• No results found

1. INLEIDING

3.3 PERSOONLIKHEID

3.3.1 ʼn Definisie van persoonlikheid

Die konsep persoonlikheid in die pastoraat is al reeds vir ʼn geruime tyd ʼn tema van debat. Tim LaHaye het reeds in 1984 in sy boek getiteld “Why you act the way you do” gepoog om persoonlikheidsontleding op ʼn Bybelse wyse te benader. Maar sy benadering het die gebruik van persoonlikheid as toerustingsmodel in die pastoraat nie aangespreek nie. Voor persoonlikheid in diepte uiteengesit en ondersoek kan word moet die volgende vraag beantwoord word: Wat is persoonlikheid?

Papalia et al (2008:221) definieer persoonlikheid as “ʼn persoon se biologies gebaseerde karaktereienskappe en wyse van benadering en reaksie teenoor mense en situasies.” Persoonlikheid word daarom as die “hoe” van gedrag beskryf. Met ander woorde nie “wat” mense doen nie, maar “hoe” mense dinge doen. Moerdyk (2012:127) sluit hierby aan deur persoonlikheid te definieer as: “Die kombinasie van ingebore en aangeleerde eienskappe wat alle sielkundige sisteme beïnvloed.” Gevolglik bepaal persoonlikheid persone se uniek aanpasbaarheid in die omgewing waarin hulle hulself bevind. Persoonlikheid is volgens Louw en Edwards (2003:513) dit wat een persoon van ander onderskei. Elke persoon het ‘n unieke stel persoonlikheidseienskappe waaruit beide sterk en swak punte vloei.

Feist en Feist (2009:412) gee ʼn definisie wat poog om die essensiële elemente van persoonlikheid saam te vat: “Persoonlikheid is ʼn stel sielkundige eienskappe wat ʼn georganiseerde en relatiewe standvastig meganisme is wat beïnvloed word deur interaksie met, en aanpassing tot intra-sielkundige asook fisiese en sosiale omgewing faktore.” Om die rede sê Berens en Nardi (1998:3) dat persoonlikheid ʼn lewende sisteem genoem kan word.

Volgens Meyer et al (2003:3) is persoonlikheid bloot ʼn verlengstuk van mensekennis. Om die rede moet die twee onderwerpe, mensekennis en persoonlikheid, met mekaar in verband gebring word. Dit is ook die doel van hierdie studie. Meyer et al (2003:4) definieer mensekennis soos volg: “Mensekennis is die vermoë om jou medemens se gedrag te beoordeel, te verstaan, te verklaar en te voorspel.” Hoewel elke mens oor mensekennis beskik, besit almal dit nie in dieselfde mate nie. Sommige mense het ʼn gebrek aan mensekennis, omdat hulle byvoorbeeld die verkeerde dinge op die verkeerde tyd sê, terwyl ander hulle medemense só goed

69

|

P h . D G J N i e m a n n

verstaan dat dit soms voorkom asof hulle ander se gedagtes kan lees. Derlega et al (2005:5) beskryf persoonlikheid in terme van interpersoonlike vaardighede of vermoëns. Mensekennis is veral gebaseer op vier inligtingsbronne, naamlik kulturele oorlewing, mededeling, die waarneming van ander, en selfwaarneming.

Kultuurgoedere soos byvoorbeeld spreekwoorde verskaf volgens Louw en Edwards (2003:518) baie inligting oor die aard van die mens. Verder bestaan daar in elke sosiale groep opvattings en stereotipes oor mense in die algemeen, en oor die eienskappe van sekere mensetipes, byvoorbeeld die stereotipe dat mense met rooi hare kort van draad is. Dié soort kennis is volgens Cherniss en Goleman (2001:5) egter nie altyd betroubaar nie. Dit is onsistematies, onakkuraat, soms teenstrydig en soms eenvoudig foutief. Dieselfde geld vir die ander bronne van ons mensekennis. In die geval van mededelings van mense oor hoe hulle ander mense en hulself sien, weet ʼn mens nooit hoe betroubaar, noukeurig en eerlik die mededeling is nie. Die mens se eie waarnemings van sy/haar eie en ander se gedrag is eweneens onvolledig, onsistematies, dikwels onakkuraat en meestal sterk gekleur deur ʼn subjektiewe beoordeling en bevooroordeling. Daarom spits die studies van persoonlikheid volgens Meyer et al (2003:5) toe op spesifieke eienskappe van die individu en op verskille tussen persone. Dit dek dus in wese dieselfde terrein as mensekennis, naamlik dít wat iemand in staat stel om te kan sê hoe goed hy/sy iemand en hom/haarself ken.

Weiten (2004:343) gaan verder deur daarop te wys dat persoonlikheid uit karaktereienskappe, gemoedsgesteldheid, aktiwiteitsvlak en emosionele reaktiwiteit bestaan. Pervin et al (2005:295) sluit hierby aan om persoonlikheid te definieer as die individuele verskille in gemoedsgesteldheid en emosionele reaktiwiteit. Persoonlikheid bepaal of persone buigsaam en rustig of rigied en buierig is. Ook bepaal persoonlikheid die vlak van weerstand teen stres en die vlak van aanpasbaarheid in nuwe situasies.

Briggs-Meyers et al (2003:21) dui aan dat die woord “persoonlikheid” in die algemene spreektaal met verskillende betekenisse gebruik word: Eerstens word die woord persoonlikheid dikwels gebruik om op een of ander sosiale aspek van ʼn persoon te dui. Soms word daarna verwys dat ʼn persoon ʼn “sterk persoonlikheid” het, met die bedoeling dat daardie persoon hom- of haarself maklik kan uitdruk of sy/haar mening kan lug. Tweedens word persoonlikheid gebruik om na iemand se gewone gedragswyse of geaardheid te verwys. Volgens Derlega et al (2005:5) stem hierdie

70

|

P h . D G J N i e m a n n

gebruik van die woord persoonlikheid hoofsaaklik ooreen met die wyse waarop persoonlikheid in die sielkunde en personologie gebruik word.

Volgens Sue et al (2010:203-204) verskil Individue in die mate waarop hulle persoonlikheidseienskappe vertoon. Twee persone kan byvoorbeeld totaal verskillend in dieselfde situasie optree. Een persoon kan byvoorbeeld kalm wees en sy/haar tyd effektief benut terwyl ʼn ander persoon gespanne is en dit moeilik vind om stil en rustig te sit en werk. Wanneer twee persone kritiek ontvang kan die een teruggetrokke raak en die feit dat hy/sy seergemaak voel verberg, terwyl die tweede persoon onmiddellik negatief reageer en hom- of haarself aktief verdedig. Daar is volgens Larsen en Buss (2010:95) bewyse dat persoonlikheidseienskappe konstant bly van een situasie na die volgende. Van ʼn persoon wat byvoorbeeld baie openlik en vriendelik is, kan verwag word om openlik en vriendelik te wees in sy werksomstandighede, by die skool, en in ʼn sosiale konteks. Hierdie selfde persoon sal waarskynlik ook openlik en vriendelik wees teenoor vreemdelinge asook mense van verskillende kultuur en ouderdomsgroepe. Pervin et al (2005:6) wys in hierdie verband daarop dat persoonlikheid eerstens verwys na universele menslike eienskappe, tweedens op individuele verskille en derdens individuele uniekheid. Volgens Papalia et al (2008:222) bly persoonlikheid relatief stabiel en blywend deur ʼn persoon se lewe. Meyer et al (2003:10) wys daarop dat persone geneig is om week na week, jaar na jaar, op ʼn bepaalde wyse te dink, te voel en op te tree. Dit beteken volgens Bennett en Bennett (2005:18) nie dat persone se persoonlikheid ten volle ontwikkel is by geboorte nie. Persoonlikheid ontwikkel deur persone se lewens en word tydens lewenservaringe en in verhouding met ʼn sosiale- en kulturele omgewing gevorm. In die verband wys Derlega et al (2004:5) daarop dat die basiseienskappe van iemand se persoonlikheid deur sy/haar lewe voortbestaan. Persone kan bepaalde karaktereienskappe en gedrag ontwikkel en verbeter, maar die basispersoonlikheidsamestelling bly stabiel en sal lewenslank waargeneem kan word. Chess en Thomas (1996:191) wys daarop dat sekere sielkundige eienskappe soos streshanteringsmeganismes en aanpassingspatrone met verloop van tyd kan verander, verbeter of verswak. Uit wat hierbo gesê is blyk dit dat sommige persoonlikheidseienskappe aangebore is en relatief stabiel bly terwyl ander weer aangeleer word en kan verander.

Nel (2001:18) wys in die verband na persoonlikheid as ʼn “dinamiese organisasie” en ʼn integrasie wat nodig is om patrone van dink, doen en gewoontes te organiseer. Hierdie siening staan teenoor die sogenaamde biologiese benadering wat beweer

71

|

P h . D G J N i e m a n n

dat persone by geboorte reeds alle persoonlikheidseienskappe besit en lewenskonteks geen bydrae lewer nie (Sien biologiese perspektiewe tot persoonlikheid 3.4.4). Hierdie sieninge staan ook teenoor die sogenaamde sosialeleerteorie van John Locke en Bandura. Derlega et al (2005:161) wys daarop dat John Locke die mens se brein by geboorte gesien het as ʼn “tabula rasa” of in ʼn “leë toestand.” Vir John Locke het dit beteken dat die mens alle kennis moet aanleer, selfs persoonlikheidseienskappe.

Volgens Louw en Edwards (2003:514) is daar vyf algemene eienskappe van persoonlikheid:

 Persoonlikheidseienskappe vorm ʼn komplekse patroon;

 Persoonlikheidseienskappe beïnvloed elke aspek van persone se lewe;  Persoonlikheidseienskappe is grootliks onbewustelik (persone is meestal

onbewus daarvan);

 Persoonlikheidseienskappe is tot ʼn groot mate outomaties (persone het min beheer daaroor);

 Persoonlikheidseienskappe kan nie maklik verander word nie.

Vir die doeleindes van hierdie studie gaan die definisie van Meyer et al (2003:10) gebruik word. Die rede vir hierdie besluit berus op die feit dat hierdie definisie persoonlikheid as ʼn organisasie van alle liggaamlike of biologiese, psigiese en geestelike eienskappe beskou. Sodoende word die mees omvattende sintese van verskeie persoonlikheidteoretisering weergegee:

“Persoonlikheid is die gedurige veranderende, maar tog relatief stabiele, organisasie van alle liggaamlike, psigiese en geestelike eienskappe van die individu wat sy of haar gedrag bepaal, in interaksie met die konteks waarbinne die persoon hom of haar bevind.”

Met inagneming van die bogenoemde definisie van persoonlikheid is dit belangrik om te verstaan dat die verskillende sielkundige prosesse ʼn geheel vorm. Persone funksioneer as ʼn georganiseerde geheel. Dit is in die lig van hierdie organisasie (fisiese, psigiese en geestelike aspekte) wat die mens verstaan moet word.