• No results found

Leeruitkoms 2: Sosiale Ontwikkeling

1: Bron 2: Inhoud van die getranskribeerde onderhoud 3:Kodering Brief

3.7 Geldigheid en betroubaarheid van die studie

Geldigheid en betroubaarheid vorm die fondasie vir die kredietwaardigheid van enige navorsingstudie (Le Grange, 2001:89). Geldigheid van kwalitatiewe navorsing verwys na die mate waarin die bevindinge van die studie betekenisvol en sinvol is (Babbie, 2008:146). Dit vereis van die navorser om sy of haar studie noukeurig te konseptualiseer in terme van die wyses van data-produsering, data- analisering en die interpretasie daarvan (Louw, 2010:66). Die definisie van geldigheid is dus tweeledig: eerstens moet daar bepaal word of die meetinstrumente wel meet wat dit veronderstel is om te meet, en tweedens moet bepaal word of die instrumente akkuraat gebruik is (Bush, 2002:65). Betroubaarheid verwys na ʼn tegniek of metode se konsekwentheid. Indien dieselfde metode of tegniek herhaaldelik op dieselfde voorwerp toegepas word en die resultate steeds dieselfde bly, sou daar aanvaar kon word dat die metode betroubaar is (Babbie en Mouton 2001: 119).

Twee tipes geldigheid kom in die algemeen voor. Interne geldigheid verwys na die akkuraatheid waarmee die navorser sy of haar bevindinge binne ʼn sekere konteks beskryf. Dit verwys dus na die mate waartoe die bevindinge ooreenstem met die realiteit wat bestudeer word (Merriam, 2009:178). Eksterne geldigheid verwys na die mate waarin die bevinding van hierdie studie tot ander gevalle veralgemeen kan word. In hierdie studie gebruik ek triangulasie, die kontrolering van mede- deelnemers, asook die kontrolering van medekollegas om die geloofwaardigheid van my studie te verhoog.

Poggenpoel (1998, in Wevers & Steyn, 2002:206) verwys na Guba en Lincoln se model van betroubaarheid wat verseker dat ʼn kwalitatiewe studie betroubaar kan wees. Die volgende vier strategieë word in hierdie model gebruik: geloofwaardigheid, toepasbaarheid, betroubaarheid en bevestigbaarheid. Binne hierdie model bestaan elke strategie uit verskillende kriteria wat gebruik is om die model op hierdie studie te kon toepas. Ek bespreek daarom volgende hierdie vier strategieë en betrokke kriteria om die betroubaarheid en geldigheid van hierdie studie te bewys (Poggenpoel, Nolte,

Dörfling, Greeff, Gross, Muller, Nel & Roos; 1994:132; Merriam, 2009:180; De Vos et al. 2011: 420; Williams, 2007:113).

Ten einde geloofwaardigheid as strategie op hierdie studie toe te pas, is daar aandag geskenk aan die triangulasie, reflektiwiteit en kontrole. Triangulasie sluit die gebruik van verskeie databronne en metodes in en is ʼn effektiewe metode om die geldigheid en betroubaarheid van kwalitatiewe navorsing te bevestig (Babbie et al., 2001:277). Ek het reeds genoem dat twintig individuele onderhoude met tien graad 8-leerders gevoer is. Twee fokusgroeponderhoude is met dieselfde tien deelnemers gevoer. Twee kwalitatiewe vraelyste is deur elke bereidwillige graad 8-leerders in die vorm van ʼn brief (persoonlike dokumentasie) voltooi. Veldnotas is deurlopend gemaak. Die data wat deur verskillende metodes geproduseer is, is met mekaar vergelyk. Hierdie proses het my gehelp om ʼn betroubare oudit af te lê. Die geldigheid van die bevindinge is bevestig deurdat raakpunte tussen literatuur en die bevindinge gevind is (Merriam, 2009:175; De Vos et., 2011:277-278). Reflektiwiteit verwys na die veldnotas wat ek tydens my ondersoek gemaak het. My eie agtergrond en ervaring binne die navorsingsomgewing het ʼn bydrae tot hierdie studie gelewer. Ten einde te verseker dat daar streng kontrole toegepas is, was die getranskribeerde onderhoude deur die deelnemers geverifieer. Die kontrolering van kodering is deur ʼn medekollega gedoen. Bevindinge is aan die hand van literatuur gekontroleer en bevestig.

Die tweede strategie wat ek aan die hand van Guba en Lincoln se model (1981) gebruik het, was toepasbaarheid. Ek het spesifiek aandag geskenk aan die ewekansige steekproef, eksterne geldigheid en die ryke beskrywing van die navorsingsmetodologie. Hoewel kwalitatiewe navorsing gewoonlik geassosieer word met doelgerigte en ʼn spesifieke seleksie van die steekproef, het ʼn ewekansige steekproef beter by die konteks van hierdie studie gepas. Die rede hiervoor was omdat ek hierdeur kon verseker dat geen etikettering sou plaasvind nie. Voordat die steekproef geselekteer is, het ek vooraf toestemming by die 224 graad 8-leerders verkry om moontlik deel uit te maak van hierdie studie. Daar was 23 leerders uit die graad wat nie wou deelneem aan die studie nie. Die res van die leerders se name is in ʼn hoed gegooi en tien name is daaruit getrek. Ten opsigte van eksterne geldigheid, is dit belangrik om te belig dat ek nie deur die studie probeer het om universele waarhede (byvoorbeeld statistiese veralgemenings) te verkry nie. Daar word nie gepoog om die bevinding van hierdie studie tot ander situasies en kontekste te veralgemeen nie, maar die spesifieke bevindinge van hierdie studie kan moontlik op soortgelyke situasies en navorsingskontekste van toepassing wees (Merriam, 2009:175). Dit sal dus eerder aan die persone in ʼn ander konteks oorgelaat word om te bepaal of die bevindinge van hierdie studie ook van toepassing op hulle konteks kan wees. ʼn Ryk beskrywing van die navorsingsmetodologie is reeds in hierdie hoofstuk gegee en in hoofstuk vier beskryf ek die bevindinge aan die hand van literatuurkontrole en aanhalings uit die data. Die leser sal dus self oor die toepasbaarheid van hierdie bevinding op ʼn ander konteks en situasie kan besluit.

Derdens gebruik ek ʼn betroubare oudit, ryk beskrywing en triangulasie om die strategie van betroubaarheid op hierdie studie toe te pas. Die onderhoudskedules, kategorieë en sub-kategorieë vanuit die data is getoets deur ʼn kollega, medenavorsers en my studieleier. ʼn Ryk beskrywing van die navorsingsmetodologie is reeds in hierdie hoofstuk uiteengesit. Ek het reeds triangulasie onder die strategie van geloofwaardigheid bespreek. Die laaste strategie wat gebruik word ten einde geldigheid te bevorder, is die bevestigbaarheid van hierdie studie. Dié strategie word deur triangulasie en reflektiwiteit op die studie toegepas. Deur die gebruik van triangulasie, word die bevindinge bevestig. Die refleksie op my eie geleefde ervarings binne hierdie navorsingskonteks en veldnotas wat deurentyd gemaak was, dra by tot die bevestigbaarheid van hierdie studie.

3.7.1 Kontrolering met deelnemers

Die doel van hierdie strategie is om die geproduseerde data en die interpretasie daarvan met die databron te kontroleer. Die proses waardeur die deelnemers hul eie ervarings herken, staan sentraal tot die kredietwaardigheid van interpretatiewe navorsing (Krefting, 1991:219, in Le Grange, 2001:90). Kontrolering met deelnemers sluit die bevestiging van die navorser se data en die interpretasie daarvan in. Hierdie metode verseker dat enige misinterpretasies uitgesluit word. Ter afsluiting van my individuele onderhoude het ek deur my eie afleidings vanuit ons gesprek met die deelnemers gesels ten einde te verseker dat dit in lyn was met hulle bedoelings. Die deelnemers het die getranskribeerde onderhoude geverifieer.

3.7.2 Kontrolering met medekollegas

ʼn Kollega en medenavorsers het die data-analiseproses gekontroleer ten einde te verseker dat eenhede van betekenis geloofwaardig saamgestel is en dat geen noodsaaklike data verlore gegaan het nie. Twee kollegas het kommentaar gelewer oor die beskrywing van die navorsingskonteks ten einde te verseker dat dit geloofwaardig is. ʼn Opmerkingsbladsy is deur ʼn kollega voltooi ten einde te bepaal of die profiele van die reeks fiktiewe karakters wel ʼn verteenwoordiging van die hele gemeenskap is. ʼn Voorbeeld hiervan word by Addendum M ingesluit.