• No results found

1. INLEIDING

3.4 PERSOONLIKHEIDSTEORIEË

3.4.5 Alternatiewe perspektiewe tot persoonlikheid

In hierdie afdeling gaan, as alternatiewe perspektief op persoonlikheid, spesifiek op die Afrika-perspektief gefokus word. Hierdie perspektief bied ʼn beeld van hoe die persoonlikheid vanuit die Afrika-perspektief benader word, veral in kontras met die Westerse teorieë.

3.4.5.1 Die Afrika-perspektief

Volgens Meyer et al (2003:664) is daar nog geen spesifieke persoonlikheidsteorieë vanuit ʼn suiwer Afrika-perspektief ontwikkel nie. Daar bestaan enkele gefragmenteerde sielkundige ondersoeke oor spesifieke onderwerpe soos intelligensie, selfkonsep en bepaalde persoonlikheidseienskappe. Die verstaan van persoonlikheid is egter onderworpe aan die mens- en wêreldbeskouing van die Afrika-perspektief.

118

|

P h . D G J N i e m a n n

3.4.5.1.1 Die mens- en wêreldbeskouing van die Afrika-perspektief

Die Afrika mens-en-wêreldbeskouing is in ʼn holistiese en antroposentriese ontologie gefundeer. Hiervolgens vorm die mens ʼn ondeelbare eenheid met die kosmos (dus ʼn eenheid met God en die natuur), en die mens vorm die vertrekpunt en die sentrum van die heelal waaruit alles verstaan en verklaar word. Binne die ondeelbare kosmiese eenheid kan daar tussen drie kosmiese ordes of werklikhede onderskei word, naamlik die makro-, die meso- en die mikrokosmos, wat in die praktiese daaglikse bestaan as vermeng figureer.

Die makrokosmos: Die makrokosmos is die domein waar God aangetref word, asook die voorvaders en die geeste van spesifieke uitverkore gestorwenes. Dit is volgens Meyer et al (2003:646) ook die orde waarin die religieuse bestaan gefundeer is wat die totale menswees van die tradisionele Afrika-mens omvou. Die daaglikse funksionering van die tradisionele Afrika-mens is fundamenteel ʼn religieuse funksionering. Die godsdiens dring tot alle vlakke van die lewe deur. Gevolglik word daar nie ʼn onderskeid tussen heilig en wêrelds, tussen godsdiens en nie- godsdiens, of tussen ʼn geestelike en ʼn fisies-materiële faset van die lewe getref nie. Tradisionele godsdiens is ook nie primêr op die individu gerig nie, maar op die gemeenskap waarvan individue lede is. Dit hang dus ten nouste saam met die Afrika-mens se kollektiewe funksionering op die mikrokosmiese vlak.

Die mesokosmos: Die mesokosmos is ʼn soort niemandsland, waar toeval saam met die magte van bose geeste en towenaars regeer. Hierdie mesokosmos is gesetel in die wêreld van die individuele en kollektiewe verbeelding en dit betrek die lewende werklikheid sowel as die natuurfisiese werklikheid. Hierdie mesokosmos is volgens Meyer et al (2003:648) veral belangrik om die gedrag van die Afrika-mens te verstaan aangesien die Afrika-mens geneig is om alle konflikte en gebeurlikhede soos siekte en dood vanuit hierdie vlak te verklaar. Dit behels die werking van bose geeste, towenaars en tradisionele genesers wat menslike gedrag beïnvloed en bepaal. Hierdie vlak is dus volgens Mwamwenda (1995:422) van uiterse belang vir die personologie omdat dit die vlak is van waar menslike dinamika volgens die Afrika-perspektief verklaar word. Gedrag is dus nie die resultaat van ʼn intra-psigiese of interpersoonlike dinamika nie, maar geheel en al die resultaat van eksterne agente buite die mens. Die mens is dus nie self verantwoordelik of self aanspreeklik vir

119

|

P h . D G J N i e m a n n

sy of haar gedrag nie omdat die oorsaak van alle gedrag en gebeure na eksterne, bonatuurlike wesens of magte herlei word. Per implikasie word die eie inisiatief in die soeke na oplossings onderdruk, aangesien die mens uitgelewer is aan die bonatuurlike wesens en magte. Gevolglik word gedrag en gebeurlikhede binne die tradisionele konteks nie altyd op empiriese en rasionele gronde verklaar nie, maar word dat daar gesoek na onsigbare mense en magte agter die empiriese en rasionele realiteit.

Die mikrokosmos: Die mikrokosmos is die domein van die individuele persoon in sy of haar kollektiewe alledaagse bestaan wat ten volle beïnvloed word deur die makro- en mesokosmos. Dit is hierdie vlak waar die verskil in etos en waardes tussen die Westerling en die Afrika-mens volgens Mayer et al (2003:648) belangrike verskille in gedragsmodaliteite veroorsaak, veral ten opsigte van die individu en gemeenskapverhouding. Die Europese etos sentreer om die beginsel van individuele oorlewing, individuele regte en onafhanklikheid asook die beginsels van individualiteit, uniekheid, selfverantwoordelikheid en individuele verskille as konsepte om psigologiese gedragsmodaliteite te verstaan en te verklaar. In persoonlikheidsteorieë het hierdie beginsels neerslag gevind in konsepte soos die ego of ek-identiteit, selfkonsep, selfverwesenliking of selfaktualisering. In vergelyking hiermee is daar ander belangrike beginsels wat die tradisionele Afrika etos onderlê - soos die oorlewing van die gemeenskap en die eenheid met die natuur. Hierdie beginsels gee volgens Louw en Edwards (2003:702) weer aanleiding tot waardes wat sentreer om die samelewing, interafhanklikheid en kollektiewe verantwoordelikheid. In ooreenstemming met hierdie waardes word die psigologiese gedragsmodaliteit van individualiteit, uniekheid en verskille vervang met modaliteite soos gemeenskaplikheid, groepsgerigtheid en ooreenkomste. Indien die Afrika-beginsels en waardes dus op ʼn konstruk soos die self-konsep toegepas word, sou dit beteken dat dit eerder as ʼn “ons” gedefinieer sal word en nie as ʼn “ek” nie. In hierdie konteks moet daar eerder na die kollektiewe persoonlikheid verwys word.

3.4.5.1.2 Die Afrika-perspektief en geestesgesondheid

Die belangrikste faktor wat optimale geestesgesondheid by die Afrika-mens bewerkstellig, is die kollektiewe bestaan. Die Westerling se stres en spanning kan volgens Meyer et al (2003:654) in ʼn groot mate aan die beklemtoning van die individualiteit toegeskryf word, waardeur individue in die praktyk voortdurend op

120

|

P h . D G J N i e m a n n

hulself aangewese is en meestal in kompeterende en vergelykende verhoudings tot medemense staan. Daarenteen bied die selfloosheid van die Afrika-mens, wat ingebed is in hulle kollektiewe bestaan, die noodsaaklike sekuriteit wat kan dien as ʼn teenmiddel teen angs en spanning.

3.4.5.1.3 Gevolgtrekking oor die Afrika-perspektief

Die implikasie van die Afrika-beskouing is dat die Westerse fokus op selfverwesenliking en selfverantwoordelikheid nie dieselfde rol speel in die daaglikse lewe van die tradisionele Afrika-mens as by die Westerling nie. Vir die personologie hou dit die implikasie in dat daar volgens hierdie bestaanswyse nie sprake is van ʼn individuele persoonlikheidstruktuur nie en dat die dinamika teruggevoer moet word na die werking van voorvadergeeste en ander magiese kragte buite die individuele persoonlikheid. Vir die pastoraal is daar ʼn uitdaging op teologiese vlak waar die Afrika-perspektief nie met die Bybelse wêreldbeskouing ooreenstem nie. Die pastoraal moet die Afrika-perspektief in rekening hou wanneer daar op persoonlike- en geloofsvlak met die Afrika-mens gewerk word. Daar moet veral rekening gehou word met die kollektiewe benadering tot menswees en dat individuele persoonlikheidstipes nie vir die Afrika-mens intrinsieke gewig mag dra nie. Hierdie perspektief bied wel goeie perspektief oor die denkraamwerk van die tradisionele Afrika-mens wat veral in die terapeutiese ruimte verreken moet word.