• No results found

1. INLEIDING

2.5 GEVOLGTREKKING

In hierdie hoofstuk is persoonlikheidsontleding as hulpmiddel in ʼn pastorale toerustingsmodel vir predikante in die GKSA om diensverlating te verhoed ondersoek. Die persoonlikheidsmodel van Hippocrates is in die spesifieke konteks van die predikante in die GKSA ondersoek. In die lig van die verspreiding van persoonlikheidstipes is risikofaktore geïdentifiseer wat bepaalde persoonlikheidstipes kwesbaar maak vir moontlike diensverlating. In geheel beoordeel is die verteenwoordiging van die persoonlikheidskombinasie onder predikante in die GKSA verspreid en word elk van die vier primêre persoonlikheidstipes tot ʼn mindere of mindere mate verteenwoordig. Die grootste persentasie van predikante sorteer binne die Flegmatiese persoonlikheidskombinasies. Die Melancholiese en Sanguiniese persoonlikheidstipes word die laagste onder predikante verteenwoordig. Daar is dus

64

|

P h . D G J N i e m a n n

vasgestel dat daar ʼn algemene gerigtheid na die onemosionele persoonlikheidstipes bestaan.

Daar blyk ʼn verband te bestaan tussen die soort werksaktiwiteite wat persone vervullend vind en die tipe omgewing wat persone verkies. Wanneer daar ʼn dinamiese interaksie tussen die persoon en die omgewing bestaan, blyk dit beroepservaring positief te beïnvloed. Persoonlikheidstipes verskaf waardevolle inligting wat uit interaksie met die werksomgewing voortvloei. Dit blyk dat verskillende werksomgewings verskillend belonings en geleenthede vir verskillende persoonlikheidstipes bied. Dit blyk ook dat verskillende persoonlikheidstipes deur verskillende werksomgewings gemotiveer word en dit wat bevredigend is verskillend beleef. Dit blyk dat bepaalde persoonlikheidseienskappe persone aangetrokke tot sekere beroepe maak. Binne hierdie voorkeurberoep het persone dan die geleentheid om gemaklik met hulle voorkeurgedrag te funksioneer. Om die rede deel persone in dieselfde beroep soortgelyke persoonlikheidseienskappe. Omdat daar ʼn geneigdheid in die GKSA na die Flegmatiese persoonlikheidstipe te bestaan, blyk die rolvereistes van predikant in die GKSA ook in lyn te wees met die kenmerke van hierdie persoonlikheidstipe.

Persoonlikheidstipes wat ʼn groter verteenwoordiging binne ʼn gegewe beroep het vertoon normaalweg ook ʼn groter mate van werkstevredenheid omdat hierdie persoonlikheidstipes gewoonlik ook meer “in-pas” met hulle gekose beroep is. Die persoonlikheidstipes wat ʼn lae verteenwoordiging binne ʼn gegewe beroep het loop ʼn groter risiko vir die ervaring van sielkundige spanning. Persone met hierdie persoonlikheidstipes vertoon ook ʼn groter intensie om ʼn beroep te verlaat as die persoonlikheidstipes wat meer verteenwoordig word. Persoonlikheidstipes blyk ʼn bepalende rol te speel by positiewe of negatiewe beroepservaring. By die predikante in die GKSA is vasgestel dat die Flegmatiese persoonlikheidskombinasie die meeste verteenwoordig word wat beduidend is van die feit dat persone met hierdie persoonlikheidskombinasies die groep verteenwoordig wat die meeste tot die bediening in die GKSA aangetrokke is. Daar kan dus aanvaar word dat hierdie persone om dié rede oor die algemeen ook positiewe beroepservaring behoort te beleef. Aan die teenoorgestelde pool is die Sanguiniese en Melancholiese persoonlikheidskombinasies, wat die laagste verteenwoordig word, moontlike risiko groepe. Hierdie groepe behoort oor die algemeen ook die laagste werkstevredenheid aan te toon.

65

|

P h . D G J N i e m a n n

Hierdie studie het ook vasgestel dat die vraelys wat gebruik word om die vier persoonlikheidstipes soos in hoofstukke 1, 3 en 4 uiteengesit is te identifiseer, akkurate en geldige resultate oplewer. Die geldigheid van die resultate is met behulp van die rapportering en verifiëring metode bepaal. Die verifiëringsdata wat verkry is, het positief gekorreleer met soortgelyke studies wat op die MBTI instrument gedoen is. Daar is dus vasgestel dat die oorspronklike vraelys wat gebruik is om die vier persoonlikheidstipes te bepaal geldige en betroubare resultate vanuit hierdie studiepopulasie opgelewer het.

Uit hierdie studie is die Sanguiniese en Melancholiese persoonlikheidstipes ook as risiko groep geïdentifiseer vir die belewing van lae lewensukses, lewenstevredenheid sowel as depressie. Die belewing van lae lewensukses en lewenstevredenheid mag ook ʼn rol by die predikant se beroepservaring speel. Weens die emosionele aard van die Melancholiese en Sanguiniese persoonlikheidstipes mag hierdie persone meer deur stresfaktore in die bediening geaffekteer word. Stresfaktore soos moedeloosheid, oorsensitiwiteit, verpersoonliking van kritiek, voortdurende skuldgevoelens en negatiewe denke beïnvloed hulle ervaring van stres in die bediening. Met inaggenome stresfaktore onder predikante in die GKSA, blyk hierdie persoonlikheidstipes besonder kwesbaar vir die ervaring van spanning en moontlike diensverlating te wees.

Die verhouding tussen die verskillende persoonlikheidskombinasies en die twee stres-persoonlikheidstipes (Tipe-A en Tipe-B persoonlikheidstipes) is ook in hierdie hoofstuk ondersoek. Die resultate wat op die stres-persoonlikheidskaal verkry is toon dat die meerderheid predikante in die GKSA by tye van die navorsing ʼn Tipe B- stres-persoonlikheid vertoon het. Die rede vir die verspreiding van die Tipe B- persoonlikheidstipe onder predikante in die GKSA korreleer positief met die geneigdheid na die Flegmatiese persoonlikheidstipe wat soortgelyke verspreiding onder predikante in die GKSA vertoon. Die Tipe B- stres-persoonlikheidstipe blyk geneig te wees tot die internalisering van emosies. Dit verhoog die risiko vir koronêre hartsiektes, maagsere, depressie en ander psigosomaties simptome. Hier loop veral die Melancholiese persoonlikheidstipe die risiko vir oormatige selfkritiek en depressie tydens stresbelewing. Met hierdie studie is bevestig dat die emosionele persoonlikheidstipes, veral die Melancholiese predikante met ʼn introverte-emosionele persoonlikheidstipe, besondere risiko loop vir die belewing van negatiewe emosies en veral die verlies van lewensbelangstelling.

66

|

P h . D G J N i e m a n n

Die Tipe A- stres-persoonlikheid blyk taamlik verspreid onder die vier primêre persoonlikheidstipes voor te kom. Die meerderheid predikante wat Tipe A- persoonlikheid getoon het, het aan die Melancholiese persoonlikheidstipe behoort. ʼn Groot minderheid van die respondente het met die stres-persoonlikheidstudie aan die ekstreme punte van die stres-persoonlikheidskaal gesorteer. Slegs respondente met ʼn Flegmatiese persoonlikheidstipes het Tipe B+ gedragspatrone gerapporteer. Predikante wat Tipe B+ gedrag vertoon loop die risiko om afsydig te wees en mag moontlik belangstelling in hulle werk of in die lewe oor die algemeen verloor. Hierdie groep predikante kan ook as ʼn risiko groep beskou word.

Tipe A+ stres-persoonlikheid het onder die vier primêre persoonlikheidstipes verspreid voorgekom. Tog blyk daar onder predikante in die GKSA ʼn geneigdheid tot selfstandigheid en die onvermoë of onwilligheid om take of werk te delegeer te bestaan. Hierdie behoefte om take self te hanteer en onvermoë om take te delegeer maak predikante oor die algemeen kwesbaar vir die belewenis van stres en uitbranding.

Die navorsing in hierdie studie verskaf aan predikante ʼn konseptuele raamwerk van effektiewe gedrag en individuele verskille. Hierdie hoofstuk het vasgestel dat daar ʼn verhouding tussen persoonlikheidstipes, rolvereistes en persoonlike ingesteldheid bestaan wat perspektief bied oor die positiewe funksionering van predikante in die GKSA. Hierdie studie lewer ook ʼn bydrae tot die passing van inherente persoonlikheidsbehoeftes by eksterne vereistes van die roeping by predikante in die GKSA. Deur middel van pastorale toerusting met behulp van persoonlikheidsontleding kan nuwe benaderings vir die individu ontwikkel word wat binne ʼn bepaalde werksomgewing meer effektief en belonend mag wees. Die uiteindelike gevolg moet die predikant se positiewe werkservaring wees. Dit is veral belangrik dat daar tydens die pastorale gesprek ondersoek ingestel moet word na elke persoonlikheidstipe se voorkeurgedrag en inherente persoonlikheidsbehoeftes - veral gedrag en behoeftes wat aanleiding tot interpersoonlike konflik of Sielkundige spanningkan gee.

67

|

P h . D G J N i e m a n n

HOOFSTUK 3

DIE GEBRUIK VAN PERSOONLIKHEIDSONTLEDING

IN DIE PASTORAAT

3.1 INLEIDENDE OPMERKINGS

In die poging om ʼn Pastorale toerustingsmodel vir predikante in die GKSA vir die voorkoming van diensverlating daar te stel gaan hierdie hoofstuk primêr op die konsep “persoonlikheid” fokus. Met die ondersoek na persoonlikheid sal hierdie hoofstuk poog om Osmer (2008:83) se tweede navorsingsvraag “waarom is dit besig om te gebeur?” te beantwoord. Om hierdie doelstelling te bereik sal hierdie hoofstuk vanuit ʼn literatuurstudie vasstel hoe persoonlikheidsontleding in die pastoraat kan meewerk. Persoonlikheidsontleding sal as hulpmiddel ondersoek word om predikante in die GKSA met selfkennis en selfinsig toe te rus. Om vas te stel hoe persoonlikheid tot selfkennis en selfinsig aanleiding gee sal hier as agtergrond aandag gegee word aan die algemene persoonlikheidsteorieё maar die persoonlikheidsmodel van Hippocrates sal in diepte ondersoek word. Hierdie persoonlikheidsteorieë sal vanuit ʼn pastorale oogpunt benader en toegepas word om sodoende ʼn bruikbare persoonlikheidsmodel binne die breë pastorale toerustingsmodel daar te stel. Die persoonlikheidsmodel wat in hierdie hoofstuk daargestel word sal as vertrekpunt dien om predikante in die GKSA tot selfkennis en selfbewustheid te begelei.