• No results found

Bespreking van Bevindinge

3. Karakters bied aan

adolessente ʼn platform om hul ervarings en raad met te deel

1.1 Karakters se voorbeeld bied leiding aan

deelnemers

2.1 Definisie van keuse, aksie en besluit

3.1 Definisie van platform en stem

1.2 Karakters se ervarings en leiding aan deelnemers

2.2 Keuse, besluit en die deelnemer.

3.2 Deelnemers identifiseer met karakters

1.3 Karakters inspireer deelnemers

2.3 Groepsdruk beïnvloed keuses 3.3 Deelnemers bied raad aan karakters

2.4 Keuses beïnvloed die karakters (en deelnemers) se toekoms 

3.4 Deelnemers vra vrae aan die karakters

2.5 Impak van voorbeelde en keuses op die deelnemers

4.2 Navorsingsomgewing 4.2.1 Navorsingskonteks

Die belangrikheid van die konteks waarbinne die navorsing plaasvind, word deur verskillende skrywers beklemtoon (Ballenger, 1992; Cantrell, 1993; Pendlebury, 1998; Le Grange, 2001). Die navorsingsresultate en die begrip daarvan word direk beïnvloed deur die navorsingskonteks. Om hierdie rede beskryf ek kortliks die konteks van die omgewing waarbinne my navorsing gedoen is. Ek baseer egter my beskrywing op my eie ervaring binne hierdie navorsingsomgewing.

Die navorsingsomgewing is ʼn Afrikaansmediumskool in lae sosio-ekonomiese gemeenskap. Hierdie skool is binne die Stellenbosch-omgewing binne die Wes-Kaap geleë en om etiese redes verwys ek na die skool onder die skuilnaam, Groenvlakte Sekondêre Skool. Die gemeenskap waarbinne die skool geleë is, word dikwels bestempel as ʼn gebied waar heelwat mense blyk om onder die broodlyn te lewe. Baie ouers werk op nabygeleë plase of in restaurante en koffiewinkels in Stellenbosch. Daar is ook

heelparty ouers wat werkloos is. Die verbrokkeling van huisgesinne en families, alkoholmisbruik, tienerswangerskappe, bendegeweld en die misdaadsyfer in hierdie gemeenskap kompliseer en bemoeilik die gemeenskapsuitdagings en -probleme. Daar is 813 leerders in die skool, en 28 onderwysers waarvan 13 manspersoneel en 15 damespersoneel is. Die geskiedenis van hierdie gemeenskap, insluitende die nalatenskap van Apartheid en groepsgebiedewette, het die godsdienstige fondasies van hierdie gemeenskap stewig gevestig. Hierdie skool se Christelike beginsels kan steeds as uitvloeisel van hierdie geskiedenis gesien word. Hoewel die Christelike geloof ʼn belangrike uitgangspunt vir hierdie skool is, verwelkom en akkommodeer die skool enige ander religie. In die verlede was hierdie skool bekend vir sy provinsiale prestasies op kulturele en sportgebied, maar tans het die deelname aan, en aanbieding van buitemuurse aktiwiteite heeltemal afgeneem in die skool (Biscombe, 2006). Dit kom voor of die leerders wat akademies of op sportvlak uitblink, meestal deur ander leerders bespot word.

Die skool het beperkte hulpbronne en stampvol klasse. Daar is 224 leerders in graad 8 en die gemiddelde verhouding van onderwyser-leerders in hierdie graad beloop 38:1 te wees. Hierdie groot klasse het nie net ʼn negatiewe invloed op die handhawing van dissipline nie, maar belemmer ook die potensiaal van ʼn vak soos Lewensoriëntering waar die kurrikulum dit ten doel stel om leerders persoonlik, sosiaal en fisies te ontwikkel (Prinsloo, 2007:158-175). Die persoonlike interaksie tussen opvoeder en leerder word ook deur die hoë aantal leerders per klas beperk (Modisaotsile, 2012). Swartborde is die hoof hulpbron in die meeste klaskamers. Slegs wit bordkryt word deur die skool verskaf en hoewel daar in enkele klaskamers ʼn oorhoofse projektor beskikbaar gestel word, word hierdie projektors selde gebruik. ʼn Paar klaskamers het gebreekte vensterruite wat dikwels lank neem voordat dit herstel word. Van die klaskamers se deurhandvatsels is ook gebreek wat veroorsaak dat die deure nie behoorlik toegemaak kan word nie. Die skoolgrond is slordig en klaskamers word nie behoorlik skoongemaak nie. Hoewel die vullisdromme in die klaskamers daagliks leeggemaak word, word die klasse nie deeglik uitgevee nie. Gevolglik word die onderwysers dikwels mismoedig deur die vuil en stowwerige klaskamers. Hoewel groot vullisdromme sigbaar op die skoolgrond is, is rommel steeds ʼn groot probleem. Leerders beoefen graffiti-kuns teen die mure en op die banke. Die skool beskik oor ʼn elektroniese klokstelsel, maar verkies om steeds van die handklok gebruik te maak. Dit veroorsaak dat die klok nie altyd op dieselfde of uitgewerkte tye lui nie en benadeel die lesbeplanning van die onderwysers. Hierdie gebruik dra ook by tot die frustrasie waarmee opvoeders gekonfronteer word.

Teen die agterste blok skoolgeboue hang daar meestal ʼn rookwalm in die gange. ʼn Groep leerders wat besluit om doelbewus afwesig van hul klasse te wees, maar steeds op die skoolgrond te bly, staan bekend as die “stoepkinders”. Hierdie groep “stoepkinders” sal op die stoepe rondhardloop of aan die

agterkant van die skoolgeboue sit en rook. (Hoewel dagga dikwels geruik word, is sigarette die mees algemene wat deur dié leerders gerook word). Daar is gewoonlik een van die leerders wat afgevaardig word om op die uitkyk te wees vir ʼn naderende opvoeder. Indien ʼn opvoeder gewaar word, hardloop die leerders weer na ʼn ander blok waar hul ‘veilig’ buite die klasse kan wees.

Die dissiplinêrestelsel van die skool het vir ʼn aantal jare sonder duidelike grense gefunksioneer wat leemtes laat. Dit bied leerders dus die geleentheid om self hierdie grense te verskuif en die reëls te ongehoorsaam. Opvoeders voel dikwels gefrustreerd deur die swak dissiplinêre toestand van die leerders. Die moontlike oorsake van die swak gedrag van leerders is enorm en uiteenlopend. Dissipline word selde in die ouerhuise afgedwing of toegepas. Voorbeelde van individue wat wel respek vir outoriteit toon is seldsaam en word nie na waarde geskat nie. Hierdie disfunksionele dissiplinêre stelsel is reeds vir ʼn aantal jare aan die orde van die dag. Outoriteitsfigure, hetsy ouers of opvoeders, speel ʼn belangrike rol in adolessente se lewens (Prinsloo, 2007:156; Cawood, 2008:50; Modisaotsile, 2012:1). Prinsloo (2007:156) is van mening dat die afname van outoriteitsfigure in adolessente se lewens die dissiplinêre grense in hul lewens verskuif. Dit lei daartoe dat die waarde van dissipline en self- dissipline in adolessente se lewens ontbreek. Die afwesigheid van een ouerfiguur lei dikwels tot gedrags- en akademiese probleme vir die adolessent (Griesel-Roux, Ebersön, Smit & Elloff, 2005). Hierdie navorsingsomgewing beaam die argumente van bogenoemde outeurs. Verskeie faktore dra by tot die vestiging van die disfunksionele dissiplinêre norme in Groenvlakte Sekondêre Skool. Enkele voorbeelde van hierdie faktore is die groot en skielike verandering in die skool se seniorbestuurspan in Julie 2009, die tekort aan ouerbetrokkenheid in adolessente se lewens, asook die aanvaarde sosiale druk onder die leerders.

4.2.2 My eie ervaring binne hierdie konteks

Daar is voltyds ʼn privaat Artikel 21 nie-winsgewende maatskappy wat as multidissiplinêre span (bestaande uit ʼn skoolberader, maatskaplike werker en sielkundige) in vennootskap met die skool funksioneer. Hierdie maatskappy het ʼn kantoor in die skool en is vyf dae ʼn week tydens skoolure oop. Ek was vanaf Julie 2009 tot Desember 2010 deel van hierdie maatskappy en het op hierdie manier voltyds in die skool as berader en LO-opvoeder gewerk. Aan die begin van my betrokkenheid by hierdie skool was die seniorbestuurspan van die skool onderhewig aan ʼn skielike verandering. Die skoolhoof van 12 jaar het met kort kennisgewing die skool verlaat en die adjunkhoof op daardie stadium moes noodgedwonge vir die volgende sewentien maande as die waarnemende skoolhoof optree waarna hy amptelik as skoolhoof aangewys is. Die skoolkultuur en die algemene dissipline, asook die personeel se bereidwilligheid om die nuwe skoolhoof te ondersteun en te respekteer het duidelik onder hierdie verandering gelei.

Ek het reeds in die eerste hoofstuk my werksaamhede binne hierdie skool inleidend beskryf. Ek wil egter enkele kenmerke van hierdie gemeenskap uitlig aan die hand van my ervaring hierbinne. My geleefde ervaring van die leerders en breër gemeenskap was dat daar ʼn groot mate van wantroue onder mekaar en veral teenoor buitestanders heers. As ʼn jong, blanke vrou wat in hierdie kleurling- gemeenskap gaan werk het, was ek geklassifiseer as só ʼn buitestaander. Ek kon nie anders as om gekonfronteer te word met die agterdog en wantroue wat die skoolgemeenskap in my motiewe om daar te werk, gehad het nie. Na mate ek die gemeenskap beter leer ken het, het ek besef dat een van die hoofredes vir die wantroue en skeptiese voorafopgestelde persepsies moontlik toegeskryf kan word aan die menige eksterne organisasies wat in die verlede met onvolhoubare strategieë leë beloftes van hulpverlening aan die skool, die gemeenskap en sy mense gemaak het.

Gouws et al. (2008:131) beklemtoon die adolessent se behoefte om deur sy portuurgroep aanvaar te word. Adolessente wil nie anders as hul vriende wees nie, maar is eerder geneig om te verander en te voldoen aan die aanvaarde norme van hul portuurgroep (Wait et al., 2005:136; Donald et al., 2011:198; Dumas et al., 2012:2). My betrokkenheid in die LO-klaskamer het my blootgestel aan die leerders se vrees om uit te staan bo die aanvaarde sosiale norme wat in die gemeenskap geld en onder die leerders voorkom. Binne hierdie navorsingsomgewing is die meerderheid leerders bang om sukses in hul loopbane te behaal. My ervaring hiervan was dat wanneer leerders dit sou waag om anders as hul sosiale groepe te dink of anders as hul op te tree, hulle dan ook die kans waag om bespreek en bespot te word. Ek word herinner aan ʼn leerder wat tydens ʼn gesprek in een van die LO-klasse aan my gesê het dat sy ʼn prokureur wil word. In ʼn poging om haar aan te moedig, het ek aan haar gesê dat sy die potensiaal het om ʼn vooraanstaande prokureur te word. Met verontwaarding het sy gereageer dat sy bang is om hierdie mate van sukses te bereik, want dit sal beteken dat sy baie kliënte sal hê en sal uitstaan. Sy was verder van mening dat mense van haar sal skinder.

Na aanleiding van hierdie gesprek het ek bewus geraak van ʼn standaard van middelmatigheid wat as die norm in die gemeenskap aanvaar word. Min leerders het werklik ʼn doelgerigte en realistiese toekomsvisie vir hulself. ʼn Gebrek aan positiewe rolmodelle wat suksesvolle beroepe beklee en leiding aan die adolessente kan gee, ontbreek telkens (Parsons, 2002). Hierdie vrees om uit te staan en anders as hul portuurgroep te wees kan egter toegeskryf word aan adolessente se begeerte om in te pas en tot ʼn groep te behoort (Gouws et al., 2008:80-81, 131). My ervaring hiervan was egter kommerwekkend, omdat leerders dikwels geen platform het om hul eie identiteit te vorm of te ontwikkel nie. In die LO- klas word onderwerpe rondom holistiese ontwikkeling bespreek (DvO, 2002). Ten spyte hiervan skep die skool geen platform waar individue krities hul eie of hul portuurgroep se aksies, optredes en norme kan evalueer nie. Hierdie vrees om teen die belange van die groep te gaan en moontlik ongewild te

wees, weerhou leerders daarvan om hul eie ideale, keuses en optredes krities te oorweeg. Ek bespreek hierdie waarneming verder wanneer ek verwys na voorbeelde vanuit die fokusgroeponderhoude. 4.3 Deelnemers tot die steekproef

Die deelnemers in hierdie gevallestudie was die vrywillige graad 8-leerders van een hoërskool. Uit hierdie deelnemers het ek ʼn steekproef getrek wat verteenwoordigend van die gevallestudie sou wees. Ek het aan elke deelnemer in die steekproef ʼn nommer van een tot tien toegeken. Hierna verwys ek na die spesifieke deelnemers deur hul nommer en die letter “D” te gebruik: D5 stel byvoorbeeld deelnemer vyf voor. In tabel 4.2 kategoriseer ek deelnemers volgens hul geslag, ouderdom en die graad wat hul in die verlede herhaal het. Ek gee ook kortliks ʼn beskrywing van elke deelnemer se persoonlike agtergrond.

Tabel 4.2: Beskrywing van die tien deelnemers in die steekproef

Deel- nemer

Geslag Graad Herhaal

Beskrywing van persoonlike agtergrond

Ouderdom

D 1 Vroulik Graad 3