• No results found

Implikasie (entailment) en kollokasie

Hoofstuk 4 Teoretiese raamwerk

4.3 Woord en leksikale relasies

4.3.3 Implikasie (entailment) en kollokasie

Implikasie het meestal betrekking op sinne en wat in die sinne gesuggereer word. Die ontvanger van daardie sinne maak op sy beurt bepaalde afleidings. Daar is ʼn

waarheidsverhouding relevant tot implikasie. Ons weet dat (q) waar is, omdat (p) waar is.

Die waarheidswaarde van (p) en (q) moet altyd dieselfde wees. Die waarheidsverhouding word in Figuur 4.1 hier onder uiteengesit.

[100] Figuur 4.1 p q W → W O → O W ← W O ← O W ≠ O

As (q) onwaar is, dan moet (p) ook onwaar wees. Dit is nie moontlik vir (p) om waar te wees en vir (q) om onwaar te wees nie. Bestudeer die volgende voorbeeldsinne:

4.3 a) Janusz Waluś het Chris Hani vermoor. b) Chris Hani is dood.

c) Chris Hani het in die hospitaal herstel.

4.3(b) is ʼn logiese afleiding van 4.3(a). Die woord “vermoor” impliseer dat Hani dood is, daarom is (p) → (q). As Chris Hani egter in die hospitaal herstel het, kan 4.3(a) en (b) nie waar wees nie; dit wil sê (p) ≠ (q). Iemand wat herstel is nóg vermoor, nóg dood.

Soms kan die taalgebruiker sekere vooronderstellings (presupposisies) maak op grond van die agtergrondinligting wat deur die uiting voorsien word. Vergelyk die volgende voorbeeldsinne (Saeed, 2009:102):

4.4 Haar man is onnosel. Vooronderstelling: Sy het ʼn man.

4.5 Ek is spyt dat ek Pretoria verlaat het. Vooronderstelling: Ek het Pretoria verlaat. Op die oppervlak blyk dit of implikasie ʼn eenvoudige saak is wat bloot van die logiese verhouding tussen sinne afhanklik is. As (p) waar is, moet (q) mos ook waar wees. Maar vanuit ʼn pragmatiese perspektief gesien, kan die buitetalige konteks probleme skep:

4.6 Die koning van Frankryk is bles. Vooronderstelling: Frankryk het ʼn koning. Die geykte voorbeeldsin is problematies omdat daar geen referent vir die naamwoordstuk bestaan nie. Frankryk het nie ʼn koning nie.

Waar implikasie meestal tussen twee of meer sinne voorkom en telkens op afleiding neerkom, behels kollokasie meestal leksikaal-sintagmatiese verhoudings. Dit wil sê, woorde groepeer saam en vorm byna vaste verhoudings in sinne. As ʼn mens in gedagte hou hoeveel

[101]

lekseme van mekaar verskil en hoe vrylik hulle met mekaar in ontelbare gebruiksituasies kan verbind, dan is dit veelseggend dat sommige woorde reëlmatig met mekaar verbind. Stubbs (2002:29) definieer kollokasie as ʼn “frequent co-occurence”. En dit wat frekwent voorkom, is beduidend. Sommige van die vaste verbintenisse is so algemeen (Prozig verwys daarna as banaal (in Lyons, 1978:261)) dat sprekers dit dikwels miskyk. Sommige kollokasies het versteen en word in konvensionele uitdrukkings teruggevind, byvoorbeeld om soos “ʼn maer vark te skree” (Murphy, 2010:8). Dink aan die woord “tee”. Woorde wat stereotipies met “tee” groepeer, is “melk” en “suiker”. Woorde soos “skink”, “koekies”, “toebroodjies”, “partytjie”, “oggend” en “middag” word eweveel met “tee” geassosieer. Hoe groter die frekwensie van die verhouding is, hoe beduidender die verhouding en die gevolglike betekenisonderskeiding.

ʼn Studie van kollokasies word vandag vergemaklik deur die gebruik van konkordansieprogramme wat dikwels deur korpuslinguiste en leksikograwe benut word. Deur ʼn soektog in ʼn verteenwoordigende korpus te loots, behoort die ondersoeker insiggewende resultate te kry. Neem as voorbeeld die saak S v Molefe. Die hof moet bepaal of die beskuldigde die wet oortree het deur haar doodgebore baba te verskuil. Die betrokke frase is “disposed of”. Wanneer ʼn mens vlugtig die term “disposed of” in die British National Corpus opsoek, vind ʼn mens 460 trefresultate. Die frase “disposed of” word egter slegs 5 keer met die woord “body” gegroepeer waaruit dit duidelik blyk dat daar van die liggaam ontslae geraak word deur die lyk weg te gooi. Deur die res van die 460 trefresultate te bestudeer, kry ʼn mens ʼn goeie indruk van die gebruik van die betrokke frase. Die Britse gebruik van die woord is baie formeel en word meestal gebruik om na die wegdoen van afval (23 trefresultate), eiendom (10 trefresultate) en aandele (9 trefresultate) te verwys. In die meeste van hierdie gevalle is die gebruik van die frase duidelik: daar word weggedoen van iets. Die Corpus of Contemporary American English plaas afval eerste (77 trefresultate), gevolg deur “body” (47 trefresultate). Hier is die manier waarop daar van die lyk ontslae geraak word, insiggewend: ʼn lyk word meestal in plastieksakke gedruk, in asdromme gegooi en in die water, moeras, see en meer gegooi.

Kollokasie kan vir die regsgeleerde ooglopend van onskatbare waarde wees. Daar moet wel in gedagte gehou word dat kollokasies nie altyd voor die hand liggend is nie. Konteks en betekenisonderskeidings kan kollokasies inperk. Saeed (2009:60) verwys na die woord “run” in die volgende sinne:

[102]

4.7 a) I go for a run every morning.

b) The tail-end batsmen added a single run before lunch. c) The ball player hit a home run.

d) We took the new car for a run. e) He built a new run for his chickens. f) There’s been a run on the dollar. g) The bears are here for the salmon run.

Is die gebruik van die woord “run” sewe verskillende betekenisonderskeidings van dieselfde lekseem, of is die woord verteenwoordigend van een betekenisfaset wat telkens deur konteks geaffekteer is? Daar is ooreenkomste tussen 4.7(a), (b) en (c), maar die verhouding met (d) tot (g) raak effens troebel. In subafdeling 4.3.6 kom die kwessie van meerduidigheid en vaagheid in meer besonderhede aan bod.

4.3.4 Woordvelde (semantiese velde)

Soos De Klerk (1978:89) dit stel, kan die rangskikking van ʼn woordeboek soms die indruk skep dat woorde afsonderlik en onafhanklik in die leksikon bestaan. Daar is inderwaarheid ʼn aantal verskillende leksikale verhoudinge en dit sou daarom beter wees om aan die leksikon te dink as ʼn netwerk eerder as ʼn woordelys (Saeed, 2009:63). ʼn Belangrike organisatoriese beginsel in die leksikon is dus die woordveld (ook bekend as die semantiese of leksikale veld). Woordvelde kan verder beskryf word as leksikale items wat woordfamilies vorm waartydens die item in verhouding tree met die ander items in sowel daardie as ander families (De Stadler, 1989:55). Woorde kan gelyktydig in meer as een woordveld voorkom en soms bevat woordvelde logiese, klaarblyklike woordverhoudinge en ander kere is die woordverhoudinge vaag (Stubbs, 2002:35).

Leksikale items in ʼn betrokke woordveld deel sekere semantiese kenmerke en dit is juis hierdie kenmerke wat die items saam in een veld groepeer (De Stadler, 1989:96). Daar is egter ook sistematiese verskille wat leksikale items in ʼn veld kenmerk, dus kry ʼn mens netwerke van ooreenkomste en opposisies (De Stadler, 1989:96). Löbner (2003:131) beskou woordvelde as lekseemgroepe wat aan vier voorwaardes moet voldoen, naamlik:

[103]

 die lekseme moet tot dieselfde grammatikale kategorie behoort;

 die lekseem se betekenisse moet oor gemeenskaplike komponente beskik;

 daar moet klaarblyklike betekenisbetrekkinge tussen lekseme bestaan; en

 die lekseemgroep is ten opsigte van hierdie betekenisbetrekkinge voltooi.

Lekseme soos “leesstof” en “braai” behoort nie tot dieselfde woordvelde nie. Eersgenoemde is ʼn selfstandige naamwoord en laasgenoemde is sowel ʼn selfstandige naamwoord as ʼn werkwoord. Daar is geen klaarblyklike betekenisverhouding tussen die twee nie. Maar wanneer ʼn mens na “leesstof” kyk, kan daar verskillende verbandhoudende leksikale items geïdentifiseer word, soos boeke, koerante, pamflette, skyfies, brosjures, joernale, tydskrifte, registers, etikette en plakkate. Die voorbeelde van “leesstof” behoort almal tot dieselfde grammatikale kategorie, die leksikale betekenisse beskik oor gemeenskaplike komponente (elkeen bevat byvoorbeeld geskrewe teks) en die verhouding tussen elke item is voor die hand liggend (vgl. De Stadler, 1989:97). Die geslotenheid van lekseemgroepe, soos Löbner dit hier bo vereis, het veral betrekking op sogenaamde “groot” woordgroepe soos die dae van die week, kleurskakerings, die maande van die jaar, telwoorde, en so meer. Daardie groepe word as voltooid beskou; daar kan nie addisionele dae tot die week of maande tot die jaar toegevoeg word nie. Myns insiens sluit die geslotenheid van hierdie woordvelde die meeste velde uit, aangesien betekenis vloeibaar en veranderlik is.

Leksikale items in ʼn woordveld staan dus nie los van mekaar nie, maar hou sterk met mekaar verband en soos De Stadler (1989:98) aanvoer, ken ons die betekenisse van leksikale items weens die verhoudings tussen die items. In die volgende subafdeling word die vernaamste leksikaal relasionele groeperings bestudeer.