• No results found

Leeruitkoms 2: Sosiale Ontwikkeling

3.6 Data-analise

Burns (2000:430) stel dit dat die primêre doel van data-analise is om betekenis in die data te vind en om hierdie inligting sistematies te rangskik en aan te bied. Bogdan et al. (1982:154) argumenteer dat wanneer data geanaliseer word, word dit opgebreek in kleiner eenhede, verskillende dele word saamgegroepeer, herhalende patrone word ondersoek, dit wat belangrik is word beklemtoon en dit bied die geleentheid dat ander hieruit kan leer. Laastens besluit die navorser wat hy of sy met ander wil deel en wat nie. Ek het reeds in hoofstuk een kortliks verwys na die stappe wat geneem is ten einde die geproduseerde data te analiseer (Taylor-Powell & Renner, 2003; Bogdan et al., 1998:66).

Vanuit die aard van my studie grond ek die analisering van data op die konstante vergelykende metode wat oorspronklik deur Glaser en Strauss in 1967 ontwikkel en bekendgestel is. Hoewel hulle hierdie metode ontwikkel het om nuwe teorieë te vestig, beskryf Merriam (2009:175) hierdie metode as inleidend en vergelykbaar. Sy argumenteer dat die konstante vergelykende metode van data-analise vergelykend en induktief van aard is waar afleidings maklik gemaak kan word. Hierdie metode word dikwels in kwalitatiewe navorsing gebruik sonder dat ʼn nuwe teorieë gevorm word.

Daarom gebruik ek in die studie hierdie metode om die geleefde ervaring van leerders in ʼn spesifieke klaskamer te bepaal, eerder as om ʼn teorie te ontwikkel (Merriam, 2009:175). Die doel van data-analise is om sin te maak van die geproduseerde data. Hierdie metode het die volgende stappe ingesluit: die insameling van verbale en nie-verbale data; transkribering en kodering van data; verifiëring van data deur die deelnemers; kategorisering van data; sub-kategorisering van data soos onderliggende temas na vore tree; vergelyking tussen ooreenstemmende kategorieë; verkenning en ontleding van patrone voortspruitend uit die verskillende databronne; en laastens, die interpretasie en aanbieding van die data (Bogdan et al.,1998:66). Die data is ook aan die hand van relevante literatuur gekontroleer. Data-

analise is ʼn proses van betekenisgenerering en gee aanleiding tot die gevolgtrekkings en die aanbevelings wat ek uiteensit in hoofstuk vyf van hierdie tesis.

Die eenheid van geïnteresseerdheid is die persoonlike belewenisse van leerders in die LO-klaskamer waar fiktiewe karakters as onderrigstrategie gebruik was. Daarom het ek deurlopend enige eenhede van betekenis geïdentifiseer wat sou aanleiding gee tot die kategorieë wat ek sal gebruik om die data te interpreteer en te bespreek. Ek het aan elke deelnemer gevra om die onderhoudtranskripsies te verifieer. Daarna het ek elke deelnemer se getranskribeerde onderhoude eers afsonderlik geanaliseer en eenhede van betekenis aan die kante van die transkripsies neergeskryf. Daarna is oor gevalle heen gewerk. Die primêre doel van die konstante vergelykende metode in hierdie studie was om deurlopende vergelykings vanuit die inhoud van die briewe en deelnemers se woorde uit die getranskribeerde onderhoude te verkry (Babbie, 2011:394).

Die aard en omvang van kwalitatiewe data (spesifiek persoonlike dokumentasie) is geneig om groot te wees en sodoende is die analiseringsproses dikwels baie tydsaam (De Vos et al., 2011: 403). Die totale aantal briewe wat ek ontvang het, was 301. Ek het eerstens onderskeid getref tussen 277 bruikbare en 24 onbruikbare briewe. Onbruikbare briewe sluit onvoltooide briewe in, byvoorbeeld briewe waar daar slegs een of twee sinne geskryf was, of waar ʼn deelnemer prentjies op die bladsy sou geteken het, in plaas van om die opdrag te voltooi. Ek het die bruikbare briewe herhaaldelik en aandagtig deurgelees om patrone en potensiële kategorieë te identifiseer. In die proses om die identifisering van die kategorieë te vergemaklik het ek eenhede van betekenis aan die kantlyn van die briewe geskryf. Briewe wat dieselfde eenhede van betekenis bevat, is saam gegroepeer. Ten einde herhaling te voorkom, maar steeds te verseker dat ek ʼn sterk verteenwoordigende steekproef uit die briewe gebruik, het ek die getal verminder en uitgedun. Hierdie proses is deur ʼn kollega en eksterne navorser getoets en daar is ooreengestem tot die gebruik van 189 briewe. Aan elke brief waaruit ʼn uittreksel geneem was, is ʼn nommer, byvoorbeeld B1, toegeken. B1 stel familiebrief een voor en DB1 stel deppresiebrief een voor. Ek het herhaaldelik deur die briewe en die onderhoude gelees ten einde eenhede van betekenis uit die kernwoorde te identifiseer wat aanleiding gegee het tot die drie kategorieë wat gebruik word om die data in hoofstuk vier te bespreek. Die inhoud van die getranskribeerde onderhoude is met die inhoud van die briewe verweef ten einde ʼn deeglike betekenis aan die navorsingsvraag te koppel. Tabel 3.1, bestaande uit drie kolomme, is ʼn voorbeeld van hoe ek die eenhede van betekenis geïdentifiseer het wat aanleiding gegee het tot die drie hoofkategorieë in hoofstuk vier. Kolom een verwys na die bron waar die uittreksel verkry is. Kolom twee bevat die uittreksel vanuit die brief of die getranskribeerde onderhoud. Kolom drie bevat die kode wat ek gebruik het om die kategorie van betekenis saam te stel. Hoewel ek die data in hoofstuk vier aan die hand van slegs drie hoofkategorieë bespreek, het ek

aanvanklik meer kodewoorde identifiseer. Dit was deur die analisering van die verskillende kodewoorde waarna ek uiteindelik op die drie hoofkategorieë en sub-kategorieë besluit het. Kolom drie in tabel 3.1 bied ʼn voorbeeld aan van die kernwoorde wat ek tydens die analiseproses geïdentifiseer het. Elke kernwoord word in ʼn verskillende kleur belig. Die laaste gedeelte van die inhoud van die kolom verwys na kodewoorde wat onder die hoofkategorie, Keuses, ingesluit word. Daarom is dié woorde in dieselfde kleur. In Addendum C en E bied ek ʼn volledige voorbeeld van ʼn onderhoud en