• No results found

Mof 3 : soort handskoene metaalring, sok

4.4 Kognitiewe semantiek

5.3.1 Jonker v Davis 1953: krot Konteks:

Meneer Jonker werk op Meneer Davis se familieplaas. Hy rig ʼn versoek aan Davis om die vervalle en onhigiëniese koeistalle op te knap en stel hom beskikbaar om Davis met die taak

[139]

by te staan. Davis neem Jonker se versoek aanstootlik en rig ʼn skrywe aan Jonker met die volgende bewoording:

Jy moet onthou dat ek die seun van ʼn ryk man is en dat ek wel opgevoed is. Ek duld nie dat ʼn seun soos jy wat in ʼn krot grootgeword het, en ʼn bietjie geleerdheid van jou pa ontvang het, vir my so ʼn beledigende brief stuur nie (p. 727).

Jonker maak ʼn saak van naamskending teen Davis aanhangig op grond van die woord “krot” en eis £200 skadevergoeding. Die hof moet bepaal of die woord “krot” kan deurgaan as naamskending. Om dit te kan bepaal, moet die hof eers vasstel wat die woord beteken. (Die hof het getwyfel of konteks en omstandighede tot die uitgebreide betekenis van “krot” kan bydra.)

Bespreking:

Die HAT (Odendal en Gouws, 2010:631) beskryf “krot” as ʼn pondok of armoedige huisie. Die frame reflekteer egter meer as dit. [krot] kan onder meer aan die hand van vyf Kenmerke verduidelik word: Mense, Behuising, Kondisie, Omstandighede en Reputasie. Bestudeer Figuur 5.1.

Figuur 5.1: [krot]

ʼn Krot is ʼn woonplek wat weens uiteenlopende redes nie in stand gehou word nie. Dit kan met “hool” en “pondok” geassosieer word (Odendal en Gouws, 2010:412, 879); al twee is

[140]

sinoniem en word meestal negatief of neerhalend gebruik. Die karakter van die woonruimte word aan die kondisie daarvan geken. Die kondisie van ʼn krot kan beskryf word as vuil, vervalle, onhigiënies en dalk selfs gevaarlik (oftewel ʼn gesondheids- en veiligheidsrisiko). Die kondisie maak hierdie woonruimte onuithoudbaar en daarom verklap dit iets omtrent die soort mense wat daar woon, hul stand en hul vlak van geleerdheid dalk. Watter soort mense sal tevrede wees om in só ʼn huis te woon? Wáárom woon iemand in só ʼn soort huis? Watter standaarde handhaaf só ʼn persoon?

Die kondisie word deur die betrokke mense medebepaal; die ander bepalende faktor is finansiële en geleerdheidsomstandighede. Omdat ʼn krot ʼn bouvallige struktuur is, neem ʼn mens aan dat die inwoners (1) onwettige plakkers, (2) bywoners (die eienaar woon in ʼn beter gebou), (3) desperate huurders of (4) die eienaar is. In die geval waar ʼn eienaar self in ʼn krot woon, kan dit wees dat finansiële agteruitgang tot die strukturele agteruitgang van die gebou gelei het. Die vier soorte inwoners word almal met slegte finansiële omstandighede geassosieer. Daar word aanvaar dat mense wat meer geld het ʼn woonplek beter in stand sal hou of in ʼn beter behuisingstruktuur sal tuisgaan. Niemand sal waarskynlik uit vrye keuse in ʼn verrotte bouval intrek nie. Geld is egter nie die enigste relevante faktor nie; sosiale opvoeding speel ʼn ewe belangrike rol. Mense wat geleer is om sowel hul eie besittings as dié van ander op te pas, sal verhoed dat ʼn woonplek in ʼn krot ontaard, ten spyte van hul ekonomiese omstandighede. Iemand wat in ʼn krot woon, word dus ook met gebrekkige sosiale opvoeding geassosieer. Sulke mense is derhalwe (kwansuis) van swak inbors, agterlik en sukkelaars.

“Mense” is ʼn Strukturele Onveranderlike wat help om ʼn kousale verhouding uit te druk. Die mense gee aanleiding tot die kondisie van die woonruimte en die kondisie lei weer na die reputasie van die mense. Die inwoners van die krot het dus ʼn invloed op hul eie reputasie. “Kondisie” en “Reputasie” is van “Mense” afhanklik.

Weens die omstandighede en die kondisie van hul behuising, bou die inwoners ʼn bepaalde reputasie op. Bestudeer Figuur 5.2.

[141]

Figuur 5.2: [reputasie]

“Reputasie” is die invloedrykste Kenmerk van [krot], want dit is hier waar die kwessie van naamskending lê. Reputasie het met beeldvorming te make; hoe jy jouself sien en hoe ander jou sien, (en veral hoe jy dínk ander jou sien) hang met reputasie saam.45 Die beeld wat jy na buite straal, het ʼn invloed op jou interaksies met ander. Interaksies met ander word deur “Hoedanigheid” gekenmerk en verteenwoordig onder meer jou persoonlike, professionele en religieuse verhoudings. Dit wil sê, jou vriende, familie, kennisse, kollegas en godsdiensgemeenskap beskou en hanteer jou na aanleiding van die beeld wat jy na buite dra (individue het gewoonlik meer as een beeld en reputasie). Mense verhoed gewoonlik dat hulle ʼn verkeerde/negatiewe beeld in hul professionele en religieuse hoedanighede het. Reputasies kan met of sonder moeite bekom, behou en verloor word. Slegte reputasies is geneig om te klou en in stigma te ontaard.

“Uitwerking” is een van die belangrikste Kenmerke van [reputasie]. Die uitwerking van ʼn persoon se beeld kan goed of sleg wees (met ander woorde daar is ʼn gradering ter sprake). As dit sleg is, stoot jy waarskynlik mense weg en as dit goed is, kan jy mense na jou toe aantrek. Die uitwerking van ʼn reputasie is daarom ook met jou beeld verbind, wat weer met “Hoedanigheid” verbind is. As jy ʼn slegte reputasie opbou, kan dit ʼn negatiewe verhouding met mense in jou lewe tot gevolg hê; dit plaas ʼn beperking op jou interaksie met ander. Dit

45 Die kwessie van “krot” as naamskending kan maklik deur die teorieë van Austin (1962), Goffman (1967),

Searle (1991) en Grice (1996) aangespreek word. Beeld het te make met gesig en die manier waarop Davis die woord “krot” gebruik, val saam met die strategieë wat ʼn spreker moet volg om taktvol met ander te kommunikeer sonder om die ander party in die gesig te vat. Die gebruik van die woord “krot” hou met taalhandelinge en hoflikheidspraktyke verband. Sien ook die werk van Brown en Levinson (1987) en Lakoff (1973).

[142]

wil sê, dat mense by die kerk, kollegas by die werk, of familie en vriende jou anders hanteer omdat hulle jou anders beskou. Die kostes (opofferings) kan daarom hoog wees indien die reputasie sleg is.

Gevolgtrekking:

Dit is verstaanbaar dat Jonker sensitief is oor Davis se gebruik van die woord “krot”. Die woord roep ʼn aantal negatiewe konnotasies op (armsalig, vuil, sukkelaar, laag, onopgevoed; sien ook die Oxford-tesourus (Urdang, 1992:942): “sordid” en “sleazy”). Davis gebruik “krot” neerhalend in ʼn poging om Jonker minderwaardig te laat voel. ʼn Mens kan dit veral sien in die binêre wyse waarop Davis “krot” teenoor beskrywings van homself (“die seun van ʼn ryk man” en “wel opgevoed”) gebruik. Die woord dien verder as etiket waarmee Jonker se sosiale, geskoolde en finansiële beeld mee beskryf word.

My gevolgtrekking is dat die woord “krot” – soos dit deur Davis gebruik is – ʼn direkte invloed op Jonker se reputasie het en as sodanig naamskendend is. Die sosiale reputasie van iemand wat in ʼn krot woon, is gewoonlik laag (soos afgelei kan word uit Figuur 5.1 en 5.2). As Jonker ʼn reputasie het dat hy ʼn krotbewoner is, kan sy professionele, sosiale en geestelike netwerke op hom begin neerkyk. Sy geestelike en sosiale netwerke kan hom ook begin minag en jammer kry.

5.3.2 Blue Circle Cement Ltd v Commissioner for Inland Revenue 1984: plant