• No results found

Hoofstuk 4 Teoretiese raamwerk

4.3 Woord en leksikale relasies

4.3.5 Sinonimie, hiponimie en polisemie

Sinonieme is woorde wat byna dieselfde betekeniswaarde het, maar wat steeds verskillende

betekenisnuanses mag hê. Dit gaan meestal om konnotasies, derhalwe is sinonieme konteksgebonde (De Klerk, 1978:103). Die verhouding tussen twee of meer sinonieme word verder bepaal deur die vervangbaarheid van die een deur die ander. Woorde wat mekaar (in konteks) die beste kan vervang, sal die naaste aan mekaar staan ten opsigte van hul gedeelde betekenis (vgl. De Stadler, 1989:77). Daar is bittermin gevalle waar twee of meer woorde volkome sinoniem is en presies dieselfde betekenis het (Löbner, 2003:117; Stubbs, 2002:36- 37; Murphy, 2010:110). Vergelyk die Duitse woorde vir Saterdag: “Samstag” en

[104]

“Sonnabend”; in Nederlands “plattegrond” en “stadskaart”, in Engels “toilet” en “lavatory”, en in Afrikaans “pagina” en “bladsy”. Sodra ʼn mens hierdie woorde in bepaalde kontekste gebruik, kan daar nog steeds subtiele verskille intree. De Stadler (1989:77) gebruik die volgende voorbeeldsin om die subtiele konteksspesifieke betekenisverskille te illustreer:

4.8 a) Jan is die vader/pa van Susan.

b) Pannevis is die vader/*pa van die Afrikaanse taal.

Die woorde “vader/pa” is vervangbaar in 4.8(a) en neem basies dieselfde betekenis aan, maar slegs die woord “vader” is geskik in 4.8(b). Stubbs (2002:37) noem nog voorbeelde van sinonieme waar die denotasie en konnotasie duidelik van die konteks afhang: die Engelse woord “body” kan in terme van ʼn gestorwe persoon die volgende sinonieme hê, naamlik “corpse”, “the deceased”, “stiff”, “cadaver” en “carcass” (in die geval van ʼn dier of sarkasme).

Waar sinonimie grootliks konteksafhanklik is en waar substitusie ʼn beduidende rol speel, handel hiponimie oor insluiting. Bestaande klasse kan subklasse insluit. Hiponimie dui ʼn klaarblyklik hiërargiese strukturering in die leksikon aan en hou direk met kategorisering en taksonomie verband (vgl. Löbner, 2003:133 en Saeed, 2009:69); dit is die insluiting van ʼn meer spesifieke term in ʼn meer algemene term (Gouws, 1991:395). Dit is ook hiponimie wat ʼn goeie aanduiding gee van die vertakking van woordvelde en die wyse waarop hierdie netwerke by mekaar aansluit en van mekaar uitvloei. Hierdie soort klassifikasies vertel ons meer omtrent die menslike kultuur en kognisie (Saeed, 2009:70). Bestudeer Figuur 4.2 vir ʼn voorbeeld van hiponimie.

[105]

Hiponimiese taksonomieë bestaan uit ʼn hiperniem (superordinaat) en hiponieme (subordinate). In Figuur 4.2 is “Breekware” die hiperniem en die subklasse (borde, ens.) is die hiponieme. Die relasionele aard van hiponimie is kenmerkend van eensydige implikasie. Eensydige implikasie beteken dat hiponieme hul superordinate impliseer, maar dat die omgekeerde nie moontlik is nie. Byvoorbeeld, borde, bakkies, koppies en bekers impliseer “breekware”. Maar breekware impliseer nie noodwendig alle soorte bekers of borde nie. Sommige kaasborde word van hout gemaak en sommige kosborde van blik. Die kwessie van implikasie gaan selfs verder:

4.9 Nie alle slange is giftig nie.

Implikasie: nie alle reptiele is giftig nie. Implikasie: nie alle diere is giftig nie. Wat maak ʼn mens egter met die volgende sin?

4.10 Oegandese is homofobies.

Is die implikasie dat mense homofobies is? Volgens die reël impliseer ʼn superordinaat nie die subordinaat nie. Dus as ons sê dat mense homofobies is, beteken dit nie noodwendig dat Suid-Afrikaners homofobies is nie. Hiponimie blyk ook ruimte vir veralgemening te laat. Nog ʼn kenmerk van hiponimie is dat subklasse die superordinate van hul eie woordklasse kan vorm. Byvoorbeeld, “voël” se superordinaat is “dier”, maar “voël” vorm self die superordinaat van “hoender”, “volstruis”, “duif” en “pikkewyn”. Alle volstruise is voëls, maar nie alle voëls is volstruise nie.

Aansluitend by hiponimie is meronimie. Meronimie dui hiërargiese verhoudings tussen leksikale items aan, maar gee ook die deel-geheel verhoudings tussen items weer. Saeed (2009:71) dui daarop dat hiërargieë binne meronieme somtyds onduideliker as dié in gewone taksonomieë is, omdat ʼn spesifieke deel nie altyd noodsaaklik tot die geheel is nie. Maar meronimie help nog steeds om verhoudings tussen leksikale items en hul eienskappe of komponente uit te druk, oftewel die verbintenis tussen die geheel en sy dele. Fillmore se

frames reflekteer ʼn soortgelyke struktuur, wat aandui dat konsepte op soortgelyke wyse

vertak. Soos in Figuur 4.3 gesien kan word, is ʼn vinger netsoveel deel van ʼn liggaam as wat die kop is. Ofskoon ʼn vinger nie naastenby so belangrik as ʼn kop is nie, kan ʼn mens nie die konsep VINGER volkome begryp sonder om te besef dat dit deel van ʼn veel groter konsep uitmaak nie.

[106]

Figuur 4.3: meroniem vir “liggaam”

(Geneem uit Löbner, 2003:134)

Alhoewel ʼn lekseem ʼn betekeniseenheid verteenwoordig, kan daar verskillende betekenisfasette onderskei word (selfs binne ʼn taksonomie of hiponimiese struktuur). Wanneer ʼn lekseem oor twee of meer betekenisfasette beskik, word daar van polisemie gepraat. In polisemie is daar ʼn definitiewe semantiese verhouding tussen die onderskeie betekenisfasette, hoewel die relasie nie altyd vanselfsprekend is nie. De Stadler (1989:66-68) diskrimineer tussen grondbetekenis en metaforiese uitbreiding. Die een betekenisfaset onderskei sig van die ander in die sin dat die een faset die grondbetekenis is en die ander fasette metaforiese uitbreidings van die grondbetekenis is. Vergelyk die woord “koppelaar”. ʼn Koppelaar is ʼn onderdeel van ʼn motorvoertuig wat die ratkas met die res van die enjin verbind. Die grondbetekenis hou verband met die woord “koppel” wat op ʼn band of skakel dui. ʼn Koppelaar is dus iets wat aanvanklik deur middel van ʼn kabel of gordel verbind. “Koppelaar” verwys ook na iemand wat namens familielede huwelike reël of ʼn persoon wat prostitute met klante verbind. Laasgenoemde betekenisfaset is ʼn metaforiese uitbreiding op die “oorspronklike” of prototipe betekenis.

Soms word poliseme en homonieme met mekaar verwar. Homonieme het hoofsaaklik ʼn identiese fonologiese verhouding, maar hou nie semanties met mekaar verband nie. Vergelyk die woord “graaf”. Graaf verwys onderskeidelik na (a) ʼn implement om gate mee te grawe en (b) ʼn edelman wat tot die adelstand behoort. Hier het ʼn mens met twee aparte lekseme te make wat geen logiese verhouding, behalwe vir die uitspraakwaarde daarvan, het nie. Volgens Saeed (2009:65) kan verwarring verder intree wanneer sprekers van ʼn taal nie meer bewus is van die polisemiese verhouding nie; dan kom die betekenisfasette as homonieme

[107]

voor. Hy verwys na die Engelse woord “sole” wat na die sool van ʼn voet verwys asook ʼn soort vis aandui. Engelsprekendes sien “sole” dus as twee afsonderlike woorde (homonieme), terwyl al twee betekenisonderskeidings met die Latynse woord vir sandaal (“soleo”) verband hou (vgl. die South African Concise Oxford Dictionary, 2010) en eintlik polisemies van aard is.

Polisemie (en ander woordverhoudings) is dikwels geneig om tot vaagheid en meerduidigheid aanleiding te gee. Dit is nie altyd vanuit die staanspoor duidelik wat ʼn woord se betekenis of sy verhouding tot ander woorde is nie. Dit is dan juis hier waar sake vir regsgeleerdes en veral voorsittende beamptes ingewikkeld raak. Die “gewone” betekenis het by nadere ondersoek somtyds veelvoudige interpretasiemoontlikhede weens die vae of meerduidige karakter van ʼn lekseem of leksikale item.