• No results found

Hoofstuk 5: 'N RESEPSIE-ONDERSOEK NA DIE SES DEBUUTDIGBUNDELS

5.5 RESEPSIE-ONDERSOEK

5.5.5 Resepsie-studie: 'n kwalitatiewe ondersoek

5.5.5.4 Vuurtong – Cas Vos

Die debuutbundel van Vos ontvang 'n beduidende bespreking in die pers. Uit die empiriese ondersoek wat ek vroeër in die hoofstuk onderneem het, blyk dit dat Vuurtong vyf be- sprekings ontvang het. Een is 'n artikel deur Cloete-Hofer (1999:9), wat die digter aan die leser bekendstel; Jackson (1999:13) s'n is 'n resensie én 'n onderhoud; met slegs Grové (1999:12) se bydrae as volwaardige resensie. Hierdie resensie ontlok verdere kommentaar deur 'n brief van Poësieliefhebber (1999:8), met Hambidge (1999a:10) wat weer op dié brief reageer. Die aantal reëls wat Vos ontvang, is 450 in totaal; met die aantal woorde 2 569 in totaal (sien tabel 4). Sy bundel word egter net in een publikasie bespreek, naamlik Beeld (sien tabel 5), waarskynlik as gevolg van regionale voorkeure, aangesien hy in Pretoria woon en werk.

In die heel eerste mediateks oor die bundel noem Jackson (1999:13) in die subopskrif dat Afrikaanse digbundels so "skaars soos hoendertande" is. Hy sien dus die tendens in die Afrikaanse poësiesisteem raak wat ek in onder meer hoofstuk 4 bespreek het, naamlik die afname in debuutdigbundels teen die millenniumwending. Alhoewel Jackson na die ver- skynsel van min debutante verwys, noem hy geensins in die artikel dat Vos self by die randuitgewery Benedic Boeke gepubliseer het nie. Vos (2003) voer aan dat hy Vuurtong aan

Tafelberg voorgelê het vir publikasie, maar besluit het om self uit te gee – veral as gevolg

van die aanmoediging van literêre vriende. Min letterkundige konvensies word in die media- teks aangeraak en die bespreking blyk meer 'n profiel van die digter te wees. Jackson verwys tog na enkele temas soos die erotiek, siekte, dood en die godsdiens, wat hy telkens met sitate uit gedigte motiveer. Jackson vergelyk Vos met ander "dominee-digters" en maak gebruik van verskillende waardetoekennende vermeldings om dit te motiveer. Hy verwys na

"dominee-digters" soos Totius, I.L. de Viliers en Bonaventure Hinwood – almal sogenaamde hoofstroomdigters. Jackson gebruik in sy artikel die etiket "dominee-digter", terwyl Henning Pieterse, 'n gekanoniseerde digter en Hertzogpryswenner, Vos by die bekendstelling van die bundel etiketteer as "[d]ie coolste dominee wat ek ken". Daar word ook vermeld dat Vos die

Andrew Murray-prys23 vir teologiese werk ontvang het. Sodoende word waardevergrotende

kwaliteite aan Vos toe-gedig. Vos verwys self in die onderhoud na die gekanoniseerde digters wat hom beïnvloed het, naamlik Breyten Breytenbach, T.T. Cloete, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers en N.P. van Wyk Louw. Die mediatekste oor Vos en Meyer se bundels toon 'n interessante ooreenkoms: Meyer (Zietsman 2000:10) sien die verskyning van die bundel "as 'n lank gekoesterde begeerte", maar dié blydskap is nie vergelykbaar met die blydskap oor die geboorte van 'n kind nie. Vos (Jackson 1999:13) beskryf die verskyning van sy debuutwerk as sy "kleintjie" en sy "kinders". Hy voeg by dat hy nou weet hoe dit voel om

geboorte te skenk [sic – E.A.]. Hierdie artikel van Jackson funksioneer as 'n kwantitatiewe

kanonaanduider en as 'n profiel van die outeur.

Net soos in die geval van Jackson se artikel, tree dié van Cloete-Hofer (1999:9) ook op as 'n kwantitatiewe kanonaanduider om 'n bydrae te lewer tot die profiel van die digter. Cloete- Hofer se artikel is inligtend van aard en noem aspekte soos die Andrew Murray-prys wat Vos ontvang het, waarna Jackson ook verwys. Die artikel neem die vorm aan van 'n vraag-en- antwoord-onderhoud, met slegs twee vrae spesifiek oor Vuurtong. Vos noem sy intensies met sy digkuns:

'n Digter dig om rekenskap van die lewe te gee. Só kyk ek na myself en die lewe. Die lewe met al sy raaisels, pyn en plesier. En in die kyk, maak ek dalk 'n paar loergaatjies vir ander mense oop.

Naas die benutting van intensionele argumente maak Cloete-Hofer (1999:9) ook gebruik van

strukturele argumente as daar verwys word na die "bundelsiklus" en die motiewe soos die

skepping en herskeppingstemas, religieuse motiewe en die doodsmotief. Frases soos "[i]n 'n volgende afdeling", "[i]n die voorlaaste afdeling" en die "laaste afdeling" gee blyke van 'n strukturele benadering. Vos gee self die betekenis van die titel aan as 'n "tong van vuur", wat tegelykertyd 'n simbool van seëning en een van vernietiging is. In Zietsman (2000:10) se

atikel gee Meyer ook die betekenis van haar bundeltitel – die enigste ander debutant wat

haar bundeltitel verklaar, is Bezuidenhout in die ouderhoud met Parker (2001:17).

23 In die bespreking self word dit deur dr. Piet Roodt, 'n letterkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria, beskryf as die

Die enigste volwaardige resensie oor die bundel is dié van Grové (1999:12), wat reeds in die hoofopskrif sy oordeel suggereer: "Ryk gedagte-inhoud, maar te veel taaldwang". Die hoof- opskrif suggereer positiwiteit en negatiwiteit oor die bundel en die resensie word afgewissel met positiewe en negatiewe oordele. So 'n aanbiedingswyse verskil van De Moor (1993:67) se siening dat die resensent eerder 'n bewuste keuse vir of teen die bundel moet maak, terwyl Van Coller (1995:3) juis weer die weegskaalmodel voorstaan ter wille van 'n meer genuanseerde bespreking. Grové kom in die slotparagraaf tot die volgende gevolgtrekking:

Daar sit sinvolle beplanning in die bundelopset. Die bundel bevat 'n ryk gedagte-inhoud en idees met moontlikhede, maar daar is te min taaldissipline en te veel taaldwang om die bundel te maak wat hy kon wees.

Die positiewe argumente wat Grové noem, is dat die vierde afdeling se toon meer persoonlik en elegies is en die verse minder gedwonge (sien paragraaf twaalf van die resensie); daar is "'n mooi styging" in die gedig "reis na binne" (sien paragraaf vyftien); "iets besonders [word] bereik" deur die invoer van Psalm 23 as oerteks in die gedig "reis na binne" (paragraaf vyftien); daar is "treffende woordspel" in die gedig "Boksgeveg" (paragraaf sewentien) – wat Grové(1999:12) "die beste gedig" noem en die bundel is sinvol beplan met "'n ryk gedagte- inhoud en idees met moontlikhede" (slot-paragraaf). Die negatiewe oordeel word as volg deur Grové (1999:12) bewoord: "struikelende verse" (paragraaf ses); "oordrewe, retoriese taal" (paragraaf sewe); "maar weer 'n reeks wat in retoriek verloop" (paragraaf elf); "geforseerde beelde" (paragraaf twaalf); "[d]ie ander gedigte in dié afdeling bereik nie hierdie peil nie" (paragraaf vyftien); "sy kwota hinderlike beelde en onpresiese taalgebruik" (paragraaf sestien) en "maar daar is te min taaldissipline en te veel taaldwang om die bundel te maak wat hy kon wees" (paragraaf agtien). Dié kritiek op geykthede hang saam met De Moor se kategorie van tradisisie- en vernuwings-argumente. Grové maak verder gebruik van

strukturele argumente want hy beskryf die verloop van die bundel (chronologies) waar die

afdelings "skerp van mekaar [verskil]" maar tog verwant is "deurdat hulle [die afdelings – E.A.] elk op sy eie manier 'n aardse-boaardse spanning na vore bring" (paragraaf een). Intertekstuele verwantskappe met veral die Bybel word ook deur Grové genoem. Hy gebruik selfs in die tweede paragraaf die woord "intertekste". Die intertekstualiteit hou verband met die mimetiese argumente as Grové onder meer beweer dat Vos uit die Bybel "probeer om 'n hoër, edeler dimensie aan die aardse werklikhede en belewenisse toe te voeg" (paragraaf twee) en dat Vos poog om in die derde bundelafdeling "iets van die spanning tussen God en wêreld na vore te bring" (paragraaf nege) deur middel van bepaalde Bybelgedeeltes. 'n Interessante "gesprek" tussen Grové se resensie en Cloete-Hofer se artikel vind plaas ten opsigte van die verwysing na "preek". Grové (1999:12) beweer dat die slotreël van die gedig "Die saaier" 'n soort "prekie" word en dat Vos hier didakties optree en dat die gedig nie vir

sigself spreek nie. Cloete-Hofer (1999:9) vra Vos uit oor wat die belangrikste van preek is. Hy antwoord soos volg:

Die belangrikste van 'n preek is dat dit soos 'n ploeg die grond oopskeur sodat hoorders die reuk van die evangelie in die neus kan kry. En dat hulle verwonderd kan staan oor al die lewe wat daarin wemel. Die preek moet mense se lewens raak en verander. Preke moet moed en hoop aan mense gee.

Die resensie van Grové het sterk kommentaar in die brieweblad van Beeld uitgelok

Poësieliefhebber (1999:8) voel dat die negatiewe kritiek "oppervlakkig" is en "'n argaïese siening" weerspieël. Poësieliefhebber gebruik Roland Barthes se "die dood van die outeurs-

begrip"24 en Harold Bloom se konsep van "misreading"25 om sy of haar mening te staaf. Die

briefskrywer beweer dat die resensent sy eie siening in tekste inlees. Uit die inhoud en taalgebruik van die brief wil dit voorkom of die briefskrywer 'n akademikus is of ten minste 'n sekere mate van kennis oor die literêre terme en die poësie besit.

Die brief lok verdere reaksie uit en Hambidge (1999a:10) verdedig die gesaghebbendheid van Grové as kritikus: "Prof. Grové is 'n gesiene kritikus wat in sy vele sobere resensies beslis nie outyds of uit voeling met moderne strominge in die digkuns is nie." Hierdie korres- pondensie tussen Poësieliefhebber en Hambidge hang saam met die metakritiese funksie van die literêre kritiek (Van Gorp et al. 1998:243): die resensie as sodanig word gekritiseer en Hambidge as kritikus raak by 'n polemiek betrokke. Sy noem 'n interessante aspek van resensies: as die resensent verkeerd geoordeel het oor 'n bundel, sal dit steeds nie die bundel beïnvloed nie en die gedigte sal bly staan.

Uit die outeursprofiel van Vos, wat saamgestel kon word uit die artikels van Jackson en Cloete-Hofer en 'n elektroniese onderhoud (Vos 2003), blyk dit dat hy 'n beduidende rol binne die kerklik-teologiese sisteem speel. In terme van aspekte van die polisisteemteorie, soos uiteengesit in hoofstuk 2, wil dit voorkom asof Vos nie uit die literêre sisteem sal verdwyn nie, aangesien sisteme mekaar beïnvloed. Hy is die enigste van die ses debutante

wie se werk ek ondersoek het wat reeds twee verdere bundel uitgegee het – Gode van

papier het in 2001 en Enkeldiep in 2003 by Protea Boekhuis verskyn. 'n Tweede bundel

word dikwels as 'n groot toets vir die digter gesien en is 'n moontlike kanonaanduiding (Janssen 1994). Resensies oor Vos se tweede bundel getuig van 'n gemengde ontvangs. Hambidge, wat nie Vuurtong geresenseer het nie en slegs op kritiek oor Grové as resensent gereageer het (1999a:10), resenseer wel Gode op papier. Die opskrif van hierdie resensie

24 Roland Barthes (1977) kritiseer die skrywersgerigte benadering tot die literatuur en verklaar die outeur dood – die dood van die

outeur beteken die geboorte van die leser.

25 Bloom (1975) beweer dat die interpretasies deur digters van hulle voorgangers 'n "misreading" of waninterpretasie is.Die waarde van

(2001d:11), "Gawe verse getuig van nadenke oor mens en kuns", laat blyk dat dit 'n oorwegend positiewe resensie is. Soos in ander resensies deur Hambidge lewer sy kommentaar op die Afrikaanse sisteem deur te verwys na die uitgewer van die bundel, naamlik Protea Boekhuis, wat vir haar 'n bewys is dat daar lewe buite die bedryf van die hoofstroomuitgewers is. Jackson (2001:8) en Grové (2001b:9) resenseer ook die tweede bundel. Jackson (2001:8) se oordeel blyk positief te wees as na die titel gekyk word: "Dankbaar vir gode wat dans op papier"; dit is, soos die resensie oor Vuurtong, 'n kombinasie van 'n onderhoud en 'n resensie. Vos spreek in dié onderhoud die wens uit dat die tweede bundel "'n meer afgeronde bundel" as die eerste een is. 'n Negatiewe oordeel

word egter gesuggereer deur Grové (2001bc:9) se titel: "Vos se papier gode [sic – E.A.]

dans nie altyd". Aangesien ek net na die debuutbundel ondersoek instel, volstaan ek met die opmerkings en afleidings in hierdie paragraaf en word die resensies oor die tweede bundel nie verder bespreek nie.

Van die bundel Vuurtong se gedigte is deur Johann Nel vir die radioprogram Vers en Klank op Radiosondergrense voorgelees, terwyl Daniel Hugo 'n radio-onderhoud met Vos gevoer het (Vos 2003). Vos tree ook by leeskringe op.

In die lig van Vos se status binne die kerklik-teologiese sisteem as deel van die polisisteem, van die feit dat hy reeds twee bundels gepubliseer het (met 'n derde een in die vooruitsig), van die oorwegend positiewe ontvangs van sy bundels en die gevolgtrekkings uit die kwan- titatiewe ondersoek, kan die afleiding gemaak word dat hy moontlike kanoniseringstatus geniet. Hy sal waarskynlik nie uit die literêre veld vedwyn nie en behoort die kanondrempel oor te steek.