• No results found

Hoofstuk 5: 'N RESEPSIE-ONDERSOEK NA DIE SES DEBUUTDIGBUNDELS

5.5 RESEPSIE-ONDERSOEK

5.5.5 Resepsie-studie: 'n kwalitatiewe ondersoek

5.5.5.3 Spoorsny – René Bohnen

In 'n e-pos brief aan my beantwoord Bohnen (2002:1) my vraag oor die doel met die bundel as volg:

Doel met die bundel was om toe te tree tot die digterswêreld en my werk te meet aan kriteria van buite. Dit is met groot realiteitsbesef gedoen (seker ook redelike mate van naïwiteit) en was 'n outentieke daad wat niks terugverwag het nie.

Bohnen publiseer haar debuutbundel by Gnomic Press – net voor Lorenz. Sy het besluit om self te publiseer aangesien sy gehoor het van die verminderde publikasiemoontlikhede by gevestigde uitgewers.

Van die drie resensies en een artikel wat oor die bundel verskyn het, is Hambidge (2000b:20) se resensie meer negatief as die ander tekste, wat positief ingestel is. Hambidge verwys in haar resensie na die "konvensies" van die digkuns en meen dat die digbundel nie juis die konvensies nakom nie. (Dieselfde oordeel word gevind in Hambidge (2000b:20) se resensie oor Lorenz se bundel.) Sy bewys hierdie oordeel met 'n sitaat uit Bohnen se gedig "Kleuterstem". Sy gebruik dus tradisie-argumente (De Moor 1993:46). Twee vermeldings kom voor in die verwysing na Jonker [waarskynlik Ingrid Jonker – E.A.] en Ted Hughes – en funksioneer hier nie waardevergrotend nie, maar eerder waardeverkleinend. Hambidge oordeel dat daar slegs een onthoubare gedig is, naamlik "I ching". Sy handhaaf 'n skerp en ironiserende toon deurdat sy terme soos "kakelaar" gebruik en "digteres" tussen aanhalingstekens plaas, wat impliseer dat sy Bohnen nie as 'n digteres beskou nie.

In sy resensie kom Odendaal (2001:6) tot die gevolgtrekking dat "René Bohnen 'n eie plek in die eietydste Afrikaanse digkuns kan oopskryf". Sy oordeel is dus waardevergrotend. Hy praat selfs in die slotparagraaf van "'n belofteryke debuut" (2001:6); hierdie oordeel verskyn reeds in die subtitel van die resensie, naamlik "Nuweling lewer belofteryke bundel". Odendaal fokus in sy resensie op die "spore" in die bundel en veral die "spoor" van digterskap en digkuns; dus word die metapoëtiese betrek. As na De Moor (1993:46) se beoordelingsmodel gekyk word, blyk dit dat Odendaal hoofsaaklik gebruik maak van

resensent gebruik begrippe soos "'n heg samehangende bundelgeheel" en verwys na "die samehang [wat] bewerkstellig" word deur die netwerk van "spore" in die bundel (2001:6). Odendaal wys in die resensie motiewe uit waarmee die leser kan identifiseer: die trauma van huweliks-verraad, besinnings oor selfmoord en oor kreatiwiteit. Hierdie resensie bevat ook enkele vermeldings. Verwysings na Ingrid Jonker en Sylvia Plath (twee gekanoniseerde

outeurs wat soortgelyke lotgevalle te beurt geval het) kom voor – met ander woorde 'n

intertekstualiteits-dimensie word tot die resensie toegevoeg (De Moor 1993:52), aangesien

die tema van selfmoord betrek word. Kritiek deur Odendaal word gestaaf met sitate. Hy voel dat die bundel "opsetlikhede" en selfs "gesogthede" bevat en dat daar 'n sekere "versletenheid" in die bundel is. Hierdie kritiek kan beskou word as 'n versugting na ontyking en vernuwing. Odendaal se resensie bevat 'n sterk ontwikkelde argument, 'n relevante

inhoud en 'n identifikasie met die moontlike leser van die bundel – sake wat De Moor

(1993:65-67) as belangrik beskou vir 'n geslaagde resensie.

Aangesien Nieuwoudt (2001:11) geen oordeel uitspreek in haar artikel oor Spoorsny nie en dit bloot inligtend van aard blyk te wees, word dit nie as 'n resensie geklassifiseer nie. Die artikel is 'n bekendstelling van die digter. Soos in Odendaal se resensie (2001:6) word hier ook verwys na die struktuur van die bundel en word daar gefokus op die "spore" in die bundel. Die metapoësie word weereens betrek deur die verwysing na "wat die spoor vat na digterskap en die digkuns". 'n Informatiewe vermelding kom voor in die verwysing na Marié Opperman, weduwee van D.J. Opperman wat Bohnen aangemoedig het om te publiseer. Daar kom ook 'n verwysing na die resensie van Odendaal (2001:6) in die artikel voor, naamlik dat Bohnen wel 'n eie plek in die eietydse Afrikaanse digkuns kan oopskryf. Nieuwoudt (2001:11) meld dat die eerste resensies oor die bundel "belowend" lyk en gee die status van Odendaal as resensent weer as "akademikus". Intertekstuele verwysings kom voor wat betref die mitologie, die godsdiens en kunstenaars soos Jim Morrison. Deurdat Bohnen self in die artikel die doel van die bundel verwoord, kan daar beweer word dat Nieuwoudt van intensionele argumente gebruik maak. Bohnen verwys na die soek- en vindproses in die bundel en beweer dat sy deur haar gedigte "die donker met die ligkant [probeer] integreer" en sin maak van haar "verwarring". Die artikel van Nieuwoudt speel 'n belangrike rol ten opsigte van die bekendstelling van die digter. Volgens Dijkstra (1989:162) en Ohlhoff (1993:64) is die ruimte wat aan 'n outeur afgestaan word in die dag- en weekblaaie 'n kwantitatiewe kanonaanduider. So 'n artikel kan 'n groot bydrae lewer om 'n digter te profileer.

Grové (2001a:15) se oordeel oor die bundel is oorwegend positief. Dit word reeds gesugge- reer in die hoofopskrif wat die bundel as "'n belangwekkende debuut" beskou. Dié gedagte

word herhaal in die resensie self as Grové meen dat daar "genoeg verdienstelikhede" is om die bundel 'n "belangwekkende debuut" te maak (paragraaf twintig). As dié oordeel vergelyk word met Odendaal (2001:6) s'n as "'n belofteryke debuut", handhaaf hierdie twee resen- sente dieselfde mening. In sy adstruksiegedeelte (De Moor 1993:47) maak Grové gebruik van strukturele argumente: hy bestee aandag aan die wyse waarop die sentrale tema van reise en soeke eenheid bewerkstellig. Hy meen dat reis en soeke samehangend 'n leitmotiv is en noem fasette daarvan, soos verbeeldingsreise, herinneringreise en landskapsreise. Dié landskapsreise gaan nie essensieel oor die landskappe nie, maar om 'n metapoëtiese reis of spoorsny. Aangesien Grové (2001a:15) in veral paragrawe ses tot twaalf van die resensie 'n verband tussen die teks en die werklikheid lê, kan afgelei word dat hy van realistiese (mimetiese) argumente gebruik maak. Hy verwys daarna dat die werklikheid "opgaan in die nuwe poëtiese gedaante" (paragraaf agt) en dat daar "nie slegs verplasing of vervanging van die werklikheid [is] nie, maar transmutasie" (paragraaf tien). Dalk word dit die beste saamgevat in die volgende woorde van Grové (paragraaf ses):

Die landskap is veeleer die beginpunt van die eintlike spoorsnysoeke na die poëtiese moontlikhede wat in daardie ontdekte of herontdekte stuk werklikheid skuil.

Hierdie soort mimetiese argumente word nie deur Odendaal of Hambidge in hulle resensies benut nie, maar net soos hierdie twee resensente gebruik Grové informatiewe vermeldings en intertekstualiteit. Hy sinpeel op Ingrid Jonker as hy 'n sitaat uit die gedig "selfmoord" aanhaal en op D.J. Opperman as hy praat van die "kopspelende pegasus [...], die gevleuelde hings wat die poësie versinnebeeld". Die vernaamste literêre verwysing is na Eugène Marais se "Dans van die reën", wat in Bohnen se bundel getransformeer word tot "Die mars van die reën". Waar Marais se gedig die reën as 'n spelende, skugter jong vrou voorstel, is dit is Bohnen se gedig manlik, modern en brutaal (Grové 2001a:15). Teenoor die ander resensente praat Grové van 'n temagedig wat die bundel inlei (paragraaf vier) en oordeel hy eksplisiet oor die gedig "Sandloper” as "Een van die beste gedigte" (paragraaf

sewentien) – hier tree Grové as meningsvormer (Dijkstra: 1989:161) op. Naas die

oorwegend positiewe trant, spreek Grové ook kritiek uit deur die aandag te vestig op die oorgange wat "te bewus, te beredeneerd" aandoen en "resepmatig" is, wat hy dan staaf met die gedig "Ek lees die bundel soos 'n brief". Hy praat selfs eksplisiet van "meer as een minder geslaagde gedig" en van geforseerdhede. Grové gebruik telkens sitate om sy oordeel te regverdig.

Alhoewel Spoorsny meer positiewe kommentaar uitlok as die vorige twee bundels, het dit nie verdere resensies ontvang nie. Een volle program van Vers en klank op Radiosondergrense

is deur Daniel Hugo aan die voorlees uit Spoorsny gewy. Punt Geselsradio het 'n onderhoud met Bohnen gevoer en sy is deur Henning Pieterse genooi om deel van die Bekgevegspan te word wat in 2001 by die Aardklopfees in Potchefstroom opgetree het. Sy het aan verdere Bekgevegte deelgeneem in Pretoria en Johannesburg. Bohnen het ook in 2001 aan die Woordfees op Stellenbosch deelgeneem (Bohnen 2002:2). 'n Gedig van haar is ook opge- neem in Fanie Olivier se versamelbundel As die son kom oogknip. Sy is met ander woorde

redelik aktief betrokke in die literêre sisteem – en volgens Janssen (1994:79) speel die

betrokkenheid in die literêre veld juis 'n rol in die moontlike kanoniseringstatus van outeurs. As daar dus na die drie resensies en die artikel as kwantitatiewe en kwalitatiewe kanon- aanduiders gekyk word; na die positiewe oordele van Odendaal en Grové, asook na Bohnen se aktiewe rol in die Afrikaanse literêre sisteem, kan daar beweer word dat daar wel kanoniseringsmoontlikhede vir Bohnen voorlê.