• No results found

1. INLEIDING

2.4. DATA INTERPRETASIE

2.4.2 Data bespreking

2.4.2.5 Verspreiding van stres-persoonlikheidstipes

Met ʼn deursnee analise van die resultate wat op die stres-persoonlikheidskaal verkry is blyk dit dat 62% van die predikante in die GKSA wat aan die studie deel geneem het, ten tye van die navorsing, ʼn Tipe B- stres-persoonlikheidvertoon het (sien figuur 2.8). Persone met ʼn B- stres-persoonlikheidstipe benader take op ʼn sistematiese en planmatige wyse. In geheel geoordeel blyk die Tipe B- stres-persoonlikheidstipe die

16Op die Sinodes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (2003, 2009, 2016) is daar besluit dat vroue nie in die diens van Bedienaar van die Woord mag staan nie.

56

|

P h . D G J N i e m a n n

ideale kategorie te wees omdat hierdie persone volgens Van Jaarsveld (2003:119) tipies geneig is tot onderdrukking van persoonlike gevoelens en rustigheid. Hierdie persone neem ook nie oorhaastige besluite nie en is gewoonlik planmatig in hulle optrede. Tipe B- persoonlikheid is volgens Moorhead en Griffin (1995:209) gemakliker mense, minder aan druk onderhewig, geduldiger, in staat om te ontspan sonder om skuldig te voel en minder geneig om vyandiggesind te wees. Tipe B- persone is ook bereid om ʼn ruskans te neem wanneer die druk te veel raak maar sal makliker handdoek ingooi indien hulle gefrustreerd voel. Persone met Tipe B- gedrag toon ook nie uitermate emosies wanneer hulle vertel van hulle frustrasie nie.

Die rede vir die verspreiding van die Tipe B- persoonlikheidstipe onder predikante in die GKSA korreleer positief met die geneigdheid na die Flegmatiese persoonlikheidstipe wat soortgelyke verspreiding onder predikante in die GKSA toon (sien Figuur 2.1). Wat hier egter beduidend is, is die feit dat Tipe B- stres- persoonlikheidstipe tot die internalisering van emosies geneig is. Dit blyk dat persone met hierdie persoonlikheidstipe nie hulp in die hantering van stresvolle gebeurtenisse vanuit die eksterne omgewing verkry nie. Dit korreleer egter ook positief met ʼn introverte karakter wat by die Flegmatiese en Melancholiese persoonlikheidstipes gevind word (sien Tabel 2.3).

Figuur 2.7 Die verspreiding op die vraag oor die internalisering van gedagtes en

emosies.

Wanneer daar gekyk word na die korrelasie tussen Introversie en Tipe B- gedrag blyk daar ʼn merkwaardige korrelasie te bestaan. Om die internalisering van gedagtes

Weet ander mense gewoonlik wat in jou

gedagtes en gemoed aangaan?

"Ja" Respons (31%) "Onseker" Respons (11,3%) "Nee" Respons (57,70%)

57

|

P h . D G J N i e m a n n

en die onderdrukking van emosies te ondersoek, is respondente gevra: “Weet ander mense gewoonlik wat in u gedagtes en gemoed aangaan?” In hierdie verband het 57.7% van die respondente aangetoon dat hulle verkies om hulle gedagtes en emosies te internaliseer en nie aan ander bekend te maak nie (sien Figuur 2.7). Hierdie respondente is daarom van mening dat hulle nie maklik uiting gee aan hulle gedagtes en emosies nie en hulle persoonlike privaatheid waardeer. Russell en Karol (2002:64) wys daarop dat hierdie faktor integraal deel is van ʼn persoon se benadering tot mense. Hierdie persone is geneig tot privaatheid en is meer sosiaal bewus, emosioneel afsydig en geneig om ʼn sosiale masker te dra. Persone wat emosies internaliseer is persoonlik beskermend en vind dit moeilik om persoonlike inligting van hulleself aan ander bekend te maak. Aan die ekstreme kant mag hierdie persone hulle privaatheid ten koste van persoonlike verhoudings beskerm.

Indien persone stres en emosie internaliseer en nie op een of ander wyse daaraan uiting gee nie loop hierdie persone volgens Niemann (2010:137) ʼn risiko vir koronêre hartsiektes, maagsere, depressie en ander psigosomaties simptome. Hierdie siektes verhoog weer die predikante se risiko vir diensverlating weens gesondheidsredes. Hier loop veral die Melancholiese persoonlikheidstipe die risiko vir oormatige selfkritiek en depressie tydens stres belewing. Dit is egter noodsaaklik om tydens die pastorale gesprek aandag te gee aan predikante se moontlike onvermoë om oor hulle persoonlike ervarings te praat. Die pastorale gesprek behoort ʼn ruimte te wees waarin die predikant sy persoonlike ervarings kan deel sonder die vrees vir veroordeling of kritiek. In hierdie verband is dit belangrik om die persoonlikheidseienskappe, wat moontlik tot die internalisering van emosies aanleiding mag gee, binne die spesifieke konteks van die predikant te ondersoek. Hier is dit ook noodsaaklik dat hierdie predikante ʼn goed gestruktureerde ondersteuningsnetwerk ontwikkel wat hulle die geleentheid gun om hul persoonlike emosies of ervaringe mee te deel. Hier kan die pastor ook ʼn belangrike rol speel in die verwerking van onopgeloste emosionele pyn of sielkundige spanning.

ʼn Totaal van 27% van die respondente het ten tye van die navorsing ʼn Tipe A- stres- persoonlikheid vertoon (sien figuur 2.8). Die Tipe A- stres-persoonlikheid is kenmerklik aan iemand wat in staat is tot dryfkrag en ambisie. Hulle het gewoonlik ook duidelike doelwitte, ʼn sterk verantwoordelikheidsgevoel en ʼn mate van aggressiwiteit. Hierdie persone handel take vinnig en deeglik af, is selfgedrewe en taakgeoriënteerd (sien 3.7.3 vir uiteensetting vir Tipe A en Tipe B persoonlikheidstipes). Dit is egter noodsaaklik dat hierdie persone moet leer om van tyd tot tyd te rus of hulle pas te verslap om oordrewe gedrag te verhoed.

58

|

P h . D G J N i e m a n n

Die Tipe A- stres-persoonlikheid blyk taamlik verspreid onder die vier primêre persoonlikheidstipes voor te kom. Dit is egter beduidend dat 50% van die persone wat Tipe A- persoonlikheid vertoon aan die Melancholiese persoonlikheidstipe behoort. Slegs 22% van die respondente wat Flegmatiese en Sanguiniese persoonlikheidstipe besit behoort tot hierdie groep. Die Sanguiniese persoonlikheidstipe word hier die laagste verteenwoordig met sleg 6% wat tot hierdie groep behoort. Die rede vir die groter verspreiding van die Melancholiese persoonlikheidstipe in hierdie kategorie hou waarskynlik direk verband met die inherente Melancholiese eienskappe. Melancholiese persoonlikheidseienskappe wat hiermee verband mag hou is perfeksionisme, idealisme, pligsgetrouheid, hoё persoonlike standaarde en selfopoffering (sien 3.7.3.4 Tipe-A persoonlikheid en gesin-werk konflik). In die pastorale gesprek moet daar aandag gegee word aan hierdie eienskappe veral as dit tot negatiewe gesinsverhoudings mag aanleiding gee.

Figuur 2.8 Verspreiding van stres-persoonlikheidstipes van predikante in die GKSA

ʼn Klein minderheid van die respondente het met die stres-persoonlikheidstudie aan die ekstreme punte van die stres-persoonlikheidskaal gesorteer met sleg 4% van die respondente wat onder die Tipe B+ en 7% wat onder die Tipe A+ gesorteer het (sien figuur 2.8). Tipe B+ stres-persoonlikheidstipe word tipies gekenmerk aan passiwiteit en ʼn tekort aan dryfkrag. Slegs respondente met ʼn Flegmatiese persoonlikheidstipes het Tipe B+ gedragspatrone gerapporteer.

Predikante wat Tipe B+ gedrag vertoon loop die risiko om afsydig te wees. Dit mag wees dat hierdie predikante belangstelling in hulle werk of in die lewe in die

0% 10% 20% 30% 40% 50% 60% 70%

Verspreiding van Tipe B+ Stres-Persoonlikheid

(4%)

Verspreiding van Tipe B- Stres-Persoonlikheid

(62%)

Verspreiding van Tipe A- Stres-Persoonlikheid

(27%)

Verspreiding van Tipe A+ Stres-Persoonlikheid

59

|

P h . D G J N i e m a n n

algemeen verloor het. Hierdie groep predikante kan ook as ʼn risiko groep beskou word. Die verlies aan lewensbelangstelling is volgens die DSM-IV-TR (2009:356) kenmerklik aan ʼn depressiewe toestand. Hierdie verlies aan lewensbelangstelling is gekoppel aan die Flegmatiese eienskappe soos teruggetrokkenheid, ongemotiveerdheid, vreesagtigheid en lae dryfkrag. Predikante met die eienskappe loop ʼn risiko vir die ontwikkeling of belewenis van depressie. Die DSM-IV-TR (2009:371) stel dit duidelik dat die belewenis van depressie sosiale- en rolfunksionering verder negatief beïnvloed. Die risiko vir die belewenis van depressie moet egter tydens die pastorale gesprek binne die spesifieke konteks van die individu ondersoek word.

Figuur 2.9: Die verspreiding op die vraag oor lewensbelangstelling

Op die vraag “Voel jy soms dat jy nie kan omgee wat met jou gebeur nie?” het 25.4% van predikante by tye van die navorsing positief gereageer. Hierdie vraag blyk inherente lewensbelangstelling te meet. Van hierdie groep wat positief op die vraag gereageer het, het 50% aan die Melancholiese en 33% aan die Sanguiniese persoonlikheidstipes behoort. Hiermee word bevestig dat die emosionele persoonlikheidstipes, maar veral die Melancholiese predikante met ʼn introverte- emosionele persoonlikheidstipe, besondere risiko loop vir die belewing van negatiewe emosies en veral die verlies van lewensbelangstelling.

Die Tipe A+ stres-persoonlikheidstipe is ʼn tipiese drywer-persoonlikheid. Hierdie persone is volgens Derlega et al (2005:467) geneig tot werkholisme. Indien hierdie persone die tipe gedrewe gedrag handhaaf loop hulle volgens Prinsloo (2014:11) ʼn

Voel jy soms dat jy nie kan omgee wat met jou

gebeur nie?

"Ja" Respons (25,4%) "Onseker" Respons (8,4%) "Nee" Respons (66,2%)

60

|

P h . D G J N i e m a n n

groot risiko vir die belewenis van uitbranding en loop gevolglik ook die risiko vir hartverwante siektetoestande en hartaanvalle. Hierdie persone neig volgens Louw en Edwards (2003:596) tipies tot ʼn gejaagde lewenspatroon, ʼn oordrewe pligsbesef, aggressiwiteit, ongeduldigheid, humeurigheid en impulsiwiteit. Persone met ʼn Tipe A+ stres-persoonlikheid poog ook om verskeie dinge gelyktydig te doen en neig om kompeterend te wees (sien punt 3.7.3 vir uiteensetting van Tipe A gedrag). Hulle dryf hulself ook voortdurend. Hierdie persone behoort drasties hulle lewenspas te verminder en ʼn gebalanseerde lewenswyse aan te kweek. Geen verband tot ʼn spesifieke persoonlikheidstipe kon egter in hierdie studie vasgestel word nie. Tipe A+ stres-persoonlikheid het onder die vier primêre persoonlikheidstipes verspreid voorgekom. Enige van die vier primêre persoonlikheidstipes staan dus ʼn gelyke kans om Tipe A+ gedrag te toon en dit blyk eerder situasionele faktore as inherente geneigdheid te wees wat daartoe aanleiding gee.

Figuur 2.10: Verspreiding op die vraag na selfstandigheid

Tog is daar onder predikante in die GKSA ʼn geneigdheid tot selfstandigheid en die onvermoë of onwilligheid om take of werk te delegeer. Op die vraag “Verkies jy meestal om ʼn taak self af te handel eerder as om dit te delegeer, uit vrees dat iemand anders dalk nie die taak so goed soos jy kan doen nie?” het 54.9% van die respondente aangetoon dat hulle verkies om meestal take self af te handel eerder om dit te delegeer. Hierdie onvermoë om take te delegeer blyk direk verband te hou met die vrees dat iemand anders dalk nie die taak so goed soos hulle kan doen nie.

Verkies jy meestal om ʼn taak self af te handel eerder

as om dit te delegeer, uit vrees dat iemand anders

dalk nie die taak so goed soos jy kan doen nie?

"Ja" Respons (54,9 %) "Onseker" Respons (12,7%) "Nee" Respons (32,4%)

61

|

P h . D G J N i e m a n n

Dit mag ook verband hou met ʼn behoefte aan goedkeuring of die behoefte om in beheer te wees (3.7.3.3 Verhouding tussen Tipe-A persoonlikheid en locus van beheer).

Hierdie behoefte om take self te hanteer en onvermoë om take te delegeer maak predikante - soos Grobbelaar (2007:117) asook Badenhorst en Fleischmann (2008:41) vasgestel het - kwesbaar vir die belewenis van stres en uitbranding (sien 1.2.1 vir uiteensetting van navorsing oor stresbelewing by predikante in die GKSA). Inherente persoonlikheidsbehoeftes wat tot hierdie tendens aanleiding gee moet tydens die pastorale gesprek ondersoek word om uitbranding te verhoed. Die selfstandigheid weerspieël volgens Russel en Karol (2002:45) geneigdheid om self- bepalend in optrede te wees. Dit mag wees dat hierdie predikante onaangenaam, onbuigbaar en dominerend vir ander mag voorkom. Hulle mag ook hulle opinies op ander afdwing, is self-genoegsaam, verkies om tyd alleen te spandeer en verkies om self tot ʼn besluit te kom. Hulle mag dit moeilik vind om saam met ander te werk en vind dit ook moeilik om ander vir hulp te vra. In ekstreme gevalle mag hierdie persone aspekte in interpersoonlike verhoudings afskeep. Tydens die pastorale gesprek kan daar in hierdie opsigte ondersoek ingestel word na die inherente redes vir die internalisering van emosies en aandag geskenk word aan die oorsake daarvan.