• No results found

TOEPASSINGSMOONTLIKHEDE VAN DIE POLISISTEEMTEORIE

Hoofstuk 2: DIE POLISISTEEMTEORIE

2.6 TOEPASSINGSMOONTLIKHEDE VAN DIE POLISISTEEMTEORIE

Met as agtergrond die beskikbare navorsing oor die polisisteemteorie, is dit noodsaaklik om te kyk na die toepassingsmoontlikhede van dié teorie. Even-Zohar (1990a:10) sien een van die toepassingsmoontlikhede van die teorie in die studie van onbekende fenomene. Dit maak die studieveld oop en enige studie-objek is moontlik binne die polisisteemteorie (vgl. in hoofstuk 1 die studies wat reeds hier te lande onderneem is met behulp van die polisisteem- benaderingswyse). Die rol van herskrywers, vertalers en kritici kan nagevors word, asook tekste wat op die periferie is.

Die sogenaamde nieliterêre of randelemente van die literêre sisteem kan binne die poli-

sisteem erkenning kry. So word gay-literatuur, populêre of boekklubromans en tekste in

verskillende variante van Afrikaans nou as sisteme of subsisteme beskou. Nieliterêre tekste soos essays, geskiedenisboeke en wetenskaplike studies word, aldus Van der Merwe en Viljoen (1998:51), ook tot die literatuur gereken.

Die polisisteemteorie impliseer die noodsaaklikheid van interaksie tusen alle geïnteres- seerdes en belanghebbendes by die literatuur. Dié verbintenis in die polisisteem impliseer 'n nie-amptelike sosiale kontak: die bevordering van die literatuur word as "die saak" gesien en inligting oor "die saak" word gedeel; met ander woorde daar is harmoniëring en vervlegting van persoonlike doelwitte met ander sosiale doelwitte (Van der Westhuizen 1999:138). 'n Polisistemiese benadering sluit ook kultuurstudies in (Van der Westhuizen 1999:135). Kultuurstudies impliseer 'n interdissiplinêre aanbieding van interaksie tussen die verskillende rolspelers, soos letterkundiges, filosowe, vertalers, taalkundiges, psigoloë en kommunikasie- kundiges. Snyman (1994:41) verwys na die vakgebied van die eietydse Kultuurstudie en navorsers soos Tony Bennett, Stuart Hall en Hendrik van Gorp wat belangrike bydraes op dié gebied gelewer het. Schmidt (1997:119) beklemtoon dat dit onmoontlik is om tekste in isolasie te bestudeer. 'n Wetenskaplike rekonstruksie in die wydste sin is nodig om 'n netwerk van interverwantlike items daar te stel. 'n Multi-dissiplinêre kultuurstudiebenadering maak dit byvoorbeeld nodig om na te vors hoe 'n spesifieke gemeenskap se leesgewoontes verskil van 'n ander gemeenskap s'n in terme van die historiese, kulturele, ideologiese, psigologiese, of ander gebiede. Die gesprekke rondom die kanon, die verruiming van die kultuurbegrip, die verdediging van subkulture en die ideologiese inslag van die kultuur is

verdere moontlike kultuurstudie-ondersoeke. Interliterêre kontakte tussen twee polisisteme vind plaas en deur middel van die literêre polisisteem is dit moontlik om sulke interliterêre kontakte noukeurig te beskryf.

VanLuxemburgetal. (1992:98) wys op ander toepassingsmoontlikhede van die sistemiese

benaderingwyse, byvoorbeeld metodologiese aspekte soos kwantitatiewe en kwalitatiewe

metodes van ondersoek. Ondersoekmoontlikhede is die korrelasie tussen verkoopsyfersen

besprekings in die media, die samestelling van die leserspubliek, resensiestudies en die

verhouding tussen die literatuur en die werklikheid. In hoofstuk 3 bespreek ek Dijkstra (1989) se kwalitatiewe en kwantitatiewe kanonaanduiding en in my resepsiestudie in hoofstuk 5 onderneem ek sodanige studie. Ohlhoff (1995:44-45) noem ook as studiemoontlikhede die invloed van resensies en die rol van die toekenning van literêre pryse op opname in die kanon.

Die heterogeniteit in kulture kan volgens Lourens (1997:51) deur die polisisteem bestudeer word, veral waar dit voorkom in twee- of meertalige samelewings, soos Suid-Afrika. 'n Ondersoek soos dié een wat ek onderneem, kan byvoorbeeld gedoen word met betrekking tot die ander amptelike tale. Hanlie Stadler berig op 28 Oktober 2001 in Rapport oor die marginalisering wat in die sogenaamde minderheidstale voorkom. Venda word deur 2,2% moedertaalsprekers gepraat, maar slegs 0,82% boeke word in Venda gepubliseer. Daar- teenoor word 56,35% Engelse boeke in Suid-Afrika gepubliseer, maar slegs 42% persone is Engels magtig in Suid-Afrika (Stadler 2001:29). Dieselfde marginalisering kom voor by die toekenning van literêre prysgelde. By die MNet-boekprystoekennings is die wenners in die kategorieë vir Afrikaans, Engels, Suid-Sotho en Nguni-tale in 2001 met R50 000 elk bekroon,

terwyldie Venda-enTsonga-pryswenners elk R25000 ontvang het. Die MNet-boekprys vir

Afrikaanse en Engelse letterkunde is in Januarie 2003 afgeskaf (Torr 2003:8). Die prys sal voortaan fokus op inheemse tale en skrywers onder 35 jaar. Dit toon die marginaliserende

tendens teenoor die Afrikaanse letterkunde (en in my studie die Afrikaanse poësie) – 'n

tendens wat ek in hoofstuk 4.2 bespreek. Daar is verder 'n daling van 43% in die publikasie- syfer met betrekking tot Afrika-tale sedert 1995 tot 1998 (Stadler 2001:29). Die toepassings- moontlikhede van die polisisteem in die lig van bogenoemde statistiek is legio.

Meertaligheid as 'n komplekse saak nooi ook 'n polisisteembenadering uit – vergelyk Ruiter

(1991) se bespreking van meertaligheid aan die hand van die ontvangs van die Amerikaanse postmodernisme in Duitsland en Nederland. Ruiter (1991:31) sê dat interliterêre kontak moontlik is tussen twee polisisteme. Hy beweer dat Duitsland meer Amerikaanse literatuur in

die literêre sisteem opneem as wat Amerika Duitse literatuur opneem, terwyl die Amerikaan- se literatuur nouliks Nederlandse literatuur opneem.

In sy teenreaksie op die kritiek op die polisisteemteorie, wys Prangel (1997:153) op verdere toepassingsmoontlikhede van die polisisteemteorie. Die eerste aspek van kritiek is dat die sisteemteorie nie antwoorde bied op die konkrete probleme van die pragmatiese lewe nie. Prangel (1997:154) bewys dat die intersubjektiewe betekenis wel antwoorde bied vir probleme in die akademiese veld, asook in die alledaagse lewe. Daar word verder verwys na die literêre histiografie as 'n nuttige ondersoekmetode. Wat die tweede aspek van kritiek, naamlik dié oor die leser, resepsie en tradisie betref, beklemtoon Prangel (1997:155) dat 'n herdefiniëring van die konsepte binne die sisteemteorie plaasvind. Hy praat van 'n eman- sipasie van lesers en die resepsie van hulle afhanklikheid van die verwysingstekste. Die gedagte aan 'n heterogene geskiedenis, soos hierbo deur Lourens (1997:51) genoem, word ook deur Prangel ondersteun. Met betrekking tot die derde punt van kritiek, naamlik betreffende die inlywing van die literêre kritiek as 'n elitistiese interpretatiewe institusie, wys Prangel (1997:158) daarop dat nie enige manier van betekeniskonstruksie ekwivalent en interveranderlik is nie. Hy noem ook dat enige interpretasie relatief is tot die sisteem waar- binne die interpretasie gemaak word.

Ruiter (1991) noem nog 'n toepassingsmoontlikheid van die polisisteemteorie, naamlik die

voorspellenderol daarvan.Diepolisisteemteorie bied die moontlikheid om 'n samehangende en relevante beskrywing van 'n studie-onderwerp soos die Afrikaanse poësisteem te gee en dan 'n voorspelling te maak ten opsigte daarvan. In my resepsie-ondersoek waag ek om 'n voorspelling ten opsigte van kanoniseringsmoontlikhede te maak na aanleiding van die ontleding van die resensies en van ander mediatekste oor die ses Afrikaanse digbundels van 1999–2000.

Die polisisteem se dinamiek lê in die inter- en intra-sistemiese interaksies, wat volgens Vlasselaers (1997:139) die diskoersmigrasie wys wat binne die kulturele sisteme plaas- vind. Hierdie inter- en intraverhoudinge van die polisisteem word ook deur Even-Zohar (1990a:22-25) ondersoek. Hy kom tot die gevolgtrekking dat enige semiotiese polisisteem 'n komponent van 'n groter sisteem is.

Die polisisteem verskaf derhalwe 'n bruikbare metode van die wyse waarop die literatuur daadwerklik funksioneer. Dit maak die sintese van verskillende literêre prosesse en gege- wens moontlik en bied 'n raamwerk waarbinne bepaalde vrae oor die studie-objek gevra kan word, vrae wat nie noodwendig vanuit 'n ander teoretiese benadering gestel sou word nie.