• No results found

2.3 ʼn Oorsig van die ontwikkeling van Skrifkritiek tot vandag

2.3.4 Die Jesus-Seminaar

Die Jesus-Seminaar het in 1985 deur die inisiatief van Robert Funk (1926-2005) tot stand gekom41.

      

41   Vir meer inligting oor die Jesus-Seminaar kan die volgende publikasies geraadpleeg word: The once and

future Jesus (Borg & Crossan ed., 2000); The once and future faith (Armstrong & Cupit ed., 2001); Profiles of Jesus (Borg & Crossan ed., 2002) en Women and the historical Jesus (Corley, 2002).

54 

Volgens Spangenberg (2011:224) was die aanvanklike oogmerk van die Jesus-Seminaar die bevordering van godsdienstige geletterdheid in die VSA. Spangenberg (2011:234) meld dat die Jesus- Seminaar sedert 1995 gemiddeld tussen 20 en 25 seminare per jaar aangebied het.

Die Jesus-Seminaar bestaan uit ʼn groep Nuwe-Testamentici42 wat onder leiding van Robert Funk

navorsing doen oor die Historiese Jesus (Viljoen, 2005:1).

In hulle navorsing tref hulle ‘n onderskeid tussen die historiese Jesus (die Man van Nasaret) en die verkondigde Christus (van Wie ons in die Bybel lees). Funk (2002) het tydens ʼn onderhoud met Carte Blanche die Jesus-Seminaar se soeke na die historiese Jesus verbind aan die einde van die 18de eeu.

Hy (Funk, 2002) verwys hier terug na die grondleggers van die Historiese Kritiek, soos J.S. Semler, J.P. Gabler en G.L. Bauer wat die Bybel bestudeer het as ʼn blote weerspieëling van die godsdienstige ontwikkelings van die Jode en vroeë Christene. Hulle het geglo dat die Evangelies se voorstelling van Jesus bloot ʼn kulturele gebeurtenis of literêre fabrikasie was (Craffert en Botha, 2005:21).

Viljoen (2005:1) meld dat die Jesus-Seminaar as resultaat van hulle navorsing bevind het dat die Christus van wie ons in die Bybel lees nie noodwendig dieselfde is as Jesus soos Hy op aarde geleef het nie. Die Jesus-Seminaar beweer verder dat die apostels en evangeliste van die Bybelse tyd dinge toegedig het aan Jesus wat Hy nooit werklik gesê het nie. Die Jesus-Seminaar probeer sodoende om vas te stel wat Jesus regtig destyds in Palestina gesê en gedoen het. Aldus Viljoen (2005:1) maak hulle gebruik van die sogenaamde Radikale Historiese Metode. Hierdie metode werk met ʼn vaste beginsel van analogie of ooreenstemming (kyk ook Botha, 2011b:2). Miller (1999:11) bevestig dit soos volg: “The foundational goal of the Jesus Seminar was to assess the historicity of everything attributed to Jesus in all Christian sources from the first three centuries. This goal was pursued in two phases: first the words of Jesus, then his deeds”. Die resultate van die eerste fase van hierdie navorsing is gepubliseer onder die naam The Five Gospels: The Search for the Authentic Words of Jesus (1993) en die resultate van die tweede fase as The Acts of Jesus: The Search for the Authentic Deeds of Jesus (1997).

      

42   Die volgende teoloë is almal op een of ander wyse betrokke by die Westar Institute of die Jesus-Seminaar:

Marcus Borg; John Dominic Crossan; Robert J. Miller; John Selby Spong; Andries van Aarde; en nog vele andere (http://www.westarinstitute.org/membership/westar-fellows/ fellows-directory).

55 

Die Jesus-Seminaar het (op grond van hulle eie navorsing en bestudering van nuwere ondekkings ) op verskeie daaropvolgende byeenkomste letterlik ʼn demokratiese stemming gehou oor wat in die Evangelies as van Jesus beskou kan word en wat nie (Johnson, 1996:2).

Funk het versoek dat die stemming in die openbaar met gekleurde kraletjies moes plaasvind. Johnson (1996:3) skryf soos volg: The voting mechanism was a deliberate attention creating device. Die kraletjies vir die stemmery is soos volg toegedeel:

(1) Rooi: Jesus het dit verseker gedoen of gesê.

(2) Pienk: Dit klink of dit Jesus kon wees.

(3) Grys: Dit was moontlik Jesus.

(4) Swart: Dit was beslis nie Jesus nie, maar die vroeë kerk wat hier praat.

Die Jesus-Seminaar het die resultate van hulle ondersoek gepubliseer deur middel van ʼn teks met vier kleure.

Miller (1999:44) ag die volgende vier beginsels van historiese navorsing as fundamenteel sover dit die waardering van die historiese Jesus navorsing betref. Vanweë Miller (1999) se betrokkenheid by die Jesus-Seminaar, verteenwoordig hierdie siening ook die standpunt van die Jesus-Seminaar. (1) Aansprake omtrent historisiteit moet gestaaf word deur bewyse en argumente. (2) Historiese kennis het altyd te make met ʼn groter of kleiner waarskynlikheid en is nooit absoluut nie. Dit is waarskynlik die rede hoekom die Jesus-Seminaar dit nodig geag het om te stem oor Jesus se ware woorde en dade (Johnson, 1996:3). (3) Alle geskiedenis moet gesien word as ʼn proses van rekonstruksie. Dit behels dat alle gebeure inmekaar gepas word ten einde ʼn presiese beeld te vorm van hoe die verlede werklik was. (4) Bevindinge van die historiese waarde van die Bybelse Skrifgedeeltes het geen impak op die waarheid van ʼn religieuse geloofstelsel op sigself nie, behalwe in gevalle waar geloof afhanklik is van letterlike bewyse. Met ander woorde, volgens die Jesus-Seminaar gaan geskiedkundige waarhede in die meeste gevalle nie ʼn geloofstelsel ondermyn of spesifiek bevorder nie (Miller, 1999:44). Miller (1999:44) beskryf opsommenderwys: “All of these principles remind us that our historical knowledge has inherent limitations; it does not deliver absolute certainties; it is not discovered whole, but rather pieced together; and, except in rare cases, it cannot be used to settle questions about religious beliefs”.

Williams (1996) verwys na die volgende woorde van Funk gedurende ʼn toespraak aan die Jesus- Seminaar se lede tydens ʼn konferensie in die lente van 1994.

56 

Hierdie aanhaling is belangrik vir die verstaan van die ontwikkeling van Skrifkritiek aangesien dit ʼn aanwyser is van die mate van Skrifkritiek wat alreeds in die middel negentiger jare teenwoordig was.

 “Jesus did not ask us to believe that his death was a blood sacrifice, that he was going to die for our sins”.

 “Jesus did not ask us to believe that he was the messiah. He certainly never suggested that he was the second person of the trinity. In fact, he rarely referred to himself at all”.

 “Jesus did not call upon people to repent, or fast, or observe the Sabbath. He did not threaten with hell or promise heaven”.

 “Jesus did not ask to believe that he would be raised from the dead”.  “Jesus did not ask to believe that he was born of a virgin”.

 “Jesus did not regard Scripture as infallible or even inspired”.

Uit bogenoemde is dit reeds merkbaar dat die Jesus-Seminaar baie van die basiese fundamentele beginsels van die Christelike geloof ontken. Hulle sienings is nie alleen meer radikaal as dié van die liberale teoloë (soos Schleiermacher, Bultmann ens…) nie, maar hulle geniet ook veel wyer mediapublisiteit.

Williams (1996:1) bevestig soos volg: “The Jesus Seminar has been receiving extensive coverage lately in such periodicals as Time, Newsweek, U.S. News & World Report as well as on network television43”.

Jordaan (2003:361) verwys na ʼn onderhoud wat Carte Blanche (26 Mei 2002) met Robert Funk gevoer het. Hierin het Funk (2002) die gemeenskaplike kenmerke van die Jesus-Seminaar se lede soos volg uiteengesit: (1) Skeptisisme ten opsigte van die betroubaarheid van die Evangelies. (2) Die oortuiging dat nuwere opgrawings en sosiohistoriese navorsing die wetenskap aan die einde van die 20ste eeu in staat stel om die wêreld van destyds beter te verstaan, selfs beter as die geslagte van die 2de eeu.

(3) Dat nuut-ontdekte Nuwe-Testamentiese apokriewe geskrifte, veral die Tomas-Evangelie, ons nader aan die ware toedrag van sake bring as die Bybelse Evangelies self. (4) Die grootste deel van die Evangelies (sowat 80 %) het uit mites en propaganda bestaan.

      

43   Viljoen (2005:1) meld dat die Nuwe Hervorming baie van hulle idees en aansluitings by die Jesus-

Seminaar gevind het. Kyk ook Botha (2011a:1) se reaksie op hierdie en soortgelyke aantygings waar hy verwys na ʼn misleidende assosiasie tussen die Jesus-Seminaar en die Nuwe Hervorming.

57 

Die Jesus-Seminaar se bydrae tot die ontwikkeling van Skrifkritiek kan soos volg opgesom word:

 ʼn Basiese vertrekpunt van die Jesus-Seminaar is dat hulle die Bybel en spesifiek die Evangelies op gelyke voet plaas met nie-Bybelse tekste. Verder ag hulle die Nuwe- Testamentiese apokriewe geskrifte soos die Evangelie van Tomas en die Evangelie van Judas as betroubaarder as die Woord van God (Craffert en Botha, 2005:31-32)44.

 Hulle verwerp die Bybel as die openbaringsboek van God aan die mens en vertoon ʼn basiese ongeloof in die Evangelie van Christus. Die Jesus-Seminaar beskou nie God se Woord as betroubaar en gesaghebbend nie (Williams, 1996:3).

 Die Jesus-Seminaar glo dat alle aansprake van historisiteit in God se Woord gesien moet word as óf ʼn groter, óf ʼn kleiner waarskynlikheid van waarheid (Miller, 1999:44).

 Die Jesus-Seminaar ontken Christus se wonderwerke op aarde en skryf dit toe aan ʼn latere

byvoeging van Jesus se volgelinge of dissipels (Williams, 1996:3). Johnson (1996:7) stel dit soos volg: “The next assumption is that there is a sharp contrast

between written and oral cultures, and that Jesus must be considered exclusively in terms of an oral culture”.

 Die Jesus-Seminaar beskou Jesus slegs as profeet en wysheidsleraar sonder om enige verlossingsboodskap aan sy kruisdood en opstanding (wat deur hulle betwyfel word) te heg. Hulle reduseer so die Evangelie tot ʼn blote Jesus-etiek.

 Die resultate van die Jesus-Seminaar skep die indruk dat die Evangelieskrywers nie ʼn ware beeld van wie Jesus regtig was, geskets het nie. Hulle vervreem so die Jesus van die Christelike geloof van wat volgens hulle die ware Jesus was (Funk, 2002). Johnson (1996:3) skryf soos volg: “The ‘real Jesus’ for Funk, therefore, is different from the one worshipped by Christians”.  Volgens die Jesus-Seminaar (Funk, 2002) het Jesus nooit van die mens verwag om te glo dat hy uit die dode opgestaan het of dat Hy uit ʼn maagd gebore was nie. Die Jesus-Seminaar ontken dus meeste van die fundamentele leerstellings met betrekking tot die leer van die Christologie, byvoorbeeld: die feit dat Jesus vir ons sondes gesterf het, die feit dat Jesus die Messias was, die feit dat Jesus uit ʼn maagd gebore was asook die feit dat Jesus liggaamlik uit die dood opgestaan het (Funk, 2002).

      

44   Kyk ook die ooreenstemming tussen die Jesus-Seminaar se standpunte en dié van Crossan (in Craig,

58 

 Die Jesus-Seminaar vind dit moeilik of onmoontlik om Christus as die Eschatos te sien. Hulle heg voorts min of geen eskatologiese waarde aan die persoon van Jesus Christus nie.

Johnson (1996:4) bevestig: “So we see that eschatology in general is something that Funk (and presumably his colleagues) has “increasingly difficulty in accepting”. Will we then be surprised to find that the Jesus Seminar’s Jesus lacks any trace of Eschatology”?

 Die Jesus-Seminaar glo verder dat historiese feite op sigself nie ʼn geloofsisteem noodwendig hoef te bevorder of te ondermyn nie, behalwe in geïsoleerde gevalle waar bewyse nodig is vir geloof (Miller, 1999:44).

In reaksie op ʼn aantyging dat die Jesus-Seminaar tradisionele gelowiges se geloofsisteem omverwerp het Crossan (Johnson, 1996:5) soos volg gereageer: “The person whose faith can be shaken by scholarship has a pretty shaky faith to begin with”. Vanweë Crossan (in Craig, 1998) se direkte betrokkenheid by die Jesus-Seminaar sedert hulle ontstaan in 1985 is dit voorts nie moeilik om ʼn lyn van ontwikkeling tussen die standpunte van Crossan en dié van die Jesus-Seminaar te trek nie. Viljoen (2005:2) belig ook die feit dat baie van die Jesus-Seminaar se standpunte hulle oorsprong of aansluiting gevind het by Rudolf Bultmann.

In die proses van die ontwikkeling van Skrifkritiek kan die rol van Schleiermacher, Bultmann, Crossan en die Jesus-Seminaar (so ook die bydra van ander teoloë wat nie hier bespreek is nie) beslis nie onderskat word nie. Tereg skryf Jordaan (2003:6) dat die “konsekwensies van Skrifkritiek in die 21ste eeu al hoe duideliker na vore getree het”.

2.4 Samevatting

Die resultate van hierdie deel van die navorsing belig die erns en die realiteit van Skrifkritiek asook die gevaar wat dit vir die tradisioneel Gereformeerde leerstellings inhou. Dit is voorts duidelik dat sowel Skrifkritiek in geheel as Skrifkritiese denkwyses sedert die 18 de eeu en selfs vroeër toenemend gegroei het tot op die punt waar ons vandag staan waar Skrifkritiek meeste van die fundamentele leerstellings van die Christelike geloof bevraagteken. Die studie het verder getoon dat die verantwoordelikheid van die Skrifgetroue interpreteerder van God se Woord in die 21ste eeu by die dag groter word.

Onderhawige studie behels ʼn dogmatiese beoordeling van Skrifkritiese standpunte en die impak daarvan spesifiek ten opsigte van die leer van die Christologie en die leer van die eskatologie.

59 

Na die wetenskaplike evaluering, definiëring sowel as ondersoek met betrekking tot die onstaan en ontwikkeling van Skrifkritiek in die breë, is die volgende hoofstuk spesifiek daarop gerig om ʼn Skrifkritiese Christologie met besondere verwysing na die opstanding van Christus te ondersoek.

60 

Hoofstuk 3

Skrifkritiese Christologie met besondere verwysing na die opstanding van Christus

3.1 Inleiding

Die doelwit van hierdie studie is die dogmatiese beoordeling van bepaalde Skrifkritiese standpunte wat daarop gerig is om die konsekwensies van ʼn Skrifkritiese Christologie vir die leer van die eskatologie te belig. Om hierdie rede maak die ontleding en bestudering van Skrifkritiese Christologiese standpunte ʼn integrale deel van die navorsing uit. Afgesien van die leer oor die liggaamlike opstanding van Christus is daar ook ander kernaspekte van die leer van die Christologie wat beïnvloed word deur Skrifkritiese standpunte. ʼn Oorsig van die impak van Skrifkritiek op die belangrikste aspekte van die leer aangaande Christus, soos, onder andere, Jesus se maagdelike geboorte, die leer oor die twee nature van Christus asook Jesus se kruisdood dien as vertrekpunt vir hierdie hoofstuk.

In hierdie hoofstuk word verder ʼn wye verskeidenheid opstandingsperspektiewe, plaaslik sowel as internasionaal, sistematies ondersoek en krities ontleed. Daar word eerstens gelet op gemeenskaplike faktore van Skrifkritiese teoloë ten opsigte van die tradisionele leer aangaande Christus. Verder behels dié studie ʼn in-diepte ondersoek en ontleding van ʼn wye verskeidenheid Skrifkritiese opstandingsperspektiewe, sowel as ʼn samevatting van die vernaamste Skrifkritiese teoloë se besondere bydraes tot die bevordering van Skrifkritiese opstandingsperspektiewe. Tereg skryf Van Wyk (2000a:1) dat die opstanding behoort tot die grondstruktuur van die Nuwe-Testamentiese boodskap. Om dié rede is dit ook noodsaaklik dat ʼn uitgebreide studie aangaande Skrifkritiese opstandingsperspektiewe onderneem word. Skrifkritiese opstandingsperspektiewe word onder andere gereflekteer in die leerstukke van Schleiermacher, Bultmann, Crossan en binne die Suid-Afrikaanse konteks Van Aarde, Spangenberg, Die Nuwe Hervormingsnetwerk en die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit (SES). Gemelde teoloë tesame met andere rolspelers op die gebied van Skrifkritiek word in hierdie afdeling van die studie ontleed. Ten slotte word Skrifkritiese skrifhantering bestudeer; meer spesifiek oor hoe teoloë wat ʼn Skrifkritiese Christologie handhaaf sleuteltekste oor die opstanding hanteer?

Dit is noodsaaklik om eers die aard en omvang van Skrifkritiese opstandingsperspektiewe te bepaal voordat daar in ʼn volgende hoofstuk na die verband en wisselwerking tussen die leer van die Christologie en die leer van die eskatologie verwys word.

Die volgende vrae (wat ook in noue verband met die navorsingsvraag staan) word telkens in die studie gevra: Is daar die laaste paar dekades ʼn toename in Skrifkritiese opstandingsperspektiewe?

61 

Hoe hanteer sleutelfigure van die Suid-Afrikaanse teologie hierdie skrifkritiese standpunte? Aan die einde van dié hoofstuk word hierdie vrae op grond van wetenskaplike bevindinge beantwoord.

3.2 Die konsekwensies wat ʼn Skrifkritiese teologie vir die tradisionele leer aangaande