• No results found

1. INLEIDING

3.4 PERSOONLIKHEIDSTEORIEË

3.4.1 Die Dieptesielkunde benaderings

3.4.1.2 Die analitiese teorie van Carl Jung

3.4.1.2.3 Jung se dinamiek van persoonlikheid

In hierdie afdeling gaan daar gefokus word op Jung se basiese uitgangspunte (3.4.1.2.3.1), die mens as energiesisteem (3.4.1.2.3.2), houdings van die psige

85

|

P h . D G J N i e m a n n

(3.4.1.2.3.3) en die funksies van die psige (3.4.1.2.3.4). Hierdie konsepte skets die dinamiek waaruit Jung se persoonlikheidsteorie vloei.

3.4.1.2.3.1 Jung se basiese uitgangspunte

Jung het aan die een kant volgens Meyer et al (2003:116) Freud se kausalistiese benadering, wat beteken dat die mens as ʼn meganisme beskryf word wat deur die instinkte tot aktiwiteit aangedryf word, aanvaar. Die gedrag wat openbaar word, word dan gesien as die resultaat van die mens se psigologiese verlede. Aan die ander kant erken Jung ook ʼn teologiese toekomsperspektief. Die individu se gedrag is dus vir Jung nie net die resultaat van kragte wat uit die persoon se verlede hom of haar tot aktiwiteit aandryf nie, maar ook die individu se strewe om in die toekoms doelgerig na voltooidheid en volkomenheid te streef in die daarstelling van die self. Jung het later ook ʼn derde beginsel, naamlik sinchronisiteit, erken. Hiervolgens word die oorsaak van gedrag nòg in die verlede, nòg in die toekoms gesoek, maar in ʼn “betekenisvolle gelykheid” tussen gebeure. Gedrag word dus volgens Quenk (2009:16) nie oorsaaklik verklaar nie, maar betekenis word geheg aan die feit dat gebeurtenisse gelyktydig met mekaar plaasvind. Jung meen dat daar betekenis aan hierdie gelyktydigheid van gebeure geheg moet word en dat dit nie net aan toevallige kansfaktore toegeskryf moet word nie.

3.4.1.2.3.2 Die mens as energiesisteem

Soos Freud, beskou Jung die mens volgens Louw en Edwards (2003:557) ook as ʼn komplekse energiesisteem. Jung gebruik die terme libido om na fisiese sowel as psigiese energie te verwys. Psigiese energie of “lewensenergie” is die energie van die persoonlikheid. Psigiese energie is vir Jung ʼn hipotetiese konstruk en kan dus nie direk waargeneem word nie. Psigiese energie vind uitdrukking in alle psigiese houdings en funksies (sien 3.4.1.2.3.3 en 3.4.1.2.3.4), asook in die psige se poging om ʼn balans tussen die verskillende sisteme van die psige te bewerkstellig (sien 3.4.1.2.2). Jung tref ook ʼn onderskeid tussen psigiese energie as ʼn krag wat bewegings genereer en psigiese energie as ʼn toestand wat oor die potensiaal vir aktiwiteit beskik. Beide fisiese en psigiese energie word intern deur die metaboliese prosesse gegenereer en daar is volgens Jung ʼn wederkerige wisselwerking tussen psigiese en fisiese energie. Die psige kan egter ook addisioneel psigiese energie van buite verkry deur middel van individuele ervarings. Soos wat die liggaam voedsel inneem en dit in energie omsit, is Jung van mening dat psigiese ervarings wat die mens opdoen ook “verteer” en in psigiese energie omgesit word.

86

|

P h . D G J N i e m a n n

3.4.1.2.3.3 Houdings van die psige

Jung onderskei volgens Quenk (2009:6) tussen twee tipe houdings of oriëntasies, naamlik introversie en ekstroversie. Hierdie houdings het te doen met die rigting waarin psigiese energie gekanaliseer word. Jung wys daarop dat elke individu, na gelang van die primêre kanalisering van sy of haar psigiese energie, as primêr innerlik- of primêr uiterlikgeoriënteerd gekarakteriseer kan word. Hoewel beide houdings in alle persone aanwesig is, is één gewoonlik bewus en dominant terwyl die ander onbewus en ondergeskik is:

Waar fokus persone hulle energie?

Ekstroversie – of – Introversie

Figuur 3.4: Jung se voorstelling van die ekstroverte en introverte houdings

Introversie is ʼn innerlike gerigtheid van psigiese energie of die subjektiewe ervarings van die ego. Introverte is met hulle eie emosies en belewenisse gepreokkupeer en kom gewoonlik baie afsydig en selfs onsosiaal voor. Volgens Briggs-Myers (1998:9) verkies introverte mense om op hulle eie innerlike wêreld van idees en ervaringe te fokus. Hulle fokus hulle energie en aandag dus inwaarts en verkry energie deur refleksie op hulle denke, herinneringe en gevoelens. Introverte is ook meer privaat en gereserveerd. Hulle fokus in diepte op hulle belangstellings en sal inisiatief neem wanneer ʼn saak vir hulle baie belangrik is.

Ekstroversie is ʼn gerigtheid op die eksterne werklikheid van mense, objekte en gebeure buite die ego – sonder dat baie aandag aan eie belewenisse of subjektiewe waarnemings geskenk word. Die ekstrovert openbaar ʼn lewendige belangstelling in die wêreld en kom baie sosiaal voor. Volgens Pervin en John (1997:144) verkies ekstroverte om op die eksterne wêreld van mense en aktiwiteit te fokus. Hulle fokus dus hulle energie en aandag uitwaarts en verkry energie deur interaksie met ander mense en deur betrokkenheid by aksies of deur die neem van inisiatief. Ekstroverte verkry idees deur daaroor te praat. Hulle het ook ʼn wye veld van belangstelling en neem maklik inisiatief in werk- en sosialekonteks.

87

|

P h . D G J N i e m a n n

3.4.1.2.3.4 Funksies van die psige

Jung (1960:123) is van mening dat daar benewens die introverte en ekstroverte houdings ook vier funksies van die psige onderskei kan word, naamlik: waarneming en intuïsie asook denke en gevoel. Hy verdeel die vier funksies in twee groepe - naamlik in nie-rasionele funksies (waarneming en intuïsie) en rasionele funksies (denke en gevoel).

Nie-Rasionele Rasionele

Waarneming Intuïsie Denke Gevoel

Die nie-rasionele funksies dui op die wyse waarmee die psige inligting insamel en tot die uiterlike werklikheid oriënteer, asook op die direkte reaksie op stimulering, sonder dat rasionele oorweging ʼn rol speel.

Hoe neem mense inligting in?

Waarneming – of – Intuïsie

Figuur 3.5: Jung se voorstelling van waarneming en intuïsie

Waarneming verwys na die wyse waarop die psige eksterne impulse deur middel van die sintuie - gesig, gehoor, reuk, smaak en tas - beleef en ervaar. Persone wat waarneming verkies, verkies volgens Briggs-Myers et al (2003:6) inligting wat konkreet en werklik is – dit wat werklik aan die gebeur is. Hulle is gefokus op die besonderhede wat rondom hulle aan die gang is en is veral gefokus op praktiese werklikhede. Persone wat waarneming verkies is dus gepreokkupeerd met die teenwoordige werklikheid en fokus op dit wat konkreet verstaanbaar is. Hulle werk sistematies deur inligting om tot ʼn konklusie te kom. Hierdie persone vertrou ook op hulle persoonlike lewenservaring.

Intuïsie is die onbewuste waarneming op ʼn subliminale vlak. Met hierdie funksie word die psige bo die tyd-ruimtelike gebondenheid van die liggaam verhef en vind daar “onmiddellike ervaring en bewuswording” plaas wat nie deur een van die ander funksies verkry kan word nie. Persone wat intuïsie verkies hou volgens Quenk (2008:6) daarvan om inligting te verwerk deur die groter prentjie te sien. Hulle fokus op die verhoudings en konneksies tussen

88

|

P h . D G J N i e m a n n

feite. Hulle wil die betekenis van patrone in data begryp en is veral ingestel op die ontdekking van nuwe moontlikhede. Hulle is dus ingestel op toekomstige moontlikhede. Anders as persone met waarneming verkies persone met intuïsie om vinnig tot ʼn gevolgtrekking te kom deur aannames te maak. Hulle verkies om idees en teorieë eers vir hulleself uit te klaar voor hulle dit in praktyk toepas. Hulle verkies ook om hulle eie intuïsie te vertrou.

Die rasionele funksies dui op die wyse waarvolgens inligting verwerk en besluite geneem word, asook op ʼn meer indirekte reaksiewyse wat op ʼn rasionele besluitnemingsproses berus:

Die wyse waarop mense besluite neem

Denke – of – Gevoel

Figuur 3.6: Jung se voorstelling van denke en gevoel

Denke is ʼn logiese ordeningsfunksie wat op die objektiewe verklaring en verstaan van die wêreld gerig is. Dit is dus die funksie waarvolgens die psige dit wat waargeneem is, interpreteer. Persone wat denke in die besluitnemingsproses verkies hou volgens Quenk (2009:8) daarvan om na die logiese gevolge van ʼn besluit of aksie te kyk. Hulle wil hulself uit ʼn situasie verwyder en die voor- en nadele van ʼn saak objektief beoordeel. Hulle verkry energie deur ʼn situasie te analiseer om uit te vind wat daarmee verkeerd is om so die probleem op te los. Hulle doel is om ʼn standaard prinsiep daar te stel wat in soortgelyke situasies toegepas kan word.

Gevoel is ʼn evaluerende funksie op grond waarvan inligting as goed of sleg, reg of verkeerd, positief of negatief beoordeel word. Dit vorm die basis van die individu se belewenis van subjektiewe ervarings soos plesier, hartseer, woede of liefde. Persone wat gevoel in die besluitnemingsproses verkies, hou volgens Briggs-Meyers (1998:10) daarvan om te konsidereer wat vir hulleself en andere wat betrokke is belangrik mag wees. Hulle verkies om hulleself in die situasie te plaas om met almal betrokke te identifiseer. Hulle baseer hulle besluite op hulle waardes. Hulle verkry energie deur ander te waardeer en te ondersteun en benader elke persoon as ʼn unieke individu.

89

|

P h . D G J N i e m a n n

Jung het ook ʼn vierde funksie bygevoeg: naamlik oordeel en observasie. Dit handel hier oor hoe mense die eksterne wêreld hanteer. Dit gaan meer spesifiek oor hoe mense verkies om hulle werk te verrig of take af te handel:

Hoe mense verkies om die eksterne wêreld te hanteer

Oordeel – of – Observasie

Figuur 3.7: Jung se voorstelling van oordeel en observasie

Mense wat volgens Briggs-Myers (1998:10) oordeel in die eksterne wêreld verkies, hou daarvan om op ʼn planmatige en ordelike wyse hulle lewens in te rig. Hulle verkies om besluite te neem, tot ʼn konklusie te kom en aan te beweeg. Hulle verkies om hulle lewens op ʼn gestruktureerde en georganiseerde wyse te leef en hou daarvan om dinge af te handel. Om by ʼn plan te hou en volgens ʼn skedule te werk is vir hulle baie belangrik. Persone wat oordeel verkies, word gewoonlik geassosieer met kenmerke soos: geskeduleerd, georganiseerd, sistematies, metodies, maak kort- en langtermyn planne en vermy tydsdruk of om dinge op die laaste minuut af te handel.

Mense wat observasie in die eksterne wêreld verkies, hou volgens Quenk (2009:9) daarvan om hulle lewens op ʼn buigsame en spontane wyse te leef. Hulle verkies om die lewe eerder te ervaar as om dit te beheer. Gedetaileerde planne en finale besluite beperk hulle. Hulle verkies om oop te bly vir nuwe inligting en laaste-minuut keuses. Hulle verkry energie deur vindingrykheid en deur aan te pas by die uitdagings van die oomblik.