• No results found

Hoofstuk 4: DIE LITERÊRE VELD VAN AFRIKAANS

4.5 DIE AFRIKAANSE POËSIEVELD

4.5.3 Die nuwe stemme

Die vraag wat al hoe meer opklink in literêre kringe, is waar die nuwe stemme in die poësie is.

In 1997 verskyn Nuwe stemme 1 by Tafelberg. Digters wie se werk daarin opgeneem is, is

onder andere Martjie Bosman (gebore 1954), Tilla Diedericks (gebore 1946), Tom Dreyer

(gebore 1972), Pieter Strauss (gebore 1960) en Kirby van der Merwe (gebore 1957). As daar na die geboortejare gekyk word, is daar weereens geen "jong" stemme nie.

Nuwe stemme 2 verskyn in 2001 by Tafelberg. Die "stemme" is onder andere dié van Toast

Coetzer16, Petrus de Kock17, Tertius Kapp, Elsibé Loubser, Bernard Odendaal en Hans

Pienaar18. In 2005 verskyn Nuwe stemme 3 met onder meer Loftus Marais en Erns

Grundling as jong stemme.

Ander versamelbundels wat teen die millenniumwending verskyn, is Nuwe verset (2000) by

Protea Boekhuis, Met woorde soos kerse – Inheemse verse uitgereik deur Antjie Krog

(2002) by Kwela-boeke, Uit die stof (2001) by Fenomeen Publikasies en Metafore van

herlewing by Lapa Uitgewers in 2002. In 2002 verskyn die geleentheidsbundel onder

redakteurskap van Fanie Olivier by Protea Boekhuis As die son kom oogknip en in 2004 verskyn Land van sonlig en van sterre, saamgestel deur Daniel Hugo, ook by Protea Boekhuis. Bent Uitgewers publiseer in 2004 Naakte waarheid. Die Poetry Institute of Africa en die Breedevallei Dichters publiseer ook versamelbundels. Versamelbundels word deur etlike uitgewerye as 'n oplossing vir die gebrek aan debuutdigbundels gesien (Barnard 2002). Stassen (2002b) waarsku egter dat die eie stem van die digter in 'n versamelbundel verlore gaan. Bezuidenhout (Kritzinger 2001:3) sien in versamelbundels die geleentheid vir goeie skrywers om te publiseer. Dit bied, volgens haar, die kans aan lesers om meer as een stem te hoor. Dit wil dus voorkom asof versamelbundels meer gebruikersvriendelik en koste- effektief is. Dit bied aan nuwe digters die geleentheid om wel te publiseer.

In 'n resensie oor Nuwe stemme 2 vra Snyman (2001) twee vrae: Wanneer is iemand 'n digter? Wat is nuut en hoe vergelyk nuut met vernuwing? Snyman (2001) beweer dat hy niks nuuts in Nuwe stemme 2 vind nie en dat indien iemand 'n gedig skryf, dit nie van hom of haar 'n digter maak nie. Hy voel dat die term digter in Afrikaans sinoniem is met net die skryf van gedigte. Wat die tweede saak betref, voel Snyman (2001) dat alhoewel nuwe woord- en denkwêrelde geopen moet word, moet die verlede nie afgebreek word nie. Snyman kritiseer die feit dat digters te gou wil publiseer, terwyl hul werk nog skaafwerk en besinning nodig het.

Dieselfde mening word deur Hambidge (2001f:29) gehuldig as sy ook vra waar die nuwe stemme is. Sy noem hulle "'n afwesige aanwesigheid" en voel dat die nuwe stemme hulleself meer stem moet gee. Sy bepleit 'n literêre tydskrif soos Graffier, Stet of Ensovoort waarin grensoorskrydende tekste kan verskyn, asook 'n groter gebruikmaking van LitNet, "om presies te vertel wie hulle is en waarheen hulle op pad is" (Hambidge 2001f:29).

16 Toast Coetzer sou in 2002 debuteer by Protea Boekhuis – die titel van sy bundel is nog nie gefinaliseer nie. 17 Petrus de Kock sou in 2002 debuteer by Protea Boekhuis met Die koel klip.

Die kritiek op die nuwe geslag skrywers lok verdere debat uit en Jaco Fouché, skrywer van

RykvandieraweenPaartiebyJakes,reageeropHambidgeseaantygings.Fouché(2001:26) beklemtoon dat dit 'n ander geslag is wat nie gemeet moet word aan ouer standaarde nie. Hy verwys na die tydsgewrig van die New Age waarin die nuwe geslag nou lewe, wat "aanmekaar getimmer [is] uit die beste en die slegste van die vorige eras". Fouché (2001:26) raak voorts die kwessie van globalisering aan, asook die tegnologiese vooruitgang, die inligtingsoordaad en die kultuurvervlakking van die wêreld waarin die jong geslag leef. Hy beweer dat die "jonges se koppe [anders] werk" en dat hulle die internet- en televisie-

generasie is. Jaco Botha vereenselwig hom op 23 April 2002 op LitNet met Fouchéen sê dat

sy generasie nie veel erg het aan boeke en geleerdheid nie, maar eerder hul inspirasie uit televisieprogramme en die internet kry .

Op LitNet vind in hierdie tyd ook 'n hewige woordewisseling plaas tussenJohanndeLange,

wat in die jare tagtig gedebuteer het, en Jaco Botha, 'n "negentiger". Op 22 April 2002 reageer De Lange soos volg (vgl. Smith 2002b:4):

Meer nog, dit kom van 'n generasie wat so kortsigtig en gemaksugtig is dat hulle tot dusver nog nie hulle gat in rat kon kry en hulle eie tydskrifte en/of uitgewerye gestig het nie; wat kennelik nie besef dat hulle tot dusver kon publiseer vanweë 'n klimaat wat deur vorige generasies geskep is nie, en deur die bietjie hype wat bestaande tydskrifte soos De Kat of Insig vir hulle gee nie. Kortom: wat tot dusver nog op die rug van ons generasie gery het.

De Lange (Smith 2002b:4) beweer verder dat daar nie eers van 'n literêre beweging gepraat kan word nie. Hy waarsku dat die gebrek aan nuwe stemme die groter literêre toneel bedreig. Op dié bewerings verweer Botha hom op 23 April 2002 in 'n brief (Smith 2002b:4). Hy voel dat sy generasie se sogenaamde kortsigtigheid en gemaksug "eerder 'n simptoom

as 'n ingesteldheid is" (Smith2002b:4). Botha (Smith 2002b:4) meen dat die literêre gemeen-

skap 'n sinkende skip is as gevolg van die "neerdrukkende realiteit van die Afrikaanse boekbedryf" en die feit dat daar nie 'n Afrikaanse mark vir kuns is nie. Uit die berig blyk dat

Fouché (2001:26)en Botha (Smith 2002b:4) die "jonger generasie" se denke verwoord en

verteenwoordig en dat hulle nie positief is oor die toekoms van Afrikaanse uitgewers nie. By die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2002 het Die Burger-lesingreeks die vraag gestel oor waar die nuwe stemme in die letterkunde is. Prof. Willie Burger van die Departe- ment Afrikaans van die Randse Afrikaanse Universiteit beweer dat daar waarskynlik baie jong debutante is, maar geen "nuwe stemme" nie, omdat niks vernuwends op die literêre front gebeur nie (Jordaan 2002:13). Dié gedagte word ook deur prof. Louise Viljoen van die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch bevestig.

gesprekvoering balanseer om sodoende die letterkunde te vernuwe. Sy (Jordaan 2002:13) pleit verder vir:

'n wegbeweeg van die neiging om eendimensioneel te dink oor die Afrikaanse letter- kunde in die sin dat moeilike en ontoereikende letterkunde voortdurend afgespeel word teen toegankliker letterkunde asof daar nie plek vir albei sou wees nie.

Burger beklemtoon dat hy nie "'n pleidooi vir uitsluitend elitistiese letterkunde wil lewer nie",

maarsienegtergeen toevoegings tot die letterkunde nie(Stofberg2002:8). Hy meen dat daar

ruimte vir verskillende letterkundes is, maar stel voor dat Afrikaans "die literêre tradisie" moet ondersoek en uitdaag (Stofberg 2002:8). Viljoen (Jordaan 2002:13) is egter meer hoopvol:

Miskien is dit ook dié nuwe stemme, met hulle minagting vir die Afrikaanse literêre tradisie en hul internetverbindinge met die wye wêreld, wat die gevare van inteelt in 'n klein gemeenskap soos die Afrikaanse sal kan oorkom.

Stassen (2003) verwys ook na Hettie Scholtz wat voel dat die jonger geslag skrywers nie aangejaag moet word nie, aangesien hulle stadig maar seker besig is om hulle stem te vind.

Prof. Hein WillemsevandieDepartementAfrikaans van die Universiteit van Pretoria spreek

by dieselfde lesingsreeks die kanon aan. Hy voer aan dat baie mense wat nie tot die hoof-

stroombehoortnie,"uitgebuit, bespotlik gemaak, of bloot geïgnoreer is" (Jordaan 2002:13).

Willemse koppel ook die toekoms van die letterkunde aan geletterdheid, aangesien daar 'n groot persentasie van Afrikaanssprekende swart en bruin mense is wat leef in toestande van honger, wanhoop, armoede en ongeletterdheid.

Indien die vraag gevra word na waar die nuwe stemme is in die lig van Snyman (2001) en Hambidge (2001f:29) se kritiek dat die nuwe stemme geen vernuwende bydrae lewer nie, moet daar dus gekyk word na wat vernuwend is. Tydens 'n lesingreeks by die 2003- Woordfees te Stellenbosch is die vraag gevra: Het ons nog iets nuuts om te sê? Al die deelnemers was dit eens dat daar wel iets nuuts is om te sê. Elize Parker (2003), hygroman- skrywer, beklemtoon dat daar vernuwing veral op populêre gebied plaasgevind het en dat die "ou" stemme die "nuwe" stemme moet begelei. Die bekende Nederlandse skrywer Henk van Woerden (2003) meen dat daar geen tekort aan onderwerpe is nie, alhoewel daar 'n groter klem op die verlede geplaas word. Van Woerden bepleit die oopmaak van die kanon. André P. Brink (2003a), bekroonde romanskrywer, vra ook vir 'n herskryf van die geskiedenis om die sogenaamde onderdrukte blik op die geskiedenis reg te stel. Reeds in 1998 vra Van Heerden (1999:10) die vraag hoe die Suid-Afrikaanse skrywer (en by implikasie die digter) oor "Afrika" gaan skryf. Van Heerden (1999:9) beweer dat die bruin skrywer se verhouding tot Afrikaans en die Afrikaanse literêre landskap nog altyd problematies was. Hy raak die

postkoloniale problematiek van emigrasie, vreemdelingskap, ontheemding en indentiteit aan – temas wat moontlik ontgin kan word deur die eietydse skrywers en digters.

Miskien word die gevoel van die nuwe geslag digters die beste saamgevat in die houding van Jac Kritzinger, soos berig deur Krog (2002a:13):

Digter in murg en been – dit is wat Jac Kritzinger homself noem. Of ander mense ook

so dink, skeel hom min – 'n benadering wat al hoe meer onder jong digters posvat.

[...] 'Persoonlik beskou ek myself as 'n hedendaagse sjamaan – 'n tussenganger, 'n

skakel tussen die tasbare realiteit en die droomtoestand, die Anderwêreld. Die uitdaging van die sjamanisme is om hierdie tussenpad met oorgawe te loop, sonder om jouself deur die skemertoestand te vernietig. Dit is die rol wat ek vervul. Dis nie belangriker as enige ander rol in die gemeenskap nie. Of van hoër waarde nie. Daar is geen konstantes nie.'