• No results found

Leeruitkoms 2: Sosiale Ontwikkeling

1: Bron 2: Inhoud van die getranskribeerde onderhoud 3:Kodering Brief

3.8 Etiese oorwegings in die navorsing

Tydens interpretatiewe navorsing is etiese aspekte van kardinale belang. Tydens hierdie tipe navorsing word deelnemers nie as ʼn voorwerp van bespreking aanskou nie, maar hulle menslike aksies, motiewe en ervarings word binne ʼn spesifieke konteks, op ʼn etiese manier bepaal en beskryf (Le Grange,

2001:92). Etiese oorwegings het te make met die stappe wat geneem word om die deelnemers aan die navorsing met respek, sensitiwiteit en empatie te hanteer (Louw, 2010:59).

Voor die aanvang van my studie, moes ek eers ʼn aansoek tot etiese klaring aan die Universiteit van Stellenbosch rig waarin hulle toestemming aan my verleen om deelnemers tydens die data- produseringsproses te betrek. Ek het eerstens ʼn aansoekbrief aan die skoolhoof van die betrokke skool gerig waarin ek toestemming gevra het om die navorsing in die skool te doen. Daarna is ʼn aansoekbrief aan die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gerig waarin ek aansoek gedoen het om navorsing by hierdie hoërskool in Stellenbosch te doen (Sheehy, Nind, Rix & Simmons, 2005:33, in LacKay, 2011:112). Die goedkeuringsertifikaat, Ref.No.:527/2011, asook die toestemmingsbriewe vanaf die skool en die WKOD word in die addenda ingesluit. (Sien Addendum H, I en J).

Omdat ek in hierdie studie die deelnemers se geleefde, subjektiewe ervarings oor ʼn spesifieke onderrigstrategie bepaal, was dit vir my geweldig belangrik om ten alle tye eties korrek, objektief en met respek teenoor die deelnemers en my navorsingsomgewing op te tree (Thomas, 2003:75). Ten einde die etiese oorwegings in hierdie studie te verhoog, het ek alle besluite wat ek rondom die navorsingsmetodologie sou maak heroorweeg. Ek het veral die beginsels van ingeligte toestemming, konfidensialiteit en anonimiteit oorweeg en bespreek daarom elk van hierdie beginsels volgende (Bell, 2005:57; Silverman, 2006:313).

Bell (2005:57) is van mening dat die deelnemers goed ingelig moet wees omtrent die doel van die navorsingstudie. Deelnemers moet ingeligte toestemming tot deelname verleen (Silverman, 2006:313). Dit sal beteken dat hulle ingelig is rondom die omvang en doel van die navorsing en dat hulle vrywillige, skriftelike toestemming tot die navorsing verleen. In die geval waar kinders onbevoeg is om toestemming te gee, sal toestemming vanaf hul ouers of voogde verkry word. Nadat etiese klaring verkry is, het ek die ewekansigesteekproef getrek. Ek het die tien potensiële deelnemers mondelings ingelig oor die doel van die studie. Nadat hulle vrywilliglik hiertoe ingestem het, het hulle ʼn vorm onderteken. Aangesien die leerders almal minderjarig is, het hulle ouers ook skriftelike toestemming verleen. ʼn Voorbeeld van beide hierdie vorms word in die addenda aangeheg. (Sien Addendum K en L).

Voor elke onderhoud is daar verseker dat die deelnemers die navorsingsproses en navorsingsdoel begryp het. Elke deelnemer is weer mondelings ingelig rondom die konfidensialiteit van die studie en hoe alle inligting vertroulik gebruik sou word. In die groter groepe waar die graad 8-klasse die briewe voltooi het, is daar aan hulle verduidelik dat die briewe wat geskryf word nagegaan en geanaliseer sou word en dat dele uit die briewe in my tesis aangehaal sou word, maar dat die inligting ten alle tye anoniem hanteer sal word. Die enigste persoonlike besonderhede wat die deelnemers deur die

persoonlike dokumentasie aan my deurgee het, was hulle geslag. Daar is egter steeds geen manier dat die identiteit van die leerders op grond van hul geslag geïdentifiseer sou kon word nie.

Vanuit my persoonlike kapasiteit en betrokkenheid tot hierdie studie was daar verskeie etiese kwessies wat tydens my navorsing na vore gekom het. Tydens die data-analiseproses is die deelnemers se behoefte na ʼn platform om uiting aan hul emosies en ervarings te gee beklemtoon. Die data, spesifiek die persoonlike dokumentasie, belig vele maatskaplike kwessies waaraan leerders binne ʼn Suid- Afrikaanse konteks blootgestel word. Voor die aanvang van die studie het ek nie verwag dat die deelnemers met soveel eerlikheid hul geleefde ervarings aan ʼn fiktiewe karakter sou vertel nie. Ek was ook onder die indruk dat die deelnemers besef het dat die karakters ʼn fiktiewe persoon verteenwoordig, maar dit was egter eers tydens die analiseproses dat ek die aanname gemaak het dat hierdie fiktiewe karakters in baie gevalle ʼn werklike persoon vir die deelnemers verteenwoordig het. As navorser van hierdie spesifieke studie was dit nie my doel om hierdie kwessies op te volg en op te los nie. Gegewe die aard van die data, was die identiteit van die deelnemers ook nooit aan my bekend gemaak nie. Dit was wel vir my uiters belangrik om te verseker dat die deelnemers bewus was van die ondersteuningsisteme wat binne hierdie betrokke skool bestaan. Daarom het ek die deelnemers voor en na elke kontaksessie (hetsy dit individueel of in groepsverband) herinner aan die professionele persone (maatskaplike werker, berader en sielkundige) wat voltyds in hierdie skool werksaam is. Dit was ook vir my belangrik dat die LO-opvoeder ingelig moes wees rondom die tipe kwessies wat leerders in hierdie skool moontlik mag ervaar. Daarom het ek binne die grense van konfidensialiteit aan haar ʼn mondelingse oorsig gegee van die tipe maatskaplike kwessies wat uit die data na vore gekom het. 3.9 Opsomming van die hoofstuk

In hierdie hoofstuk beskryf ek die navorsingsmetodologie van die studie. Dit sluit die navorsingsmetodes en die tegnieke wat gebruik word in. Ek beskryf die studie as post-positivisties en interpretatief van aard. Ek verwys na verskillende skrywers se definisie van gevallestudies en toon aan hoe ek ʼn gevallestudie as metode gebruik om die navorsingsvraag te beantwoord. Ek beskryf die verskillende maniere wat gebruik was om data te produseer en ek gebruik Guba en Lincoln (1981) se model om die geldigheid en betroubaarheid van hierdie studie te bespreek. Laastens beskryf ek ook die stappe wat geneem was om die etiese oorwegings van die studie te verseker.

Hoofstuk 4