• No results found

1. INLEIDING

3.4 PERSOONLIKHEIDSTEORIEË

3.4.3 Humanistiese of persoongeoriёnteerde benaderings van persoonlikheid

3.4.3.3 Die eksistensiёle teorie van Viktor Frankl

3.4.3.3.1 Frankl se mensbeskouing onderliggend aan sy persoonlikheidsteorie

Frankl se mensbeskouing berus volgens Meyer et al (2003:556) op die veronderstelling dat ons as mense vryheid gegee is om verantwoordelikheid te kan beoefen. Daar word ‘n beroep op die mens gemaak om op ʼn bestaansvlak hoёr as dié van die dier te leef. Om met ander woorde in ʼn sinsdimensie te leef waar ons gedurig gehoor gee aan aansprake wat op ons gemaak word, en waardes te ontwikkel wat van ʼn transhumane of goddelike dimensie tot ons kom om sodoende hoogs verantwoordbare lewens te lei. Frankl werk met sy mensbeskouing dus op vier beginsels, naamlik: vryheid tot verantwoordelikheid, bestaansvlak hoёr as dié van ʼn dier, die transhumane dimensie en die hoogs persoonlike (verantwoordelike) leefwyse:

Die vryheid tot verantwoordelikheid: Volgens die eksistensiële sielkunde is die mens by uitstek ʼn geesteswese. Dit wil sê ʼn wese met vryheid en verantwoordelikheid. Dit is hierdie eksistensiële mensbeskouing of persoonsvisie wat die grondslag vorm van Frankl se siening en omskrywing van persoonlikheid. Vir Frankl is ons as mense nie hoogs ontwikkelde diere wat deur die omgewing en oorerflikheid tot iets gemaak word nie. Die mens is volgens Burger (2008:289) ʼn persoon wie se persoonwees die vryheid tot verantwoordelikheid omsluit wat ʼn eienskap uniek aan die mens is. Vryheid tot verantwoordelikheid veronderstel dat ons as mense voortdurend voor keuses te staan kom, dat ons die vryheid het om te kies en dus nie tot ʼn sekere optrede gedwing word nie. Omdat ons wil as mens vry is, kan ons volgens Melton en Schulenberg (2008:33) vir die soort keuses wat ons maak, verantwoordelik gehou word. Mense kan byvoorbeeld nie hulle gedrag aan kondisionering toeskryf of aan die hand van onbeheerbare drange verskoon nie. Dit is hierdie vryheid van keuse wat die geestesdimensie van menswees verteenwoordig, ʼn dimensie wat die mens tot mens maak.

ʼn Bestaansvlak hoёr as dié van die dier: Frankl glo dat die mens ʼn behoefte het om ʼn rede of ʼn doel te vind om te lewe. Werklike vervulling is nie moontlik sonder ʼn gevoel dat die lewe ʼn doel het nie. Frankl voer volgens Meyer et al (2003:557) aan dat dit nie gaan oor die stryd om te bestaan nie, maar die stryd om die sin van die bestaan. Frankl bedoel volgens Louw en Edwards (2003:551) met “sin” die geleentheid, taak of verantwoordelikheid wat elke unieke situasie van ons eie persoonlike lewens ons bied en, deur ons gewete, ons gebied om te benut en te vervul. Elke lewensituasie sluit ʼn opdrag in. Ons word beveel om ons lewens nie maar net blindelings te lewe nie, maar om

104

|

P h . D G J N i e m a n n

doelgerig, sinvol, te lewe. ʼn Blote gejaag na plesier en mag kan dus nooit die rede vir ons bestaan wees nie. Frankl is volgens Burger (2008:288) daarvan oortuig dat een van die mees kenmerkende aspekte van menswees selftransendensie is - ons vermoë om bo onsself en ons omstandighede te kan uitstyg. Ons kan vryelik teenoor onsself en die situasie waarin ons onsself bevind standpunt inneem en ons eie gedrag stuur en rig. Southwick et al (2006:162) wys daarop dat Frankl van mening is dat die mens primêr daarop ingestel is om sin in die eie lewe te vind, al is hierdie wil tot sin diep versteek of verdring. In ʼn persoon wat geestelike rypheid ontwikkel het, is hierdie motivering sterker as enige ander motivering. Frankl (2000:40) wys daarop dat die mens nie net na ʼn toestand van homeostase of behoeftebevrediging streef nie. Mense wil by meer as net hulself betrokke wees en wil van hulle menswees weet. Hulle wil weet waarom en vir watter rede hulle lewe. Hulle wil hulle lewens sinvol en met rede lewe. Die mens sal bereid wees om te strewe na ʼn saak wat ʼn lewensideaal geword het, of vir dinge wat hulle liefhet en aan wie hulle hul lewens kan toewy.

Die transhumane dimensie: Frankl se mensbeskouing, dat die mens se wil vry is en dat die mens ʼn wil tot sin het, is ingebed in ʼn besondere wêreld- en lewensbeskouing, naamlik dat die lewe sin het. Sin is vir Frankl nie iets wat deur die mens geskep of aan iets toegeskryf kan word nie. Sin is iets wat ʼn mens vind. Dit beteken dat sin volgens Burger (2008:289) iets is wat buite en selfs bo die mens bestaan, iets wat, omdat dit objektief van die mens se subjektiewe belewing daarvan bestaan, die mens kan aanspreek of tot verantwoordelikheid roep. Die duidelikste voorbeeld van sin is geloof, die konkrete wete dat daar ʼn God is wat objektief bestaan, buite en bo die mens se belewing van sy teenwoordigheid en wil. Die subjektiewe ervaring van ʼn objektiewe bestaan van God word volgens Frankl (2000:10) grafies uiteengesit in die Bybelse beskrywing van geloof as “ʼn vaste vertroue op die dinge wat ons hoop en ʼn bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1). ʼn Ware gelowige kan onder alle en selfs die ellendigste omstandighede “ja” sê vir die sin van die lewe. Vir gelowiges het die Skepper hulle lewens aan hulle met ʼn doel gegee. In die vergestalting van goddelike of geestelike waardes van die mens in ’n roeping of lewenstaak wat eg, goed en mooi is, word diepe sin gevind. Die mens se lewe word dankbaar beleef as ʼn eenmalige en unieke geskenk of geleentheid om dit tot ewige waarde te maak. Sin word dus volgens Meyer et al (2003:559) gevind in heelhartige

105

|

P h . D G J N i e m a n n

verantwoordelikheid, ʼn ontvanklikheid vir die aanspraak wat ons lewens op ons maak.

ʼn Hoogs persoonlike (verantwoordelike) leefwyse: Vir Frankl (1954:977) is dit belangrik om te besef dat elke mens op ʼn unieke of hoogs persoonlike wyse die sin in sy of haar lewe sal en moet ondervind. Alle mens het die onmiskenbare reg en vryheid om te besluit teenoor wie of wat hulle hulself sal verantwoord: die gemeenskap, hulle eie gewete of God self. Sin is nie iets wat aan iemand beveel of voorgeskryf kan word nie. Iets kan vir iemand slegs sinvol wees as dit persoonlik beleef word. Frankl se lewensfilosofie, dat die lewe onvoorwaardelik sin het, vorm dus die onderbou van sy mensbeskouing, naamlik dat die mens ʼn wese is wat die sin van die lewe kan ondersoek, wat sin in die lewe kan soek en vind, en dit verantwoordelik in sy of haar lewe kan verwesenlik.