• No results found

Consolidated Diamond Mines of South West Africa Ltd v Administrator, SWA 1958: coast / coastline

Mof 3 : soort handskoene metaalring, sok

4.4 Kognitiewe semantiek

5.3.5 Consolidated Diamond Mines of South West Africa Ltd v Administrator, SWA 1958: coast / coastline

Konteks:

In Januarie 1957 kondig die Administrateur in die Suidwes-Afrikaanse staatskoerant aan dat die Suidwes-Afrika Prospekteerdersmaatskappy (Edms.) Bpk. vanaf Januarie 1957 tot Desember 1997 die eksklusiewe reg behou om, binne vasgestelde grense, vir minerale soos diamante en ander edelgesteentes te delf. Die geografiese afbakening maak dit duidelik dat die westelike grens “800 yards west of the highwater mark” is. Na die verskyning van die staatskoerant verklaar die Consolidated Diamond Mines of South West Africa Ltd. egter dat hulle ingevolge die Halbscheid-ooreenkoms en Proklamasie 11 van 1920 die alleenreg behou om binne die Sperrgebiet (waarvan die geografiese grense met dié in die staatskoerant ooreenstem) minerale te myn. Saam met dié dispuut beweer die appellant dat die Halbscheid- ooreenkoms en Proklamasie 11 van 1920 hulle toelaat om aan die westelike grens ook tússen die laag- en hoogwatermerk te delf.

Die eerste punt van die dispuut, synde die alleenreg om binne die Sperrgebiet te mag myn, is ʼn suiwer regstegniese aspek en spruit uit die konsessies wat deur die Duitse Koloniale Kantoor in 1908 toegestaan is. Die tweede punt behels die betekenis van die woorde “coast” en “coastline”. Die hof moet verklaar wat dié twee woorde beteken in ʼn poging om vas te stel of die regmatige prospekteerders aan die weste van die delwersgebied slegs tot die hoogwatermerk mag delf en of hulle ook tussen die hoog- en laagwatermerk mag delf. Die vraag is of die woord “coastline” voorsiening maak vir hierdie tussengebied.

[153]

Na aanleiding van die Halbscheid-ooreenkoms is die geografiese afbakening van die Sperrgebiet soos volg in Proklamasie 11 van 1920 afgekondig:

In the north by the 26th degree southern latitude, in the south by the northern bank of the Orange River, in the west by the Atlantic Ocean; and in the east by a line running at a distance of one hundred kilometers from the seashore and parallel thereto (p. 597) (my kursivering).

Die grense word ʼn tweede keer in meer besonderhede opgesom:

Die Eastern boundary. Commencing in the north-east at the beacon 1, 100 kilometres from the coast on the 26 deg. southern latitude, then southwards through the beacons 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, to the beacon 10 on the north bank of the Orange River. Southern boundary. Thence westwards along the north bank of the Orange River to the Atlantic coast line. Western boundary. Thence northwards along the Atlantic coast line to the beacon 11 on the seashore on the 26 deg. southern latitude. Northern boundary. Thence eastwards along the 26 deg. southern latitude to the point of origin at beacon 1 (p. 597) (my kursivering).

Die oostelike grens word baie duidelik aangedui as ʼn 100km van die kuslyn af, maar die westelike grens word bloot beskryf as noordwaarts langs die kuslyn tot by baken 11 wat op die seestrand staan. Wat gedeeltelik tot die probleem bydra, is die manier waarop “seashore” gebruik word. Binne regskonteks dui “seashore” reeds die gebied tussen laag- en hoogwater aan (vgl. die aanlyn Oxford English Dictionary, byvoorbeeld). Maar volgens die betrokke sinskonstruksie word “seashore” net gebruik om die posisie van die baken aan te dui en nie om die grens mee te beskryf nie. Dáárom kan die hof slegs die woord “coastline” as verwysingspunt gebruik.

Dus: kan die woord “coastline” ook die gebied tussen hoog- en laagwater insluit? Bespreking:

Volgens die Suid-Afrikaanse Oxford-woordeboek (DUSAE, 2010:223) is “coast” die landstrook wat aan die see grens. Dit is ʼn aaneenlopende grensgebied wat deur ander woorde nouer omskryf word, soos “beach” (sanderige of klipperige area wat meestal vir mense toeganklik en aantreklik is), “beachfront” (die ontwikkelde gedeelte wat op die see uitkyk, byvoorbeeld die omgewing rondom die Strandhotel in Swakopmund), “seaboard” (ʼn area wat groter as ʼn front is, maar wat ook vir kommersiële en residensiële doeleindes ontwikkel is, byvoorbeeld die “Atlantic seabord” in Kaapstad wat Groenpunt, Seepunt, Kampsbaai, ens.

[154]

insluit) en “seaport” (die oudorp en hawegebied van ʼn dorp of stad). ʼn “Coast” bevat ook ander aspekte, soos in Figuur 5.8 aangedui word.

Figuur 5.8: [coast]

Met hierdie frame verdeel ek [coast] in twee Kenmerke; Location en Measurements. “Location” gee ʼn taksonomie van die Waardes wat met “coast” geassosieer word. Buiten vir die feit dat ʼn kusstrook soms tot natuurbewaringsgebied verklaar word of uit dele bestaan wat ongerep is en waar min of geen mense ooit kom nie, is kusgebiede gewoonlik gewilde areas waar ontwikkeling en aktiwiteite plaasvind. Dit is in dié Kenmerk waar menslike bedrywighede en belange gesetel is. Dit is ook hier waar die meeste van die Beperkings voorkom.

Byna al die Waardes beperk mekaar op een of ander manier. Deur sy belange te beskerm plaas die regering beperkings op sowel die kommersiële as die residensiële ontwikkelings. Dink hier aan Alexanderbaai of die Sperrgebiet, waar die regering mense se bewegings en

[155]

aktiwiteite beperk. Die regering plaas ook beperkings op hierdie en ander aspekte, soos wetenskaplike navorsing of ontspanning deur middel van toepaslike wetgewing. Inwoners beperk op hul beurt verdere kommersiële ontwikkeling en toegang van mense deur areas met drukgroepe skoon te hou. Die ontspanningswaarde van ʼn kusgebied speel ʼn ewe belangrike rol en beperk die inwoners en die sakelui, want dit is gedeeltelik weens die kusgebied se potensiaal om vakansiegangers en ander besoekers vir ontspanningsdoeleindes te lok. ʼn Klipperige strand bied byvoorbeeld nie dieselfde ontspanningsmoontlikhede as ʼn sanderige, goue strand nie.

Die grootste beperker is die kwaliteit van die kusgebied. Dit behels die natuurskoonheid, die ontwikkelingspotensiaal en die moontlikhede om deur die regering en die wetenskap ontgin te word. As die kwaliteit laag is, sal die aantrekkingskrag ook laag wees en die residensiële, kommersiële, ontspannings-, navorsings- en regeringsbelange sal kleiner wees.

Waar die Kenmerk “Location” die woord “coast” in terme van (verskillende soorte) ruimte beskryf, beskou die tweede Kenmerk, “Measurements”, die woord met betrekking tot gradering. Afstande en toestande is onder andere hier relevant. Soos reeds genoem, dui “seashore” die gedeelte tussen die laag- en hoogwatermerk aan, terwyl “coastline” eerder die lengte as die breedte van die kuslyn voorstel. ʼn Seemyl is die afstande wat vanaf die kus oor die oseaan gemeet word en “seastate” is die vaartoestand van die waters. Laasgenoemde word aan die hand van ʼn skaal gepeil wat tussen 0-9 strek. Dit is ook by “Measurements” waar die Strukturele Onveranderlike is; afmetings is vas en verander nooit of selde. Derhalwe ontstaan daar soms dispute tussen lande betreffende lands- en maritiemegrense.

Hoewel ʼn mens ook van die kuslyn as ʼn “Location” kan praat, waar ontwikkeling en aktiwiteite voorkom, dui die woord “coastline” meer op ʼn gegewe afstand as ʼn spesifieke gebied. Dit is iets wat van een punt tot ʼn ander in die (meestal horisontale) lengte strek. Na my mening sluit die woord “coastline” nóg die hoog- nóg die laagwatermerk eksplisiet in of uit. Hoewel die voorsetsel “along” (“northwards along the Atlantic coastline...”) nie veel addisionele lig werp nie, suggereer dit wel dat daar met die lengte (noordwaarts) beweeg word, en nie van die land in die rigting van die see nie (dus in die breedte).

ʼn Aanduiding van die hoog- en laagwatermerk sou veel eerder in die voorsetsels “to” en “from” gesetel wees. “To the coast” en “from the coast” dui die afstand aan tussen die punt waar water ophou en land begin, of van waar land ophou en water begin.

[156]

Gevolgtrekking:

Die woorde “coast” en “coastline” en die frase “along the coastline” is te vaag om die gedeelte tussen hoog- en laagwater eksplisiet in of uit te sluit. Die frase “along the coastline” beskryf liewer die lengte as die breedte van die kusstrook. Myns insiens sluit die woord “coastline” outomaties al twee getye in. Die onus berus op die hof om delwersreg by die laag- of hoogwatermerk te beperk.

5.3.6 S v Crawford 1979: importation / invoer