• No results found

Bespreking van Bevindinge

Hoofstuk 5 Ten Slotte

5.2 Opsomming van bevindinge

5.4.3 Aanbevelings vir verdere navorsing

Hierdie studie het dit ten doel gestel om leerders se geleefde ervaring van ʼn sekere onderrigstrategie te bepaal. Ek wil eerstens aanbeveel dat ʼn langtermyn studie gedoen moet word waardeur die impak en effektiwiteit van die gebruik van fiktiewe karakters op adolessente se lewens nagevors word. Deur só ʼn studie sal die blywende effek wat enkele karakters op adolessente se lewensbesluite gehad het, bepaal word. In sy boek, The Tipping Point, gebruik Gladwell (2000) die term “stickiness” (‘klewerigheid’), waar hy deur navorsing aandui dat ʼn blywende boodskap die eienskap van “stickiness” bevat, indien dit interessant en onvergeetlik is. Deur middel van hierdie voorgestelde studie sal die ‘klewerigheid’ van die fiktiewe karakters se verhale dus ook bepaal kan word.

Gedurende die studie het ek telkens verwys na veerkragtigheid wat die deelnemers in die karakters se lewensverhale geïdentifiseer het. “Veerkragtigheid” is ʼn term wat reeds baie navorsing in die Suid- Afrikaanse konteks uitgelok het. Ungar (2008:225) defineer hierdie term as die kapasiteit binne ʼn individu

“to navigate their way to health-sustaining resources, including opportunities to experience feelings of well-being, and a condition of the individual’s family, community and culture to provide these health resources and experiences in culturally meaningful ways”.

Ungar (2011) argumenteer dat veerkragtigheid as kwaliteit binne die adolessent sal toeneem indien daar meer aandag aan die omgewing (en ekologie) waarbinne die adolessent hom- of haarself bevind, geskenk word. Die skool, insluitende die kurrikulum, is dikwels een van die sisteme binne ʼn skoolgaande adolessent se ekosisteem (Donald & Theron, 2012:2). Indien kurrikulum dus die potensiaal het om individuele leerders se wordingsoomblikke te vorm, wil ek tweedens aanbeveel dat verdere navorsing gedoen word ten einde te verseker dat veerkragtigheid as ʼn primêre komponent in die LO-kurrikulum verweef word.

Deur hierdie studie beklemtoon ek die gebruik van fiktiewe karakters in die klaskamer. Die akademiese prestasie van leerders is egter nooit geassesseer ten einde te bepaal of hierdie onderrigstrategie akademiese prestasie bevorder nie. Ek wil daarom derdens aanbeveel dat die gebruik van gevallestudies en verhale binne ʼn klaskamer in verdere ondersoeke op ʼn kwantitatiewe manier geëvalueer word ten einde te bepaal of daar ʼn effek op leerder se prestasie is. Tydens hierdie studie en die refleksie op my eie ervarings binne hierdie navorsingskonteks was ek mening male gekonfronteer met algemene uitdagings van jong opvoeders. Uit hierdie studie het ek ervaar hoe die deelnemers leiding gevind het uit die verhale van fiktiewe karakters. Ten einde leiding aan jong opvoeders te gee, wil ek vierdens voorstel dat ʼn volledige ondersoek gedoen word waardeur die opvoeder se geleefde

ervaring van hierdie onderrigstrategie bepaal en opgeskryf word. Uit só ʼn studie kan praktiese wenke, en verhale van opvoeders leiding aan jong opvoeders bied wat die professie betree.

5.5 Bydrae tot die veld van kurrikulumstudie

Ek het gepoog om deur hierdie studie ten alle tye ʼn ‘ware’ refleksie te gee van my eie reis en die wordingsproses wat binne my as navorser, en as opvoeder, plaasgevind het. Deur die bevindinge van hierdie studie is daar enkele oomblikke waar die deelnemers hul eie biografieë met die karakters se biografieë kon verweef. Hierdie oomblikke het aanleiding gegee tot die vorming van ʼn nuwe verhaal. Die insig wat hierdie verhale vir my oor die deelnemers gegee het, het ʼn unieke beeld van elke individu geskep. Met tye kon ek ʼn enkele beeld van die wordingsproses binne die deelnemers waarneem. Hierdie waarneming en die inhoud van die leerders se verhale sou nooit deur ʼn kwantitatiewe studie in soveel besonderhede versamel kon word nie.

Hoewel die HNKV se uitkomste vir alle leerders dieselfde is, hoef die unieke wordingsproses van die individuele leerder, en die opvoeder, nie ingeperk te word nie. Die bevindinge van hierdie studie beklemtoon juis die ontwikkelende en aktiewe krag van kurrikulum. Dit dui ook aan dat die kreatiwiteit van ʼn opvoeder deur geen kurrikulum of beleidsdokument ingeperk hoef te word nie. Die bespreking rondom kurrikulum binne hierdie studie kan ook handige wenke vir enige jong opvoeder inhou wat opsoek is na ʼn groter begrip vir die ervaringswêrelde van sy of haar leerders. Hierdie onderrigstrategie het aan die deelnemers die geleentheid gebied om hul eie lewensverhale te verweef met die inhoud van die kurrikulum en dit het sodoende ook die platform aan leerders gebied om hul eie lewensverhale te vertel. Ek toon hierdeur aan hoe ʼn aktiewe vorm van kurrikulum die gaping tussen my ervaringswêreld en dié van die deelnemers tot hierdie studie oorbrug het. Die verhale van die deelnemers bied ook ʼn ware beeld van die uitdagings van adolessente op hoërskool aan.

Die bevindinge toon aan dat die kurrikulum ʼn platform tot interaksie met karakters aan die deelnemers gebied het. Hierdie studie dien as demonstrasie van hoe leerders deur die kurrikulum uiting kan gee aan hulle opinies, maar dit skep ook ʼn platform aan leerders om vrae aan karakters te vra oor kwessies binne hulle ervaringswêrelde. Die onderrigstrategie kan dus as ʼn handige hulpmiddel aan opvoeders voorgehou word ten einde die potensiële gaping wat daar dikwels tussen die inhoud van die kurrikulum en die leerders se ervaringswêrelde bestaan, te oorbrug. Die gebruik van fiktiewe karakters bied die opvoeder dus die geleentheid om die LO-kurrikulum te ontwikkel sodat dit pas by die kultuur, konteks en behoeftes van die leerders met wie hy of sy werk.

Ek beklemtoon ook deur hierdie studie die onderrigmetode wat ʼn opvoeder kies om te gebruik. Die bevindinge van die studie dui aan dat ʼn metode wat gebruik word die potensiaal het om die kurrikulum

aktief en ontwikkelend van aard aan leerders voor te hou. Die geproduseerde data toon aan dat die onderrigstrategie wat ʼn opvoeder kies, ʼn rol sal speel in die vorming van elke individu se pedagogiese wordingsoomblikke. Die studie maak dus ʼn bydrae deurdat dit Wallin (2010) en Grumet (1981) se werk uitbrei en nuwe insigte gee in die wording van ʼn pedagogiese lewe (“becoming of a pedagogical life”) in die Suid-Afrikaanse konteks.