• No results found

4.3 Die leer van die Eskatologie

4.3.3 Enkele eksponente van die eskatologie

4.3.3.2 Chiliastiese eskatologiese model

By die Chiliastiese eskatologiese model (soos uit die naam blyk) gaan dit oor die verskillende interpretasies aangaande die duisendjarige vrederyk of die millennium waarna Openb. 20:1-6 verwys (Hoekema,1979:173). Dit gaan hier spesifiek oor die tyd van Christus se wederkoms en of daar ʼn wegraping apart van die wederkoms van Christus gaan plaasvind. Dispensasionaliste (of Chiliaste) verwag ʼn groot hoeveelheid van gebeurtenisse wat min of meer soos volg daar uitsien (König, 2010:232): (1) Die wegraping van alle gelowiges; (2) die opstanding van alle gelowiges; (3) die oordeel van alle gelowiges; (4) die bruilof van die Lam; (5) die verskyning van die Antichris; (6) die groot verdrukking wat sewe jaar lank sal duur; (7) die wederkoms van Christus; (8) die slag van Armageddon; (9) die binding van Satan; (10) die duisendjarige vrederyk;(11) die massabekering van die Jode; (12) die loslating van Satan na die millennium; (13) die oorlog van Gog en Magog; (14) die finale oorwinning oor Christus en die bose magte; (15) die opstanding van die ongelowiges en hulle oordeel; (15) en die vernuwing van die hemel en die aarde.

151 

König (2010:38) skryf dat Gereformeerde Christene in teenstelling hiermee net vier dinge verwag naamlik: (1) Die wederkoms van Christus (2) Die opstanding (3) Die oordeel (4) Die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die interpretasie van die Dispensasionaliste hang ten nouste saam met die letterlike vervulling van profesieë en die radikale verskille tussen Israel en die kerk.

Openb. 20:1-6 is die enigste plek in die Skrif waar daar sprake is van ʼn duisendjarige vrederyk en die binding van Satan (König, 1969:382) . In evaluering van bogenoemde word die standpunt gehuldig dat daar nie genoegsame Skrifgetuienis is dat daar wel ʼn letterlike duisendjarige vrederyk en so ook ʼn wegraping apart van die wederkoms bestaan nie120.

Hierdeur word nie gesê dat dit nie moontlik is dat daar wel ʼn wegraping en letterlike duisendjarige vrederyk bestaan nie, maar alleen dat daar nie genoegsame skriftuurlike bewyse is om ʼn leerstelling daaromtrent te vorm nie. Besondere waardering kan uitgespreek word vir Dispensasionaliste (en in besonder Premillennialisme) vir hulle geloof in ʼn fisieke, sigbare en persoonlike koms van Jesus Christus. Verder ook vir hulle toekomsverwagting en die erns wat hulle maak met die einde van die tyd in besonder, ook met betrekking tot die verkondiging van die evangelie. In hierdie afdeling van die studie word enkele definisies van die Chiliastiese eskatologiese modelle behandel:

a) Pre-millennialisme121 - Pre-millennialisme huldig die standpunt dat Christus vir ʼn duisend jaar op aarde gaan heers na sy wederkoms. Die vernaamste verskil tussen Pre-millennialisme en Postmillennialisme is dat die duisendjarige vrederyk by Pre-millennialisme na die wederkoms van Christus gaan wees (Hoekema, 1979:187).

Onder die pre-millennialistiese sienings is daar weer verskille (Hoekema, 1979:188). Pre- millennialisme verskil byvoorbeeld weer oor of die taak van wêreld-evangelisasie voltooi gaan wees voor die duisendjarige vrederyk, of alternatiewelik voordat Christus terugkeer voor die groot       

120 Een van die mees logiese verklarings is dat die duisendjarige vrederyk reeds begin het met die koms van

die koninkryk tydens Jesus se aardse bediening. Hiervolgens maak Christus se inkarnasie, lewe op aarde, kruisdood, opstanding en so ook die parousie deel uit van die duisendjarige vrederyk. König (2010:248) is van mening dat die duisend jaar waarna Openbaring 20:1-6 praat, verwys na simbole van mag en nie van tyd nie. Hy skryf verder dat daar geen wesenlike verskil of tydsverskil tussen die koninkryk van God (wat in Jesus se aardse optrede gekom het) en die duisendjarige vrederyk is nie. Hierdie siening behels verder dat satan gebind is deur Jesus se volbragte werk aan die kruis. Die feit dat hy vir ʼn kort tydjie losgelaat gaan word spreek van die beperkte vermoë wat satan het om steeds die kinders van God aan te val (König, 2010:248).  

121 Die term “pre” in pre-millennialisme staan vir “voor” wat behels dat Christus voor die 1000 jaar (of

sogenaamde wegraping) weer kom om vir ʼn 1000 jaar letterlik te heers saam met gelowiges (Du Rand, 2013:125).

152 

verdrukking (Boettner, 1957:8). Pre-millennialisme glo ook in meeste gevalle aan ʼn wegraping apart van Christus se wederkoms (Hoekema, 1979:194). Ook hier is daar weer verskille wat betref die wegraping, soos byvoorbeeld: Gaan dit plaasvind voor, tydens of na die groot verdrukking, wie kwalifiseer vir die wegraping ens? Van Wyngaard (1991:7) belig die twee belangrikste implikasies van pre-millennialistiese sienings soos volg: (1) ons leeftyd in hierdie bedeling is kort en (2) die taak op hande is dringend.

Boettner (1957:140) verwys na die volgende eksponente van Pre-millennialisme: W.E. Blackstone; James H. Brookes; Lewis Sperry Chafer; Arno C. Gaebelein en George Eldon Ladd, asook die Scofield

Reference Bible. Hall Lindsey (1994); Tim LaHaye (1996) en John Hagee (2001) kan uitgesonder word

as meer resente voorstanders van Pre-millennialisme (Hoekema, 1979:1980).

b) Post-millennialisme122 - Hierdie siening interpreteer Openbaring 20 op ʼn figuurlike wyse, naamlik: Dat die millennium (duisendjarige vrederyk) binne die geskiedenis en voor die wederkoms van Christus geplaas word (Boettner, 1957:4). Volgens post-millennialisme vind Christus se wederkoms eers na die duisendjarige vrederyk plaas (Hoekema, 1979:175). Van Wyngaard (1991:9) stel dit soos volg: “Christus se heerskappy sal dus nie, soos premillennialisme dit sien, onverwags kom nie, maar wel op ʼn geleidelike , evolusionêre wyse wat sal uitloop op die ‘tussentoestand’ van vrede”.

Lorraine Boettner (1957:4) kan uitgesonder word as een van die belangrikste eksponente van Post- millennialisme (Hoekema, 1979:175). Marcellus Kik en Norman Shepherd is ook voorstanders van Post-millennialisme (Hoekema, 1979:176).

c) Amillennialisme123 – Amillennialisme verwerp nie Openbaring 20 nie, maar interpreteer dit wel op ʼn nie-letterlike en nie-tydelike wyse (Hoekema, 1979:173). Amillennialisme ontken voorts die bestaan van ʼn duisendjarige vrederyk (Schwarz, 2000:332). Hiervolgens word die duisendjarige regering van Christus gesien as ʼn geestelike, nie-aardse en politieke regering. Berkouwer (1972:307) stel die volgende:

      

122 Die term “post” in post-millennialisme staan vir “na” wat beteken dat Christus se wederkoms plaasvind

na die 1000 jaar van vrede en geregtigheid wat tans heers (Du Rand, 2013:125).

123 Die “a” in amillennialisme staan vir “sonder 1000” wat behels dat daar nie ʼn letterlike aardse regering

van duisend jaar gaan wees nie, maar dat regverdiges en goddeloses langs mekaar gaan bestaan tot by die wederkoms van Christus (Du Rand, 2013:125).

153 

This vision is not a narrative account of a future earthly reign of peace at all, but is the apocalyptic unveiling of the reality of salvation in Christ as a backdrop to reality of the suffering and martyrdom that still continue as long as the dominium of Christ remains hidden.

Van Wyngaard (1991:10) merk op dat die belangrikste verskil tussen pre-millennialisme en amillennialisme daarin lê dat amillennialisme gewoonlik nie die agteruitgang van die wêreld betreur of die heersende kultuur veroordeel nie.

Hiervolgens is amillennialisme nie sodanig geïnteresseerd in die tekens van die tye nie, maar fokus dit op wat vir ons wag met die aanbreek van die wederkoms van Christus. Amillennialisme glo dat ons alreeds sedert die opstanding van Christus leef in die millennium en dat die duiwel klaar gebind is. Hiervolgens moet die duiwel met die wederkoms van Christus nog net finaal uit die weg geruim word (König, 2010:247).

Die Kerkvader Augustinus kan uitgesonder word as ʼn voorstander van Amillennialisme (Demy & Ice, 2011:1). Boettner (1957:112) meld dat Nederlandse teoloë soos Abraham Kuyper en Herman Bavinck ook bygedra het tot die ontstaan van Amillennialisme. Anthony Hoekema (1979:174) is ook ʼn voorstander van Amillennialisme, en reflekteer hierdie siening in sy monografie getiteld, The Bible and the Future (1979).

Soos die geval met die liggaamlike opstanding van Christus is daar verskeie Skrifkritiese standpunte met betrekking tot die leer van die eskatologie (baie hiervan as ʼn direkte gevolg van bepaalde Skrifkritiese opstandingsperspektiewe). Hier volg kortliks 'n studie van enkele voorbeelde hiervan.