• No results found

3.2 Die konsekwensies wat ʼn Skrifkritiese teologie vir die tradisionele leer aangaande Christus inhou

3.2.2 Die twee nature van Christus

Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie, maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou (NGB, Artikel 19).

Die leer van die Twee Nature behels die belydenis dat Jesus twee nature het, maar steeds een persoon is. König (2010:72) verwoord dit met die volgende: “Jesus het ʼn Goddelike natuur gehad, maar ook ʼn menslike natuur wat verenig was in een Goddelike Persoon”.

König (2010:72) meld dat die leer van die Twee Nature in noue samehang staan met die Triniteitsleer wat bely dat daar een God is, maar dat die Vader, en die Seun, en die Gees, saam hierdie een God vorm. Die belydenis van Jesus se menslike natuur wou aldus König (2010:74) niks anders sê as bloot dat Jesus net soos ons mense, ook volkome mens in elke opsig was nie. Deur sy menslikheid was hy self die voorbeeld van hoe God bedoel het ons as mens moet leef. König (2010:74) meld dat Jesus soos ons as mens honger en dors kon word, dat Hy versoeking kon ervaar (Heb. 2:18), dat Hy vrees kon ervaar en dat Hy deur ander mense beledig en verwerp kon word. Die belydenis van sy Goddelike natuur beteken dat hy ook ware God is, saam met die Vader en die Heilige Gees. Jesus verklaar in Joh. 10:30 dat Hy en die Vader een is en dat iemand wat Hom sien die Vader ook gesien het. Ter bevestiging hiervan verwys König (2010:74) daarna dat Paulus na Christus as God verwys het in Rom. 9:5 en dat Johannes in sy eerste brief verwys het daarna dat Jesus Christus self die ware God is (vlg. 1 Joh. 5:20). Hierdie en vele ander uitsprake in die Nuwe Testament het die vroeë Christene oortuig dat Jesus ʼn menslike natuur gehad het, maar dat Hy ook ʼn Goddelike natuur gehad het.

Die leer oor die Twee Nature van Christus het ʼn verdere betekenis: Jesus het twee nature gehad, maar dit was nogtans verenig in een Persoon. König (2010:75) meld dat die vroeë Christene hiermee daarteen wou waak dat mense dink dat daar twee Jesusse geleef het, amper soos twee persone onder een sambreel (kyk ook NGB, Artikel 19).

66 

König (2010:75) vermeld dat dit laastens belangrik is om te verstaan dat die persoon wat die twee nature verenig het, ʼn Goddelike persoon was en nie ʼn menslike persoon nie.

Die rede hiervoor is dat God eerste God was, wat gekies het om mens te word, dit was dus ʼn God wat menslikheid aangeneem het en nie ʼn mens wat Goddelikheid aangeneem het nie. Johannes skryf ter bevestiging hiervan: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon” (Joh. 1:14).

Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 14, Vraag & Antwoord 35) belig die leer aangaande die twee nature van Christus met die volgende: “Dat die ewige Seun van God, wat ware God is en bly, die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het. So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid, in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde”. Christus is dus God en bly God van ewigheid tot ewigheid. In dié tyd het Hy by sy Goddelike natuur ook ʼn ware menslike natuur aangeneem en van daardie oomblik af is Hy tegelykertyd ware en regverdige mens en ware God.

Enkele Skrifkritiese standpunte aangaande die leer van die Twee Nature word belig deur die volgende:

Driscoll en Breshears (2010:234) vermeld twee standpunte wat normaalweg in noue verband met die bevraagtekening van die leer van die Twee Nature staan. Eerstens word die Goddelike natuur van Jesus bevraagteken ten gunste van Sy menslike natuur. Tweedens word die menslike natuur van Jesus bevraagteken ten gunste van Sy Goddelike natuur.

Die ontkenning van Jesus se Goddelike natuur is geleer deur onder andere die Ebioniete, Monargianisme, Nestoriane, Adopsionisme, Ariane, Jehova-getuies, Mormone en meer onlangs deur Brown (2003) se bekende boek getiteld, The Da Vinci Code (Driscoll & Breshears, 2010:235). Die ontkenning van Jesus se volle menslike natuur is geleer deur onder andere die Docetisme en Gnostiek asook die New Age beweging (Driscoll & Breshears, 2010:235).

Driscoll en Breshears (2010:235) is van mening dat Rudolf Bultmann ook skuldig is aan Skrifkritiek (spesifiek ten opsigte van die leer oor die Twee Nature van Christus) in dié opsig dat hy die historiese Jesus geskei het van die Jesus van ons geloof. Dit het tot gevolg dat Jesus vir Bultmann niks meer was as ʼn blote allegoriese figuur in die gedagtes van sy navolgers nie (Bultmann, 1984).

John Hick word in besonder deur Lane (2006:51) uitgesonder vanweë sy kritiek teen die tradisionele

67 

In 1977 het Hick in ʼn hoogs kontroversiële simposium getiteld The Myth of God Incarnate aangevoer dat ʼn nuwe beeld van Jesus nodig is, aangesien die Ortodokse standpunte geen ruimte bied vir meervoudige gelowe nie. Hick (1977:13-14) het homself beywer vir die aanvaarding van meervoudige gelowe en was ten sterkste gekant teen die Christendom se aanspraak dat hulle die enigste ware geloof is. Op grond hiervan het Hick (1977:182) die gevolgtrekking gemaak dat dit onmoontlik was vir Jesus om die vleeswording van God se Woord te wees. Dit was nie versoenbaar met Hick (1977:182) se oortuiging dat die Christelike geloof nie die enigste ware geloof is nie.

Funk (2002:1) het tydens ʼn onderhoud met Carte Blanche die volgende verklaar: “Jesus was just an

ordinary human being – the church turned him into a god”. Hy bevraagteken die akkuraatheid van die Evangelies deur te verklaar dat die ware geskiedenis en voorts die ware beeld van Jesus nêrens te vinde is in die Woord van God nie (Funk, 2002:1). Miller (1999:23) bevestig hierdie standpunte van Funk (en so ook die Jesus-Seminaar) met die volgende stelling: “The Jesus Seminar (and virtually all New Testament scholars who are not fundamentalists) maintains that early Christians made Jesus into the spokesman for their own beliefs about him”.

Binne die Suid-Afrikaanse konteks word die Twee Natureleer van Christus ook deur verskeie teoloë bevraagteken. Ter illustrasie hiervan word daar verwys na Spangenberg (2009:363) wat verklaar dat Jesus nooit self aan die Drie-eenheid geglo het nie, en dat Hy nêrens verklaar het dat Hy die tweede persoon van die Godheid is nie. Du Toit (2000:149) vra tiperend van sy postmoderne Skrifverklaring die vraag: “Gegewe die eeue lange, onverkwiklike stryd rondom die sogenaamde twee nature van Jesus, kan ons as postmoderne mense tereg vra of dit werklik moontlik (en nodig) is om presies te weet hoe dit werk en of Jesus dit buitendien self geweet het”? Met ʼn vraag soos hierdie plaas Du Toit (2000:149) ʼn vraagteken agter die tradisionele Gereformeerde belydenisse en voorts ook die belangrikste leerstukke van die leer van die Christologie.

Van Aarde (2001:15), ʼn aktiewe lid van die Jesus-Seminaar, bevraagteken Jesus as die ware “Seun van die mens” deur te suggereer dat Jesus vaderloos grootgeword het. Hy is van mening dat Jesus se unieke verhouding met God nie verband gehou het met Jesus se Goddelike natuur en eenheid met God die Vader nie, maar dat dit eerder spruit vanuit die leemte wat Jesus ten opsigte van sy aardse vader beleef het (Van Aarde, 2001:15). Wessels (2006:161) belig Van Aarde (2001:15) se standpunt met die volgende: “As vaderlose kind het Jesus God se teenwoordigheid so onmiddellik ervaar dat dit die hoofbestanddeel van sy boodskap sou word”.

68 

Bogenoemde sienings illustreer die fundamentele samehang tussen die onderskeie aspekte van die leer van die Christologie. Dit is opmerklik dat dieselfde Skrifkritiese teoloë telkens aandadig is aan die bevraagtekening van die leer van die Christologie se belangrikste aspekte.