• No results found

Mof 3 : soort handskoene metaalring, sok

4.4 Kognitiewe semantiek

4.4.7 Jackendoff en kie?

Ter afsluiting wil ek kortliks aan die volgende vraag aandag gee: Bied die kognitiewe taalwetenskap ook ander moontlikhede binne ʼn hof?

[134]

Die antwoord is ja. Figure soos (onder meer) Jackendoff, Wierzbicka, Langacker en Lakoff bied geldige teoretiese raamwerke waarbinne potensiële woordprobleme in ʼn hof opgelos kan word. Met die uitsondering van Goddard (1996) is die potensiaal van die kognitiewe leer as hulpmiddel by hofsake nog nie naasteby uitgeput of ten volle verken nie.42 Maar soos met Chomsky en die TGG is toeganklikheid waarskynlik ʼn probleem. Die meeste van hierdie taalwetenskaplikes het ʼn eie metataal ontwikkel waarbinne universele semantiese kategorieë ʼn belangrike rol speel. Die onderskeie metatale neig ook dikwels na die formele semantiek, wat die interpretasie van woorde soms ingewikkelder maak. Die metatale toon die nodige belofte om geldige betekenisonderskeidings van betwiste woorde te identifiseer, maar nie sonder die deskundigheid van ʼn taalwetenskaplike wat met hierdie metatale vertroud is nie.43

Dit beteken andersins dat ʼn taalwetenskaplike of regsgeleerde wat onbekend is met die werke van Jackendoff, Wierzbicka, Langacker en Lakoff (asook ander soos Katz, Talmy en Pustejovsky) die metatale sal moet aanleer. Dit op sigself kan vir betrokke lui ʼn onbegonne taak wees.

4.5 Opsomming

In hierdie hoofstuk is die ingewikkelde kwessie van betekenis onder die loep geneem. Daar is getrag om die woord “betekenis” te omskryf en om die onderskeie verskynsels wat van semantiek deel uitmaak, te verduidelik. Belangrike sake wat belig is, is onder meer die feit dat woorde in verhouding met ander woorde staan. Woordvelde en -netwerke bestaan waarin sowel letterlike as figuurlike betekenis voorkom. Betekenis word op ʼn aantal maniere aangedui, onder andere deur middel van implikasie en voorveronderstellings en deur denotasie, verwysing en konnotasie. Woorde kan egter ook vaag en dubbelsinnig wees, daarom is konteks so belangrik.

Die (soms ontwykende) kenmerke van semantiek is alles relevant tot die bestudering van die sogenaamde gewone betekenis van woorde. Woorde wat in howe bespreek en beredeneer word, is gereeld vaag of meerduidig. Wanneer regslui bloot die betrokke woord in ʼn

42 Goddard probeer ʼn saak uitmaak vir die gebruik van Wierzbicka se Natural Semantic Metalanguage as

moontlike toepassing in ʼn hofsaak by die hantering van gewone betekenis. Hy kom egter tot die gevolgtrekking dat taalwetenskaplikes liewer nie deur howe as deskundige getuies gebruik moet word om die betekenis van woorde vas te stel nie.

43 Wierzbicka se Natural Semantic Metalanguage toon volgens my die minste potensiaal. Haar benadering bly

vir my uiters wollerig. In my opinie is Wierzbicka en haar genote se “semantic primes” nog te beperk om hul hipotese volkome te bevestig. Ek vind ook die voorkeur om te parafraseer wanneer betekenis uitgelê moet word, problematies; by parafrasering is daar ʼn groot risiko vir onvoorsiene veranderlikes om in te tree. Ek dink nie dit is tans geskik vir ʼn regsproses nie.

[135]

woordeboek opsoek, gaan ʼn groot hoeveelheid belangrike sake verlore, soos konnotasie, voorveronderstelling, implikasie, woordverhoudings, woordvelde en -netwerke. Deur ʼn semantiese ondersoek te loods, sal die ondersoeker waarskynlik tot ʼn ryker en relevanter interpretasie van ʼn betwiste woord kom.

Hoofstuk 4 gee ook ʼn oorsig van ʼn kognitiewe benadering tot die studie van betekenis wat moontlik in hofsake relevant kan wees. Wat hier van belang is, is dat die skeiding tussen linguistiese kennis en ensiklopediese kennis kunsmatig is. Die betekenis van woorde sluit al twee soorte kennis in. Binne die kognitiewe leer sien ons dat betekenis in konsepte opgesluit lê. Konsepte maak addisioneel voorsiening vir ensiklopediese en kulturele kennis asook persoonlike ervaring. Hierdie konsepte kan in kategorieë gegroepeer word om betekenis sodoende af te baken en om betekenis vir ʼn spreker se kommunikasiedoeleindes verteerbaar te maak. ʼn Belangrike verskynsel binne die studie van konsepte is frames. Frames kan gesien word as ʼn netwerk van konsepte. Soms raak die interpretasie van ʼn woord aan ʼn aantal konsepte binne die frame en ander kere betrek die betekenis van ʼn woord slegs een of twee konsepte binne daardie frame. Die saak word gestel dat howe voortaan ʼn konseptuele benadering tot die interpretasie van woorde volg. Vir hierdie doelwit word Barsalou se model voorgehou. Die model word in Hoofstuk 5 getoets.

[136]

Hoofstuk 5

Ontledings

5.1 Inleiding

In Hoofstuk 3 het ek die punt beredeneer dat woordeboeke nie volkome betroubaar is by die uitlê van wette en by die interpretasie van alle woorde in hofsake nie. Die soms rare en unieke woordprobleme veroorsaak dat regslui nie altyd by woordeboeke regkom nie. Woordeboeke kan by tye onvolledig en misleidend wees. As moontlik alternatiewe hulpbron by die vasstel van woorde se betekenisse, het ek in Hoofstuk 4 Barsalou se framemodel voorgestel, vereenvoudig en in praktiese stappe uiteengesit. Die doelwit in Hoofstuk 5 is om Barsalou se model te illustreer en te toets.

Die bedoeling is nie om die voorsittende beamptes se hofuitsprake te kritiseer, verkeerd te bewys of om gebrekkige hantering van semantiese kwessies aan die kaak te stel nie. Dit is ook nie die doel van hierdie hoofstuk (of proefskrif) om die intrinsieke, regstegniese aspekte van geselekteerde hofsake te bespreek nie. Ek lewer dus nie kommentaar op hofuitsprake nie.44 Die gekose hofsake (dit wil sê woordprobleme) word benader asof die semantiese kwessie vir die eerste keer deur ʼn hof hanteer word; asof ek gekontrakteer is om die woord namens ʼn hof of regspartye uit te lê. Die gekose hofsake is daarom slegs vir illustrasiedoeleindes geselekteer; om my aanpassing van Barsalou se framemodel te toets. Daarom neem ek nie ʼn betrokke regter se hantering van ʼn saak in ag nie, maar bepaal my by die feite soos wat dit in die kopnota in ʼn uitspraak gestaaf word.

Soos reeds telkens in die onderhawige studie genoem is, moet ʼn voorsittende beampte (of regsverteenwoordigers) Barsalou se model te midde van hul ander hulpbronne en regsweë (soos wette en vorige hofuitsprake) kan gebruik. Ek stel nie voor dat Barsalou se model regslui se hulpmiddels moet vervang nie. Barsalou se model moet gesien word as ʼn bykomende hulpbron waarmee (hopelik) betroubare ontledingsverslae opgestel kan word. Dit is belangrik om kennis te neem van die feit dat frames by elke gebruiker/ondersoeker daar anders gaan uitsien. Mense dink konseptueel anders, daarom is verskille in frames toelaatbaar

44 Ek het reeds in geakkrediteurde publikasies kritiek gelewer op howe se hantering van sekere semantiese

kwessies (asook in Hoofstukke 3 en 4) en beplan om dit in die toekoms voort te sit. Dit staan uiteraard enige leser van hierdie proefskrif vry om self hofsake te bestudeer en die nodige kritiek in navorsingsverslae te lewer.

[137]

en waarskynlik. Dit is egter noodsaaklik dat lesers van ʼn ontledingsverslag die logiese uiteensetting sal kan volg, verstaan en daarmee saamstem (ten minste so vêr moontlik). Bykomend tot hierdie hoofstuk (subafdeling 5.4) is ʼn (baie) kort oorsig oor drie moontlike werkswyses waardeur prototipes vasgestel kan word. Hoewel dit nie die hooffokus van hierdie studie is om prototipes te identifiseer nie en ofskoon ek nie die aandag van Barsalou se framemodel wil weglei nie, is die vasstel van prototipes by die uitleg van sogenaamde gewone betekenisse tog relevant en nuttig (dog effens uitdagend). Om die prototipe betekenis te bepaal, kan ʼn ontleder help om te verstaan wat die mees tipiese betekenis binne konteks is. Dit kan ʼn ondersoeker ook help peil in watter mate ʼn betrokke woord se betekenis by die prototipe aansluit of daarvan verskil. Deur te weet hoe tipies (of algemeen) ʼn woord se betekenis is, kan myns insiens ʼn belangrike invloed op ʼn hof se uitleg van woorde en uiteindelik ʼn hof se uitleg van wetgewing hê. Dáárom dink ek is dit wel nodig om na die drie moontlike benaderings te verwys, sodat hulle mettertyd verfyn en verbeter kan word. Wat nou volg is ʼn kort uiteensetting van die metodologie wat in hierdie hoofstuk gehandhaaf word. Daarna kom die woordontledings/ontledingsverslae aan bod.

5.2 Metodologie

Daar is 150 hofsake vir Hoofstuk 3 bestudeer. Twintig hofsake is uit daardie 150 geselekteer. Die seleksie is meestal lukraak gewees, hoewel die sake doelbewus verskillende tydperke verteenwoordig. Sommige ouer hofsake bied interessante woordprobleme wat veral nie deur woordeboeke of vorige hofsake opgelos kon word nie, derhalwe is sake nie tot resente jaartalle beperk nie. Die gekose twintig hofsake is almal op appèl aangehoor of na die appèlhof verwys vir hersiening.

Elke hofsaak (dus elke betwiste woord) word na aanleiding van Barsalou se model hanteer, te wete die geïdentifiseerde ses stappe. Om die aanvanklike ontledings te vergemaklik, het ek ʼn matriks gebruik (sien Addenda 5A en 5B) wat die ses stappe akkommodeer. Daarna het ek ʼn semantiese breinkaart geteken deur die gratis (open source) sagtewareprogram Freeplane te gebruik. Die bespreking van die betwiste woord word aan die hand van die semantiese breinkaart gevoer. Sommige mense mag dalk die breinkaart oorbodig vind, maar meine

Meinung nach beeld ʼn visuele voorstelling juis moontlike verhoudings binne ʼn frame uit, iets

[138]

Vir duidelikheidshalwe herhaal ek die betrokke stappe in Barsalou se model. Om ʼn frame van ʼn betwiste woord te bou, stel ek voor ʼn ondersoeker pas die volgende stappe toe:

 Stap een: bestudeer die konteks van die betwiste woord.

 Stap twee: identifiseer die konsep se Kenmerke.

 Stap drie: identifiseer die Kenmerke se Waardes.

 Stap vier: bepaal die Strukturele Onveranderlikes.

 Stap vyf: bepaal die Beperkings.

 Stap ses: omskryf die betekenis na aanleiding van die konteks, die semantiese breinkaart, SO’s en Beperkings.

Onthou dat ander hulpbronne, soos woordeboeke, tesourusse, ensiklopedieë, korpussoektogte en die ondersoeker se eie intuïsie en taalkennis saam met die model gebruik kan/mag/moet word om stappe twee en drie uit te voer. In my ontledings maak ek ook van uiteenlopende bronne gebruik om Kenmerke en Waardes te bepaal, maar ek verwys nie noodwendig eksplisiet na elkeen van hierdie bronne nie (aangesien baie daarvan ensiklopedies van aard is). Waar nodig verwys ek wel na ʼn betrokke bron.

Beperkings word op breinkaarte deur pyle aangedui wat een Kenmerk of Waarde met ʼn ander verbind. Strukturele Onveranderlikes word nie eksplisiet in breinkaarte aangedui nie, wel in die matriks. Waar nodig, word daar spesifiek na Strukturele Onveranderlikes in die bespreking verwys.

ʼn Laaste woord met betrekking tot my ontledingsverslae: ek volg nie ʼn erkende formaat nie, maar volg die advies van kollegas aan Unisa se Regsfakulteit en maak hier ook op eie ervaring van die skryf van verslae vir regsfirmas staat. Die belangrikste is glo om verslae kort te hou; hoe langer ʼn verslag is, hoe meer het die teenparty blykbaar om te bevraagteken en uit te daag én hoe meer tyd moet ʼn voorsittende beampte self daaraan toestaan. Gevolglik hou ek ontledings kort.

5.3 Woordontledings

5.3.1 Jonker v Davis 1953: krot