• No results found

Hoofstuk 4 Teoretiese raamwerk

4.2.1 Wat is betekenis?

As die semantiek hoofsaaklik beskou word as die studie van betekenis en as ʼn hof reëlmatig betekenis moet bepaal of bevestig, hoe moet ʼn taalgebruiker die konsep BETEKENIS verstaan?

Lyons (1978:1-3) stel dit van die begin af duidelik dat daar onderskeie betekenisse bestaan en dat dit byna onmoontlik is om die konsep bevredigend te omskryf. Die woord “betekenis” is self problematies en meerduidig en volgens De Klerk (1978:35) moet die semantiek juis nié vra “Wat is betekenis?” nie; dit handel eerder oor die keuses wat sprekers uitoefen. Van Jaarsveld (1990:9) verwys na Reichling wat “betekenis” “de nachtmerrie van de taalkunde”

31

“Dat wil zeggen dat het gezag van het taalkundige argument niet op zichzelf staat, maar verbonden is met andere redenen om de bepaling op deze manier, en niet anders, uit te leggen.” (Smith, 2007:254)

[91]

noem weens die meerduidige en soms verwarrende aard daarvan. Taal verkry eerder betekenis tydens die kommunikasieproses (sien Van Jaarsveld, 1990:11-13) en moet verkieslik nie van ʼn taal se grammatika geskei word nie (Cruse, 1986:1-2). Murphy (2010:32) meen BETEKENIS hou onder meer verband met die verhouding tussen ʼn woord en

die ding(e) waarna daardie woord verwys. Dit wil sê, BETEKENIS kan gesien word as die

verhoudings tussen woorde wat sowel konkrete en abstrakte items in ʼn mens se wêreld behels as die konsepte wat ʼn uitgebreide en inklusiewer kognitiewe voorstelling van die items in ons wêreld verteenwoordig. Stubbs (2002:13) beskou BETEKENIS in terme van die

Wittgensteiniaanse oortuiging: “meaning is use”. Taal word hier as sosiale instrument gesien; ʼn instrument waarmee ʼn verskeidenheid van take verrig word (De Stadler, 1989:11). Betekenis is vasgevang in die toepassing van taal, wat onmiddellik konteksafhanklikheid impliseer (en vir Cruse (1986:15) ʼn grammatikaal geskikte konteks behels). Aangesien betekenis in ʼn spreker se verstand geanker lê, sien Saeed (2009:6) dit as ʼn soort kennis. In die verlede het die meeste taalwetenskaplikes linguistiese kennis en algemene kennis (kennis van die wêreld) van mekaar geskei. Maar diegene wat in die kognitiewe linguistiek werk, argumenteer dat die manier waarop ons die wêreld sien, juis ʼn direkte invloed het op die manier waarop ons taal aanleer en gebruik. Taal is konteks- en kultuurspesifiek (sien Stubbs, 2002:6, 9; Murphy, 2010:31). Dit suggereer dat betekenis nooit staties kan wees nie, maar eerder veelsydig en veranderlik is. Vergelyk die Nederlandse woord “borstrok”. In Nederland (en Suid-Afrika) verwys die woord na ʼn nousluitende onderkledingstuk wat hoofsaaklik deur vroue gedra is om die bolyf te ondersteun, terwyl “borstrok” in Suriname na ʼn T-hemp verwys.

Daar word algemeen onderskeid getref tussen verskillende soorte betekenis, onder meer

grammatikale betekenis en leksikale betekenis. Sommige woorde se betekenisse is in die

grammatikale reëls van ʼn taal vasgelê en bly konstant. Murphy (2010:14) noem hierdie soort woorde funksiewoorde, byvoorbeeld lidwoorde, voornaamwoorde, voegwoorde, voorsetsels, modale werkwoorde, en so meer. Funksiewoorde het ten doen om bepaalde grammatikale funksies daar te stel in pleks van ryker en uitgebreide semantiese betekenisse (sien ook Löbner, 2003:15-16, voetnoot 11). Grammatikale betekenis behels sowel die grammatikale verbuigings van woorde as enige sintagmatiese verhoudings, soos onder andere die naamvalle akkusatief en datief en die lydende en bedrywende vorme (Löbner, 2003:55). Grammatikale betekenis verteenwoordig ʼn geslote kategorie wat beteken dat geen nuwe lede tot die kategorie toegevoeg kan word nie. Dit staan in kontras met leksikale betekenis wat ʼn oop

[92]

kategorie is – nuwe woorde en betekenisafleidings kan wel toegevoeg word. Hoewel die funksionele betekenis van grammatikale woorde onveranderlik is, kom dit tog in tale voor dat sommige grammatikale funksies verander of verplaas word weens die veranderinge wat in die taal intree, meestal deur foutiewe of onkundige taalgebruik. Dink aan Nederlands waar die lidwoord “het” aan die kwyn is en die genitief-naamval meestal gestaak is. In Afrikaans word die modale werkwoorde “kon”, “sou”, “wou” en “moes” vandag as verledetydsvorme gebruik, terwyl dié woorde juis waarskynlikheid uitdruk.

Grammatikale betekenis verskil van leksikale betekenis, omdat laasgenoemde gebruik word om ons wêreld te beskryf. As sodanig reik leksikale woorde verder as die vaste struktuur van ʼn taal. Leksikale betekenis behels woorde wat buite sinsverband onafhanklik kan beteken en wat duidelik met ʼn semantiese inhoud in verband gebring kan word; dit wil sê leksikale woorde is outonoom (Van Jaarsveld, 1990:17), ʼn kenmerk wat nie tipies is van grammatikale betekenis nie. De Stadler (1989:22) beskryf leksikale betekenis as ʼn brug wat die woord met die buitetalige wêreld verbind, gevolglik kan die leksikale betekenis van ʼn woord nie van sy verhouding met die buitetalige wêreld losgemaak word nie.

Volgens Löbner (2003:14) vorm leksikale betekenis deel van die spreker se kognitiewe leksikon; met ander woorde leksikale betekenis bestaan uit ʼn spreker se passiewe en aktiewe woordeskat. Leksikale woorde word gebruik om konsepte te beskryf.32 (Let wel, dit beteken nié dat alle konsepte deur ʼn woord of woordkombinasie verteenwoordig word nie (Murphy, 2010:38).) Konsepte is daardie mentale voorstellings en verteenwoordigings van ons kennis van die wêreld (Löbner, 2003:24). Lyons (1978:110) omskryf die term “konsep” as “an idea, thought or mental construct by means of which the mind apprehends or comes to know things.” Jackendoff (1992:191) stel dit só:

...we speak of concepts as an entity within one’s head, a private entity, a product of the imagination that can be conveyed to others only by means of language, gesture, drawing, or some other imperfect means of communication.

Konsepte moet egter nie verwar word met visuele voorstellings van ʼn bepaalde idee nie; ʼn konsep hou aansienlik meer in as ʼn visuele representasie (Murphy, 2010:38; Löbner, 2003:25; Saeed, 2009:33-34). Jackendoff (1992:193) argumenteer verder dat konsepte en idees in sintaktiese verband uitgedruk word. En op grond hiervan kan ʼn oneindigende aantal

32

Sien subafdeling 4.4.3 in hierdie hoofstuk vir ʼn addisionele bespreking van konsepte met betrekking tot kognitiewe semantiek en die beoogde ontledingsmodel.

[93]

take uitgerig word. As ʼn mens kan aanvaar dat die spreker tot ontelbare sinskonstruksies in staat is, beteken dit dat daar ook ʼn ontelbare aantal konsepte is waarmee die spreker hom in sinne kan uitdruk, aldus Jackendoff. Die meeste van ʼn spreker se konsepte kan as “leksikale konsepte” beskryf word. My konsep van sjokolade behels die reuk, smaak, tekstuur, verpakking, soorte, gebruike, kleure en gewig van die betrokke entiteit. Dit spreek vanself dat my konsep van sjokolade van ʼn ander spreker sʼn kan verskil (soos dié van ʼn diabeet), hoewel daar noodwendig ooreenkomste moet wees (Jackendoff, 1992:193). Wanneer konsepte deur ʼn woord (of ʼn kombinasie van woorde) verteenwoordig word, word daar van leksikalisering gepraat. Om die waarde van leksikalisering te begryp, is dit nodig om te weet wat die terme “lekseem” en “leksikale item” beteken.

ʼn Spreker se mentale leksikon is baie soortgelyk aan ʼn woordeboek georden. Leksikale inskrywings verteenwoordig al die relevante inligting wat help om ʼn lemma te omskryf. Die leksikale inskrywing kan daarom ʼn eenvoudige of komplekse samestelling van betrokke inligting wees. Die verskillende woordvorme van een bepaalde woord met die beskrywende grafiese, fonologiese, grammatikale en semantiese inligting staan gesamentlik as ʼn lekseem bekend (Lyons, 1978:19; De Stadler, 1989:49-50; Löbner, 2003:54, 56; Murphy, 2010:5). Van Jaarsveld (1990:24) beskryf ʼn lekseem as die “potensiële eenheid en die kennis wat die taalgebruiker daarvan het”, terwyl Cruse (1986:76) ʼn lekseem as ʼn familie van leksikale items karakteriseer. ʼn Lekseem dra dus meer inligting as ʼn woord en kan sowel denotatiewe as konnotatiewe betekenis dra. Dit is ʼn betekeniseenheid. Neem die lekseem “pragtig” as voorbeeld. Die grafiese voorstelling is pragtig, terwyl die uitspraak [praxtǝx] is; dit is ʼn attributiewe adjektief wat skoonheid beskryf, ʼn sinoniem van “mooi” en “beeldskoon”. Nog ʼn voorbeeld is “sal” en “sou”, wat twee verskillende vorme van dieselfde lekseem is, met verbandhoudende dog onderskeie betekenisdiskriminasies. Dit behoort duidelik te wees waarom die term “woord” by die bestudering van betekenis problematies is, veral binne die leksikale semantiek. In baie opsigte skiet “woord” tekort. Maar ʼn semantikus moet soms kleiner eenhede as ʼn lekseem ondersoek, spesifiek wanneer dit die betekenis van woorde behels. In daardie geval word die term “leksikale item” gebruik. Gouws (1991:383-384) beskryf ʼn leksikale item soos volg:

Leksikalisering lei daartoe dat ʼn bepaalde betekenis op ʼn talige manier voorgestel kan word en wel sodanig dat die taalkonstruksie wat die draer van daardie betekenis is, ʼn betekeniseenheid vorm. Die talige element wat as draer van ʼn betekeniseenheid optree, word ʼn leksikale item genoem.

[94]

Wanneer ʼn woord in ʼn sin gebruik word, is dit nie die lekseem wat in die sin voorkom nie, maar eerder ʼn spesifieke geval van gebruik, naamlik die leksikale item (Murphy, 2010:10; Stubbs, 2002:31). Daar is selfstandige en onselfstandige leksikale items asook komplekse leksikale items (De Stadler, 1989:50-51). Selfstandige leksikale items word verteenwoordig deur woorde soos “praat”, “skryf” en “lees”. Dié items is selfstandig omdat hulle onafhanklik kan funksioneer en nie in kleiner eenhede opgedeel kan word nie (die items is dus ook simplekse). Waar items wel in kleiner eenhede opgebreek kan word, word daar van onselfstandige leksikale items gepraat. Voorbeelde hiervan is betekenisdraende afleidingsmorfeme soos “her-” en “-loos” (sien ook Gouws, 1991:384; Cruse, 1986:77 e.v.). Wat komplekse items betref, het die semantikus met sowel afleidings en samestellings te make as met uitdrukkings en idiome. ʼn Idioom is vergelykbaar met die (simplekse) leksikale item en verteenwoordig ʼn betekeniseenheid (De Stadler, 1989:52; Löbner, 2003:54; Saeed, 2009:59).

Leksikale items funksioneer ook as tekens wat ʼn simboolwaarde kommunikeer. Soos reeds hier bo vermeld, is die simboolwaarde waarskynlik ʼn konsep. In die volgende subafdeling word daar kortliks oor taal as tekensisteem uitgewy.