• No results found

Leeruitkoms 2: Sosiale Ontwikkeling

2.12 Omskrywing van ʼn fiktiewe karakter

Die konsep van fiktiewe karakters vorm die kern van my studie. ʼn Fiktiewe karakter verwys na ʼn fiktiewe persoon wat deur ʼn fiktiewe profiel aan die leerders bekendgestel word. Die profiel van elke fiktiewe karakter verwys na ʼn saamgestelde gevallestudie wat die lewensverhaal en -ervaring van ʼn karakter saamvat. Deur hierdie gevallestudies modelleer die karakter die invloed van positiewe en negatiewe lewenskeuses op sy of haar lewe. Elke karakter se verhaal bied leerders dus die geleentheid om uit die suksesse en mislukkings van die spesifieke karakter te leer en om sodoende hul eie positiewe lewenskeuses te maak.

Die gevallestudies en profiele van die fiktiewe karakters is samestellings van verskillende ervarings en observasies binne die navorsingsomgewing. Geen gevallestudie is ʼn feitelike refleksie van een individu nie. Die profiel van ʼn fiktiewe karakter verwys dus na ʼn saamgestelde gevallestudie wat die lewensverhaal en -ervaring van ʼn fiktiewe persoon omskryf. Ten einde die geldigheid van hierdie verhale en gevallestudies te bepaal het twee kollegas in die skool waar hierdie studie gedoen was

kommentaar op die geldigheid en relevansie van die karakters en hul gevallestudies gelewer. Die geldigheid word volledig in hoofstuk drie bespreek. Vir elke profielbeskrywing het ek ʼn bypassende foto vanaf Google Prente geneem wat dan die voorkoms van hierdie karakter aan die leerders sou voorstel.

2.12.1 ʼn Profielbeskrywing van een karakter

In hoofstuk vier word ʼn volledige beskrywing van al die fiktiewe karakters waarna daar in die data verwys was, gegee. As ʼn voorbeeld van ʼn profielbeskrywing, sal ek slegs een karakter, Marno, se profiel by hierdie hoofstuk insluit. Tabel 2.4, bestaande uit drie kolomme, bevat eerstens die foto van die karakter, tweedens die beskrywing van hierdie karakter se profiel en derdens dui dit ook die lesse aan waar die spesifieke karakter gebruik was.

Tabel 2.4: Voorbeeld van ʼn fiktiewe karakter se profiel

Karakter

Profielbeskrywing van karakter

LES

Marno

Marno is 27 jaar oud en ʼn suksesvolle besigheidsman, ten spyte van sy negatiewe huislike omstandighede en blootstelling aan dwelms en bendes vanaf ʼn jong ouderdom. Deur sy verhaal bespreek hy die invloed van vriende en familie op sy lewe, maar hy beklemtoon die waarde en gevolge van elke keuse wat ʼn individu maak. Hy vertel die leerders van ʼn radikale keerpunt in sy lewe en hoe hierdie traumatiese ervaring sy lewe vir altyd verander het. Marno se verhaal is ʼn verhaal van hoop omdat hy iemand is wat ten spyte van sy negatiewe omstandighede en verkeerde keuses ʼn sukses van sy lewe gemaak het. Hy inspireer jongmense om verantwoordelikheid vir hul eie lewe en hul keuses op te neem.

 Inleiding tot kurrikulum  Gesonde Leefstyl 1  Menseregte  Familiever- houdings  Vriendskap

2.12.2 Fiktiewe karakters se bydrae tot die ekosistemiese perspektief

Die ekosistemiese perspektief beskryf die wedersydse invloed wat die verskillende sisteme binne die individu se ekosisteem op mekaar sal hê (Bronfenbrenner, 1979). Hierdie model demonstreer die invloed wat die individu se keuses op die verskillende sisteme binne sy of haar ekosisteem sal hê. Wanneer leerders die gevallestudie van ʼn spesifieke karakter ontleed, het dit die potensiaal om ʼn praktiese demonstrasie van die wedersydse sistemiese invloede vir die leerders te wees. Die verskillende fiktiewe karakters en hul diverse gevallestudies skep alternatiewe geleenthede aan die adolessent om die karakters se positiewe en negatiewe lewenskeuses te ontleed en krities te evalueer. Hierdeur word die gevolge van keuses op die individu se hele ekosisteem beklemtoon. Die nasionale onderwysstelsel poog ook om leerders se besluitnemingsvaardighede te ontwikkel ten einde die individu te bemagtig om verantwoordelikheid vir hul eie eindbestemming in die lewe op te neem (DvO, HNKV, 2002:6). Die kritiese en ontwikkelingsuitkomste (soos uiteengesit in tabel 2.2) belig ook die HNKV se doelstelling om individuele burgers op te voed wat probleme en uitdagings in hul

persoonlike lewens kan identifiseer en deur kreatiewe denke oplossings hiervoor kan vind (DvO, 2003:1-2). Die gebruik van fiktiewe gevallestudies en karakters ondersteun sodoende die doelstellings van die HNKV.

2.13 Opsomming

Ek het die teoretiese perspektief van hierdie hoofstuk gegrond op die ekosistemiese model van Bronfenbrenner (1977). Adolessensie as ontwikkelingfase is aan die hand van verskeie denkers en skrywers se teorieë bespreek. Ek het ook die invloed vanaf die gemeenskap op die adolessent en die behoefte na ʼn oriënteringsprogram vir hierdie ouderdomsgroep belig. Aan die hand van die kurrikulumtransformasie wat in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel plaasgevind het, het ek melding gemaak van die ontstaan van LO wat poog om hierdie behoefte na leiding vir die adolessent te vervul. Die uitdagings van hierdie leerarea, asook my eie ervaring binne die LO-klaskamer en dié spesifieke navorsingsomgewing het aanleiding gegee tot die ontstaan van ʼn alternatiewe onderrigstrategie in die LO-klaskamer. Ten slotte het ek ʼn profielbeskrywing van een fiktiewe karakter bespreek en ek het ook melding gemaak van fiktiewe karakters as ʼn voorbeeld van die ekosistemiese model.

Hoofstuk 3

Navorsingsmetodologie

3.1 Inleiding

Drie van die algemeenste doelstellings van sosiale navorsing is dat die navorser ʼn spesifieke fenomeen ondersoek, omskryf en verduidelik (De Vos et al. 2011:8; Babbie, 2011:67). Deur ʼn navorsingsproses word data of inligting sistematies versamel en geanaliseer ten einde spesifieke bevindinge te beskryf (Leedy & Ormrod, 2004:2). Sosiale navorsing kan in verskillende kategorieë opgedeel word waardeur verskillende doelwitte en uitkomste bereik word. In hierdie hoofstuk sit ek die navorsingsbenadering en metodes wat gebruik was om die doel van hierdie studie te bereik, uiteen. Ek maak melding van die navorsingsparadigma wat die fondasie vir die navorsingsontwerp vorm. Hierdie navorsingsontwerp sluit die metodologie, omvang van die studie, teikengroep, data-produsering en data-analise in. Ek gebruik Guba en Lincoln (1981) se model om na die geldigheid en betroubaarheid van die studie te verwys, asook na die etiese kwessies wat oorweeg was voor die studie se aanvang. Ek bespreek ook triangulasie, deelnemer kontrole, eksterne ouditeure en die nasien van die kodering, wat ʼn bydra tot die kwaliteit van die data-produseringsproses lewer. Ten slotte bied ek ʼn opsomming van die hoofstuk aan. 3.2 Navorsingsdoel

Hoewel die navorsingsvraag van ʼn studie die navorser help om die studie te fokus, verwys Patton (1990:166) daarna dat daar nie enige spesifieke reëls is wat leiding aan ʼn navorser gee oor hoe om die studie doelgerig te benader nie. Hy is van mening dat die doel van ʼn studie ʼn invloed op die aard van die navorsingsvraag sal hê. In hierdie studie gee my navorsingsvraag vorm en leiding aan die navorsingsproses. Soos reeds in hoofstuk een genoem, stel ek dit ten doel om die geleefde ervaring van ʼn spesifieke eenheid van analise binne die LO-klaskamer waar fiktiewe karakters gebruik word, te bepaal.

3.3 Navorsingsparadigma

ʼn Paradigma is ʼn denkwyse of ʼn raamwerk waardeur ʼn navorser sy of haar omringende wêreld en mense observeer en begryp (Babbie, 2011:32). ʼn Paradigma skep ʼn denkraamwerk vir die spesifieke studie en beïnvloed die metodes wat gebruik sal word om die studie uit te voer (Terre Blanche, Durrheim & Painter, 2006:40). Babbie (2011:32) maak die onderskeid tussen teorie en paradigma deur dit te stel dat teorie poog om begrip te verbeter, en die paradigma bied ʼn raamwerk aan waardeur die studie benader sal word. Die paradigma sal dus die denke, metodes en handelinge van die navorser rig

en lei (Terre Blanche, et al., 2006:40). Daarom moet die navorser die aard van die paradigma waarbinne hy of sy kies om te werk goed bestudeer (De Vos et al., 2005:45). Hierdie raamwerk ondersteun die navorser om sy eie werk, asook die van ander beter te verstaan ten einde ʼn betekenisvolle bydrae tot die veld van sy navorsing te lewer (Le Grange, 2001:72).

Gedurende die 1970’s en die 1980’s was daar verskeie debatte gevoer oor die kwessie rondom grense tussen verskillende paradigmas. Die kwessies van kwalitatiewe en kwantitatiewe paradigmas en die vermenging van beide, het bygedra tot hierdie debatte (De Vos et al., 2011:41). Navorsing in die sosiale wetenskappe gebruik beide kwalitatiewe en kwantitatiewe metodes om data te versamel. Le Grange (2000:194) argumenteer dat die etimologiese onderskeid tussen kwalitatiewe en kwantitatiewe paradigmas op grond van die aard en die vorm van die data gemaak kan word. Dit is juis om hierdie rede dat hy verkies om eerder te onderskei tussen positivistiese en post-positivistiese3 (interpretatiewe, kritiese en post-kritiese) navorsing. Post-positivisme verwys na interpretatiewe, kritiese en post-kritiese benaderings tot navorsing (Le Grange, 2001:71). Kennis wat deur middel van positivistiese navorsing ingewin word, word as objektief en kwantitatief beskou, terwyl kritiese navorsing as ideologiese kritiek van mag, voorreg en verdrukking beskou word (Carr & Kemmis, 1986, in Du Toit 2009:11). Kennis wat deur middel van die interpretatiewe benadering ingewin word, is meestal kwalitatief van aard. Om hierdie rede verkies ek dus om ook na positivistiese en post-positivistiese, eerder as kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsing te verwys (Le Grange, 2001:71).

Gegewe die aard en doelwitte van hierdie studie waar die geleefde ervarings van ʼn spesifieke groep individue bepaal is, word hierdie studie vanuit ʼn post-positivistiese, interpretatiewe navorsingsparadigma benader. Ek stel dit primêr ten doel om die geleefde ervaring en betekenis wat ʼn geselekteerde groep leerders aan ʼn sekere onderrigstrategie koppel, te begryp, te beskryf en te interpreteer. Hierdie studie neem dus ʼn interpretatiewe vorm aan waar ek deel van die navorsingsproses is en poog om leerders se subjektiewe ervaring van ʼn sekere fenomeen te bepaal. (Terre Blanche et al., 2006:6; Babbie et al., 2001: 28).

3.3.1 Interpretatiewe Navorsing

Interpretatiewe navorsing poog om alledaagse verskynsels, asook om die betekenis wat mense heg aan verskillende fenomene te begryp. De Vos et al. (2005:74) beklemtoon die interpretatiewe navorser se soeke na begrip eerder as verklaring, natuurlike observasies eerder as beheerde meting, en subjektiewe

      

3 In hierdie studie onderskei ek tussen postivistiese navorsing en navorsing wat in die post-positivistiese era plaasvind. Dit is dus vanuit hierdie post-positivistiese era dat ek na die interpretatiewe, kritiese en post-kritiese navorsings paradigmas verwys.

beskrywings van die realiteit deur ʼn ingeligte persoon se perspektief eerder as die van ʼn buitestaander. Hierdie data word versamel en saamgestel deur menslike interaksie en is gewoonlik holisties en uiteenlopend (Le Grange, 2001:74). Om die navorsingsvraag van die studie te beantwoord, word ʼn gevallestudie as navorsingstrategie binne die interpretatiewe paradigma gebruik. Ek bestudeer die graad 8-groep as gevallestudie binne hierdie studie en maak gebruik van ‘n steekproef van tien deelnemers wat uit hierdie gevallestudie geneem was. Ek bespreek volgende die rasionaal vir die keuse van metode.