• No results found

Hoofstuk 5: 'N RESEPSIE-ONDERSOEK NA DIE SES DEBUUTDIGBUNDELS

5.2 DIE LITERÊRE KRITIEK

Die hooftaak van die literatuurkritiek is om 'n oordeel uit te spreek, meen Cloete (1992:271). Die kritikus gaan dus normerend te werk, maar volgens wie se norme of volgens watter institusie se norme gewerk word, is deel van die gesprekvoering oor die literêre kritiek.

Cloete (1992:272) verwys na N.P. van Wyk Louw, wat reeds in 1939 beweer het dat die kritiek uit twee aspekte bestaan: 'n saaklike of feitlike aspek en 'n estetiese aspek (Louw 1939:151). Eersgenoemde aspek kan rasioneel gehanteer word, terwyl laasgenoemde aspek 'n waarde-oordeel vereis, wat afhang van die "insig" (Louw 1939:151). Die insig kan deur ontleding en beredenering aanneemlik gemaak word en deur die kritikus oorgedra word, maar alle ontleding is logies van die insig afhanklik, nie die insig van die ontleding nie.

Hoe irrasioneel die insig ook mag wees (die intuïtiewe reaksie), die kritikus moet sy of haar oordeel beredeneer.

Voordat daar na die verskillende vorme van die literêre kritiek gekyk word, word die herkoms van die twee terme resensie en kritiek bespreek.

5.2.2 Die herkoms van die woorde resensie en kritiek

Volgens De Moor (1993:22) kom die term resenseer etimologies van die Latynse woord

recenseo af. Dit beteken onder meer een vir een ondersoek, deurlopend nagaan, tel. Van

Gorp et al. (1998:366) koppel die betekenis van recensio aan keuring, skatting. Oor- koepelend beteken recenseo deurgaan, deurloop, in die besonder in die gedagte nagaan en oordink.

Omdat 'n resensent 'n oordeel uitspreek, kan hy of sy as 'n kritikus beskou word. 'n Kriti- kus (Grieks krino) is in wese 'n "kunsregter", meen De Moor (1993:23). Van Gorp et al.

(1998:242) voer die Griekse herkoms van die woord kritiek terug na krinein, wat beoordeel beteken. Die Griekse werkwoord krino het baie betekenisse wat die taak van die resensent

omvat, naamlik skei,onderskei,uitkies,beslis,vonnis,oordeel, beoordeel,veroordeel,meet,

betwis, verklaar.

In die lig van die herkoms van die twee woorde, word voorts gekyk na die verskillende vorme en die funksies van die literêre kritiek.

5.2.3 Verskillende vorme van die literêre kritiek

Die institusie van literatuurkritiek word deur Janssen (1994:10) gedefinieer as die mekaar aanvullende segmente van die joernalistieke, die essayistiese en die akademiese kritiek. Die

joernalistieke kritiek fokus hoofsaaklik op resente werke en verwys in die reël min na nie-

kontemporêre outeurs (Janssen 1994:21). Die essayistiese en die akademiese kritiek hou volgens Janssen (1994:21) sigself besig met werke uit die min of meer resente verlede. Van Gorp et al. (1998:242) onderskei ook tussen die drie tipes kritiek wat Janssen noem en meen dat dit nie slegs verskil ten opsigte van die lengte en die moeiliksgraad nie, maar ook

die intensie van die kritikus en die beoogde leserspubliek.Janssen(1994:10)beweer verder

dat die geïnstitusionaliseerde literatuurkritiek die aard en kwaliteit van literêre tekste beskryf.

Die literatuurkritiek plaas tekste in 'n rangorde van literêr waardevol geagte werke – dus

is in sekere opsigte ruimer as De Moor (1993) se navorsing oor resensering, omdat sy ook die kanoniseringsfunksie van die resensent betrek.

Resensies, as 'n vorm van joernalistieke kritiek, gee volgens Janssen (1994:22) die eerste waardering van die aanbod van nuwe titels. In my resepsie-ondersoek sal ek veral na dié rol van die resensies verwys. Van Luxemburg et al. (1992:130) en Van Gorp et al. (1998:242) voer net soos Janssen aan dat resensies 'n kanoniseringsrol vervul. In my bespreking in hoofstuk 3 oor kanonisering, het ek reeds teoreties die kanoniseringsrol van resensies bespreek deur na Lefevere (1987), Dijkstra (1989), Ohlhoff (1993 en 1995) en Lourens (1997) se ondersoeke te verwys (sien hoofstukke 3.6.4, 3.6.5, 3.6.7). Dit sal verder in hierdie hoofstuk onder die soeklig kom. Ek betrek voorts veral De Moor (1993) se navorsing.

Van Gorp et al. (1998:243) bespreek binne die ekstrinsieke benadering (sien 5.3) vier vorme van kritiek. Biografiese kritiek veronderstel 'n belangrike verband tussen 'n bepaalde werk en die biografiese persoonlikheid van die outeur; hierdie soort kritiek verskil van psigologiese

kritiek, waar die literêre werk aan die sielkundige eienskappe, frustrasies, werk en obsessies

van die outeurs gekoppel word.Historiesekritiekbeskou die literêre werk as 'n dokument van

en vir die tyd en situeer die werk binne 'n historiese konteks, terwyl sosiologiese kritiek 'n literêre werk op die basis van maatskaplike betrokkenheid analiseer en interpreteer.

Cloete (1992:272) onderskei ook tussen verskillende soorte kritiek, waarvan die "mees aanvaarbare" vorm volgens hom die normatiewe kritiek is. Hy koppel die norme in hierdie verband aan suiwer literêre norme, en nie aan byvoorbeeld etiese norme nie. Die norma-

tiewe kritiek gee 'n waardebepaling op grond van literêre beoordelingskriteria en probeer 'n

representatiewe vorm aanneem (Cloete 1992:272). Die kritiek wat die etiese kwessies rondom literatuur bevraagteken, is die etiese kritiek of die moralistiese kritiek. Daarteenoor is dit die impressionistiese kritiek wat die persoonlike stempel van die kritikus verteenwoordig. Uit die opkoms van die kritiek het verskeie skole onstaan, soos die practical criticism van I.A. Richards, wat aangedring het op 'n noukeurige analise van die taal van die teks, en die

New Criticism (Cloete 1992:272), wat veral gerig is op die teks (Van der Merwe en Viljoen

1998:99). Terme soos the intentional fallacy en the affective fallacy wys daarop dat die bedoeling van die outeurs of die uitwerking van die teks op die leser deur die New Critics tersyde gestel word, terwyl die tegniek van close-reading die fokus na die teks self verskuif (Cloete et al. 1985:37).

Die literêre kritiek is nie net tot resensies beperk nie, maar kan ook in die vorm van artikels of essays voorkom. Selfs satires, parodieë, persiflages en hekelinge kan as literêre kritiek beskou word. ('n Klassieke voorbeeld is Opperman se "Met apologie"-reeks in Kuns-mis.) Die literêre kritiek kan verskillende funksies vervul. Hierdie funksies word vervolgens kortliks bespreek.

5.2.4 Verskillende funksies van die literêre kritiek

Die literêre kritiek kan verskillende funksies verrig. Volgens Van Gorp et al. (1998:242) is die drie hooffunksies van die literêre kritiek die analise, die interpretasie en die evaluasie van die teks. Janssen (1994:19) noem drie ander funksies. Vir haar is dit eerstens 'n vorm van

resepsie. Voorts vervul dit 'n bemiddelende rol en dien dit as 'n brugfunksie tussen tekste en

die publiek, en wel deur die boekhandel, die biblioteek en die literatuuronderwys. Die publiek is volgens Janssen (1994:19) die gewone lesers en die literatuur-geïnteresseerde publiek. Laastens is dit 'n produsent van simboliese waardes. Van Luxemburg et al. (1992:130) noem weer die informatiewe funksie, die uitlegfunksie en die aanbevelingsfunksie, hetsy positief of negatief. Anders as in Suid-Afrika, publiseer 'n paar dag- en weekblaaie in Nederland wel redelik sistematiese informasie oor nuwe tekste. Van Luxemburg et al. (1992:130) voer aan dat min van die dag- en weekblaaie werklik 'n poging tot interpretasie aanwend.

Die term brugfunksie, soos hierbo deur Janssen (1994:19) gebruik, word ook deur Gabriel Botma (2002), 'n koerantresensent, gebruik. Die resensent is immers die skakel tussen die produsent (die skrywer of die digter) en die publiek. Die destydse bestuurder van NB- Uitgewers, Hannes van Zyl (2002a:16), vestig ook die aandag op die wisselwerking wat moet plaasvind tussen die resensent en die publiek. Hy lê verder klem op die verantwoorde- likheid van die resensent wat die leser moet "vermaak, inlig en opvoed". Terselfdertyd het die resensent 'n verantwoordelikheid teenoor die kunstenaar. Dieselfde gedagte word deur De Moor (1993:23) onderskryf. Volgens hom is daar drie groepe betrokkenes wat bepaalde verwagtinge ten opsigte van 'n resensie koester, naamlik die publiek, wat wil weet of dit die moeite werd is om aandag te bestee aan 'n spesifieke boek; die medium, wat die instansie is waarvoor die resensent werk (die werkgewer); en die kunsprodusent, wat die maker en die bemiddelende instansie is (die skrywer en die uitgewer).

Met verwysing na Slawinsky onderskei Van Gorp et al. (1998:243) tussen drie verskillende funksies. Die operatiewe funksie vind plaas wanneer die kritikus as bemiddelaar optree in die kommunikasieproses tussen die outeur en die leser. Wanneer die kritikus 'n bepaalde

visie het op die literatuur in die algemeen of die genre waartoe 'n teks behoort, verrig die kritiek 'n postulatiewe funksie. Waar die kritikus krities is oor sy of haar eie interpretasie (byvoorbeeld deur die beperktheid daarvan aan te dui) of oor kritiek in die algemeen, vervul die kritiek 'n metakritiese funksie. In my resepsie-ondersoek gaan ek na hierdie funksies verwys.

Janssen voeg 'n belangrike vernuwing toe tot bogenoemde funksies,naamlik die kanonise-

ringsrol van die resensent. Sy sien die joernalistieke kritiek as 'n belangrike seleksiemoment

in die vorming van 'n literêre kanon en ken daarom aan die joernalistieke kritiek 'n belangrike plek toe (Janssen 1994:11). Eers ná die joernalistieke kritiek se seleksie, word literêre werke immers deur essayiste en akademici bespreek.

5.2.5 Slotsom

Uit bogenoemde oorsig blyk dit dat die literêre kritiek se hooftaak is om 'n oordeel uit te spreek (De Moor 1993:21). Cloete (1992:272) voer weer aan dat die motivering vir die literêre kritiek lê in die beskrywing, verduideliking, analisering en interpretasie van 'n werk. Vir Janssen (1994) vervul die literêre kritiek 'n belangrike rol in die beeldvorming oor die literatuur, terwyl Cloete et al. (1985:22) slegs die analise, interpretasie en evaluering van 'n teks beklemtoon.

In die bespreking wat volg in hoofstuk 5.5, konsentreer ek op resensies as 'n eerste en selfs beslissende fase in die kanoniseringsproses.

Voordat so 'n resepsie-ondersoek kan plaasvind, is dit nuttig om die strategieë vir die skryf van 'n resensie en die taak van die resensent na te gaan.