• No results found

Belangrike publikasies en tendense

Hoofstuk 4: DIE LITERÊRE VELD VAN AFRIKAANS

4.5 DIE AFRIKAANSE POËSIEVELD

4.5.2 Belangrike publikasies en tendense

Gevestigde digters lewer in die jare negentig belangrike werk:

 Elisabeth Eybers publiseer onder andere Tydverdryf / Pastime (1996),Verbruikersverse/

 Ina Rousseau verower in 1996 die Hertzog-prys vir 'n Onbekende jaartal (1995).

 BreytenBreytenbachpubliseerin1998Papierblom,in2000LadyOneenin2001Ysterkoei-

blues ('n versamelbundel wat die jare 1964-1975 dek) en Mondmusiek ('n laserskyf).

 Antjie Krog gee Gedigte (1989-1995) (1995) en Kleur kom nooit alleen nie (2000) uit; en in 2002 verskyn Met woorde soos kerse, inheemse verse onder haar redakteurskap en in 2004 verskyn Die sterre sê 'tsau'. Die laaste drie bundels verskyn by Kwela, wat "geweet het haar bundel[s] sal verkoop" (Van Zyl 2002b). (Sien ook hoofstuk 4.4.2.)

 Henning Pieterse verower in 2002 die Hertzog-prys vir Die burg van hertog Bloubaard. Voorts word die werk van gekanoniseerde digters as keurbundels uitgegee, soos gedigte van Sheila Cussons ('n Engel deur my kop in 1997 en Die asem wat ekstase is in 2000) en T.T. Cloete (Die baie ryk ure in 2001).

Vir die jong digters word 'n platform geskep met die Nuwe Stemme-reeks. Dit gee, volgens Van Zyl (2002b), vir die onervare digter die geleentheid om te publiseer en om digterlike groei te ondergaan. Barnard (2002) onderstreep dieselfde gedagte.

Die poësie word al hoe meer toeganklik gemaak deur die tegnologie in te span. In hoofstuk 4.5.4 brei ek meer oor dié tendens uit.

Ander stemme wat in dié tydperk na vore kom, is die volgende:

 Carl Boplaas (digtersnaam van Carl van der Merwe) debuteer in 1997 met Soetsop virre

klipkind. Hy publiseer verder in 1998 Klopdisselboom, in 1999 Ramkie-rympies, in 2000 Bokveldse binnevet en in 2001 Guitige goedjies en prentse praatjies. Hy dig in die streek-

variantvan die Kouebokkeveld en publiseer by sy eie onafhanklike klein uitgewery, naam-

lik Boplaas Uitgewers.

 Floris Brown verteenwoordig die bruin stem. Hy publiseer onder meer Die woudmaker (1998), Grysvos (2000) en Die koei stort 'n traan (2000). Hy gee self uit onder die naam Fab-uitgewery en is aktief betrokke by die Breërivier-digtersgroep in Worcester.

 Loit Sôls debuteer in 1998.Hy beoefen die sogenaamde praatvers.Sy bundel My straat

en anne praat poems (Kwela) beeld die "Ghoema"-variant uit soos die digter dit self

noem – 'n klankryke en beeldryke sosiolek. Kwela het Sôls genader om 'n manuskrip juis omdat hy nie "suiwer" poësie skryf nie. Volgens Van Zyl (2002b) is Sôls 'n bemarkbare produk. Die klein oplaag van 800 bundels is uitverkoop.

 Marius Titus debuteer in 1990 met Oop gemoed. Hy verteenwoordig ook die bruin stem en gee verder Dwangherfs en Genesing in vuil water onder sy eie naam uit. Titus neem

deel aan die Woordfees op Stellenbosch en aan verskeie bekgevegte. Van sy gedigte is in verskeie versamelbundels opgeneem.

Die toename van selfpublikasies en publikasies deur niehoofstroomuitgewers is opvallend:  Protea Boekhuis begin 'n leidende rol speel met die publikasie van die volgende dig-

bundels in 2001: Marlise Joubert se Lyfsange, Barend J. Toerien se Die huisapteek en Cas Vos se Gode van papier. Die volgende digters debuteer onder Protea se vaandel: Kobus Lombard met Geknipte naelstring (2001), Fransi Phillips met My lied van die niet (2002), Martjie Bosman met Landelik (2002) en Ronel Nel [en die here het foto's geneem

oor vanderbijlpark] (2002). In 2003 debuteer Marius Crous met Brief uit die kolonies en in

2004 Sarina Dönges met In die tyd van uile by Protea. Ander gevestigde name wat by Protea gaan publiseer of reeds gepubliseer het, is dié van Daniel Hugo, Lucas Malan, Joan Hambidge, M.M. Walters, Louis Esterhuizen en Johann Lodewyk Marais. Binne die uitgewerskanon kan Protea Boekhuis waarskynlik nie meer as 'n randuitgewer beskou word nie, maar 'n hoofstroomuitgewer.

 Dieminder bekende stemme wordgepubliseerdeuronder meer Bent-Uitgewers, naamlik

Lena Jonsson-Spang se Dalk lê daar 'n engel hier en Lucia Wels se Spiraal, albei in

1997. In 2001 publiseer A.M.Buckton by dieselfde uitgewer Die beproewing van Engela.

'n Epiese ballade en Wessel Pretorius gee Jy kan skoenlappers sien aankom uit.

Charles Zandberg debuteer in 2002 by Bent met Tydsaam met tyd saam. Publikasies

van Suider Kollege Uitgewers speel 'n belangwekkende rol aangesieneenvandie debute

van 2000, Dansmusieke deur Zandra Bezuidenhout, met die Ingrid Jonker-prys bekroon word. Ander uitgewerye wat minder bekende stemme publiseer, is Gnomic Press, die Woordgilde en Fenomeen Publikasies.

 Digters wat self publiseer, is onder meer Pieter Bloem (Genadendalse Drukkery), Oskar Prozesky (The Centre Press), Elrika van der Walt (Publitoria), Paul de Bruyn (Amo Uitgewers), Marius Titus (self), Hans Pienaar (self), Terrence Booysen (self) en Gertjie Billy Hendricks (self).

Versamelbundels toon 'n toename en word deur Stassen (2002b) gesien as uitgewerye se manier om op 'n "goedkoop" wyse poësie te publiseer. Hy voel dat dit slegs 'n oplossing bied vir uitgewers wat nie wil waag nie of nie die moed het om nuwe digters te publiseer nie. In die volgende afdeling word die meriete al dan nie van versamelbundels onder die loep geneem, terwyl in hoofstuk 3.6.6 bloemlesings as instrumente in die kanoniseringsproses bespreek is.

Ten spyte van bogenoemde tendense, verskyn min debuutbundels – veral by hoofstroomuit- gewers. Dit wil verder voorkom asof die debutante nie werklik 'n impak maak op die Afrikaanse poësieveld nie. Die debutante gee ook volgens Odendaal (2001:53) die indruk van middeljarigheid: As daar na die geboortedatums van debutante vanaf 1986–2000 gekyk word, soos deur Odendaal (2001:65) aangetoon, kom die volgende verspreiding voor:

onder twintig jaar: 1

20-29 jaar: 5

30-39 jaar: 13

40-49 jaar: 21

50-59 jaar: 6

ouer as 60: 2

Odendaal (2001:65) gebruik die debutante van 1986–2000 soos dit in Komrij en Brink se antologieë aangegee is. Hy gee slegs 48 debutante, terwyl my lys (sien addendum A) 122 vir dieselfde tydperk gee. Ek stem met hom saam dat daar nie jong debutante debuteer nie. Volgens my navorsing is van die "jonger" stemme wat teen die millenniumwending gedebuteer het, Ronél Nel en Francois Weideman. Hugo (Anoniem 2001a:3) spreek hom ook uit oor die gebrek aan jong stemme. Hy verwys na digters soos Gert Vlok Nel en Zandra Bezuidenhout wat in resente jare gedebuteer het, maar nie so jonk is nie. Stassen (2003) onderstreep ook dié kommer en verwys na Hettie Scholtz wat meen dat die beste Afrikaanse skrywers besig is om oud te word.

Dit blyk dus uit bogenoemde tabel dat die "jong stem" afwesig is: daar is volgens Odendaal (2001:65) slegs 6 debute deur digters onder die ouderdom van 30 jaar, terwyl 34 digters tussen die ouderdomme van 30 en 49 jaar debuteer. My navorsing wys ook op dié tendens. Dit wil voorkom of die jong digters nie publiseer nie en ander maniere vind om wel hulle stemme te laat hoor. Die redes vir hierdie tendens word vervolgens onder die loep geneem.