• No results found

5. Identiteit vs Rolverwarring (Adolessensie) Portuurgroep en Rolmodelle

2.6 Kurrikulumtransformasie in ʼn veranderende Suid-Afrika

Drie jaar na die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika is die nuwe Kurrikulum 2005 (K 2005) bekendgestel. K 2005 was gesien as ʼn opwindende nuwe era in die Suid-Afrikaanse onderwys waar ʼn hoë kwaliteit opvoeding aan elke leerder in die vooruitsig gestel word (Horn, 2010). Hierdie kurrikulum was die Suid-Afrikaanse weergawe van Uitkomsgebaseerde Onderwys (UGO) wat leerders sou ontwikkel en voorberei vir die volwasse lewe (DvO, 2002a). Die beginsels van die nuwe kurrikulum was gegrond op die Suid-Afrikaanse Konstitusie (Wet 108 van 1996) en het voort gebou op konsepte van maatskaplike geregtigheid, ʼn gesonde lewensvatbare omgewing, menseregte, demokrasie en inklusiwiteit. Hierdie konstitusie stel dit ten doel om ʼn gesonde samelewing op demokratiese waardes te bou, om die lewensstandaard van alle burgers te bevorder en om toe te sien dat die potensiaal binne elke individu volledig ontwikkel word. K 2005 het die belangrike rol wat opvoeding en die kurrikulum in die proses speel erken ten einde toe te sien dat hierdie doelwitte verwesenlik sou word (DvO, 2003: 1-3). K 2005 poog om die skoolkurrikulum in lyn te bring met die alledaagse lewensvereistes ten einde gesonde sosiale, politieke en maatskaplike doelwitte vir elke landsburger daar te stel. Hierdie doelwitte beklemtoon ervarings- en koöperatiewe leer, die nastrewe van diversiteit in areas van ras, geslag en kultuur, asook die ontwikkeling van verbeeldingryke en kritiese burgers wat selfversekerde probleemoplossers in die toekoms sal wees (DvO, 1997a).

Die implementering van K 2005 was nie sonder enige uitdagings en kritiek bekendgestel nie. Meerkotter (1998:63) is van mening dat Suid-Afrikaanse skole nie die nodige kapasiteit in terme van finansies en ander hulpbronne gehad het om probleme uit te skakel tydens die implementering van K 2005 nie. Fleisch (2002:144) argumenteer dat die skoolgemeenskap nie gereed was vir die instelling van UGO en K 2005 nie. Hy kritiseer K 2005 deurdat hy die kapasiteit en beskikbare hulpbronne van skole en opvoeders in twyfel trek. Hy lewer ook kritiek oor die taalgebruik en terme wat in die kurrikulum gebruik word. Die opvoeders in minderbevoorregte skole is nie by magte om die breë uitkomste van K 2005 met die beperkte hulpbronne te bereik nie. Die moontlikheid vir hierdie opvoeders om gepaste leerprogramme te skep of hul eie assesseringstrategieë te ontwikkel, word ook in twyfel getrek (Harber 2001:64).

Ten spyte van die vele kritiek wat teen K 2005 gelewer was, verwys Harber (2001:63) daarna dat opvoeders steeds entoesiasties oor hierdie nuwe inisiatief en benadering tot onderwys is. Navorsing in die Wes-Kaap toon dat ʼn meerderheid opvoeders ten gunste van K 2005 is. Opvoeders en leerders verkies UGO en K 2005 ten spyte van die probleme wat ervaar en uitgelig word. (Rooth & Schlebush; 2000, in Rooth, 2005: 40). Die Minister van Onderwys op daardie stadium, Kader Asmal, het erken dat

die implementering van K 2005 nie perfek volgens plan verloop het nie. ʼn Volledige hersiening en verwerking van K 2005 was in plek gestel (DvO, 2000a).

2.6.1 Die ontstaan van die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring (HNKV)

ʼn Hersieningskomitee was in die lewe geroep om K 2005 te ondersoek. Alle voorstelle wat uit hierdie ondersoek voortgespruit het, het gelei tot die ontwikkeling van ʼn verwerkte en verbeterde weergawe van K 2005, die HNKV (DvO, 2002a). Die tipe landsburger wat die Suid-Afrikaanse kurrikulum poog om te ontwikkel word deur die kritieke en ontwikkelingsuitkomste van die HNKV beskryf. Tabel 2.2 bied ʼn skematiese voorstelling van wat dié uitkomste poog om te bereik.

Tabel 2.2: Die Kritiese en Ontwikkelingsuitkomste geneem uit: DvO, 2003:1-2.

Die kritieke uitkomste van die HNKV poog om individue op te rig en die samelewing in te stuur wat:

 probleme kan identifiseer en oplos deur kritiese en kreatiewe denke  effektief in spanverband kan funksioneer

 inligting krities en korrek analiseer en evalueer

 met verantwoordelikheid en respek teenoor die omgewing en ander kan optree

Die ontwikkelingsuitkomste stel ten doel om individue te ontwikkel en die samelewing in te stuur wat:

 ʼn verskeidenheid van strategieë ondersoek ten einde meer effektief te leer

 as verantwoordelike burger deel uitmaak van ʼn plaaslike, nasionale en globale gemeenskap  op ʼn kulturele en estetiese manier sensitief optree teenoor verskillende sosiale kontekste  opvoedings en loopbaanaangeleenthede kan ondersoek

 entrepreneursgeleenthede kan ontwikkel

Na aanleiding van die kritieke en ontwikkelingsuitkomste word die HNKV in agt leerareas verdeel, naamlik Tale, Wiskunde, Lewensoriëntering, Natuurwetenskap, Tegnologie, Sosiale Wetenskap, Kuns en Kultuur en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Beleidsriglyne, leeruitkomste en assesseringstandaarde is vir elke leerarea ontwikkel en word deur die Onderwysdepartment verskaf. Deur UGO bied die HNKV egter ook aan opvoeders die geleentheid om hul eie leerprogramme te ontwikkel en sodoende hul eie bevoegdheid te bevorder. Deur middel van hierdie benadering, gekombineer met die spesifieke uitkomste en assesseringstandaarde, poog die HNKV om ʼn vooruitstrewende, werklike verenigde, demokratiese en internasionaal mededingende land met geletterde, kreatiewe en kritiese burgers te ontwikkel (DvO, 2003:4; DvO, 2002:11). Die kurrikulum stel verder in die vooruitsig ʼn individu wat lewenslank sal leer en vrymoedig, onafhanklik, geletterd,

gesyferd, veelvaardig en deernisvol sal wees. Só ʼn individu sal ook met respek vir die omgewing leef en oor die vermoë beskik om as ʼn kritiese en aktiewe burger aan die samelewing deel te neem (DvO: 2003: 5).

2.6.2 Lewensoriëntering as ʼn leerarea

In hierdie studie gebruik ek die ekosistemiese perspektief as a fondasie om LO as leerarea te definieer en sy doel en uitdagings te ondersoek. Ten spyte van beleidsveranderinge in Suid-Afrika leef die jeug steeds in ʼn komplekse en uitdagende samelewing. Misdaad en geweld beïnvloed byna elke skool, gemeenskap en leerder. Omgewingskwessies affekteer die welstand van gemeenskappe (Jacobs, 2011: 212). Binne hierdie konteks word daar van leerders verwag om selfvertroue en bekwaamheid te ontwikkel ten einde ʼn bydrae te lewer tot die bou van ʼn nuwe demokratiese samelewing (DvO, 2003: 4-5). Soos reeds genoem, bestaan daar ʼn behoefte na ʼn voorkomende oriënteringsprogram vir die adolessent. Die leerarea, LO, stel ten doel om gesonde, gebalanseerde en verantwoordelike jongmense te ontwikkel wat produktiewe lewens in ʼn nuwe Suid-Afrikaanse demokrasie kan leef (DvO, 2003: 4). LO staan sentraal tot die ontwikkeling van die individu en stel dit ten doel om die individuele leerder in die konteks van sy gemeenskap te ontwikkel. Hierdie leerarea bestudeer die individuele leerder en sy verhouding tot ander in sy gemeenskap. Die Churchill Livingstone’s Dictionary of Nursing definieer die term “oriëntasie” as ʼn “clear awereness of one’s position relative to the environment”. Die HNKV bou voort op hierdie definisie van oriëntasie deur te poog om leerders holisties te ontwikkel ten opsigte van hul gemeenskap. Holistiese ontwikkeling behels ontwikkeling van al die verskillende sisteme in die individu se ekosisteem (Donald et al., 2002:27). Dit sluit die persoonlike, sosiale, intellektuele, emosionele, geestelike, motoriese, fisiese groei en ontwikkeling van die individu in (Strydom, 2011:24). LO poog om bogenoemde dimensies te ontwikkel en uit te bou ten einde gesonde en verantwoordelike Suid-Afrikaanse landsburgers op te lewer. Hierdie leerarea se leeruitkomste word in die volgende vyf dele verdeel: gesondheidsbevordering, sosiale ontwikkeling, persoonlike ontwikkeling, fisiese ontwikkeling-en-beweging en die oriëntasie van die individu ten opsigte van die wêreld van werk. Tabel 2.3 bestaande uit twee kolomme, bied ʼn oorsig van die leeruitkomste en moontlike onderwerpe wat bespreek kan word. Kolom een omskryf elke leeruitkoms en kolom twee lys die moontlike onderwerpe wat onder die uitkoms bespreek kan word.

Tabel 2.3 Leeruitkomste en onderwerpe wat bespreek word

Kolom een: Leeruitkoms en omskrywing Kolom twee: Onderwerpe wat bespreek word in die leerarea

Leeruitkoms 1: Gesondheidsbevordering

Die leerder is in staat om ingeligte besluite oor persoonlike, gemeenskap- en omgewingsgesondheid te neem.

 Gesondheidsbevordering (insluitende ʼn gesonde leefstyl)

 Persoonlike en omgewingsgesondheid en veiligheid (insluitende gesondheidskwessies en die hantering daarvan)