• No results found

Linguistiese, ensiklopediese en kulturele betekenis

Mof 3 : soort handskoene metaalring, sok

4.4 Kognitiewe semantiek

4.4.2 Linguistiese, ensiklopediese en kulturele betekenis

Vanuit die strukturalistiese tradisie ontstaan die idee dat betekenis binne die strukture van ʼn taal bestaan. Volgens die strukturaliste is betekenis hoofsaaklik vanuit die sintaksis en die semantiese verhouding tussen woorde binne sinstrukture afleibaar. In die verlede was daar ʼn aantal taalwetenskaplikes, soos Leech (1981), wat ten gunste was van ʼn duidelike skeiding tussen linguistiese kennis en sogenaamde wêreldkennis. Wat ʼn spreker dus omtrent die leksikale item “tafel” weet, het hy van “tafel” (met meegaande komponente en semantiese onderskeidende kenmerke) se posisie in ʼn gegewe sinskonteks afgelei (vgl. Taylor, 2009:85). Betekenis reik egter aansienlik verder as net die strukture van ʼn taal. Taal word binne ʼn wyer konteks aangeleer en gebruik, daarom is betekenisomskrywing oop (“open-ended”) en nie rigied nie (Langacker, 1987:155). Dit omvat alle soorte kennis addisioneel tot dié van taal, veral ensiklopediese en kulturele kennis. ʼn Spreker se begrip van ʼn motor sluit in dat ʼn motor gewoonlik vier wiele het. ʼn Motor waarvan die een wiel vermis word, is nog steeds ʼn motor. Stel jou voor daar staan ʼn 1966 Cadillac Eldorado in my buurman se erf. Al vier sy wiele is weg. Gelyktydig staan daar ʼn 1966 Cadillac Eldorado op my kollega se plaas. Die kar het nog al vier sy wiele, maar die Cadillac se enjin werk al vir 25 jaar nie. Nóg my buurman, nóg my

[114]

kollega se Cadillac is in ʼn werkende toestand, maar al twee is steeds herkenbaar as ʼn verouderde voertuig van ʼn bepaalde fabrikaat en model. Dit wat ons van karre weet, is meestal ensiklopedies en kultureel.

Hoe ʼn spreker woorde verstaan en gebruik, het baie te make met hoe hy sy wêreld sien en verstaan (Taylor, 2009:87). Volgens Löbner (2003:302) is semantiese konsepte, wat deel van ons kennissisteem uitmaak, in ons leefwêreld geïntegreerd. Ons begrip van die wêreld het ʼn direkte invloed op die manier waarop ons taal gebruik. Daarom is die onderskeid tussen sogenaamde linguistiese en ekstralinguistiese kennis (Langacker, 1987:154) onnatuurlik en onlogies. Löbner (2003:302) verwoord dit soos volg:

Viele Vertreter der kognitiven Richtung plädieren aber dafür, die Unterscheidung aufzugeben. Sie argumentieren, dass unser sprachliches Wissen so eng und komplex mit unserem gesamten kognitiven System verflochten sei, dass eine Trennung unmöglich ist; auch könne die Bedeutung eines Wortes nur vollständig beschreiben werden, wenn man das Konzept in umfassendere Strukturen in einem kognitiven System einbettet.35

ʼn Meer fundamentele rede om die onderskeid op te hef, lê by die feit dat die aanvaarbaarheid en interpreteerbaarheid van taal afhanklik is van die aktivering van ʼn persoon se ensiklopediese kennis (Taylor, 2009:87). Ensiklopediese kennis kan as ʼn spreker se breë verstand van die wêreld gesien word. Daardie wêreld bestaan uit uiteenlopende asook verbandhoudende sisteme en subsisteme. Sommige individue se ensiklopediese kennis sal grondiger wees as ander sʼn. Taylor (2009:86) meen ʼn ensiklopediese benadering tot betekenis kan afbakeningsprobleme tot gevolg hê. Nie alles wat ʼn spreker omtrent die konsep

HOND weet, is noodwendig relevant tot die betekenis van die woord in sy bepaalde konteks

nie. Verder verwys Taylor ook na die feit dat ensiklopediese inligting van spraakgemeenskap na spraakgemeenskap kan verskil. Byvoorbeeld, ʼn Westerse persoon in Suid-Afrika beskou honde waarskynlik anders as sommige Viëtnamese persone, wat daaraan gewoond is om thit

cho (hondevleis) te eet. Die kennis van HOND verskil dus.

Ensiklopediese kennis stem dikwels met kulturele kennis ooreen. ʼn Mens verstaan immers sy wêreld aan die hand van sy kulturele (en subkulturele!) perspektief. Maar waar ensiklopediese kennis in sommige opsigte universeel kan wees, is kulturele kennis somtyds

35 Baie verteenwoordigers van die kognitiewe leer pleit daarvoor om dié onderskeid te beëindig. Hulle

argumenteer dat ons linguistiese kennis so eng en ingewikkeld met ons kognitiewe sisteem vervleg is, dat ʼn onderskeid onmoontlik is; selfs wanneer dit blyk dat die betekenis van ʼn woord alleen (volledig) omskryf kan word as die relevante konsep in omvattende strukture in ons kognitiewe sisteem ingebed word (soos wat George Lakoff en kie postuleer).

[115]

beperk tot spesifieke groepe en streke. Kulturele kennis kan deur direkte waarneming en deelname verkry word, maar kan ook van een na ʼn ander oorgedra word. ʼn Spreker se kennis omtrent ʼn begrafnisseremonie of -ritueel is kultureel van aard. Selfs al was die spreker nog nooit by ʼn begrafnis nie, behoort hy steeds die fundamentele kenmerke daarvan te ken en te verstaan (vgl. Quinn en Holland, 1989:20-22); soveel so dat ʼn spreker waarskynlik duidelike verskille tussen die praktyke van sý kultuur en dié van ander sal kan opmerk.

Die belang van kulturele kennis vir leksikale semantiek is reeds deur Fillmore (1982:34) geïllustreer met verwysing na die woord “bachelor”. Fillmore dui aan dat die woord slegs binne ʼn kulturele konteks gedefinieer kan word waar bepaalde verwagtinge omtrent die huwelik en omtrent ʼn geskikte ouderdom heers. Die woord “bachelor” kan dus nie buite daardie kulturele begrip gebruik word nie. Daarom kan die pous byvoorbeeld nie as ʼn vrygesel gesien word nie. Dieselfde geld ʼn man wat reeds sedert kindsbeen in ʼn koma lê (Quinn en Holland, 1989:23). Dit is ook hier waar die navorsing van Lakoff en sy vennote rakende onder meer kognitiewe modelle, metafore en metonimie relevant raak. Maar wanneer dit by leksikaal-semantiese probleme kom, lê die gebruikswaarde vir ʼn hof myns insiens eerder by frames. Frames hanteer betekenis deur by die betrokke konsep(te) te begin en die verskillende soorte kennisse en kontekste in te trek. Met ander woorde, daar word meestal by die betekenis (en onderskeie betekenisverhoudings) begin en daarna na die woord beweeg.

Frames kom in subafdeling 4.4.5 aan bod.

Voordat frames en prototipes onder die loep geneem kan word, moet konsepte van nader beskou word.