• No results found

Bespreking van Bevindinge

D 1 Vroulik Graad 3 en graad

1: Karakter 2: Profielbeskrywing van die karakters 3: Les Anastacia Anastacia is ʼn tiener wat aan depressie lei Deur haar lewensverhaal

4.6 Inleiding tot die ervaring dat karakters as rolmodelle dien

4.6.1 Karakters se voorbeeld bied leiding aan deelnemers

Ek bespreek in hierdie gedeelte fiktiewe karakters as rolmodelle, en die mate waartoe hulle leiding aan adolessente bied. Bandura (1977, in Hendry et al., 1992:258) beklemtoon die waarde van die voorbeeld wat rolmodelle aan hul volgelinge stel:

a role model provides a protégé with observational learning opportunities that include imitation of new behaviours, inhibition of unsuccessful behaviours, through observation of negative consequences and the disinhibition of formerly constrained behaviours and increasing use of successful behaviours through observational positive consequences.

Parsons (2002) stel dit dat die sosiale ontwikkeling van adolessente gepaard gaan met die voorbeelde van rolmodelle na wie hulle kan opkyk en met wie hulle kan identifiseer. Adolessente is geneig om voorbeelde in hul eie lewens te soek met wie hul kan vereenselwig (Parsons, 2002). Hierdie voorbeelde bied leiding aan adolessente en kan hulle help om ontwikkelingstake makliker te bemeester, asook om staande te bly teen sosiale druk.

ʼn Paar briewe illustreer dat adolessente en kinders aan ʼn verskeidenheid van kulturele boodskappe en voorbeelde vanuit die media blootgestel word. Elkeen van hierdie boodskappe het die potensiaal om die keuses van kinders positief of negatief te beïnvloed (Anderson & Cavallaro, 2002:161). Die boodskap en invloed vanuit die media is kragtig, want die voorbeelde waaraan adolessente blootgestel word speel ʼn essensiële rol in hul opvoeding en ontwikkeling (Bucher, 1997:619; Parsons, 2002).

Dit is tydens hierdie ontwikkelingsfase dat die individu bewus raak van die begeerte om in te pas en tot ʼn sosiale groep te behoort (Hendry et al., 1992:268; Parson, 2002). D7O2 stem saam met Parsons (2002) wat dit stel dat groepsdruk ʼn geweldige kragtige invloed op ʼn adolessent se lewe het. Sy verwys na die karakter, Alexa, as iemand na wie sy opkyk en gee ook erkenning aan die groepsdruk waaraan Alexa moontlik blootgestel kon wees as gevolg van haar beginsels en die keuses wat sy gemaak het. D7O2 kan wel vereenselwig met Alexa se situasie deur te stel dat dit “seker swaar [moes]...wees...deur haar tienerjare om vir haar vriende te sê dat sy nie gereed is vir seks nie...”. D7O2 is verder van mening dat dit vir haar persoonlik moeilik sou wees. Alexa se besluit en haar vermoë om staande te kon bly teen groepsdruk verteenwoordig ʼn simbool van hoop vir D7. Alexa raak iemand na wie hierdie deelnemer opkyk en soos wie sy wil wees. D7 is van mening dat “as Alexa dit kan doen, kan [sy] ook...”. Alexa verteenwoordig ʼn voorbeeld van veerkragtigheid. Sy is dus iemand wat nie toegelaat het dat sosiale druk haar beginsels en keuses beïnvloed het nie.

Die voorbeelde waaraan adolessente blootgestel word, raak vir hulle verteenwoordigend van die toekomsmoontlikhede in hul eie lewe (Anderson et al., 2002:161). Adolessente moet met hul rolmodelle kan identifiseer (Parsons, 2002). Refleksie op Alexa se verhaal laat D7O2 toe om die invloed van haar eie keuses op haar toekoms krities te evalueer deur dit te stel dat “as jy die verkeerde keuse maak, dan sal dit jou toekoms kan beïnvloed...”.D8O2 bevestig Parsons (2002) se argument dat adolessente met hul rolmodelle wil identifiseer. D8O2 verwys daarna dat sy beter met Sharon sal kan vereenselwig omdat sy ook ʼn vrou is. Volgens die deelnemer sal hulle mekaar om hierdie rede beter verstaan. Die sukses wat Sharon in haar lewe bereik het, inspireer en motiveer hierdie deelnemer om ook sukses te bereik. Sharon se gevallestudie raak vir hierdie deelnemer ʼn voorbeeld van wat moontlik is in haar eie lewe. D8O2 sal graag Sharon wil ontmoet en is van mening dat Sharon “...ook ʼn vrou [is], so [sy] dink [hulle] sal mekaar beter...verstaan as [hulle] praat...”. Hierdie deelnemer voeg dan ook by dat “[e]en ding wat [sy] van [Sharon] hou is dat sy suksesvol is in haar lewe...”. Sy sê dan dat sy “ook eendag suksesvol [wil] wees...”.

Die verskillende karakters se verhale bied om verskeie redes leiding aan die deelnemers. Marno se verhaal word gekenmerk aan sy deursettingsvermoë en huidige sukses. Hy het grootgeword in ʼn ouerhuis met verskillende uitdagings. Sy verkeerde keuses gedurende sy adolessensiejare skep die geleentheid vir menige deelnemers om met hom te identifiseer. Marno se verhaal bied ook die geleentheid aan deelnemers om te reflekteer oor hul eie ouerhuis, huidige keuses en uiteindelik ook oor hul toekomsplanne en –drome. Leerders kry ook die geleentheid om hul eie lewens krities te evalueer en te besin of daar enigiets is wat hulle terughou van ʼn suksesvolle toekoms. Die verhaal van Marno bied aan D1O1 die geleentheid om te reflekteer oor die voorbeelde in haar eie lewe. Sy stel dit in haar eie woorde dat “soos ek nou groot geword het, het ek baie die goed raakgesien, mense wat tik en ganja

rook en hoe…hulle begin slaan en skel....soos daar waar ek bly gebeur baie sulke goed...”. Hierdie deelnemer identifiseer dus nie net met Marno se omstandighede in sy lewe nie, maar sy verwys na Marno as iemand wat “uit sy foute geleer het…”. Marno verteenwoordig vir hierdie leerder potensiële toekomsmoontlikhede (Anderson et al., 2002:161). Sy is van mening dat Marno “nou ʼn groot sukses [is]…” en dan stel sy dit ook dat sy “eendag soos [Marno] wil wees...”.

D9O2 verwys met verwondering na Marno wat ten spyte van sy omstandighede waaruit hy kom ʼn besigheidsman geword het. Hy stel dit dat hy “vir Marno wil ontmoet, want [hy] sal ook eendag ʼn besigheidsman wil wees...”. Die voorbeeld van Marno verteenwoordig ʼn simbool van hoop vir hierdie leerder en stel hom bekend aan nuwe moontlikhede vir sy eie toekoms, omdat hy niemand anders ken wat ʼn besigheidsman is nie. Dit is ook een van die redes waarom hy vir Marno sal wil ontmoet en wil vra oor “die keuses wat hy gemaak het in die lewe…”. Hy is ook nuuskierig om te weet “hoe dit voel om ʼn besigheidsman te wees en alles wat [Marno] deurgegaan het om die besigheid op te bou…”. Die skrywer van B85 skryf ook met bewondering aan Marno deur te sê dat hy “eendag net soos [Marno] wil wees…”. Dit wat hierdie skrywer van Marno se verhaal weet, inspireer hom om eendag soos hy te wees. B85 se skrywer het ʼn realistiese begrip van hoe om daardie mylpaal te bereik deurdat hy dit stel dat hy “hard [sal] werk om daar te wees en [hy] sal laat niks [hom] af bruik [sic] nie…”. Hy erken dat hy hard sal moet werk om suksesvol te wees en hy voeg by dat hy nie sal toelaat dat enigiets sy sukses verhinder nie. Hy is vol vertroue dat hy sukses kan bereik, “want [sy] geloof is baie sterk…”. Die aanname word gemaak dat hierdie deelnemer na geloof in sy God, of geloof in homself verwys en hy is van mening dat dit hom sal help om wel ʼn sukses van sy lewe te maak.

Uit Marno se verhaal deel hy met die leerders dat hy sommige verkeerde keuses geneem het. Hy vertel dat hy dwelms gebruik het en dat hy deur ʼn bendegroep gedwing was om ʼn meisie te verkrag. Die voorbeeld wat Marno stel deur suksesvol te wees ten spyte van sy verkeerde keuses in sy verlede, bied hoop aan verskillende deelnemers deurdat hulle met hom kan identifiseer en leiding uit sy verhaal kan kry. In B32 identifiseer die skrywer met Marno wat ook al dagga gerook het. In sy brief reflekteer hy oor sy eie keuses en gewoontes en skryf dat “[hy] ook dwelms…en akohol gebruik [het]…”, maar voeg by dat “[hy] ook eendag ʼn besigheidsman [wil] wees soos [Marno]…”. Die skrywer van B25 vind leiding uit Marno se voorbeeld en is van mening dat hy ook graag ʼn voorbeeld vir ander wil stel. Hy spreek sy wense uit dat Marno sal aanhou om ander kinders te inspireer deur te sê dat“[hy] die oudste is en wil ook vir [sy] broertjie ʼn voorbeeld stel. [Hy] hoop [Marno] inspireer ander kinders ook…”.Die skrywer van B26 vertel dat hy ook eendag ʼn besigheidsman soos Marno wil wees. Hy skryf aan Marno dat hy ʼn “goeie rolmodel” vir hom is deur dit stel dit dat “[h]y ʼn goeie besluit gemaak [het] om ʼn besigheidsman geword [sic]…” en hy “wil ook eendag daar sit waar [Marno] is…”. Die skrywer van B16 stem saam met die skrywer van die B26 en noem dat sy “regtig opkyk na [Marno]…”. Sy gee aan

hom erkenning dat hy uit sy foute geleer het en besluit het om te verander. Sy spreek Marno direk aan en sê dat “almal sulke foute [maak], maar jy het besluit om te verander…”. Sy sien Marno as ʼn “goeie rolmodel” soos wie sy eendag wil wees en komplimenteer hom op dit wat hy bereik het. Sy spreek haar wens uit dat sy “hoop om weer van [Marno] te hoor…”.

Ek stem daarom saam dat dit ʼn belangrike proses is om geskikte gedrag van potensiële rolmodelle aan jongmense voor te hou (Bandura, 1977: 23-24). D5O2 verduidelik dat die gevallestudies van die karakters vir haar leiding bied en dat sy as gevolg van hierdie verhale nie op “die verkeerde pad” sal beland nie, maar sy voeg by dat dit haar “help om op die regte pad te bly…”. Ek eksploreer wat sy met die “regte pad” bedoel en dan voeg sy by dat dit haar help “om die regte besluite te maak en so…”. D3O2 bevestig dat die voorbeelde uit karakters se verhale hom help deurdat dit “[hom] leer om nie sulke goed te doen nie…”. Hy verwys na spesifieke karakters soos wie hy nie wil wees nie en stel dit in sy eie woorde: “ek wil nie soos Moegamat wees nie, want hy is ʼn skollie…”. Tydens my eksplorasie oor wat die deelnemer met “skollie” bedoel, antwoord hy dat ʼn skollie “maak mense dood en sulke goed…”. D2O1 stem saam met die bogenoemde deelnemers en verwys na sy keuse in sy eie lewe. Hy stel dit dat “[hy] dink voorbeelde in ʼn mens se lewe is belangrik. ʼn Mens moet kies soos wie jy wil wees....”. Hierdie deelnemer se ma is ʼn dwelmverslaafde en daarom voeg hy dan by dat hy “kan kies of [hy] soos [sy] ma wil wees of nie...”. Hierdie deelnemer is ook van mening dat die gebruik van karakters en verhale vir hom

leer...dat [hy] nie daardie paadjie moet volg nie...ʼn mens kan defnitief by ander leer...hierdie stories...help [hom] om te sien watter keuses hierdie mense gemaak het, want wanneer [hy] dan in so ʼn situasie kom kan [hy] besluit wat [hy] sal kies...

D8O2 verwys daarna dat voorbeelde uit die karakters se lewens vir haar help om meer doelgerig in haar eie lewe te wees deurdat sy sê die karakters “leer...[haar] om meer te fokus op werk terwyl [sy] jonk is...”. Hierdeur is sy oorgehaal om ʼn goeie werk te hê sodat sy “eendag...[haar] lewe...[sal] geniet...”. D9O2 is van mening dat sy “juffrou karakters gebruik om vir [hulle] te wys hoe [hulle] [hulle] lewens kan leef...”. Die lewensverhale van die karakters bied dus leiding aan deelnemers deurdat hulle uit die gevallestudies van karakters kan leer en nie dieselfde foute hoef te maak nie. Soos reeds genoem is dit egter belangrik dat die verhale van die karakters realisties moet wees en dat deelnemers hiermee moet kan identifiseer.  

Hoewel meeste van die deelnemers karaktereienskappe in een van die fiktiewe karakters kan identifiseer wat hul graag sal wil navolg, is daar ook sekere karakters en karaktereienskappe wat hulle nie wil navolg nie. D8O2 verwys na Moegamat, Christal en Jasmine en stel dit dat sy nie soos hulle wil wees en dwelms gebruik nie: “vir my is dit baie hartseer dat hulle nie hulle lewe anders gedoen het

nie…”. D3O1 verwys ook na karakters wat verkeerde keuses gemaak het en noem dat sy “nie so wil wees nie...”. D4O1 verwys na Christal en sê dat sy “nie soos Christal [wil] opeindig nie [sic]. Daarom sal [sy] nooit tik nie…”.

Kristjánsson (2006:39) beskryf adolessensie as ʼn tydperk waar jongmense rolmodelle benodig om aan hulle leiding te gee. Wanneer jongmense ʼn voorbeeld van iemand sien wat hulle as waardig ag sal hulle só ʼn persoon as ʼn rolmodel aanneem (Rose, 2004). Die skryf van die briewe bied aan die deelnemers die geleentheid om die voorbeelde en mentors in hul eie lewens krities te evalueer. Sommige van die skrywers beklemtoon hul eie ervaring van ʼn mentor of iemand wie vir hulle leiding gegee het. B65 se skrywer verkies om in Engels sy brief aan Marno te skryf, en in sy eie woorde stel hy dit dat “I once used drugs like weed...I find [sic] someone who corrected me and leaded [sic] me to the right way now I am who I wanted to be...”. Die skrywer van B42 skryf aan Jasmine en deel haar eie ervaring van hoe iemand se voorbeeld vir haar leiding gegee het toe sy dit nodig gehad het. Sy beklemtoon ook die belangrikheid vir jongmense om leiding te ontvang deurdat sy dit stel dat Jasmine nie moet “skaam wees vir wat met [haar] gebeur het nie want [dit] kan met enige iemand gebeur…”. Sy skryf verder en benadruk die waarde van selfvertroue in haar persoonlike lewe. Sy skryf dat

dinge…met [haar] ook al gebeur het wat [haar] laat voel of [sy] niks wert [sic] is nie, maar eendag het iemand vir [haar] gesê dat niemand volmaak is nie, maar dat jy in jouself glo en baie selfvertroue moet hê...[en dat] dwelms en alkhol [sic] nie jou probleem wegvat nie... [maar] jy alleen kan dit beter maak.

Volgens hierdie deelnemer was “daar niemand om vir [Jasmine] raad te gee nie…”.Sy verwys nie net na dít wat sy self geleer het uit haar eie ervaringe nie, maar in die laaste gedeelte van die uittreksel uit haar brief toon die skrywer empatie en maak sy die aanname dat Jasmine niemand in haar lewe gehad het wie raad of leiding aan haar kon gee nie. D9O2 wil by Moegamat weet “hoekom het hy aan ʼn ‘gang’ behoort en hoekom [het] hy dwelms gebruik…”. In reaksie op sy eie vraag beklemtoon hy die waarde van leiding wat rolmodelle aan adolessente bied, omdat hy van mening is dat “miskien was [Moegamat] se omstandighede nie lekker nie...Hy het ook niemand gehad wat vir hom leiding gegee het nie...”. Dieskrywer van B90 draai dan na Marno vir raad en leiding. Hierdie deelnemer gebruik die brief as ʼn platform om Marno van sy vrese te vertel. Hy sê dat “[hy] is bekommerd dat [hy] verkeerde vakke kies en dat dit ʼn flop sal wees [hy] weet nie wat om te doen nie miskien sal [Marno] [hom] raad kan gee…”.

Jongmense word omring en is blootgestel aan verskillende voorbeelde vanuit hul ouerhuise, families, vriende of die media. Adolessente is deurentyd op soek na leiding vanuit hierdie voorbeelde waaraan hul blootgestel word (Galloway, 2006:153). Die deelnemers beaam Donald et al. (2002:16) se stelling dat dit steeds ʼn keuse bly wie se voorbeeld hulle gaan navolg. Hierdie voorbeelde bied egter aan die

adolessent die geleentheid om hul eie omstandighede en keuses krities te evalueer en ingeligte besluite te maak. Verskeie deelnemers erken dat die sosiale voorbeelde vanuit hul lewe hulle negatief beïnvloed, maar hulle is van mening dat dit steeds elke individu se keuse bly of hulle hierdie voorbeelde gaan volg, of nie. Volgens D7O2 sal sy vir Moegamat wil ontmoet om uit te vind, “hoekom is hy ʼn bendeleier…”. Sy is van mening dat Moegamat nie soos die voorbeelde in sy lewe hoef te wees nie. Sy stel dit dat “hy… nie so [hoef] te wees net omdat sy pa so iemand was nie…”. Hierdie deelnemer belig elke individu se vermoë om te kies of hy of sy soos die voorbeelde in hul ekosisteem wil optree. D9O2 verwys ook na Moegamat wat uit ʼn slegte huishouding kom en hoe dit sy lewe beïnvloed het. Hierdie deelnemer is van mening dat die voorbeeld wat Moegamat in sy huis gehad het en die omstandighede waaruit hy gekom het, nie as ʼn verskoning vir sy optrede gebruik kan word nie. Volgens D9O2 het Moegamat sy vrou geslaan het en hierdie deelnemer maak sy eie aanname dat Moegamat se pa sy ma geslaan het. Hy stel dit dat “[Moegamat] kan leer uit sy pa se foute. Wat sy pa aan sy ma doen, hy kan sien dat dit nie reg is om ʼn vrou te mishandel nie…”.

In kontras met Moegamat se verhaal, verwys D8O2 spesifiek na Marno wat sy slegte huislike omstandighede oorkom het en koppel die keuse om ʼn sukses te maak aan Marno se doelgerigtheid. Marno se verhaal bied nie net vir haar leiding in terme van die keuses wat sy moet maak nie, maar sy maak melding daarvan dat rolmodelle doelgerig lewe en hul toekomsdrome nastreef. Marno se doelgerigtheid en dit wat hy wou bereik, het hom gehelp in die keuses wat hy gemaak het. Hierdie karaktereienskap inspireer haar om ook haar toekomsideale na te streef. D8O2 vertel dat “Marno...ʼn suksesvolle besigheidsman [is], maar sy lewe was self nie wonderlik gewees nie...hy het ʼn moeilike lewe aan die begin gehad en steeds probeer om bo uit te kom waar hy wou wees, om sy goal te achieve [sic]...”.

Deur hierdie onderrigstrategie word leerders dikwels aan die suksesverhale van die karakters blootgestel, maar die vaardighede waaroor hierdie karakters beskik en die harde werk wat deel vorm van hierdie suksesverhale word soms nie genoeg beklemtoon nie. Die skrywer van B18 belig die moontlikheid om suksesvol te wees en soos Marno bo jou omstandighede uit te styg, maar sy stel dit ook dat sy steeds onseker is oor hoe sy “daar” (waar Marno is) uit sal kom. Marno se voorbeeld vanuit sy lewe bied wel leiding aan haar en hy is “vir [haar] ʼn rolmodel...”, maar sy “weet nie hoe om daar uit te kom nie”. Sy verwys wel daarna dat sy haar beste sal probeer op skool en koppel harde werk aan sukses. Marno het hierdie deelnemer geïnspireer en sy sal graag in Marno se voetspore wil volg en stel dit dat sy “1 dag [sic] soos [Marno]...ʼn besigheidsman...” wil wees. B24 se skrywer skryf dat hy dankbaar is dat iemand soos Marno vir hulle ʼn brief geskryf het, maar net soos die skrywer van B18 is hy nuuskierig om te weet “hoe het [Marno] [dit] bereik om daar te kom waar [hy] vandag is...”. Hy

verwys na Marno as ʼn “goeie” mens en hy noem dat dit goed vir die graad 8’s is om ʼn persoon soos Marno in hulle lewens te hê. Hy is “baie dankbaar...dat mense soos [Marno] vir [hulle] as kinders by skole briewe skryf oor [hulle] lewens [en] oor wat [hulle] ervaar het...”. Hy spreek verder sy wens uit dat “almal…sulke goeie mense in hul lewens moet hê...”.

Daar is sekere kenmerke uit Marno en Moegamat se gevallestudie waarmee D3O1 kon identifiseer. Hierdie deelnemer kom uit ʼn soortgelyke omgewing en trek ooreenstemminge tussen die karakters se gevallestudies en mense binne sy eie omgewing. Hy vertel van ʼn “ou...daar by [hulle]. Hy het goed grootgeword en toe het hy uitgerafel…”. D3O1 verduidelik verder dat die persoon “begin steel...” het. Hy het “die kragdrade en goed” gesteel en het later “gerook en toe kry hy sy dood [sic]...”. D9O1 identifiseer ook met die omgewing waarbinne bogenoemde karakters grootgeword het. Hy is van mening dat “[hy] in ʼn slegte gebied [woon] waar mense dwelms doen, tik [sic] en drank…” gebruik. Die voorbeeld uit Moegamat se gevallestudie laat D9O1 krities reflekteer en hy stel dit dan dat dit nie net die omstandighede nie, maar ook moontlik sosiale druk kan wees wat ʼn invloed op Moegamat se betrokkenheid by ʼn bendegroep kan hê, “[m]iskien sy omstandighede, miskien oordat [sic] sy vriende hom ‘geforce’ [sic] het, miskien omdat hy wou inpas...”. Na aanleiding van Moegamat se gevallestudie herbesin D10O1 ook oor haar gemeenskap en sy verwys na die kinders waar sy woon en sê dat “hulle loop rond en het ook nie eers respek vir [haar] ouers nie...”. D5O1 belig die invloed van sy familieverhoudings op sy emosies. Hy was baie aggressief as gevolg van die afwesigheid van sy biologiese pa in sy lewe. D5O1 verwys dan daarna dat die karakter, Jason, se voorbeeld leiding aan hom gegee het. D5 kon met Jason se emosies identifiseer en daarom sê hy dat dit “[hom] gehelp [het] om iemand anders te sien wat net soos [hy] was…”. Volgens hom was hy “op ʼn tyd…net soos [Jason] gewees...”, maar hy het “besluit om te verander...”.