• No results found

Standard General Insurance Co Ltd v Croucamp 1959: deelneem aan motorfietsryery

Mof 3 : soort handskoene metaalring, sok

4.4 Kognitiewe semantiek

5.3.4 Standard General Insurance Co Ltd v Croucamp 1959: deelneem aan motorfietsryery

Konteks:

Meneer Croucamp het saam met persoon B op ʼn motorfiets gery. Die fietstog word beskryf as ʼn gewone rit. Meneer Croucamp het as passasier op die agtersaal van die motorfiets gesit. Tydens die fietstog het persoon B en mnr. Croucamp verongeluk. Laasgenoemde is weens die motorfietsongeluk oorlede. Dit lei daartoe dat mevrou Croucamp ʼn eis by die versekeringsmaatskappy indien. Standard General Insurance weier die eis omdat die polis ʼn aantal beserings verbonde aan spesifieke aktiwiteite uitsluit. Beserings wat nie deur die polis gedek word nie, is:

Wanneer die versekerde deelneem aan enige vlug in 'n vliegtuig (behalwe as 'n betalende passasier in 'n vliegtuig op 'n erkende lugroete), motorfietsryery, polo, reisies op wiele of te perd, yshokkie, bergklim, seiljagvaart of op jag is (p. 162 en 164).

Mev. Croucamp voer aan dat haar eggenoot nie aan motorfietsryery deelgeneem het nie, omdat hy tydens die ongeluk ʼn passasier op die agtersaal was. Die hof moet beslis wat “deelneem aan motorfietsryery” beteken. Wie is almal betrokke by motorfietsryery?

Bespreking:

Op die keper beskou, wil dit voorkom of ʼn drywer en sy passasier wat gelyktydig in/op dieselfde voertuig reis, uiteraard saam aan dieselfde aktiwiteit deelneem. Om te bepaal of dit werklik só is, verdeel ek die frame [deelname aan motorfietsryery] in twee aparte frames, naamlik [ry] en [deelname aan]. Ek sal meestal op [ry] fokus, maar wel ter kontekstuele inligting na [deelname aan] verwys.

Ten eerste die frame [ry]. Bestudeer Figuur 5.6.

ʼn Bestuurder van ʼn voertuig sit gewoonlik voor en hanteer die motor van daardie posisie. Met die uitsondering van vaartuie soos vliegtuie, skepe, treine en perdewaens (en motors van bestuurskole) wat soms meer as een drywer kan akkommodeer, is die norm een bestuurder per geleentheid. Die meeste voertuie maak vir passasiers voorsiening. By ʼn motorvoertuig kan passasiers langs die drywer sit (gewoonlik net een) asook agter die drywer. Sommige motorfietse het ʼn agtersaal waar een of twee mense mag sit en in uitsonderlike gevalle is daar ook motorfietse met ʼn syspan wat die passasier toelaat om apart langs die drywer te sit.

[150]

Figuur 5.6: [ry]

Daar is uiteenlopende redes waarom ʼn individu of ʼn groep mense van een punt na ʼn ander reis: weens noodsaaklikheid, weens die pret van die rit, weens ʼn kompetisie of omdat die eienaar van die voertuig ʼn inkomste daaruit verdien. Die doel bepaal in sommige opsigte die soort voertuig (ʼn 4x4-motor vir ruwe terrein, ʼn vragmotor vir die transport van goedere, ens.) en die aard van die vertrek- en eindpunt. Spoed speel ook ʼn belangrike rol en tree hier as Beperking op. Dit beperk die bestuurder (soms moet hy vinniger en soms moet hy stadiger ry), dit beperk die doel (byvoorbeeld ʼn inkomste is aan tyd, afstand en spoed gemeet, dieselfde geld ʼn wedren) en dit plaas verder ʼn Beperking op die soort voertuig (ʼn bromfiets moet stadiger ry as ʼn motorfiets).

Daar is onder andere twee Strukturele Onveranderlikes, te wete die bestuurder en die vertrekpunt en bestemming. Sonder hierdie twee Kenmerke kan ʼn rit nie plaasvind nie. Die bestuurder word benodig om die voertuig te hanteer en hy móét van een punt na ʼn ander ry. As hy nie van punt A na punt B (of selfs ʼn sirkelgang: van punt A tot punt A) voltooi nie, suggereer dit dat die bestuurder in ʼn stilstaande motor sit. Die SO’s druk ruimtelike, temporele en intensionele verhoudings uit. Die bestuurder bedoel om sekere plekke te besoek sodat hy bepaalde take kan afhandel. Daardie take (wat hy gedeeltelik deur middel van ʼn voertuig regkry), verplaas hom na verskillende lokasies. Die afstande (asook die take) is aan tyd verbonde.

[151]

Hoewel ʼn passasier ʼn meestal passiewe rol speel, is hy gelyktydig aan dieselfde Beperkings en Strukturele Onveranderlikes verbind. Sonder ʼn bestuurder en ʼn vertrek- en eindpunt reis die passasier nêrens heen nie. Al oefen die passasier nie fisies beheer op die voertuig uit nie, is hy outomaties by die spoedbeperkings en die doel van die rit betrokke. Die passasier was heel waarskynlik by die besluitnemingsproses betrokke om met die voertuig iewers heen te ry.

ʼn Persoon neem om verskeie redes aan ʼn aantal aktiwiteite deel, soos in Figuur 5.7 gesien kan word.

Figuur 5.7: [deelname aan]

Die Kenmerke “Doel” en “Aktiwiteite” het ʼn band met “Deelnemers”. Deelnemers moet meestal funksionele take verrig omdat hulle verpligtinge by die werk, huis, skool, kerk en ook binne hul gemeenskappe of kringe het. Daardie verpligtinge behels gewoonlik uiteenlopende take. Die passasier trek self voordeel uit sy deelname aan ʼn ryery. Om bepaalde take te kan verrig, moet die passasier ook van punt A na punt B reis. Hy moet tyd

[152]

spandeer om afstande af te lê. ʼn Deelnemer is immers iemand wat by die aktiwiteit (in hierdie geval die rit) betrokke raak, om watter doeleindes ook al.

Gevolgtrekking:

Die oomblik wat ʼn voertuig beweeg, ry alle insittendes gelyktydig. As die drywer iewers heen ry, neem die passasiers gelyktydig aan die ryproses deel. Dit is verder belangrik om die verskil tussen “ry” en “bestuur” hier uit te wys. Laasgenoemde is ʼn aktiewe proses waartydens die motor beheer en hanteer word. Eersgenoemde is ʼn passiewe proses wat die beweging en progressie van die voertuig beskryf. ʼn Passasier het miskien nie aktief deel aan die bestuur van die voertuig waarin/waarop hy ry nie, maar hy het wel deel aan die beweging en vordering van die voertuig oor tyd en afstand.

5.3.5 Consolidated Diamond Mines of South West Africa Ltd v Administrator, SWA 1958: