• No results found

INVLOEDE VAN KANONISERING EN INSTITUSIONALISERING

Hoofstuk 3: KANONISERING IN DIE LITERATUUR

3.7 INVLOEDE VAN KANONISERING EN INSTITUSIONALISERING

Uit die gegewens sover verkry, is dit moontlik om af te lei dat daar nie eenstemmigheid

bestaan oor die hele proses van kanonisering nie.

Dit blyk dat kanonvorming onvermydelik en wenslik is. Daar is algemene eenstemmigheid dat kanonvorming moet plaasvind om die literêr-dinamiese aangeleentheid wat veranderings van historiese, kulturele, sosiale en politieke aard wys, te reflekteer.

Mooij (1985/6:25-26) beklemtoon egter dat daar "veel argwaan jegens canonvorming" is en noem die volgende drie argumente, wat ek met voorbeelde uit die Afrikaanse literêre sisteem toelig en kortliks bespreek:

 In die praktyk is literêre voorkeure té uiteenlopend om 'n enkele kanon te duld. Vir sommige kritici staan ouer figure soos D.J. Opperman en N.P. Van Wyk Louw voorop, terwyl werk van eietydse digters nie in aanmerking geneem word nie. In 'n demokratiese samelewing en kultuurveld behoort alle voorkeure en verwysingspunte myns insiens egter geakkommodeer te kan word.

 Die pluralistiese karakter van die samelewing verhoed die gedagte van een kanon. Dit geld veral die Suid-Afrikaanse samelewing, wat uit diverse groepe bestaan. Die Suid- Afrikaanse samelewing is immers veelrassig en het sedert 1994 politieke verandering ondergaan. Die millenniumwending is 'n tydsfase gekenmerk deur elektroniese voor- uitgang, wat terselfdertyd 'n uitwerking op die arbeidsverdeling het. Verdere tendense van dié tydsfase is gebrekkige taalbeheersing, 'n swak leeskultuur, 'n relatief jong Afrikaanse taal en 'n geskiedenis van taaldiskriminasie teen Afrikaans. Die verandering in die status van Afrikaans en die afname in die getal studente wat Afrikaans op universiteitsvlak neem, is nog faktore wat die Afrikaanse literêre sisteem beïnvloed. In 'n veeltalige, multi- kulturele Suid-Afrika is wisselwerking tussen letterkundiges noodsaaklik. Volgens Van Vuuren (1999:244) loop die ontwikkeling van die swart Afrikaanse struggle-poësie hand aan hand met die kreatiewe ontginning van die orale tradisie van die inheemse volke in Suid-Afrika. Die vertaling van inheemse verse deur Antjie Krog (2002) en Michael Chap- man (2002) toon dié wisselwerking. Dit laat die samelewing nog meer heterogeen vertoon. Daarom is die gedagte van een kanon onder sulke omstandighede ondenkbaar.  Die feit dat kanonvorming wel plaasvind in omstandighede soos hierbo genoem, bevestig

dat dit 'n geval van magsuitoefening is. Daar is blykbaar 'n heersende klas, die kulturele

is volgens Mooij (1985/6:26) veral die akademiese wêreld (dosente, studente en af- gestudeerdes) en die kulturele elite (die skrywers wat deur die akademiese wêreld erken word, die kritici van die dag- en weekblaaie). Sodoende word stabiliteit in die kanon gewaarborg deur die akademiese wêreld en die kulturele elite wat by kanonvorming 'n rol speel. Mooij (1985/6:26) praat selfs van 'n bewuste of onbewuste samewerking om literêre voorkeure te bepaal. Die uitsprake van baie van die bruin en swart Afrikaanse dig- ters sinspeel op die magsbeheer wat in die Afrikaanse literêre sisteem heers (Petersen 1997:33)11:

Met ander woorde, so kom dit dat die letterkunde, die Afrikaanse letterkunde in 'n groot mate beheer word en oorheers word en bestuur en gedomineer word deur wit skrywers en letterkundiges.

Mooij (1985/6:26-27) voer die volgende teenargumente vir bogenoemde argumente aan:  Daar bestaan nie iets soos absolute gelykheid nie en geen samelewing kom voor waar

daar nie verskille in waardering en agting is nie. Daar kan nie by streng individuele voor- keure gebly word nie en 'n kollektiewe keuse moet gemaak word.

 'n Verskeidenheid uitgangspunte hoef nie tot 'n verskeidenheid keuses te lei nie. Verskil- lende uitgangspunte lei wel tot verskillende hiërargieë. So sal sekere kritici oordeel dat N.P. van Wyk Louw as die belangrikste Dertiger beskou moet word. Ander sal dalk na Elisabeth Eybers verwys as die belangrikste figuur in die dertigerjare. Sommige digters word as sogenaamd belangriker as ander beskou. Die teenargument van Mooij het as voordeel dat die kanongrense verander en aangepas kan word; dit het selfs 'n uitwerking op die samestelling van die kanon.

 Literêre geskooldheid, en daarmee saam 'n vertroudheid met die kanon, verleen 'n voor- sprong ten opsigte van magsuitoefening. Daar bestaan dus 'n verwysingspunt van waar- uit die gesprek gevoer kan word. Die kennis of mag wat die gebruiker het, maak dat hy of sy weerstand kan bied teen dogmatisme, vervlakking en eensydige magsuitoefening. Hierdie argument korreleer met dié van Altieri (vgl. Viljoen 1992b:198) se siening dat kanons sekere belangrike sosiale funksies vervul, naamlik "(to transmit) contrastive frameworks, (to exemplify) forms of imagination considered valuable in a culture and (to provide) figures of judgment for our actions".

11 Sien ook Willemse (1999:3-20) se bevindinge.

Ten opsigte van die standpunt dat kanonvorming nie slegs wesenlik is nie, maar ook "geboden" (Mooij 1985/6:28-30), dit wil sê noodsaaklik of aangewese, bied Mooij die volgende drie oorwegings, wat ek weer eens met plaaslike voorbeelde toelig:

 Die eerste oorweging handel oor die waarde van tradisie en 'n historiese bewussyn. Die kanon bied die moontlikheid om die mees waardevolle elemente in die kulturele geskiedenis te bewaar en om die hoofmomente in die kulturele geskiedenis te beklem- toon. Hier kan verwys word na die belangrike rolle wat Groot verseboek en Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1 en 2 in die Afrikaanse literêre sisteem speel. Hierdie gedagte is reeds vroeër in die hoofstuk genoem by die bespreking van die funksies wat die selektiewe kanon kan verrig. 'n Beeld van die literêre ontwikkeling word gegee deur die verskaffing van so 'n ruim beeld van die letterkunde as moontlik. Verder moet dit ruim wees ten opsigte van velerlei kwaliteite in die letterkunde. Die kanon is dus 'n manier om 'n samelewing se mees waardevolle kulturele elemente te behou, maar ook te hersien.

 Diekanonis belangrik vir die voortbestaan van die literatuur en kultuur in die algemeen.

Die tekste van die verlede werk deur na die hede en na die toekoms. In haar studie na

Opperman as spilfiguur in die letterkunde, verwys De Wet(1994:50) na resensies waarin

digters en gedigte met Opperman vergelyk word, asook die moontlike "navolgers" wat Opperman self geïdentifiseer het. Sodoende word die kulturele erfenis bewaar. Die bekende argument dat die kennis van die klassieke belangrik is omdat dit die kultuur blywend bepaal, kom hier na vore. Die kanon verskaf dus 'n belangrike struktuur en gee ook indirek aan die teenstander van die kanon 'n bepaalde gerigtheid.

 Die laaste oorweging is dat kanonvorming 'n aspek van die institusionalisering van die literatuur is. Kanonvorming is 'n noodsaaklike proses van seleksie uitgevoer deur 'n instansie. Mooij (1985/6:29) beklemtoon dat daar instansies moet wees wat namens en vir die samelewing besluit. Die gevaar is egter dat die kanon in diens sal kom van daardie

groepe wat die kanon bepaal. Die gevare van institusionalisering is oral teenwoordig,

meen Mooij, maar institusionalisering versterk wel die posisie van die literatuur.

Uit die invloede van kanonisering en institusionalisering hierbo genoem, blyk dat daar argumente vir en teen die kanon aangevoer kan word. Dit kom egter voor asof kanon- verdedigers se argumente op dieselfde prinsipes, norme en ideale berus as dié waarop die kanon self berus. 'n Strak en beperkte kanon is myns insiens ondenkbaar en hoogs onwaar- skynlik.

3.8 SLOTSOM

Die kanon is die resultaat van veelsydige aktiwiteite deur onder meer skrywers, uitgewers, kritici, bloemlesers, dosente en beoordelaars. Dit is veelsydig saamgestel en bestaan uit 'n ryk arsenaal van vergelykingsmateriaal. Die kanon word begrens deur 'n wye oorgangs- geheel waardeur die toegang en die uitgang nie te moeilik is nie. Dit word verder algemeen aanvaar dat institusionalisering die posisie van die literatuur eintlik versterk.

Daar is tans aktiewe pogings aan die gang om sogenaamd alternatiewe kanons te vestig, byvoorbeeld dié van die orale literatuur, die populêre kultuur, en die bruin en swart literatuur. So wil die kanon sigself vernuwe deur elemente uit die laer of populêre strata toe te laat tot die sentrum van die literêre sisteem.

Binne die postmodernistiese tydvak is die gesprek rondom kanons en kanonisering pro- blematies. Die postmodernisme ken geen beherende posisie aan enige sisteem of geïnstitu- sionaliseerde hiërargie en outoriteit toe nie, meen Muller (1992:397), en lewer kritiek teen alle kanons (Van der Merwe en Viljoen 1998:46) om sodoende die kultuur te dekanoniseer. 'n Grensoorskryding ten opsigte van die literatuur word deur die postmoderniste bepleit (Muller 1992:397 en Van Gorp et al. 1998:349). Die term verbastering ("hybridization") soos genoem deur Van der Merwe en Viljoen (1998:47) en gebaseer op een van Ihab Hassan se vele katalogusse van die kenmerke van die postmodernisme, dui op grensoorskryding en die vermenging van genres. Sodoende word konsepte soos "hoë" en "lae" kultuur her- interpreteer en vermeng en die massakultuur omarm. Die feit dat hiërargieë tersyde gestel kan word, veroorsaak ook dat 'n sekere eklektisisme na vore kom (Van Gorp et al. 1998:349). Hambidge (1992:68) betoog dat die postmodernisme die leser konfronteer met probleme oor outentisiteit (sien hoofstuk 3.2) en dat hulle konsepte soos outonomie, outoriteit, sisteem, hiërargie, referensialiteit en oorspronklikheid bevraagteken. Foster en Viljoen (1997) se inleiding tot Poskaarte bied 'n oorsig oor postmodernistiese tendense in die Afrikaanse poësie sedert 1960, deur byvoorbeeld die problematisering van meesterverhale; die ondermyning van eng kultuurdefinisies wat al as elitisties en onderdrukkend geëtiketteer

is; en die paradoksale huldiging én ontmaskering van literêre voorouers12.

Literatuur is ondergeskik aan 'n groter kulturele sisteem en enige sosiale en/of politieke veranderings sal die literêre sisteem direk beïnvloed. In die lig van die veranderinge wat sedert 1994 in Suid-Afrika plaasgevind het, is dit nodig om te kyk na die invloed van dié

12 In die jongste uitgawe van Perspektief en Profiel kritiseer Van Vuuren (1999:250 e.v.) Foster en Viljoen se uiteensetting. Haar teore-

veranderinge op die literêre sisteem. 'n Teoretiese oorsig oor kanonisering is belangrik, aan- gesien 'n kanon nooit stabiel en onveranderlik is nie; dit hou verband met norme en waardes binne sekere geografiese, ekonomiese, historiese, politieke en maatskaplike sisteme wat gedurigdeur verander. Met die politieke veranderinge in Suid-Afrika en die ekonomiese oor- wegings wat veral die uitgewerswese beïnvloed, is die moontlikheid daar dat die kanon in 'n veranderingsfase is.

Die kwessies rondom kanons en kanonvorming word toenemend aktueel, veral binne die konteks van veranderinge soos hierbo genoem. Hierdie hoofstuk is 'n uitbreiding op hoof- stuk 2, wat handel oor die polisisteemteorie, wat die teoretiese raamwerk is waarbinne my navorsing plaasvind. Dit dien weer as 'n voorbereiding vir die volgende hoofstuk, wat fokus op die Afrikaanse poësiesisteem, asook hoofstuk 5, waarin die rol van resensies en media- tekste in die kanoniseringsproses onder die soeklig geplaas word.