreuke. Crossan (1994) ontken die meeste van die Evangelies se inhoud, onder andere ook die versoeningsbetekenis van Jesus se kruisdood (König, 2009:114). Die Jesus-Seminaar (waarvan Crossan ook ʼn aktiewe lid is) se siening omtrent Jesus se kruisdood vind aansluiting by dié van Crossan (1994;1998). Die Jesus-Seminaar in die navolging van die Evangelie van Tomas glo dat Jesus slegs ʼn profeet was sonder om enige verlossingsbetekenis aan sy kruisdood of liggaamlike opstanding te heg (Miller, 1999:27-47).

Funk (2002:3) skryf die volgende in verband met die kruisiging van Jesus: “With regards to the

crucifixion, the Jesus Seminar says that all we can be historically sure of is that Jesus was crucified by the Romans”. Hiervolgens erken die Jesus-Seminaar dat daar wel ʼn kruisiging plaasgevind het en dat Jesus gesterf het tydens die kruisiging.

71 

Hulle ontken voorts alle aansprake aangaande die kruis se betekenis (bv. versoening en verlossing) en daarby ook die historiese feit van Jesus se liggaamlike opstanding.

Binne die konteks van die Suid-Afrikaanse teologie is daar baie voorbeelde van teoloë wat die betekenis van die kruis verwater deur die toepassing van Skrifkritiese hermeneutiese metodes. Die vernaamste wat hier uitgesonder kan word, is Spangenberg en ook die Nuwe Hervormingsnetwerk Spangenberg (2009:30) skryf dat die meestersverhaal wat deur die Latynse Kerkvaders (onder andere Hieronimus, Ambrosius en Augustinus) voorgehou word, nie as ʼn verkorte weergawe van die Bybel se verhale gesien kan word nie. Spangenberg (2005:2) is van mening dat tekste soos Jesaja 52 en 53 geensins verwys het na die kruisdood van Jesus nie. Spangenberg (2005:3) stel dit duidelik dat daar vanuit die Ou-Testamentiese profesieë geen sprake is dat iemand gaan sterf vir iemand anders se sondes nie. Jesus se kruisdood in die Evangelies verwys aldus Spangenberg (2005:3) bloot na ʼn politieke gebeurtenis. Vir Spangenberg (2005:3) was die dood van Jesus nooit ʼn sondeoffer nie, maar die dood van ʼn martelaar vir die saak waarin hy geglo het. Volgens hom het God ook nie die kruisdood van Jesus geëis nie, dit was bloot gewone gebeure wat Jesus se pad op ʼn natuurlike manier gekruis het.

Wolmarans (in Muller, 2002:64) definieer die Nuwe Hervorming se siening betreffende Jesus se kruisdood met die volgende: “Volgens die Nuwe Hervorming was ʼn kruisdood as soenoffer (ook ʼn liggaamlike opstanding) tipiese gebeure in die eerste eeu n.C". In al die misteriekultusse was die sentrale tema juis dat helde soos Dionisus, Orfeus of Mithras gesterf het net om weer te herleef. Hierdie offers van dié helde was volgens Wolmarans (in Muller, 2002:64) nes Christus se verhaal ook bedoel om die skuld van die mense weg te neem. Volgens Wolmarans (in Muller, 2002:64) is hierdie sienings tydgebonde en is die Postmodernisme se siening genaamd: Die Bybel bevat “mensewoorde oor God”, meer aanvaarbaar. Die kruisdood van Jesus is vir die Nuwe Hervorming kultuurgebonde - hulle is verder van mening dat dit sy oorsprong vind in die offerteologie. Die offerteologie verwag dat mense hulle seun of dogter offer sodat die gode hulle goedgesind kan wees (Wolmarans in Muller, 2002:64).

Beide in die Suid-Afrikaanse teologie en binne die internasionale konteks word reformatoriese Teologie bedreig deur Skrifkritiese standpunte wat op grond van ʼn verskeidenheid van redes nie Jesus se kruisdood as offer vir mens se sondes aanvaar nie. Bogenoemde studie reflekteer slegs enkele sienings aangesien ʼn in-diepte studie hieroor ʼn totale aparte studie oor die kruisdood van Jesus en nie oor die opstandingsgebeure van Christus sal behels nie. Die idee word tuisgebring dat die aard en omvang van Skrifkritiese interpretasies binne die leer van die Christologie verder strek as slegs die liggaamlike opstanding van Christus.

72