• No results found

Leeruitkoms 2: Sosiale Ontwikkeling

2.10 Gebruik van Gevallestudies

Soos reeds gestel ondersoek ek in hierdie studie die gebruik van gevallestudies as ʼn onderrigstrategie en gebruik ook ʼn gevallestudie as navorsingsmetodologie. Wanneer gevallestudies as ʼn onderrigstrategie gebruik word, bied dit aan leerders die geleentheid om hulself in die karakter binne die gevallestudie se posisie te plaas (Hammond, 1976).Die Universiteit van Calgary in Kanada beskryf gevallestudies as ʼn scenario of probleem wat in storieformaat aangebied word, en verteenwoordig gewoonlik ʼn kwessie wat verbind word aan ʼn gebeurtenis, ʼn aktiwiteit of ʼn probleem (Connecting theory to practice, 2004). Gevallestudies word dikwels saamgestel om probleme in die veld waar dit gebruik word te beskryf en te beklemtoon (Miller & Mark, 1999:88). Fry (1999) definieer gevallestudies as ʼn komplekse demonstrasie van die kernpunte of probleme wat bespreek wil word. Gevallestudies word ook gedefinieer as ʼn toegepaste voorbeeld van teoretiese konsepte, en word voorgehou as ʼn leerdergesentreerde aktiwiteit (in Davis & Wilcock, 2004:3). Hammond (1976) beaam hierdie definisies van gevallestudies. Hy stel dit dat ʼn gevallestudie ʼn beskrywing is van ʼn situasie of scenario binne die konteks van sekere gebeure, mense en faktore wat dit beïnvloed, en gevallestudies laat leerders toe om hiermee te identifiseer.

Deur gevallestudies poog opvoeders om teoretiese konsepte op meer eenvoudige maniere aan leerders te verduidelik. Gevallestudies word ontwikkel deur ware verhale of deur fiktiewe situasies wat gebaseer word op alledaagse waarnemings en ervarings (Connecting theory to practice, 2004). Gevallestudies word dus beskou as verhale en verteenwoordig alledaagse realiteite, komplekse en kontekstuele situasies. Lawrence (1950, in Barnes, Christensen & Hansen 1994:45) stel dit dat ʼn goeie gevallestudie ʼn medium is waardeur alledaagse waarhede of gebeurtenisse op ʼn realistiese manier in die klaskamer ingeneem word. Sodoende bied die gevallestudie ʼn platform aan leerders en opvoeders om dit te bespreek. Volgens Barnes et al. (1994:45) is ʼn goeie gevallestudie ʼn realistiese situasie waarmee leerders en opvoeders kan identifiseer. Gevallestudies as ʼn onderrigstyl verbreed die leerders se begrip rondom sekere sleutelkonsepte in die leerarea. Hierdie metode het die potensiaal om die individu se kritiese denke te ontwikkel, en demonstreer aan leerders toegepaste voorbeelde van aktuele lewenssituasies (Brooke, 2006:142). Die gebruik van gevallestudies in die klaskamer word oor ʼn wye veld in die onderwys toegepas. Barnes et al. (1994:45) beaam Brooke (2006) se mening deurdat die outeurs ook argumenteer dat hierdie onderrigmetode ʼn belangrike rol speel in die ontwikkeling van essensiële vaardighede en kritiese denke.

2.10.1 Voordele van gevallestudies

Opvoedkundige navorsing toon dat gevallestudies baie effektief in die klaskamer gebruik word. Omdat gevallestudies teoretiese konsepte prakties demonstreer, word die gaping tussen die teoretiese inhoud van die kurrikulum en die praktiese toepassing daarvan oorbrug (Barkley, Cross & Major, 2005:182; Davis & Wilcock, 2004:4; Raju & Sankar, 1999: 501). Gevallestudies plaas dus die kurrikuluminhoud binne konteks van die aktuele wêreld buite die klaskamer en dit maak die inhoud meer relevant tot die leerder se wêreld en sy of haar begrip daarvan (David & Wilcock, 2004:4). Aktuele wêreldkwessies wat deur gevallestudies aan die leerders voorgehou word, stel leerders in staat om hierdie kwessies in die klaskamer te ondersoek en te bespreek. Gevallestudies bemagtig leerders deur die ontwikkeling van sleutelvaardighede soos kommunikasie, groepwerk, probleemoplossing, besluitneming, asook kritiese denke. Leerders word aangemoedig om verskeie aspekte en perspektiewe rondom ʼn sekere probleem te ondersoek. Deur middel van gevallestudies kan leerders die oorsake van probleme makliker identifiseer en herken. Sodoende stel gevallestudies hul in staat om krities oor die probleem en oorsake van die probleem te reflekteer en te redeneer (Davis & Wilcock, 2004:4; Center for Teaching and Learning, 1994:1). Gevallestudies is ʼn effektiewe en interaktiewe onderrigstrategie waardeur die fokus vanaf ʼn opvoedergesentreerde na ʼn leerdergesentreerde klaskamer verskuif (Grant, 1997, in Davis & Wilcock, 2004:4). Volgens Mustoe en Croft (1999) neem studente se motivering en geïnteresseerdheid in ʼn leerarea ook toe deur die gebruik van gevallestudies (in Vaugeois, 2005:2).

Wanneer leerders met karakters binne die gevallestudies kan identifiseer, besit die gevallestudie die potensiaal om leiding aan leerders se keuses en optrede te bied (Davis & Wilcock, 2004:4). Navorsing deur hierdie outeurs toon aan dat leerders die gebruik van gevallestudies as opwindend en leersaam vind. Uit hulle bevindinge dui leerders aan dat gevallestudies voorbeelde van teorie binne die aktuele wêreld aan hulle voorhou (Davis & Wilcock, 2004:5). Leerders word aktief by die leerproses betrek en bevorder dus die deelname en aktiewe leer in die klas (Bonwell & Eison, 1991; Using Cases in teaching, 2004; Brooks & Brooks, 1999:15).

2.10.2 Die ontwikkeling en gebruik van gevallestudies

As opvoeder is dit moontlik om jou eie gevallestudies te ontwikkel, maar dit is nie ʼn maklike of eenvoudige taak nie. Hierdie proses kan baie tydsaam wees. Ten einde die proses te vergemaklik kan die opvoeder gevallestudies skep wat gebaseer word op sy of haar professionele ervaring of deur aktuele gebeurtenisse (Speaking of Teaching, 1994:2). Davis (1993) beskryf ʼn effektiewe gevallestudie as ʼn studie wat ʼn aanloklike storie vertel, wat die individu prikkel en nuuskierig laat oor die kwessies wat dit poog om aan te spreek. Die ontwikkeling en gebruik van gevallestudies vervang die gebruik

van tradisionele onderrigstrategieë oor dieselfde onderwerp en kan innoverend van aard wees. Een leerarea kan opgedeel word in verskillende onderwerpe en elke opvoeder wat daardie leerarea aanbied kan die geleentheid gebruik om ʼn gevallestudie onder die tema van hul keuse uit te werk. Opvoeders vind dit makliker en meer bevredigend wanneer hulle ʼn gevallestudie kan uitwerk wat ooreenstem met hul belangstelling en ervaringsveld. Die ontwikkeling van gevallestudies kan ook uitgebou word deur die opvoeders se eie professionele ervaring binne een spesifieke opvoedkundige konteks of deur sy of haar interaksie met ander skoolinstansies (Davis & Wilcock 2004:6).

Gevallestudies word meestal op tersiêre onderrigsveld gebruik. Hierdie onderrigstyl is meer algemeen in die sosiale en lewenswetenskappe, maar is ʼn onderrigstrategie wat effektief in enige leerarea toegepas kan word (Barkley, Cross & Major, 2005:182). Gevallestudies word gebruik waar vaardighede en beginsels van die kurrikulum met die ervaringswêreld van die leerders geïntegreer word. Daarom het die gebruik van hierdie onderrigstrategie uitgebrei na verskillende dissiplines, insluitende wetenskap, wiskunde, literatuur en geskiedenis. Binne die veld van ingenieurswese beklemtoon Raju en Sanker (1999:501) die noodsaaklikheid daarvan om gevallestudies te gebruik. Dit is belangrik om kwessies uit die praktyk met die teorie te integreer en sodoende aan leerders voor te hou (Raju & Sanker,1999:501).

Burk (2000:2) is van mening dat die primêre doel van die gebruik van verhale en gevallestudies as onderrigstrategie, is om aan leerders ʼn stem te gee waardeur selfwaarde en kulturele trots gedemonstreer word en verskillende ervaringsvelde uitgebou kan word. Sy gebruik op verskillende maniere die verwysingsraamwerk van studente in die klaskamer. Burk (2000:1) stel dit dat die geleentheid vir hoë-risiko leerders geskep moet word om hul persoonlike ervarings met hul klasmaats en opvoeder te deel. Hogg (1995, in Burk, 2000:1) meen dat hierdie onderrigstrategie bemagtigend van aard kan wees, en kan ʼn individu se selfvertroue en vertroue in sy of haar klasmaats ontwikkel. Terselfdertyd skep dit ʼn verhaal en situasies waaruit almal in die klas kan leer. Die gebruik van persoonlike stories in ʼn klaskamer oorbrug kulturele verskille en stel die individu in staat om sy of haar kulturele erfenis te ontdek (Burk, 2000:1). Pflaf en Wiesner (2007) gebruik ook persoonlike verhale in die klas waar volwasse studente onderrig word. Die volwassene kry die geleentheid om sy of haar eie lewensverhaal of -ervaring op ʼn narratiewe manier met die klas te deel. Die individu wat sy of haar storie vertel kry ook die geleentheid om ʼn objektiewe perspektief daaroor in te neem. Hierdie strategie blyk ʼn kragtige medium vir onderrig van volwassenes te wees. Pflaf en Wiesner (2007:11) beaam Burk (2000:8) se mening dat elke verhaal die geleentheid skep vir ander om daaruit te leer. Die effektiewe gebruik van verhale oorbrug kultuurgrense en dit verskaf vir die individu ʼn groter begrip van diverse

kulture (Burk, 2000:9). Hierdie outeur stel dit ook dat verskillende kulture verskillend op bepaalde gevallestudies sal reageer. Multi-kulturele verhale of dialoë bied die geleentheid tot inklusiwiteit en kan dus ʼn kragtige onderrigmedium wees (Kasworm, 1993:163). Ten einde die belangrikheid van inklusiwiteit en ʼn platform om hul verhaal te vertel, te belig, stel Kasworm (1993:163) dit dat “we need to speak to the uniqueness of every student, rather than creating ghettos of exclusion”. Hierdie outeur is dus van mening dat die gebruik van gevallestudies en verhale dus die potensiaal het om inklusiwiteit te verhoog.

Die onderrigstrategie wat opvoeders kies om te gebruik word beïnvloed deur hul eie lewenstorie en - ervaring (Pagano, 1991:266). Hierdie skrywer stel dit dat “students’ stories and questions do not displace the curriculum or the texts; they become part of it, just as our own stories and questions are part of our teaching”. Hy is egter van mening dat die inhoud van die kurrikulum aan die hand van persoonlike stories van leerders en opvoeders oorgedra kan word. Grumet en Pinar (1981) beaam Pagano se argument deurdat sy dit stel dat die kurrikulum aan leerders die geleentheid moet bied om hul eie lewensverhaal te vertel. My eie ervaring binne die skoolgemeenskap beaam Kasworm (1993) en Pagano (1991) se argumente. Daarom het ek besluit om gevallestudies en verhale in die LO-klaskamer te gebruik. In die lig van Kasworm (1993:163) se argument het die gebruik van gevallestudies nie net die potensiaal om inklusiwiteit onder die leerders te verhoog nie, maar dit was ook waar vir myself as opvoeder. Waar ek eers as indringer deur die leerders ervaar was, het hierdie onderrigstrategie aan my die geleentheid gegee om aanklank met die verhale van leerders te vind.

2.11.1 My ervaring dra by tot die ontstaan van fiktiewe karakters

My professionele ervaring binne die navorsingsomgewing en dié spesifieke skoolkonteks het gelei tot die blootstellings aan sosiale norms en waardes van die skool en die breër gemeenskap, asook die invloed hiervan op die individuele leerder. My posisie in die skool het my blootgestel aan die leerders in my klas se persoonlike lewensverhale en verwysingsraamwerke. Die vele ooreenstemminge in die verskillende leerders se lewensverhale, asook die uitdagings en probleme waarmee die leerders gekonfronteer word, het die noodsaaklikheid vir ʼn alternatiewe onderrigstrategie belig. Die algemene afwesigheid van een van hul ouerfigure of primêre sisteme in hul mikrosisteem het dikwels aanleiding gegee tot ʼn gebrek aan toekomsvisie of rolmodelle binne hul verwysingsraamwerk. Daar het ook ʼn enorme gaping tussen my eie verwysingsraamwerk en dié van die leerders bestaan en die gevolg hiervan was dat ek Pflaf en Wiesner (2007) en Baldwin et al. (2007) se werk verweef het, ten einde ook die tweede gaping wat tussen die kurrikuluminhoud en die leerders se lewenservarings bestaan, te oorbrug.

Volgens Burk (2000:11) is onderrig deur verhale ʼn kragtige strategie waardeur die leerders ondersteun kan word ten einde meer effektiewe lewenskeuses te maak. Foran (2002) stel dit dat gevallestudies effektief en interaktief is, en dat dit die gaping tussen die kurrikuluminhoud en die praktiese toepassing daarvan oorbrug. Die werk van bogenoemde twee outeurs het my inspireer om hierdie onderrigstrategie verder te ondersoek. Hulle gebruik van verhale en gevallestudies het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van fiktiewe gevallestudies en fiktiewe karakters. Die verhale van fiktiewe karakters word saamgestel deur my eie ervaring binne die spesifieke skoolgemeenskap en dit word gegrond op die lewenservarings en verhale van leerders binne hierdie omgewing (Speaking of Teaching, 1994:2). Ek bou voort op Pagano (1991:266) se siening dat fiktiewe verhale nie die inhoud van die kurrikulum vervang nie, maar dat dit eerder deel van die kurrikulum word. Dit beteken dat die inhoud van die kurrikulum deur voorbeelde binne gevallestudies aan leerders oorgedra word. Die inhoud van die LO- kurrikulum word dus deur die gebruik van fiktiewe verhale aan die leerders voorgehou. Deur die gebruik van karakters het ek gepoog om ʼn innoverende manier te gebruik om die nasionale kurrikulum oor te dra. Die karakters is almal binne ʼn gevallestudie geskep as ʼn persoon met wie die leerders kon identifiseer. Wanneer leerders wel met hierdie gevallestudies identifiseer, skep dit ook die geleentheid aan hulle om empatie te ontlok, asook om leiding aan leerders rondom daaglikse keuses te bied (Davis, 1993; Rose, 2004). Die verhale van karakters demonstreer die uitkomste van die gevolge van keuses aan die leerders (Burk, 2000:11). Wanneer leerders aanklank vind by gevallestudies, dien dit as ʼn praktiese voorbeeld van waar teorie en die toepassing daarvan aan leerders voorgehou word (Vaugeois, 2005:1).