• No results found

Verwysing (referensie) en betekenisonderskeidings

Hoofstuk 4 Teoretiese raamwerk

4.3 Woord en leksikale relasies

4.3.1 Verwysing (referensie) en betekenisonderskeidings

Soos reeds hier bo vermeld, word daar aanvaar dat taal gebruik word om die spreker se wêreld te beskryf en te verstaan. Maar hoe verbind taal ʼn spreker met sy wêreld? Verwysing is een só ʼn metode. Leksikale items word gebruik om na buitetalige verskynsels, hetsy konkreet of abstrak, te verwys. Wanneer ʼn spreker ʼn taalkonstruksie uiter, doen hy twee dinge: (a) hy verwys na ʼn spesifieke saak waaroor hy (b) iets te kenne gee (De Stadler, 1989:16). Neem die volgende voorbeeldsin as illustrasie:

4.2 My ma het ʼn nuwe klokkie vir Kareltjie se hokkie gekoop.

Die spreker van (4.2) verwys na vier items, naamlik ʼn ma, ʼn nuwe klokkie, ʼn hokkie en Kareltjie. Elkeen van hierdie leksikale items het ʼn spesifieke verwysing en onderskeie betekenisse. Hierdie vier items tree as referente op; die agente wat iets in die buitetalige wêreld uitwys. Lyons (1978:178, 206-207) tref onderskeid tussen verwysing en denotasie. Volgens Lyons is verwysing ʼn aksie wat die spreker uitvoer deur bepaalde items in die wêreld te identifiseer, terwyl denotasie die eienskappe van woorde aandui (vgl. Saeed, 2009:23-24 en De Stadler, 1989:16). De Stadler (1989:16) beskryf denotasie as “die verhouding tussen die woord en dié sake in die buitetalige werklikheid waarna die woord potensieel kan verwys, d.w.s. los gesien van die gespreksituasie.” Of eenvoudiger gestel: verwysing is situasiegebonde en neem gewoonlik die vorm van ʼn naamwoordstuk aan (Lyons, 1978:176; De Klerk, 1978:50; De Stadler, 1989:132; Saeed, 2009:24). In sin (4.2) dien die naamwoordstukke “my ma”, “ʼn nuwe klokkie” en “Kareltjie se hokkie” as referente en verwys hulle na spesifieke entiteite in die wêreld, naamlik die moeder van die spreker, ʼn troeteldiertjie wat in ʼn hok aangehou word (of meer spesifiek die hok van die troeteldier) en ʼn speelding wat in die hok aangebring gaan word. Die onderskeie leksikale betekenisse van die referente is konteksgebonde en word verder aangevul deur betrokke paradigmatiese verhoudinge, byvoorbeeld polisemie. Denotasie dui betekenis buite konteks aan en hou direk

[98]

met die lekseem verband; hier gaan dit eerder om die naamwoord as die naamwoordstuk (De Stadler, 1989:21, 132). Die woord “klokkie” se denotasie is derhalwe ʼn kleinerige bel wat kan lui en wat waarskynlik silwerkleurig is. Om na die klokkie te verwys as ʼn speelding, val binne verwysing en nie denotasie nie. “Hokkie” denoteer ʼn afgeslote ruimte van bepaalde grootte waarin ʼn mens diere huisves of vervoer. ʼn Hok is nie beperk tot ʼn “kareltjie” nie en kan in talle opsigte varieer. Daarenteen verwys “Kareltjie se hokkie” in die besonder na die hok van die spreker van (4.2) se ma se troeteldier. Uit ʼn mens se verwysingsraamwerk en die konteks van die sin kan ʼn mens aflei dat “Kareltjie” waarskynlik ʼn voëltjie is en dat die hokkie aan Kareltjie (en meer spesifiek aan die spreker se ma) behoort.

Verwysing (en dan uiteraard ook denotasie) is uiters relevant by die bestudering van betekenis in hofsake. ʼn Ondersoeker sal eers moet bepaal of die gewone woorde wat deur ʼn hof oorweeg word, verwys of denoteer. Daarvolgens kan bereken word wat die aard van die woord(e) se verhouding tot die res van die konteks is.

Die Duitse filosoof, Frege, het deur sy leerstellings probeer bewys dat verwysing nie gelykstaande aan betekenis is nie (Murphy, 2010:36). ʼn Verwysing kan meerdere (abstrakte) verteenwoordigers hê, terwyl die verwysing self konstant bly. Daardie meerdere verteenwoordigers word Sinn (sense) genoem. Frege se geykte voorbeeld van die Oggendster wat ook die Aandster is, illustreer die feit dat die verwysing (die hemelliggaam) konstant bly, maar deur twee verskillende Sinne verteenwoordig word. Lyons (1978:197) en De Stadler (1989:16) stel Sinn gelyk aan leksikale betekenis, terwyl Van Jaarsveld (1990:27) van

betekenisfasette of -onderskeidings praat. (Van Jaarsveld se term is die minste verwarrend

en volgens my ʼn beter woordkeuse; dié term word voortaan gebruik.) In daardie geval kan ʼn mens na sin (4.2) kyk en bepaal dat die naamwoordstuk “my ma” oor onder meer die volgende kenmerke beskik: [+vroulik], [+menslik], [+jarig] en [+het kinders]. Die verwysing bly dieselfde (naamlik “moeder”), maar die semantiese onderskeidende kenmerke kan verskil. Saeed (2009:32 e.v.) en Murphy (2010:37 e.v.) argumenteer ook dat Sinn verband hou met konsepte in dié opsig dat ʼn spreker reeds ʼn beeld daarvan in sy kop ronddra.

4.3.2 Konnotasie

Soos vroeër reeds verduidelik is, is denotasie die verhouding tussen ʼn bepaalde ding en dit waarna verwys word. Denotasie verteenwoordig die letterlike betekenis, of die sogenaamde woordeboekdefinisie. Dit hou met die lekseem se betekenis verband en soos Van Jaarsveld (1990:19) dit stel, is denotasie konvensioneel en dit moet aangeleer word. Löbner (2003:31)

[99]

is dit met Van Jaarsveld eens en definieer “denotasie” as volg: “Die Denotation eines Inhaltswortes ist die Kategorie, oder Menge, aller seiner potenziellen Referenten.”33

Een van denotasie se belangrikste kenmerke is dat dit nie konteksgebonde is nie. Konnotasie daarenteen is subjektief en assosiatief (Van Jaarsveld, 1990:32) en kan deur konteks bepaal word.

Wanneer ʼn spreker woorde uiter, herken die hoorder nie alleenlik die semantiese betekenis van daardie woorde nie, maar roep gelyktydig ook assosiasies op. Die taalgebruiker het derhalwe met ʼn tweede betekenis te doen, naamlik ʼn betekenis wat die ontvanger aan woorde

konnekteer. Dit wil sê, naas die leksikale betekenis verkry woorde soms ʼn emotiewe waarde

(De Stadler, 1989:26). Löbner (2003:48) meen dat die assosiasies persoonlik of kultureel kan wees. Met ander woorde, sommige konnotasies ontstaan weens persoonlike ervarings en sal daarom nooit dieselfde vir elke spreker wees nie, terwyl ander konnotasies binne kultuurgroepe versteen en sodoende deel van die kulturele verwysingsraamwerk raak. Die woord “pampoen” word byvoorbeeld in Afrikaans met onnoselheid geassosieer, maar elders in die wêreld vermoedelik bloot as ʼn beskrywing van varkkos beskou. Vergelyk ook die woorde “vrou”, “vroumens” en “dame” in terme van ʼn positiewe en/of negatiewe waarde. In die geval van ʼn regsproses sal persoonlike konnotasies nie deur ʼn hof oorweeg (behoort te) word nie. Maar wanneer dit om die “gewone” betekenis van ʼn woord gaan en die betrokke woord bevat kulturele konnotasies, dan is dit sekerlik ʼn hof se plig om daardie konnotasies te ondersoek? In die saak Herselman v Geleba bevat die woord “bobbejaan” twee uiteenlopende kulturele konnotasies vir onderskeidelik die spreker en die hoorder. Die spreker assosieer “bobbejaan” met ʼn domkop en die hoorder assosieer “bobbejaan” met die woord “kaffer”. In dié geval maak die denotasie glad nie saak nie, maar vorm die konnotasie juis die spilpunt.