• No results found

VOORVEREISTES VIR NEGOTIORUM GESTIO

Ltd 16 beslis die hof egter:

5. Utiliter coeptum

’n Negotiorum gestor sal slegs op grond van sy behartiging van ’n ander se belange kan ageer indien sodanige behartiging op ’n nuttige of redelike (utiliter) wyse geskied het.52 Hoewel sekere Romeinsregtelike bronne hierdie vereiste op

billikheidsoorwegings baseer,53 koppel ander dit aan die noodsaaklikheid

(necessitas) van die gestio.54 Dit blyk egter duidelik dat utilitas en necessitas nie

in hierdie konteks as sinonieme beskou is nie.55 Dit was nie nodig dat optrede

48 D 3 5 5 6; Pothier Contrat de Mandat : par 169; Van Niekerk 1992: 172.

49 D 3 5 30 7; 10 3 6 2; 42 5 9 4; Pothier Contrat de Mandat : par 170; Vergelyk ook Rademeyer and Others v Rademeyer and Others: 10G.

50 1992: 172.

51 Van Niekerk 1992: 172 vn 146 verwys na Stoljar 1984: 96-99 en 102-103 wat van mening is dat ‘n gemengde bedoeling waarvolgens die gestor nie die belange van die dominus geheel en al verontagsaam nie voldoende sal wees.

52 Hoewel ‘n verskeidenheid verskillende vertalingsmoontlikhede vir die woord “utiliter bestaan, doen Van Zyl 1985: 40 vn 167 aan die hand dat die konsep van redelikheid omvattend genoeg is om al sodanige moontlikhede te dek. Kyk ook Van Zyl 1977: 314- 315; Van Niekerk 1992: 173; Eiselen en Pienaar 1999: 205; Thomas ea 2000: 370-371; Van der Merwe ea 2003: 493; Whitty en Van Zyl 2004: 376 ev; Sonnekus 2007: 156; Visser 2008: 567 en vn 9 op gemelde bladsy.

53 D 3 5 2; 3 5 8; 3 5 44 pr; 17 1 50 pr; 44 7 5 pr; Inst 3 27 1; C 2 18 2; 2 18 10-11. 54 Byvoorbeeld D 3 5 21 en 3 5 45 pr.

wat uit utiliter - oorwegings voortgespruit het in omstandighede van dringendheid of noodsaaklikheid moes plaasgevind het nie, al mag sodanige omstandighede dikwels aanwesig gewees het.56

Die gestio hoef nie te alle relevante tye utiliter te wees nie. Mits dit utiliter was toe die behartiging van belange ’n aanvang geneem het, sal die gestor geregtig wees op die gewone remedies, selfs al was die resultaat van die gestio

onsuksesvol of oneffektief.57 Dit is dan die rede waarom die utiliter - vereiste

gewoonlik omskryf word as utiliter coeptum.58

Van Zyl59 wys daarop dat die utiliter - vereiste op uiteenlopende maniere in Suid- Afrikaanse gewysdes uitdrukking gevind het. In Wolmaransstad Ko-

operatiewe Vereniging v Leask and Co60 is utiliter byvoorbeeld omskryf as:

“that is necessarily, what was indispensable to be done”.61

In Amod Salie v Ragoon62 is voldoening aan die utiliter - vereiste skynbaar

gekoppel aan die standaard van goeie trou (bona fides) van die gestor, ’n

56 Pothier Contrat de Mandat : par 220-224 beklemtoon ook die noodsaaklikheid van die behartiging van belange, maar wil dit voorkom asof hy nie noodsaaklikheid voorhou as ’n afsonderlike voorvereiste vir die instel van die aksies wat uit negotiorum gestio voortvloei of as ’n essensiële eienskap van negotiorum gestio nie. Kyk ook Van Niekerk 1992: 173; Whitty en Van Zyl 2004: 377-378; Visser 2008: 567 vn 9.

57 D 3 5 9 1; 3 5 11 2; Pothier Contrat de Mandat : par 221-224; Grotius Inleidinge : 3 27 5; Voet Commentarius : 3 5 9-10; Van Leeuwen Cens For : 1 4 26 4; Wessels 1951: par 3552 – 3620; Rubin 1958a: 23-28; Van Zyl 1977: 314-315; Van Niekerk 1992: 173; Eiselen en Pienaar 1999: 205; Thomas ea 2000: 371.

58 Dit wil sê, om aan te dui dat die betrokke aktiwiteit op ’n “nuttige” of “redelike” wyse ‘n “aanvang moes geneem het”. D 3 5 9 1 in fin.

59 Van Zyl 1985: 42. 60 Op 276.

61 Van Zyl 1985: 42 wys daarop dat hierdie definisie die aanwesigheid van noodsaaklikheid as vereiste omstandigheid oorbeklemtoon terwyl dit inderwaarheid nie ‘n voorvereiste vir aanspreeklikheid in terme van die negotiorum gestio is nie. Kyk ook Colonial

Government v Smith & Co: 392 vir ‘n soortgelyke benadering. 62 Op 103.

benadering wat ook in die volgende dictum van Williams’ Estate v

Molenschoot and Schep (Pty) Ltd63 te bespeur is:

“But it seems to me that if once this relationship exists, then as between dominus and gestor the actions both directa and contraria

necessarily also come into being – at least if the negotiorum gestor

has acted in good faith, irrespective of the fact that there may also be concurrent rights of action against a third person who gave the unauthorized instructions”.

In die saak van Standard Bank Financial Services Ltd v Taylam (Pty) Ltd64 is die kriterium vir utiliter - optrede klaarblyklik gebaseer op billikheidsoorwegings, hoewel die begrip “noodsaaklikheid” ook weer deur die hof opgehaal is:

“The law does not allow rights to be acquired by meddling indiscriminately in the affairs of another, but meddling is allowed in circumstances where such meddling is necessary in order to do justice between man and man”.65

Die sogenaamde “voordeel-teorie” is ‘n benadering wat met betrekking tot die

utiliter - vereiste in ons gewysdes ter sprake gekom het en wat verdere bespreking regverdig. In Klug and Klug v Penkin66 verskyn die volgende

dictum :

“It seems to be clear law that a person who manages the affairs of another without a mandate from him, has as a general rule a right

63 Op 367.

64 1979 (2) SA 383 (K). 65 Op 392.

of action to recover from him, inter alia, necessary and useful expenses incurred, if the person whose affairs have been managed has accepted the benefit of such unauthorized management”.

Dié teorie word deur Rubin67 gekritiseer deurdat hy daarop wys dat die effek van

die utiliter coeptum - reël sodanig is dat daar hoegenaamd geen voordeel die

dominus hoef toe te kom nie, op voorwaarde dat die gestio met die aanvang daarvan utiliter was. ‘n Verdere punt van kritiek teen die voorstel dat die

dominus die voordeel wat deur die behartiging van sy belange teweeg gebring is, moet aanvaar, is daarin geleë dat dit uitgelê sou kon word as ’n ex post facto

ratifikasie van die gestio deur die dominus, welke ratifikasie daarenteen gelei het tot die ontwikkeling van eiesoortige beginsels wat daarop betrekking het.68

Daar word van ‘n objektiewe benadering gebruik gemaak om vas te stel of die behartiging van belange voldoen aan die utiliter coeptum - vereiste: as die spesifieke optrede van so aard was dat die dominus dit self, al die omringende omstandighede inaggenome, sou onderneem, bestaan daar min twyfel dat sodanige optrede as utiliter beskou sal word, ongeag die finale uitslag daarvan.69

67 Rubin 1958a: 26. Van Zyl 1985: 43 steun Rubin se kritiek teen die onderhawige teorie waarvoor steun uitgespreek of daarop gesinspeel is in ‘n aantal beslissings, hoewel indirek, byvoorbeeld Karsten v Forster 1914 CPD 919: 923, Spencer v Gostelow: 617 en Lodge v Modern Motors Ltd 1957 (4) SA 103 (SR). Kyk ook Sonnekus 2007: 156 vn 17.

68 Van Zyl 1985: 43 en voetnote 73-86, 289-290.

69 Joubert en Van Zyl 2009: par 24. Van Zyl 1985: 43-44 waarsku egter dat hierdie nie ’n algemene stelling, onlosmaaklik verbonde aan die utiliter – vereiste, is dat die gestio van so aard moes gewees het dat die dominus dit self sou uitgevoer het nie. Indien dit wel die geval was, sal die objektiewe kriterium in gevaar gestel word deurdat ’n swaar bewyslas op die gestor geplaas word wat inhou dat hy sal moet aantoon dat die subjektiewe ingesteldheid van die dominus sodanig sou gewees het dat hy inderdaad sy eie belange sou behartig het. Kyk ook Van Niekerk 1992: 173; Visser 2008: 567 vn 9 en die bronne aldaar aangehaal, spesifiek dié van Whitty en Van Zyl 2004: 379-380.

Pothier70 stel voor dat indien die gestor die geleentheid gehad het om die

dominus in verband met die behartiging van sy belange te raadpleeg en versuim het om dit te doen, die dominus mag pleit dat die gestio nie utiliter was nie omrede hy definitief nie van die gestor se dienste gebruik sou gemaak het indien laasgenoemde hom daaromtrent sou genader het nie. Indien die dominus nie geraadpleeg kan word as gevolg van sy afwesigheid of een of ander rede nie, sal hierdie pleit aan die ander kant nie slaag nie indien die gestio onsuksesvol blyk te wees. Van Zyl71 doen egter aan die hand dat hierdie kwessie slegs een van die

faktore en omstandighede moet wees wat in ag geneem word ten einde te bepaal of ‘n spesifieke optrede aan die utiliter - vereiste voldoen het al dan nie. Op voorwaarde dat die gestio utiliter coeptum was, mag die goeie trou of subjektiewe bedoeling van die gestor ten tyde van die behartiging van die

dominus se belange in werklikheid nie in ag geneem word om te bepaal of die optrede van die gestor utiliter was of nie.72

Talryke voorbeelde van die behartiging van belange waarin die utiliter - vereiste figureer, word in ons gemeenregtelike bronne aangetref. So is daar byvoorbeeld die geval waar die gestor ‘n huis herstel wat dreig om ineen te stort of na ‘n siek slaaf omsien, waarna die huis afbrand of die slaaf te sterwe kom. In beide gevalle is daar aan die vereistes vir negotiorum gestio voldoen, selfs al was die uiteindelike resultaat rampspoedig gewees, en is die gestor geregtig om die actio negotiorum gestorum in te stel.73 Indien die onsuksesvolle uiteinde van die

gestio egter te wyte is aan die skuld van die gestor sal hy uit die aard van die saak nie toegelaat word om terugbetaling van sy uitgawes te eis nie en staar hy selfs ‘n moontlike deliktuele eis van die dominus in die gesig.74

70 Pothier Contrat de Mandat : par 222. 71 Van Zyl 1985: 44.

72 D 3 5 9 1; Voet Commentarius : 3 5 10.

73 D 3 5 9 1 (Ulpianus); Pothier Contrat de Mandat : par 221.

Voorbeelde van inutiliter (nuttelose) behartiging van belange word eweneens in ons gemeneregtelike bronne aangetref. Waar die gestor byvoorbeeld meer spandeer het as wat hy redelikerwys moes, is hy slegs geregtig om ‘n bedrag te verhaal wat onder die betrokke omstandighede ‘n redelike uitgawe sou wees. As die herstelkoste derhalwe die waarde van die herstelde saak oorskry, kan die

gestor slegs die verhoogde waarde van sodanige saak verhaal.75 In effek sal nie-

nakoming van die utiliter - vereiste die gestor se eis dus beperk tot die mate waarin die dominus ongeregverdig verryk is.76

As dit nie in die belang van die dominus is dat sy skuld deur die gestor vereffen word nie omdat hy byvoorbeeld oor ‘n retensiereg of ander soortgelyke remedie beskik, kan betaling van die skuld deur die gestor eweneens as inutiliter beskou word.77 Om dieselfde rede sal die gestor remedieloos wees indien hy te veel aan

‘n krediteur van die dominus oorbetaal het.78 Waar die gestor uitgawes om vermaaklikheids- of een of ander rede aangaan wat nie as nuttig of noodsaaklik beskou kan word nie, sal sy gedrag ook as inutiliter beskou word.79

Die gestor sal nie ‘n eis tot sy beskikking hê indien iemand die uitgawe uit sy eie sak sou betaal het nie, nie as negotiorum gestor nie, maar byvoorbeeld as ‘n familielid van die dominus wat die behartiging van die belange sou onderneem het uit ‘n gevoel van piëteit of toegeneentheid.80 Wessels81 kwalifiseer hierdie

stelling egter as volg:

75 D 3 5 24; 3 5 30 4; Pothier Contrat de Mandat : 227; Voet Commentarius : 3 5 9; Wessels 1951: par 3615; Visser 2008: 567 vn 9. Kyk ook die voorbeelde aangehaal deur Sonnekus 2007: 156.

76 Van Zyl 1985: 45; Williams’ Estate v Molenschoot and Schep (Pty) Ltd: 376. 77 D 3 5 42; Voet Commentarius : 3 5 10; Pothier Contrat de Mandat : par 222. 78 D 3 5 24; Voet Commentarius : 3 5 10; Wessels 1951: par 3616.

79 D 3 5 26 pr; 15 3 3 4; Voet Commentarius : 3 5 10; Wessels 1951: par 3619.

80 C 2 18 1-2; Pothier Contrat de Mandat : par 225; Voet Commentarius : 3 5 11; Wessels 1951: par 3623; Van Zyl 1977: 315 vn 257.

81 1951: par 3624. Van Zyl 1985: 456 gaan akkoord hiermee maar wys daarop dat dit ‘n swaar bewyslas op die gestor sal plaas wat betref die bevoegdheid van die betrokke persoon.

“It is doubtful whether this rule ought to apply where the

negotiorum gestor can show that the person, who offered to manage gratis the affairs of the absent dominus, was not competent to undertake the burden”.

As die dominus egter die inutiliter behartiging van sy belange ratifiseer, is hy aanspreeklik op grond van negotiorum gestio of mandatum.82