• No results found

Die voorsittende beampte as taalkundige

Hoofstuk 3 Die hof se hantering van leksikale probleme

3.5 Die voorsittende beampte as taalkundige

Die feit dat taal en die reg onlosmaaklik aan mekaar verbind is, en die feit dat die regspraktyk volkome van taal afhanklik is, beteken dat die voorsittende beampte noodwendig noukeurig met taal moet omgaan. Soos Tiersma (1993b:269) dit stel: “...for the legal profession and particularly for judges, language is not merely a means of communication, but an object of analysis.” Dieselfde idee word deur Solan (1993b:1) geëggo:

Judges are frequently called upon to interpret statutes and other legal documents. Often the parties disagree about what the document says they are obliged to do or to refrain from doing. When that happens, and one part sues, or the government prosecutes, a judge must decide what the document means. To do this, judges frequently present a sort of analysis of the document in dispute.

Wat ʼn mens van Tiersma en Solan kan aflei, is dat voorsittende beamptes en taalkundiges oënskynlik soortgelyke werkswyses het en hul met soortgelyke aktiwiteite besig hou, dit wil sê die bestudering van tekste om tot een of meer interpretasies daarvan uit te kom. Dit is vermoedelik geen voorsittende beampte te behoefte om hom as taalkundige voor te hou nie, maar in meeste gevalle word hy daartoe genoop. Solan (1993b:2) wys ook daarop dat voorsittende beamptes beslissend en presies moet kommunikeer weens die gesag wat hulle uitoefen. Elke woord wat só ʼn beampte uiter en elke interpretasie wat deur hom ondersoek word, moet berekenend uitgevoer word.

Solan (1993b:4) beskou die linguistiek as een van die talle krukke waarmee die regspraktyk moet loop en hoewel hy soos Tiersma (1993b:270-271) van mening is dat die linguistiek ʼn definitiewe bydrae tot die regspraktyk maak, is Solan ook taamlik skepties. Die linguistiek kan maklik tot verdere verwarring lei, veral wanneer twee partye hard probeer om ʼn hof van hul saak te oortuig en met daardie rede taalkundigheid inspan (Solan, 1993b:28). Linguistiese argumentasie is dikwels ook saakspesifiek. Met ander woorde, die argumentasie wat vir ʼn woord in een bepaalde saak geld, geld nie sommer in die volgende saak nie, al is dieselfde woord betrokke (Solan, 1993b:6). Verskeie faktore het ʼn wysigende invloed op die betekenis van ʼn woord waarvan konteks en omstandigheid soms die grootste faktore is. (Die ontledingsmetode wat ingespan is om tot ʼn interpretasie in die een saak te lei, kan wel suksesvol in ʼn volgende saak toegepas word.)

Die voorsittende beampte het dus nie alleen met die taal in statute en ander regsdokumente te doen nie, maar hy kry ewe reëlmatig te make met taal wat deur mense in uiteenlopende

[49]

situasies gebesig en gemanipuleer word. Howe word konstant met allerlei taalkwessies gekonfronteer en dit is die landdroste en regters se plig om taalkundig met daardie kwessies om te gaan. Dit wil sê, die voorsittende beampte se beslissing moet gedeeltelik uit linguistiese argumente bestaan, soos dit gereeld die geval is. Solan (1995:1069-1070) beweer dat landdroste en regters nie die hulp van linguiste benodig nie; hulle is in staat om taalprobleme op hul eie op te los, soos enige ander persoon daartoe in staat is. Soms is die regter of landdros se benadering tot die taalkwessie insiggewend en akkuraat, maar dit gebeur ook dikwels dat die taalkundige argumentasie of linguistiese toepassing van ʼn voorsittende beampte hom lelik faal (Solan, 1993b:11).

Dit gebeur dat aspekte soos meerduidigheid op woord- en sinsvlak by tye so onsigbaar is of dat sinskonstruksies erg kompleks is dat voorsittende beamptes nie altyd van beter weet nie. Dan is daar gevalle waar die landdros of regter onoordeelkundig met woordeboeke omgaan. Solan (1995:1074-1076) verwys onder meer na ʼn hofsaak waarin ʼn hof moes besluit of ʼn man ʼn vuurwapen gebruik het tydens ʼn dwelmtransaksie. Die gebruik van ʼn vuurwapen tydens ʼn dwelmtransaksie (waartydens die wapen as afdreigmiddel gebruik is en die slagoffer se lewe in gevaar verkeer het) kan tot ʼn bykomende vyf jaar tronkstraf lei. Die verdagte het inderdaad ʼn vuurwapen gebruik tydens die transaksie, maar as ʼn ruilmiddel vir kokaïne. O’Connor R het die woord “gebruik” in ʼn woordeboek nageslaan en sy uitspraak na aanleiding van die woordeboekinskrywing gelewer. Hy het beslis dat die verdagte wel ʼn geweer gebruik het om dwelms mee aan te skaf. Sy uitspraak is egter deur ʼn appèlhof afgekeur op grond van hul opinie dat die woord “gebruik” gesien moet word binne die betekenis van “geldeenheid” en nie as wapen nie. Volgens die appèlhof was die verdagte se gebruik van ʼn vuurwapen in dié geval uitsonderlik.

Tiersma (1993b:270-271) verwys na ʼn gesprek in ʼn moordsaak waarin D aangekla is vir die moord op X:

T: And then we killed that [X]. D: Yeah.

In hierdie geval is die woorde “yeah” en “we” meerduidig. Eersgenoemde woord kan ʼn teken van instemming wees waarin D erken dat hy deel aan die moord gehad het, maar dit kan ook ʼn stoplap wees; ʼn sinoniem vir “natuurlik”, “is seker so”. Deur “yeah” te sê, dui moontlik daarop dat D begryp het wat T gesê het. Verdere onsekerheid word deur “we” veroorsaak.

[50]

Die persoonlike voornaamwoord kan verwys na “ek en jy het die moord gepleeg” of na “ek en iemand anders het die moord gepleeg”.

Die ideaal is nie vir taalkundiges om namens voorsittende beamptes te dink nie, maar eerder om hulp te verleen deur aan regslui uit te wys hoe om moeilike taalprobleme op te los. Taalkundige advies kan ook deur regters en landdroste ingeroep word om hul eie taalkundige argumentasie te bevestig. In die literatuur kom dit dikwels voor asof voorsittende beamptes meestal onkundig met taal omgaan. Dit is uiteraard nie waar nie. Maar ʼn tweede opinie van iemand wat die voorsittende beampte se opinie kan bevestig of bevraagteken, kan geen skade aanrig nie.