• No results found

Leeruitkoms 2: Sosiale Ontwikkeling

2.6.2.2 Uitdagings in die samelewing beïnvloed adolessente

Alhoewel die LO-kurrikulum poog om ʼn voorkomende instrument te wees waardeur adolessente voorberei word op die volwasse lewe, kan dit egter nie uitsluitlik verantwoordelik gehou word vir die feit dat baie adolessente nie tot hierdie ideale volwassenes ontwikkel nie (Reddy et al., 2010). ʼn Verskeidenheid van voorbeelde in adolessente se lewens modelleer alternatiewe leefstylkeuses aan hom of haar (Donald et al., 2002: 253-254, Rose, 2004). Volwassenes moet herbesin oor die voorbeeld wat hul vir adolessente stel (Reddy et al., 2008). Hierdie voorbeelde waaraan adolessente blootgestel word, is dikwels kontrasterend met die voorkomende inhoud van die LO-kurrikulum.

Tabel 2.3 toon die moontlike onderwerpe wat in LO bespreek word, aan. Ten spyte daarvan dat die LO-kurrikulum onder leeruitkoms drie voorkomende inligting oor hoë-risiko gedrag insluit, bly dit ʼn

realiteit dat sulke gedragspatrone, insluitende dwelm-, alkoholmisbruik en seksuele losbandigheid, steeds toeneem in die Suid-Afrikaanse samelewing (Reddy et al. 2008). Alkohol of dwelms word dikwels as ʼn ontvlugtingsmiddel deur adolessente gebruik om die realiteit en fisiese geweld in die gesin te verwerk (Donald et al. 2010:215-217). Eksperimentering met alkohol, tabak, marijuana en metamfetamien (‘tik’) is veral ʼn algemene verskynsel onder adolessente as gevolg van groep- en portuurdruk. Adolessente poog om in te pas by hul portuurgroep of om meer volwasse voor te kom. Die misbruik van alkohol of dwelms onder jongmense lei dikwels tot die uittarting van gesag wat oor hul aangestel is. Seksuele losbandigheid hou ʼn groot gevaar in vir leerders se welstand. Leerders word blootgestel aan die risiko’s om seksueel oordraagbare infeksies, MIV/Vigs of onbeplande swangerskappe op te doen (Whitehead & Russell, 2004:6, in Rooth, 2004:6). Probleme rondom seksuele losbandigheid onder adolessente is ʼn groot bekommernis in Suid-Afrika. Seksueel oordraagbare infeksies, tienerswangerskappe, seksuele misbruik, MIV/Vigs en verwronge familieverhoudings is spesifieke probleemareas wat nouliks verwant is aan seksuele losbandigheid (Donald et al., 2002:259). Rooth (2004:6) argumenteer dat leerders vaardighede nodig het om ʼn leefstyl van MIV/Vigs te kan hanteer. Hierdie leefstyl sluit die versorging van MIV- of Vigs-lyers in. Verdere gemeenskapskwessies wat die LO-kurrikulum onder leeruitkoms een, twee en drie poog om aan te spreek, sluit familieverbrokkeling, vroeë skoolverlating en gewelddadige gedrag in. Die familiestruktuur vorm ʼn kernsisteem in die individuele adolessent se mikrosisteem. Verbrokkeling en wrywing wat binne hierdie sisteem plaasvind het ʼn direkte invloed op die holistiese ontwikkeling van die adolessent. In Suid-Afrika is die familiestruktuur besig om drasties te verbrokkel. Die LO- kurrikulum poog om die verskillende rolle in ʼn gesin en familie aan te spreek (DvO, 2002; Dilley et al., 2006). Leerders kry dus die geleentheid om hulself in terme van ʼn familiestruktuur te oriënteer. Indien hierdie struktuur wat sekuriteit aan jongmense bied verbrokkel, word adolessente meer kwesbaar gelaat vir die invloed van sy of haar portuurgroep (Cawood, 2008:50). Volgens Cawood (2008:50) word die belangrike rol wat familie en spesifiek ouers in ʼn adolessent se lewe speel, beklemtoon. Die familiestruktuur verskaf sekuriteit en veiligheid aan die adolessent. Die verbrokkeling van die struktuur is dikwels die oorsaak van ander maatskaplike probleme in adolessente se lewens (Cawood, 2008:50). Donald et al. (2002:246-247) argumenteer dat verskillende faktore binne ʼn familiestruktuur ʼn kind se lewe en lewenskeuses beïnvloed. Finansiële welvaart van ʼn familie, die grootte van ʼn gesin, enkelouer-huishoudings, tienerouerskap, werkloosheid, asook lang werksure wat ouers weg van die huis af hou verteenwoordig voorbeelde van faktore wat meer spanning en druk binne dié sisteem veroorsaak. Die toename in die verbrokkeling van families veroorsaak dat gedefinieerde outoriteitsfigure in die gesin ontbreek. Dit lei daartoe dat kinders dikwels met onduidelike dissiplinêre

grense in die ouerhuis grootword. Prinsloo (2007:156) stel dit dat die tekort aan self-dissipline in kinders se lewens dikwels ʼn uitvloeisel van die afwesigheid van duidelike grense in hul ouerhuis is. Sylvester (2010:17) verwys na verskillende literatuurbronne (Whitehead, 1993 & Popenoe, 1996) en stel dit dat kinders wat slegs by ʼn enkelma grootword, meer geneig is om deur verskillende maatskaplike probleme gekonfronteer word. Die afwesigheid van een ouerfiguur in die gesinsisteem vergroot die moontlikheid dat kinders sonder duidelike dissiplinêre grense grootword, wat dikwels die adolessent se selfbeeld verlaag. Hierdie leemte in die gesin verhoog die moontlikheid van depressie, angstigheid, akademiese en gedragsprobleme en dit kan tot selfmoordneigings binne die adolessent lei (Griesel-Roux, Ebersöhn, Smit & Elloff, 2005:253). Dit veroorsaak ook dikwels dat sulke adolessente vroeë skoolverlaters raak wie se negatiewe gedrag aanleiding tot ʼn kriminele rekord kan gee. Bendegeweld, tienerswangerskappe en lae sosio-ekonomiese omstandighede kan as redes vir hierdie verskynsel aangegee word. Inglis (2009:2) dui aan dat vroeë skoolverlating hoofsaaklik vanaf 15 jaar en ouer plaasvind. Hoewel die transformasie in onderwys binne Suid-Afrika opvoeding vir alle kinders verpligend maak, bepaal adolessente dikwels self wanneer hulle skool gaan verlaat. Vroeë skoolverlating in Suid-Afrika en spesifiek in lae sosio-ekonomiese gemeenskappe is ʼn enorme probleem. Die waarde en relevantheid wat adolessente aan die skool as ʼn opvoedingsinstansie koppel bepaal dikwels hoe lank leerders besluit om in die skool aan te bly (Donald et al., 2002: 209-210). Jongmense word vanaf ʼn jong ouderdom blootgestel aan verskeie vorme van geweld. McKendrick en Hoffman (1990:26) stel dit dat geweld en die invloed hiervan op die jonger geslag in Suid-Afrika ʼn geweldige groot sosiale bekommernis is (in Donald et al., 2002: 261). Urbani, Zulu en Van der Merwe (2004:170) argumenteer dat geweld byna ʼn algemene verskynsel in Suid-Afrikaanse skole word. Misdaad, geweld en die dra van wapens is ʼn groot probleem in dié skole (Reddy et al. 2008:46). Hierdie gewelddadige gedrag, veral bendegeweld, belemmer die suksesvolle funksionering van ʼn skoolgemeenskap en lei dikwels tot fisiese geweld, vandalisme, afknouing, intimidasie en teistering (Centre of the Study of Violence and Reconciliation, 2000, in Rooth 2005:6). Ten spyte hiervan, poog die LO-kurrikulum om die voorkoming van gewelddadige gedrag te verseker.