• No results found

Kritici se siening van die uitgewerswese

Hoofstuk 5: 'N RESEPSIE-ONDERSOEK NA DIE SES DEBUUTDIGBUNDELS

5.5 RESEPSIE-ONDERSOEK

5.5.2 Kritici se siening van die uitgewerswese

Volgens Susanne Janssen beïnvloed die ongeskrewe reëls van die literatuurkritiek die praktyk van resensente. Janssen (1994:19) beweer dat die literêre veld deel uitmaak van 'n omvangryke maatskaplike sisteem en dat die literêre veld dus 'n relatiewe outonomie het. Die aktiwiteite van literêre resensente word beheer deur die standaarde, idees en praktyke wat in hul institusionele omgewing heers. Janssen beklemtoon sodoende die rol van die institusies op resensies.

Om hierdie punt te bevestig, verstrek ek 'n voorbeeld uit die Afrikaanse literêre veld, naamlik die gebrek aan feministiese kritiek in die Afrikaanse literêre sisteem, soos uitgewys deur Van Niekerk (1994:5). Sy stel voor dat die volgende aspekte onder meer in gedagte gehou moet word as daar na die vroueliteratuur gekyk word: kritici se houdings teenoor die vroueskrywer en haar teikenleser, die verteenwoordiging van vroue in redaksionele poste by uitgewers, die wyse waarop vroue se werk deur mans en vroue geresenseer word, die verteenwoordiging van vroue op literêre tydskrifredaksies, die wyse waarop vroueliteratuur in leerplanne voorgeskryf word en die verteenwoordiging van vroueskrywers in versamelbundels. Van Niekerk (1994:6) kom tot die gevolgtrekking dat uitgewers hierdie wanverteenwoordiging nie daadwerklik probeer regstel nie.

18 Die internet-weergawe van die berig word hier benut. 19 Die internet-weergawe van die brief word hier benut.

Volgens Even-Zohar (1990b:37-38) is die uitgewerswese een van die sogenaamde institusie-meganismes wat 'n groot rol in die kanoniseringsproses speel, 'n saak waaroor ook Fokkema (1985:4) skryf (sien hoofstuk 3.6.2), terwyl Lefevere (1987:22-34) die rol van die literêre kritici as herskrywers bespreek (sien hoofstuk 2.6.5). Teen die agtergrond van hierdie teoretisering kan resensies in terme van mag en magstrukture, die heersende ideologie en manipulasie beskou word.

Die invloed wat die institusionele raamwerk waarbinne 'n resensent skryf op hom of haar het, kom duidelik na vore in Olivier (2001:4) se resensie. Dit lewer grootliks kommentaar op die feit dat Dimensie deur 'n kleiner, onbekende uitgewer uitgegee is. Van die 155 reëls wat die resensie beslaan, handel 49 reëls (ongeveer 'n derde van die resensie) oor die Afrikaanse sisteem, spesifiek die uitgewerswese. Olivier beweer dat daar meer aandag aan "klein

publikasies" soos Dimensie gegee moet word,aangesien daar tog verse in die bundel is wat

vir sekere lesers iets sal beteken.

In feitlik al haar resensies en rubrieke is Hambidge baie negatief oor die gehalte van die bundels wat by randuitgewerye in die Afrikaanse literêre sisteem gepubliseer of self ge- publiseer is. In haar rubriek Kopstukke (2000a:4), wat 57 reëls beslaan, gebruik sy 35 reëls om oor die Afrikaanse sisteem en die uitgewerswese te skryf. Sy voel dat van die betrokke bundels nie op standaard is nie en skryf in reaksie op 'n brief in Beeld as volg: "Die grootste

vyandvandie letterkunde is 'n kritieklose ophemeling van middelmatige bundels"(1999a:10).

Hambidge het dit veral oor die keuring van die bundels. In haar resensie vra sy: "Kan daar nie asseblief van ingeligte keurders gebruik gemaak word nie?" (2001a:9).

Hierdie mening word ook deur ander resensente gehuldig. Viljoen (2000:67) skryf oor die gemor oor die gehalte van die bundels, terwyl Olivier (2001:4) voel dat die bundel Dimensie strenger gekeur moes wees:

Dit is 'n lywige debuut, met 72 gedigte, waarskynlik 'n dosyn of twee te veel. Soos so dikwels gebeur, hou dit altyd die gevaar in dat sterker verse hulle waarde inboet omdat kleineres hulle as 't ware aan 'n mens kom staan en opdring. Hierteen moet 'n uitgewer feitlik altyd 'n skrywer beskerm, ook die grotes!

'n Ander resensent wat ook voel dat snoeiwerk die tipe bundels soos Dansmusieke sou bevoordeel het, is Smith (2000:15). Hambidge (2000a:4) praat in hierdie verband van die "suinige, streng hand van die uitgewerhuis" wat die digter teen homself of haarself be- skerm.

Hambidge (2001a:9) se grootste kritiek teen die onderhawige bundels is dat hulle die Afrikaanse digkuns groot skade berokken omdat hulle "geen blyke van enige kennis van die (huidige) poëtikale diskoers" gee nie. In hierdie spesifieke resensie van Hambidge, wat 41 reëls beslaan, gebruik sy 14 reëls om die uitgewerswese te kritiseer. Soos in heelwat van haar ander resensies en rubrieke gebruik sy 'n derde tot 'n kwart van die ruimte om die Afrikaanse sisteem te bespreek, spesifiek die uitgewerswese. Smith is dit ook eens met Hambidge dat dié bundels nie die grotes sal bedreig nie. Ander resensente is meer positief oor die tendens van selfpublikasies en publikasies by kleiner uitgewers. Fanie Olivier (2001:4) pleit by groot uitgewers om die klein uitgewers te help deur vir hulle uitstalplek in te rig by hulle groot boekwinkels, om sodoende die verkoop van boeke aan te moedig. John (2002:13) skryf in 'n resensie oor die selfgepubliseerde bundel deur Hans Pienaar dat

privaat gepubliseerde poësie nie hoef te beteken dat ons afstand moet doen van die standaarde gestel deur Breytenbach, Krog, Johann de Lange en Henning Pieterse nie.

Ook Smith (2002c) eindig sy resensie positief: "En dat mense hul werk self uitgee, kan ook op 'n dankbare leserspubliek dui."

Naas die behoefte aan behoorlike keuring, word selfpublikasies en publikasies by klein of

niehoofstroomuitgewers dikwelsgebrandmerk deur die swak redaksionele versorging. Ester

(2001) neem dié saak op in sy resensie van Dansmusieke en sê dat die bundel ontsier word deur "storende tikfouten" en dat toekomstige bundels met die "nodige zorg gedrukt" sal moet word. Smith (2000:15) oordeel ook negatief oor die spelfoute in dié bundel.

Teen hierdie agtergrond word daar vervolgens gekyk na die invloed van resensies en ander mediatekste op die kanoniseringsproses. 'n Empiriese ondersoek word van die resepsie- dokumente onderneem. Dijkstra (1989) se kwantitatiewe kanonaanduiders word veral met hierdie doel voor oë gebruik.