• No results found

Mof 3 : soort handskoene metaalring, sok

4.4 Kognitiewe semantiek

5.3.10 S v Ntimbane 1990: vermin Konteks:

Die respondent is ingevolge a 30(1) (a) van die Kwa Zulu Wet daarvan beskuldig dat hy die verbod op jag van wilde diere in ʼn natuurbewaringsgebied oortree het. Op 7 Julie 1988 het mnr. Ntimbane in die omgewing van die Tembe Olifantpark sonder toestemming ʼn rietrot met ʼn rietmes doodgemaak.

In sy verslag aan die appèlregter het die landdros geargumenteer dat die saak tersyde gestel moet word, omdat die respondent “vermin” doodgemaak het en nie ʼn wilde dier wat deur die natuurreservaat beskerm word nie. ʼn “Wild animal” word in die wysigingswet (Wet 9 van 1977) soos volg gedefinieer:

Any vertebrate animal (including a bird, a reptile but not a fish,) whether bred or kept in captivity or elsewhere belonging to a non-domestic species whose habitat is either temporarily or permanently in any part of the Republic... but does not include vermin (p. 305).

Die woord “vermin” word self nie in die wysigingswet gedefinieer nie. In die voorafgaande wet is sommige hiënas en jakkalse asook dassies, bobbejane en bosvarke as “vermin” geklassifiseer, maar die gewysigde definisie maak dit baie moeilik om te bepaal of ʼn sekere

[168]

wilde dier “vermin” is of nie; hiënas, jakkalse en bobbejane is immers almal gewerwelde diere wat permanent binne die Republiek te vinde is. Selfs al verskaf die wetgewer ʼn lys met moontlike “vermin”, definieer die wetgewer nog steeds nie wat met die woord bedoel word nie. ʼn Voorbeeldlys kan bloot tot verdere onsekerheid en nóg skuiwergate aanleiding gee. Dit is die appèlhof se taak om onder meer te bepaal wat “vermin” is en moet die moontlikheid dat ʼn rietrot as “vermin” kwalifiseer, ondersoek.

Bespreking:

Dit is vanuit die staanspoor belangrik om te noem dat die betrokke hof ʼn soöloog of knaagdierdeskundige moet raadpleeg. Soos binnekort gesien sal word, is die betekenis van “vermin” verbind aan diere se habitat en bevolkingsaanwas. Waar taalkundige verklaring ophou, moet soölogie oorneem. Hoewel Barsalou se framemodel ʼn ondersoeker in staat stel om op ensiklopediese kennis te steun (iets wat ek verseker hier doen), mag dit vir die hof voorkom asof ek my as ʼn dierkundige voorhou. Ek maak alleenlik van ensiklopediese kennis gebruik in so verre as wat die uitleg van die betrokke woord van my vereis; ek bedoel nie daardeur om op soölogiese terrein te oortree nie.

Hoewel die staat en ander instellings lyste het waarop ʼn aantal voorbeelde van ongediertes voorkom, is die woord “vermin” vaag. Die term kan op enige dier van toepassing wees na aanleiding van bepaalde kriteria. Bestudeer Figuur 5.13.

[169]

Ek beskou die Kenmerke “Feeding”, “Population growth”, “Habitat” en uiteindelik “Status” as belangrike, interafhanklike aspekte van [vermin]. Lewende wesens het kos nodig. Dit is kardinaal vir voortplanting en oorlewing. Daarom is “Feeding” ʼn Strukturele Onveranderlike; sonder kos, vrek ʼn dier. ʼn Dier se habitat word grotendeels deur voeding bepaal. Hoe meer kos daar in ʼn bepaalde streek is, hoe vinniger vermeerder ʼn dier in getal. Voeding is daarom onlosmaaklik aan bevolkingsgroei en habitat verbind. Saam met natuurlike vyande vorm voeding en habitat Beperkings. Wanneer die kos dus min is, is die konsentrasie diere in ʼn habitat gewoonlik ewe min en neem aanwasgetalle af. Indien ʼn streek nie natuurlike vyande bevat nie, kan ʼn spesie ook gedy. Groot kosvoorrade en min of geen vyande is ʼn sterk dog verwoestende kombinasie. Stedelike gebiede het soms onuitputbare bronne voedsel. Dieselfde betref landbou-areas.

Diere en insekte kan maklik plae vorm wanneer hulle vrylik toegang tot gesonde landerye kry. Daar is groot hoeveelhede kos wat groter bevolkingsgetalle tot gevolg kan hê. Die habitat en die groot bevolkingsgetalle dra saam tot die status van ʼn dier by, naamlik of daardie dier ʼn pes is of nie. Duisende rotte of sprinkane op ʼn graanlandery dra waarskynlik die status as ʼn pes wat grootskaalse skade aanrig. Omdat die bevolkingsgetalle en skade ewe groot kan wees, sal sulke diere moontlik nie deur wetgewing beskerm word nie.

Wanneer daar klein bevolkingsroepe in natuurlike habitatte voorkom, kan die skade wat ʼn dier aanrig kleiner wees. Dit bring ons by die rietrot. ʼn Rietrot is ʼn groterige knaagdier wat in Subsahara-Afrika voorkom. In Suid-Afrika kom dit meestal in KwaZulu-Natal voor. ʼn Rietrot kan tot sewe kilogram weeg en ongeveer sestig sentimeter lank word (stert uitgesluit). Dit behoort tot die familie Tryonomys en verskil van sy Rattus-broer. Rietrotte is herbivore en kom in waterryke areas en rietbosse voor. In Wes-Afrika word rietrotte as ongediertes beskou weens hul groot bevolkingsgetalle. Maar is rietrotte ongediertes in Suid-Afrika? Veral dié wat buite suikerplantasies voorkom?

Gevolgtrekking:

ʼn Dierkundige sal met meer sekerheid kan sê of rietrotte in alle opsigte as ongediertes geklassifiseer moet word. Ek stel my voor dat groot rietrotgetalle op suikerrietplantasies skade tot gevolg kan hê. Maar groot olifanttroppe rig ewe groot skade aan woude aan sonder dat hulle as ongediertes geklassifiseer word. ʼn Veldmuis wat ver van plase voorkom, baie vyande het en wat van sy onmiddellike omgewing vir kos afhanklik is, kan sekerlik nie as ʼn

[170]

ongedierte geklassifiseer word nie, net omdat dieselfde spesie 2000km daarvandaan in groot, verwoestende getalle op ʼn plaas gedy?

As taalkundige verklaar ek dat die woord “vermin” direk verband hou met konsepte soos voeding, habitat en natuurlike aanwas. Hierdie konsepte bestaan uit Kenmerke en Waardes wat elk relevant tot die betekenis van die gegewe woord is. Na my mening dui die woord “vermin” op diere wat in groot getalle ʼn verwoestende effek kan hê, veral in areas waar dier en plant weens finansiële verbouing of natuurbewaring beskerm word. Die woord kan verder op gediertes van toepassing wees waar groot getalle tot gesondheidsrisiko’s in plekke soos stede kan lei. Die woord se betekenis is van só ʼn aard dat diere en insekte die status as “vermin” kan bekom, maar ook kan verloor, dit wil sê enige dier kan ʼn ongedierte wees. Om vaste voorbeeldlyste saam te stel wat nie van tyd tot tyd deur deskundiges aangepas word nie, sou onkundig wees en die betekenis van die woord “vermin” inperk en selfs verander om sinoniem met diere soos jakkalse, bobbejane en knaagdiere te wees. Die betrokke woord moet konseptueel saam met sake soos voeding, habitat en natuurlike aanwas bestudeer word.

5.3.11 Waylite Diary CC v First National Bank Ltd 1995: drawings, chart, literary work